-
“Hou aan om my te verwag”Die Wagtoring – 1996 | Maart 1
-
-
“Hou aan om my te verwag”
16. (a) Vir wie was die naderende dag van Jehovah ’n bron van vreugde, en waarom? (b) Watter aansporing het hierdie getroue oorblyfsel gekry?
16 Terwyl geestelike lomerigheid, skeptisisme, afgodediens, korrupsie en materialisme onder die leiers en baie van die inwoners van Juda en Jerusalem hoogty gevier het, het sommige getroue Jode blykbaar na Sefanja se waarskuwingsprofesieë geluister. Die walglike gebruike van Juda se prinse, regters en priesters het hulle bedroef gemaak. Sefanja se uitsprake was ’n bron van vertroosting vir hierdie lojales. Die naderende dag van Jehovah was vir hulle alles behalwe iets om oor benoud te voel; dit was vir hulle eerder ’n bron van vreugde omdat dit ’n einde aan sulke verfoeilike gebruike sou maak. Hierdie getroue oorblyfsel het ag geslaan op Jehovah se aansporing: “‘Daarom, hou aan om my te verwag’, is die uitspraak van Jehovah, ‘tot die dag dat ek opstaan tot die buit, want my regterlike beslissing is om nasies te versamel, om koninkryke byeen te bring ten einde my veroordeling oor hulle uit te stort, al my brandende toorn’.”—Sefanja 3:8, NW.
17. Wanneer en hoe het Sefanja se oordeelsboodskappe vir die nasies in vervulling begin gaan?
17 Diegene wat op daardie waarskuwing ag geslaan het, is nie skielik oorval nie. Baie het bly lewe en die vervulling van Sefanja se profesie gesien. In 632 v.G.J. is Nineve ingeneem en vernietig deur ’n koalisie van Babiloniërs, Meders en hordes uit die noorde, waarskynlik Skitiërs. Die geskiedskrywer Will Durant sê: “’n Leër van Babilon onder Nabopolassar het met ’n leër van die Meders onder Cyaxares en ’n horde Skitiërs van die Kaukasus saamgespan en met verstommende gemak en spoed die vestings van die noorde verower. . . . Met een slag het Assirië uit die geskiedenis verdwyn.” Dit was presies wat Sefanja geprofeteer het.—Sefanja 2:13-15.
18. (a) Hoe is Goddelike oordeel aan Jerusalem voltrek, en waarom? (b) Hoe is Sefanja se profesie aangaande Moab en Ammon vervul?
18 Talle Jode wat aangehou het om Jehovah te verwag, het ook bly lewe om te sien hoe sy oordele aan Juda en Jerusalem voltrek word. Aangaande Jerusalem het Sefanja geprofeteer: “Wee die opstandige en die besoedelde, die verdrukkende stad. Dit luister na geen stem nie, dit neem geen tugtiging aan nie; op die HERE vertrou dit nie, tot sy God kom dit nie nader nie” (Sefanja 3:1, 2). Weens sy ontrouheid is Jerusalem twee keer deur die Babiloniërs beleër en uiteindelik in 607 v.G.J. ingeneem en vernietig (2 Kronieke 36:5, 6, 11-21). Wat Moab en Ammon betref, volgens die Joodse geskiedskrywer Josefus het die Babiloniërs in die vyfde jaar ná die val van Jerusalem teen hulle oorlog gevoer en hulle verslaan. Hulle het gevolglik opgehou om te bestaan, soos geprofeteer is.
19, 20. (a) Hoe het Jehovah diegene beloon wat aangehou het om hom te verwag? (b) Waarom stel ons in hierdie gebeure belang, en wat sal in die volgende artikel bespreek word?
19 Die vervulling van hierdie en ander besonderhede van Sefanja se profesie was vir Jode en nie-Jode wat aangehou het om Jehovah te verwag ’n geloofversterkende ondervinding. Onder diegene wat die vernietiging van Juda en Jerusalem oorleef het, was Jeremia, die Etiopiër Ebed-Meleg en die huis van Jonadab, die Regabiet (Jeremia 35:18, 19; 39:11, 12, 16-18). Die getroue Jode in ballingskap en hulle nageslag, wat aangehou het om Jehovah te verwag, het ’n deel van die vreugdevolle oorblyfsel geword wat in 537 v.G.J. uit Babilon verlos is en na Juda teruggekeer het om rein aanbidding te herstel.—Esra 2:1; Sefanja 3:14, 15, 20.
-
-
“Laat jou hande nie slap hang nie”Die Wagtoring – 1996 | Maart 1
-
-
2. Watter ooreenkomste is daar tussen toestande in Sefanja se dag en die hedendaagse situasie binne die Christendom?
2 Dit is vandag Jehovah se regterlike beslissing om die nasies vir vernietiging te versamel op ’n veel groter skaal as in Sefanja se dag (Sefanja 3:8). Daardie nasies wat beweer dat hulle Christelik is, is in God se oë veral laakbaar. Net soos Jerusalem baie duur vir sy ontrouheid aan Jehovah betaal het, moet die Christendom vir sy losbandige weë rekenskap aan God gee. Die Goddelike oordele wat in Sefanja se dag teen Juda en Jerusalem uitgespreek is, het selfs ’n groter toepassing op die kerke en sektes van die Christendom. Hulle het ook ware aanbidding verontreinig deur hulle godonterende leerstellings, waarvan baie ’n heidense oorsprong het. Hulle het miljoene van hulle gesonde seuns op die hedendaagse oorlogsaltaar geoffer. Daarbenewens vermeng die inwoners van antitipiese Jerusalem die sogenaamde Christelike geloof met astrologie, spiritistiese gebruike en verlagende geslagsonsedelikheid wat ’n mens aan Baäl-aanbidding herinner.—Sefanja 1:4, 5.
-