-
“Een pêrel van groot waarde”Die Wagtoring – 2005 | Februarie 1
-
-
“Een pêrel van groot waarde”
“Die koninkryk van die hemele [is] die doel waarna die mense vooruitbeur, en dié wat vooruitbeur, gryp dit.”—MATTEUS 11:12.
1, 2. (a) Watter seldsame eienskap het Jesus in een van sy gelykenisse oor die Koninkryk uitgebeeld? (b) Wat het Jesus in die gelykenis van die pêrel van groot waarde gesê?
IS DAAR iets wat vir jou so waardevol is dat jy alles sal gee wat jy besit of alles sal opoffer wat jy het om dit te verkry? Hoewel mense van toegewydheid praat wanneer hulle die een of ander doel nastreef—geld, roem, mag of posisie—gebeur dit selde dat iemand iets vind wat so begeerlik is dat hy bereid is om alles daarvoor op te offer. Jesus Christus het na hierdie seldsame dog bewonderenswaardige eienskap verwys in een van sy talle gedagteprikkelende gelykenisse oor die Koninkryk van God.
2 Dit is ’n gelykenis, of illustrasie, wat Jesus net aan sy dissipels vertel het, een wat dikwels die gelykenis van die pêrel van groot waarde genoem word. Jesus het gesê: “Die koninkryk van die hemele is . . . soos ’n reisende koopman wat goeie pêrels soek. Toe hy een pêrel van groot waarde vind, het hy weggegaan en dadelik alles verkoop wat hy gehad het en dit gekoop” (Matteus 13:36, 45, 46). Wat wou Jesus hê moes sy toehoorders uit hierdie illustrasie leer? En hoe kan ons by Jesus se woorde baat vind?
Die groot waarde van pêrels
3. Waarom was goeie pêrels in die ou tyd so waardevol?
3 Pêrels word al van die ou tyd af as sierade waardeer. Een bron sê dat pêrels volgens die Romeinse geleerde Plinius die Ouere die “vernaamste van alle kosbaarhede” was. In teenstelling met goud, silwer of baie edelstene word pêrels deur lewende wesens voortgebring. Dit is welbekend dat sekere soorte oesters voorwerpe wat irritasie veroorsaak—byvoorbeeld klein klippies—in glinsterende pêrels kan verander deur dit te bedek met lae van ’n afskeiding wat perlemoen genoem word. In die ou tyd is die beste pêrels hoofsaaklik verkry uit die Rooi See, die Persiese Golf en die Indiese Oseaan—ver van die land Israel af. Dit is ongetwyfeld waarom Jesus gepraat het van “’n reisende koopman wat goeie pêrels soek”. Om pêrels te vind wat werklik waardevol is, verg groot inspanning.
4. Wat is die vernaamste les van Jesus se gelykenis van die reisende koopman?
4 Hoewel goeie pêrels al van lank gelede af duur is, was hulle geldelike waarde klaarblyklik nie die vernaamste les van Jesus se gelykenis nie. In hierdie gelykenis het Jesus die Koninkryk van God nie bloot met ’n pêrel van groot waarde vergelyk nie; hy het die aandag gevestig op “’n reisende koopman wat goeie pêrels soek” en op sy reaksie toe hy een vind. In teenstelling met ’n gewone winkelier was ’n reisende pêrelkoopman, of -handelaar, wat ’n mens ’n pêrelkenner kan noem, iemand wat ’n geoefende oog of die gawe gehad het om die estetiese en subtiele eienskappe raak te sien wat ’n pêrel buitengewoon gemaak het. Hy sou ’n egte pêrel herken wanneer hy een sien en sou nie deur minderwaardige of nagemaakte handelsware geflous word nie.
5, 6. (a) Wat is veral opmerkenswaardig omtrent die koopman in Jesus se gelykenis? (b) Wat openbaar die gelykenis van die weggesteekte skat omtrent die reisende koopman?
5 Iets anders omtrent hierdie spesifieke koopman is opmerkenswaardig. ’n Gewone koopman sal moontlik eers die markwaarde van die pêrel bereken sodat hy kan besluit hoeveel hy daarvoor sal betaal om ’n wins te kan maak. Hy sal dalk ook oorweeg of daar ’n aanvraag na so ’n pêrel is sodat hy dit gou kan verkoop. Met ander woorde, hy sal daarin belangstel om gou ’n wins op sy belegging te maak, nie om die pêrel te besit nie. Maar dit was nie die geval met die koopman in Jesus se gelykenis nie. Hy het nie in geld of materiële wins belanggestel nie. Trouens, hy was bereid om ‘alles wat hy gehad het’—moontlik al sy persoonlike besittings en eiendomme—op te offer om te verkry wat hy gesoek het.
6 Die meeste koopmanne sal meen dat daardie man in Jesus se gelykenis waarskynlik onverstandig opgetree het. ’n Skerpsinnige sakeman sal dit nie eers oorweeg om so ’n waagstuk te onderneem nie. Maar die koopman in Jesus se gelykenis het ’n ander waardebegrip gehad. Sy beloning was nie finansiële voordeel nie, maar die vreugde en bevrediging wat dit verskaf om iets van ongeëwenaarde waarde te besit. Hierdie punt kom duidelik na vore in ’n parallelle illustrasie wat Jesus gegee het. Hy het gesê: “Die koninkryk van die hemele is soos ’n skat wat in die veld weggesteek was, wat ’n man gevind en weggesteek het; en weens die vreugde wat hy het, gaan hy en verkoop wat hy het en koop daardie veld” (Matteus 13:44). Ja, die vreugde wat dit verskaf om die skat te vind en te besit, was genoeg om die man te beweeg om alles prys te gee wat hy gehad het. Is daar vandag sulke mense? Is daar ’n skat wat so ’n opoffering werd is?
Diegene wat die groot waarde waardeer het
7. Hoe het Jesus getoon dat hy diepe waardering vir die groot waarde van die Koninkryk gehad het?
7 Toe Jesus sy gelykenis vertel het, het hy van “die koninkryk van die hemele” gepraat. Hý het beslis die groot waarde van die Koninkryk waardeer. Die Evangelieverslae getuig kragtig van hierdie feit. Ná sy doop in 29 G.J. het Jesus “begin preek en sê: ‘Toon berou, want die koninkryk van die hemele het naby gekom.’” Hy het drie en ’n half jaar lank ’n menigte mense van die Koninkryk geleer. Hy het die hele land deurkruis en “van stad tot stad en van dorpie tot dorpie [gereis] en gepreek en die goeie nuus van die koninkryk van God bekend gemaak”.—Matteus 4:17; Lukas 8:1.
8. Wat het Jesus gedoen om te toon wat die Koninkryk tot stand sal bring?
8 Deur talle wonderwerke dwarsdeur die land te verrig—onder meer siekes gesond te maak, honger mense te voed, natuurkragte onder beheer te bring, selfs dooies op te wek—het Jesus ook getoon wat God se Koninkryk tot stand sal bring (Matteus 14:14-21; Markus 4:37-39; Lukas 7:11-17). Laastens het hy sy lojaliteit aan God en aan die Koninkryk bewys deur sy lewe te gee en ’n martelaarsdood aan ’n folterpaal te sterf. Net soos daardie reisende koopman alles wat hy gehad het, gewillig gegee het vir die “pêrel van groot waarde”, het Jesus vir die Koninkryk geleef en gesterf.—Johannes 18:37.
9. Watter seldsame eienskap is onder Jesus se vroeë dissipels gesien?
9 Nie net het Jesus die Koninkryk die middelpunt van sý lewe gemaak nie, maar hy het ook ’n klein groepie volgelinge bymekaargemaak. Ook hulle was mense wat diepe waardering vir die groot waarde van die Koninkryk gehad het. Een van hulle was Andreas, wat oorspronklik ’n dissipel van Johannes die Doper was. Toe Andreas Johannes se getuienis gehoor het dat Jesus “die Lam van God” is, is hy en nog een van Johannes se dissipels, heel waarskynlik een van Sebedeus se seuns wat ook Johannes genoem is, onmiddellik tot Jesus aangetrek en het hulle gelowiges geword. Maar dit was nie die einde van die saak nie. Andreas het dadelik na sy broer Simon gegaan en vir hom gesê: “Ons het die Messias gevind.” Kort daarna het ook Simon (wat later as Sefas, of Petrus, bekend gestaan het) sowel as Filippus en sy vriend Natanael Jesus as die Messias herken. Trouens, Natanael is beweeg om vir Jesus te sê: “U is die Seun van God, u is Koning van Israel.”—Johannes 1:35-49.
Beweeg tot optrede
10. Hoe het die dissipels gereageer toe Jesus hulle ’n ruk ná hulle eerste ontmoeting kom roep het?
10 Die opgewondenheid wat Andreas, Petrus, Johannes en die ander ervaar het toe hulle die Messias gevind het, kan vergelyk word met die opgewondenheid wat die reisende koopman ervaar het toe hy die pêrel van groot waarde gevind het. Wat sou hulle nou doen? Die Evangelies sê nie vir ons veel oor wat hulle gedoen het onmiddellik ná hierdie eerste ontmoeting met Jesus nie. Die meeste van hulle het blykbaar na hulle normale lewenswyse teruggekeer. Maar ongeveer ses maande tot ’n jaar later het Jesus Andreas, Petrus, Johannes en Johannes se broer Jakobus weer teëgekom by hulle vissersonderneming by die See van Galilea.a Toe Jesus hulle sien, het hy gesê: “Kom agter my aan, en ek sal julle vissers van mense maak.” Wat was hulle reaksie? Matteus se verslag sê van Petrus en Andreas: “Dadelik het hulle die nette laat staan en hom gevolg.” Wat Jakobus en Johannes betref, lees ons: “Dadelik het hulle die boot en hulle vader verlaat en hom gevolg.” Lukas se verslag voeg by dat hulle ‘alles laat staan het en hom gevolg het’.—Matteus 4:18-22; Lukas 5:1-11.
11. Wat verklaar moontlik die dissipels se vinnige reaksie toe Jesus hulle geroep het?
11 Was die dissipels se vinnige reaksie ’n impulsiewe besluit? Glad nie! Al het hulle ná hulle eerste kontak met Jesus na hulle familie se vissersonderneming teruggekeer, bestaan daar geen twyfel dat die dinge wat hulle by daardie geleentheid gesien en gehoor het, ’n diep indruk op hulle hart en verstand gemaak het nie. Die verloop van amper ’n jaar sou hulle baie tyd gegee het om oor hierdie dinge na te dink. Toe het die oomblik aangebreek om ’n besluit te neem. Sou hulle soos die reisende koopman wees wie se hart so geraak is deur die ontdekking van die kosbare pêrel dat hy, soos Jesus dit beskryf het, “weggegaan en dadelik” gedoen het wat hy moes om daardie pêrel te koop? Ja. Wat hulle gesien en gehoor het, het hulle hart geraak. Hulle het besef dat die tyd vir optrede aangebreek het. Gevolglik het hulle, soos die verslae vir ons sê, sonder aarseling alles prysgegee en Jesus se volgelinge geword.
12, 13. (a) Hoe het baie mense wat Jesus gehoor het, gereageer? (b) Wat het Jesus van sy getroue dissipels gesê, en wat gee sy woorde te kenne?
12 Hoe het hierdie getroue manne tog verskil van party ander wat later in die Evangelieverslae gemeld word! Daar was baie mense wat deur Jesus gesond gemaak of gevoed is, maar wat eenvoudig met hulle eie lewe voortgegaan het (Lukas 17:17, 18; Johannes 6:26). Party het selfs gevra om verskoon te word toe Jesus hulle genooi het om sy volgelinge te word (Lukas 9:59-62). In skerp teenstelling hiermee het Jesus later van die getroues gesê: “Van die dae van Johannes die Doper af tot nou toe is die koninkryk van die hemele die doel waarna die mense vooruitbeur, en dié wat vooruitbeur, gryp dit.”—Matteus 11:12.
13 “Vooruitbeur”—wat gee hierdie woord te kenne? Aangaande die Griekse werkwoord waarvan dit afgelei is, sê Vine’s Expository Dictionary of Old and New Testament Words: “Die werkwoord dui op kragtige inspanning.” En aangaande hierdie vers sê die Bybelgeleerde Heinrich Meyer: “So word daardie ywerige, onstuitbare strewe en worsteling na die naderende Messiaanse koninkryk beskryf . . . Dit is hoe ywerig en kragtig (nie meer kalm en afwagtend nie) die belangstelling met betrekking tot die koninkryk is.” Soos die reisende koopman, het hierdie paar mense gou herken wat werklik kosbaar is, en hulle het alles wat hulle gehad het, gewillig prysgegee ter wille van die Koninkryk.—Matteus 19:27, 28; Filippense 3:8.
Ander het ook begin soek
14. Hoe het Jesus die apostels vir die Koninkrykspredikingswerk voorberei, en wat was die gevolg?
14 Terwyl Jesus sy bediening voortgesit het, het hy ander opgelei en gehelp om die Koninkryk na te streef. Hy het eers 12 uit sy dissipels gekies en hulle aangestel as apostels, of mense wat uitgestuur is deur hom. Aan hulle het Jesus breedvoerige instruksies gegee oor hoe hulle hulle bediening moes uitvoer, asook waarskuwings oor die uitdagings en ontberinge wat vir hulle voorgelê het (Matteus 10:1-42; Lukas 6:12-16). Gedurende die volgende twee jaar of wat het hulle Jesus op sy predikingsreise deur die hele land vergesel en ’n hegte verhouding met hom geniet. Hulle het sy woorde gehoor, sy kragtige werke aanskou en sy persoonlike voorbeeld gesien (Matteus 13:16, 17). Al hierdie dinge het hulle ongetwyfeld diep geraak, in so ’n mate dat hulle, soos die reisende koopman, ywerig en heelhartig was in hulle strewe na die Koninkryk.
15. Wat het Jesus gesê was die eintlike rede waarom sy volgelinge bly kon wees?
15 Benewens die 12 apostels het Jesus “sewentig ander aangewys en hulle twee-twee voor hom uit gestuur na elke stad en plek waar hy self sou kom”. Hy het ook vir hulle van die beproewinge en ontberinge vertel wat vir hulle voorgelê het en hulle beveel om vir die mense te sê: “Die koninkryk van God het naby julle gekom” (Lukas 10:1-12). Toe die 70 teruggekeer het, het hulle oorgeloop van vreugde en vir Jesus vertel: “Here, selfs die demone word deur die gebruik van u naam aan ons onderwerp.” Maar moontlik tot hulle verbasing het Jesus geopenbaar dat daar selfs ’n groter vreugde op hulle gewag het as gevolg van hulle ywer vir die Koninkryk. Hy het vir hulle gesê: “Julle moet . . . nie daaroor bly wees dat die geeste aan julle onderwerp word nie, maar wees bly omdat julle name in die hemele opgeskryf is.”—Lukas 10:17, 20.
16, 17. (a) Wat het Jesus vir sy getroue apostels op sy laaste aand saam met hulle gesê? (b) Watter vreugde en versekering het Jesus se woorde die apostels gegee?
16 Ten slotte het Jesus op die laaste aand dat hy saam met sy apostels was, 14 Nisan 33 G.J., ’n viering ingestel wat bekend geword het as die Here se Aandmaal en hulle beveel om hierdie geleentheid te herdenk. In die loop van die aand het Jesus vir die 11 wat oorgebly het, gesê: “Julle is . . . dié wat in my beproewinge altyddeur by my gebly het; en ek sluit ’n verbond met julle, net soos my Vader ’n verbond met my gesluit het, vir ’n koninkryk, sodat julle aan my tafel in my koninkryk kan eet en drink en op trone kan sit om die twaalf stamme van Israel te oordeel.”—Lukas 22:19, 20, 28-30.
17 Met watter vreugde en bevrediging is die apostels se harte tog gevul toe hulle hierdie woorde van Jesus hoor! Hulle is die grootste eer en voorreg aangebied wat enige mens kon hê (Matteus 7:13, 14; 1 Petrus 2:9). Soos daardie reisende koopman, het hulle baie prysgegee om Jesus in hulle strewe na die Koninkryk te volg. Nou is hulle verseker dat die opofferinge wat hulle tot op daardie stadium gemaak het, nie tevergeefs was nie.
18. Wie benewens die 11 apostels sou ook uiteindelik by die Koninkryk baat vind?
18 Die apostels wat daardie aand saam met Jesus was, was nie die enigstes wat by die Koninkryk sou baat vind nie. Dit was Jehovah se wil dat altesaam 144 000 in die Koninkryksverbond opgeneem word as medeheersers saam met Jesus Christus in die glorieryke hemelse Koninkryk. Daarbenewens het die apostel Johannes in ’n visioen “’n groot menigte” gesien, “wat geen mens kon tel nie, . . . wat voor die troon en voor die Lam staan . . . [en] sê: ‘Redding is ons verskuldig aan ons God, wat op die troon sit, en aan die Lam.’” Hulle is die aardse onderdane van die Koninkryk.b—Openbaring 7:9, 10; 14:1, 4.
19, 20. (a) Watter geleentheid het mense van al die nasies? (b) Watter vraag sal in die volgende artikel bespreek word?
19 Kort voordat Jesus opgevaar het hemel toe, het hy sy getroue volgelinge beveel: “Gaan dus en maak dissipels van mense van al die nasies, en doop hulle in die naam van die Vader en van die Seun en van die heilige gees, en leer hulle om alles te onderhou wat ek julle beveel het. En kyk! ek is met julle al die dae tot aan die voleinding van die stelsel van dinge” (Matteus 28:19, 20). Mense uit al die nasies sou dus dissipels van Jesus Christus word. Ook hulle sou hulle hart op die Koninkryk rig—hetsy vir ’n hemelse of ’n aardse beloning—net soos die reisende koopman met betrekking tot die goeie pêrel gedoen het.
20 Jesus se woorde het aangedui dat die werk om dissipels te maak, tot “die voleinding van die stelsel van dinge” sou voortduur. Is daar dan in ons dag nog mense soos die reisende koopman, wat bereid is om alles op te offer in hulle strewe na God se Koninkryk? Hierdie vraag sal in die volgende artikel bespreek word.
[Voetnote]
a Johannes, die seun van Sebedeus, het Jesus moontlik ná hulle eerste ontmoeting gevolg en van die dinge gesien wat hy gedoen het, wat Johannes gevolglik in staat gestel het om so ’n lewendige beskrywing daarvan in sy Evangelieverslag op te teken (Johannes, hoofstukke 2-5). Hy het nietemin ’n ruk voor Jesus hom geroep het, na sy familie se vissersonderneming teruggekeer.
b Vir meer besonderhede, sien hoofstuk 10 van die boek Kennis wat tot die ewige lewe lei, uitgegee deur Jehovah se Getuies.
-
-
Streef vandag die “pêrel van groot waarde” naDie Wagtoring – 2005 | Februarie 1
-
-
Streef vandag die “pêrel van groot waarde” na
“Hierdie goeie nuus van die koninkryk sal in die hele bewoonde aarde verkondig word as ’n getuienis.”—MATTEUS 24:14.
1, 2. (a) Hoe het die Jode in Jesus se dag oor God se Koninkryk gevoel? (b) Wat het Jesus gedoen om die regte begrip van die Koninkryk oor te dra, en met watter resultate?
DIE Koninkryk van God was ’n onderwerp waarin die Jode intens belanggestel het toe Jesus aarde toe gekom het (Matteus 3:1, 2; 4:23-25; Johannes 1:49). Maar die meeste van hulle het aanvanklik nie die omvang en mag daarvan ten volle begryp nie; ook het hulle nie verstaan dat dit ’n hemelse regering sou wees nie (Johannes 3:1-5). Selfs party wat Jesus se volgelinge geword het, het nie ten volle verstaan wat God se Koninkryk is of wat hulle moet doen om die seën te ontvang om medeheersers saam met Christus te word nie.—Matteus 20:20-22; Lukas 19:11; Handelinge 1:6.
2 Met verloop van tyd het Jesus sy dissipels geduldig baie lesse geleer, met inbegrip van die gelykenis van die pêrel van groot waarde wat in die vorige artikel bespreek is, en hy het hulle daarop gewys hoe belangrik dit is dat hulle hulle inspan in hulle strewe na die hemelse Koninkryk (Matteus 6:33; 13:45, 46; Lukas 13:23, 24). Dit moes hulle hart diep geraak het, want hulle het weldra tot in afgeleë dele van die aarde onvermoeibare en moedige verkondigers van die goeie nuus van die Koninkryk geword, ’n feit waarvan die boek Handelinge deeglik getuig.—Handelinge 1:8; Kolossense 1:23.
3. Wat het Jesus met verwysing na ons tyd oor die Koninkryk gesê?
3 Wat dan van vandag? Die seëninge van ’n aardse paradys onder die Koninkryk word vir miljoene in die vooruitsig gestel. In sy groot profesie oor “die voleinding van die stelsel van dinge” het Jesus uitdruklik gesê: “Hierdie goeie nuus van die koninkryk sal in die hele bewoonde aarde verkondig word as ’n getuienis vir al die nasies; en dan sal die einde kom” (Matteus 24:3, 14; Markus 13:10). Hy het ook verduidelik dat hierdie ontsaglike taak ten spyte van oorweldigende struikelblokke en uitdagings, selfs vervolging, uitgevoer moes word. Hy het nietemin hierdie versekering gegee: “Wie tot die einde toe volhard het, hy sal gered word” (Matteus 24:9-13). Dit alles verg die soort selfopoffering en toegewydheid wat die reisende koopman in Jesus se gelykenis geopenbaar het. Is daar vandag mense wat sulke geloof en ywer in die strewe na die Koninkryk toon?
Die vreugde wanneer die waarheid gevind word
4. Watter uitwerking het Koninkrykswaarheid vandag op mense?
4 Die koopman in Jesus se gelykenis was verheug toe hy ’n pêrel vind wat hy besef het “van groot waarde” was. Daardie vreugde het hom beweeg om alles in sy vermoë te doen om die pêrel te verkry (Hebreërs 12:1). Vandag word mense eweneens deur die waarheid oor God en sy Koninkryk aangetrek en aangespoor. Dit laat ons dink aan die kommentare van broer A. H. Macmillan, wat in die boek Faith on the Maar oor sy eie soeke na God en Sy voorneme vir die mensdom geskryf het. Hy het gesê: “Wat ek gevind het, vind duisende mense nog elke jaar. En hulle is mense net soos ek en jy, want hulle kom uit alle nasionaliteite, rasse, lewensterreine en ouderdomsgroepe. Die waarheid is geen aannemer van die persoon nie. Dit trek alle soorte mense aan.”
5. Watter goeie resultate kan in die rapport vir die 2004-diensjaar gesien word?
5 Die waarheid van hierdie woorde kan gesien word wanneer honderdduisende opregtes van hart jaar na jaar deur die goeie nuus van God se Koninkryk beweeg word om hulle lewe aan Jehovah toe te wy en sy wil te doen. Die 2004-diensjaar, wat van September 2003 tot Augustus 2004 gestrek het, was geen uitsondering nie. In daardie 12 maande het 262 416 mense hulle toewyding aan Jehovah in die openbaar deur waterdoop gesimboliseer. Dit het in 235 lande plaasgevind, waar Jehovah se Getuies elke week 6 085 387 tuisbybelstudies hou om mense van alle lewensterreine en uit baie nasies, stamme en tale te help om die lewegewende waarheid van God se Woord in te neem.—Openbaring 7:9.
6. Wat verklaar die bestendige vermeerderings oor die jare heen?
6 Wat het dit alles moontlik gemaak? Daar bestaan geen twyfel dat Jehovah hierdie mense wat die regte gesindheid het, na hom trek nie (Johannes 6:65; Handelinge 13:48). Maar die onselfsugtige gees en onvermoeibare pogings van diegene wat hulle in hulle strewe na die Koninkryk ingespan het, moenie geringgeskat word nie. Op die ouderdom van 79 het broer Macmillan geskryf: “Vandat ek die eerste keer geleer het van die beloftes vir die siek en sterwende mensdom, het my hoop in wat daardie boodskap van die Bybel geopenbaar het, nie vervaag nie. Ek het daar en dan besluit om meer uit te vind oor wat die Bybel leer sodat ek ander kon help wat soos ek na kennis van die almagtige God, Jehovah, en sy goeie voornemens vir die mensdom soek.”
7. Watter ondervinding lig die vreugde en ywer toe van diegene wat Bybelwaarheid vind?
7 Daardie ywerige gees word ook vandag onder Jehovah se knegte gesien. Beskou die voorbeeld van Daniela van Wene, Oostenryk. Sy het gesê: “Van my kinderjare af was God my allerbeste vriend. Ek wou altyd weet wat sy naam is, want vir my was ‘God’ te onpersoonlik. Maar ek moes wag totdat ek 17 jaar oud was, toe Jehovah se Getuies by my deur aangeklop het. Hulle het alles verduidelik wat ek van God wou weet. Ek het uiteindelik die waarheid gevind, en dit was wonderlik! Ek was so opgewonde dat ek vir almal begin preek het.” Haar geesdriftige benadering het gou daartoe gelei dat haar skoolmaats haar begin spot het. “Maar vir my was dit asof ek gesien het hoe Bybelprofesie vervul word”, het Daniela verder gesê, “want ek het geleer dat Jesus gesê het dat sy volgelinge ter wille van sy naam gehaat en vervolg sou word. Ek was so gelukkig en verbaas.” Daniela het kort daarna haar lewe aan Jehovah toegewy, is gedoop en het sendingdiens as doelwit begin nastreef. Nadat sy getroud is, het Daniela saam met haar man, Helmut, getuieniswerk onder die Afrikane, Chinese, Filippyners en Indiërs in Wene begin doen. Daniela en Helmut dien nou as sendelinge in die suidweste van Afrika.
Hulle gooi nie tou op nie
8. Wat is een lonende manier waarop baie hulle liefde vir God en lojaliteit aan sy Koninkryk getoon het?
8 Ja, die sendingdiens is een van die maniere waarop Jehovah se volk vandag hulle liefde vir God en lojaliteit aan sy Koninkryk toon. Soos die koopman in Jesus se gelykenis, is diegene wat sendelinge word, bereid om ter wille van die Koninkryk na vergeleë plekke te reis. Hierdie sendelinge reis natuurlik nie om die goeie nuus van die Koninkryk te vind nie; hulle neem dit na mense wat in die uithoeke van die aarde woon en leer en help hulle om dissipels van Jesus Christus te word (Matteus 28:19, 20). In baie lande moet hulle groot ontberinge verduur. Maar hulle volharding word ryklik beloon.
9, 10. Watter opwindende ondervindinge geniet sendelinge in vergeleë plekke, soos die Sentraal-Afrikaanse Republiek?
9 Kyk byvoorbeeld na die Sentraal-Afrikaanse Republiek, waar 16 184 verlede jaar die Herdenking van Christus se dood bygewoon het, omtrent sewe keer die aantal Koninkryksverkondigers in daardie land. Aangesien daar in baie dele van daardie land geen elektrisiteit is nie, verrig die mense gewoonlik hulle daaglikse take buitenshuis in die skaduwee van ’n boom. Dit is dus net natuurlik dat die sendelinge hulle werk op dieselfde manier doen—deur Bybelstudies buite onder ’n skaduryke boom te hou. Dit is nie net ligter en koeler buite nie, maar daar is ook ’n ander voordeel. Die mense het ’n natuurlike liefde vir die Bybel, en dit is net so algemeen om oor godsdienstige onderwerpe te praat as wat dit in ander kulture is om oor sport of die weer te praat. Verbygangers sien dikwels wat aangaan en sluit eenvoudig by die studie aan.
10 Toe een sendeling dus besig was om ’n Bybelstudie buite te hou, het ’n jong man wat oorkant die straat gewoon het, oorgekom en gesê dat die sendeling ook met hom die Bybel moet kom studeer, aangesien hy nog nie deur iemand besoek is nie. Die sendeling het dit natuurlik met graagte gedoen, en die jong man maak vinnig vooruitgang. In daardie land keer die polisie die Getuies dikwels op die pad voor, nie om vir hulle ’n dagvaarding of ’n boete te gee nie, maar om die jongste Wagtoring en Ontwaak! te vra of om hulle te bedank vir ’n artikel wat hulle baie geniet het.
11. Hoe voel diegene wat al lank sendelinge is, oor hulle diens, ondanks beproewinge?
11 Baie van diegene wat die sendingdiens 40 of 50 jaar gelede betree het, dien nog steeds getrou in die veld. Wat ’n voorbeeld van geloof en volharding is hulle tog vir ons almal! Een egpaar het gedurende die afgelope 42 jaar in drie lande saam as sendelinge gedien. Die man sê: “Daar was probleme. Ons het byvoorbeeld 35 jaar lank met malaria gesukkel. Maar ons was nooit spyt oor ons besluit om sendelinge te wees nie.” Sy vrou voeg by: “Daar was altyd soveel om voor dankbaar te wees. Die veldbediening verskaf groot vreugde, en dit is maklik om Bybelstudies te begin. Wanneer jy sien hoe die studente vergaderinge toe kom en mekaar leer ken, is dit elke keer soos ’n familiebyeenkoms.”
Hulle ‘beskou alles as verlies’
12. Hoe word innige waardering vir die waarde van die Koninkryk getoon?
12 Toe die reisende koopman ’n pêrel van groot waarde gevind het, “het hy weggegaan en dadelik alles verkoop wat hy gehad het en dit gekoop” (Matteus 13:46). Hierdie bereidwilligheid om dinge prys te gee wat moontlik kosbaar geag word, is kenmerkend van diegene wat die waarde van die Koninkryk innig waardeer. As iemand wat Koninkryksheerlikheid saam met Christus sou geniet, het die apostel Paulus gesê: “Ek beskou alles ook inderdaad as verlies weens die oortreffende waarde van die kennis van Christus Jesus, my Here. Weens hom het ek die verlies van alles aanvaar en beskou ek dit as ’n klomp vullis, sodat ek Christus kan wen.”—Filippense 3:8.
13. Hoe het ’n persoon in die Tsjeggiese Republiek sy liefde vir die Koninkryk getoon?
13 Net so is baie vandag bereid om groot veranderinge in hulle lewe te maak om die seëninge van die Koninkryk te verkry. In Oktober 2003 het ’n 60-jarige skoolhoof in die Tsjeggiese Republiek byvoorbeeld die Bybelstudiehulp Kennis wat tot die ewige lewe lei gekry. Nadat hy dit gelees het, het hy dadelik met Jehovah se Getuies in sy omgewing in aanraking gekom om ’n Bybelstudie te vra. Hy het goeie geestelike vooruitgang gemaak en gou al die vergaderinge begin bywoon. Maar wat van sy planne om as burgemeester verkies te word en om aan die verkiesingstryd deel te neem om ’n senator te word? Hy het besluit om aan ’n ander stryd deel te neem—die wedloop om die lewe, as ’n Koninkryksverkondiger. Hy het gesê: “Ek het baie Bybellektuur onder my leerlinge versprei.” Hy het in Julie 2004 sy toewyding aan Jehovah by ’n streekbyeenkoms deur waterdoop gesimboliseer.
14. (a) Wat het die goeie nuus van die Koninkryk miljoene beweeg om te doen? (b) Watter gedagteprikkelende vrae kan elkeen van ons ons afvra?
14 Miljoene ander regoor die wêreld het op ’n soortgelyke wyse op die goeie nuus van die Koninkryk gereageer. Hulle het uit die goddelose wêreld gekom, hulle ou persoonlikheid afgelê, hulle voormalige metgeselle verlaat en hulle wêreldse strewes prysgegee (Johannes 15:19; Efesiërs 4:22-24; Jakobus 4:4; 1 Johannes 2:15-17). Waarom doen hulle dit alles? Omdat hulle die seëninge van God se Koninkryk baie belangriker ag as enigiets wat die huidige stelsel van dinge kan bied. Voel jy ook so oor die goeie nuus van die Koninkryk? Word jy daardeur beweeg om die nodige veranderinge te maak om jou lewenswyse, waardes en doelwitte in ooreenstemming met Jehovah se vereistes te bring? As jy dit doen, sal dit vir jou ryk seëninge meebring, nou en in die toekoms.
Die oes bereik sy hoogtepunt
15. Wat sou God se volk volgens profesie in die laaste dae doen?
15 Die psalmis het geskryf: “U volk sal hulle gewillig aanbied op die dag van u krygsmag.” Onder diegene wat hulle aangebied het, is die “geselskap van jong manne net soos doudruppels” en “’n groot leër” van “vroue wat die goeie nuus verkondig” (Psalm 68:11; 110:3). Watter resultate het die ywer en selfopoffering van Jehovah se volk—mans en vroue, jonk en oud—in hierdie laaste dae opgelewer?
16. Gee ’n voorbeeld van hoe God se knegte hulle inspan om ander te help om van die Koninkryk te leer.
16 ’n Pionier, of voltydse Koninkryksverkondiger, in Indië het gewonder hoe die meer as tweemiljoen dowes in daardie land gehelp kon word om van die Koninkryk te leer (Jesaja 35:5). Sy het besluit om in Bangalore vir klasse in gebaretaal in te skryf. Daar kon sy met baie dowes oor die Koninkrykshoop praat, en Bybelstudiegroepe is gevorm. Binne ’n paar weke het meer as ’n dosyn mense die vergaderinge by die Koninkryksaal begin bywoon. Later het die pionier by ’n huweliksonthaal ’n jong dowe man van Kolkata ontmoet wat talle vrae gehad het en baie graag meer van Jehovah wou weet. Maar daar was ’n probleem. Die jong man moes terugkeer na Kolkata, ongeveer 1 600 kilometer daarvandaan, om kollege toe te gaan, en geen Getuies daar het gebaretaal geken nie. Met groot moeite het hy sy vader oortuig om hom eerder na ’n kollege in Bangalore te laat gaan sodat hy sy Bybelstudie kon voortsit. Hy het goeie geestelike vooruitgang gemaak, en ná ongeveer ’n jaar het hy sy lewe aan Jehovah toegewy. Toe het hy op sy beurt die Bybel met ’n aantal dowes gestudeer, onder andere ’n jeugvriend. Die takkantoor in Indië reël nou dat pioniers gebaretaal leer om in daardie veld te help.
17. Sê wat jy besonder aanmoedigend vind omtrent die rapport vir die 2004-diensjaar op bladsye 19 tot 22.
17 Op bladsye 19 tot 22 van hierdie tydskrif sal jy die wêreldrapport van Jehovah se Getuies se velddiensbedrywighede vir die 2004-diensjaar vind. Neem ’n bietjie tyd om daarna te kyk en sien self die getuienis dat Jehovah se volk regoor die wêreld hulle intens daarop toelê om vandag die “pêrel van groot waarde” na te streef.
‘Hou aan om eers die koninkryk te soek’
18. Watter inligting het Jesus nie in die gelykenis van die reisende koopman ingesluit nie, en waarom nie?
18 As ons weer eens teruggaan na Jesus se gelykenis van die reisende koopman, sien ons dat Jesus niks gesê het oor hoe die koopman ’n bestaan sou maak nadat hy alles verkoop het wat hy gehad het nie. Party vra dalk die realistiese vraag: ‘Hoe sou die koopman kos, klere en verblyf vind noudat hy niks gehad het om hom aan die gang te hou nie? Van watter nut sou daardie kosbare pêrel vir hom wees?’ Uit ’n vleeslike oogpunt sou dit redelike vrae wees. Maar het Jesus nie sy dissipels aangespoor: “Hou dan aan om eers die koninkryk en sy regverdigheid te soek, en al hierdie ander dinge sal vir julle bygevoeg word” nie? (Matteus 6:31-33). Die hoofgedagte van die gelykenis is dat dit noodsaaklik is om heelhartige toegewydheid aan God en ywer vir die Koninkryk te toon. Is daar vir ons ’n les hierin?
19. Watter belangrike les kan ons uit Jesus se gelykenis van die pêrel van groot waarde leer?
19 Of ons maar onlangs die wonderlike goeie nuus gehoor het en of ons al dekades lank die Koninkryk nastreef en ander van die seëninge daarvan vertel, ons moet voortgaan om die Koninkryk die middelpunt van ons belangstelling en aandag te maak. Ons lewe in moeilike tye, maar ons het grondige redes om te glo dat wat ons nastreef, werklik en onvergelyklik is—soos die pêrel waarop die koopman afgekom het. Wêreldgebeure en die vervulling van Bybelprofesieë voorsien oortuigende bewys dat ons in “die voleinding van die stelsel van dinge” lewe (Matteus 24:3). Laat ons, soos die reisende koopman, heelhartige ywer vir God se Koninkryk openbaar en ons verheug in die voorreg om die goeie nuus te verkondig.—Psalm 9:1, 2.
-