Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • Is jou oog “reg”?
    Die Wagtoring – 1986 | Mei 1
    • 4. Hoe word ons geraak deur die toestand van die oog?

      4 Die mate waarin die oog ’n lamp vir die liggaam kan wees, hang egter grotendeels van die toestand van die oog af. Daarom het Jesus vervolgens gesê: “As jou oog dan reg is, sal jou hele liggaam verlig wees. Maar as jou oog verkeerd is, sal jou hele liggaam donker wees. As dan die lig in jou donkerheid is, hoe groot is die donkerheid nie!” (Mattheüs 6:22, 23). Hieruit kan ons sien watter geweldige invloed die oog op ons hele lewensloop kan hê, ten goede of ten kwade.

  • Is jou oog “reg”?
    Die Wagtoring – 1986 | Mei 1
    • 11. Verduidelik die woorde “reg” en “verkeerd” in Jesus se verklaring oor die oog.

      11 Omdat ons daagliks voor so baie ooglokkende versoekings te staan kom, verstaan ons des te beter waarom Jesus Christus ons vermaan het om te sorg dat ons oë “reg” en nie “verkeerd” is nie (Mattheüs 6:22, 23). Wat beteken dit? “Reg” word hier vertaal uit die Griekse woord ha·plousʹ, wat basies koersvastheid of doelgerigtheid beteken. Die woord “verkeerd” kom andersyds van die Griekse woord po·ne·rosʹ en beteken sleg, waardeloos, boos. Met ander woorde, die ‘regte oog’ word nie afgelei of verlok deur alles wat om hom aangaan nie, maar kyk stip na net een ding. Die ‘verkeerde oog’, daarenteen, is onrustig, skelm en begerig, en is geneig tot dinge wat verdag en duister is.

      12. Hersien en verduidelik die verband van Jesus se bespreking.

      12 Maar waarop moet die oog gevestig word sodat ‘die hele liggaam verlig sal wees’? ’n Ondersoek van die teksverband sal ons help om die antwoord te vind. In die voorafgaande verse het Jesus gepraat van ‘skatte op die aarde’ en ‘skatte in die hemel’. Hy het gesê dat “waar julle skat is, daar sal julle hart ook wees”. Daarna, nadat hy die oog bespreek het, het hy weer klem gelê op doelgerigtheid en gesê: “Niemand kan twee here dien nie”, naamlik God en Mammon. In die volgende verse het hy raad gegee oor ’n mens se beskouing van die daaglikse benodigdhede en afgesluit met die vermaning: “Soek eers die koninkryk van God en sy geregtigheid, en al hierdie dinge sal vir julle bygevoeg word.”​—Mattheüs 6:19-34.

      13. Waarop moet ons ons oog vestig sodat ons ‘hele liggaam verlig sal wees’? Waarom?

      13 Wat kan ons hieruit leer? Jesus praat hier van lewensdoelwitte en wys enersyds op die sinloosheid van ’n gejaag na besittings en andersyds op die seëninge wat voortspruit uit belangstelling in geestelike sake. Wat hy duidelik vir ons sê, is dat ‘ons hele liggaam verlig sal wees’ as ons ons oë suiwer op Koninkryksbelange gevestig hou. Waarom? Omdat ons, as dit ons lewensdoelwit is om God se wil te doen, sal probeer om die glorieryke goeie nuus in elke aspek van ons lewe te weerspieël. Ons kan nie alleen uitsien na ’n blink toekoms nie, maar ons kan bevry word van die duistere en skandelike dinge wat die gevolg is van ’n lewe wat aan selfsugtige strewes gewy word.​—2 Korinthiërs 4:1-6.

      14. Hoe lei dit tot “donkerheid” wanneer ’n mens jou oog op rykdom vestig?

      14 Die apostel Paulus het Jesus se woorde beaam toe hy verduidelik het: “Die wat ryk wil word, val in versoeking en strikke en baie dwase en skadelike begeerlikhede wat die mense laat wegsink in verderf en ondergang” (1 Timotheüs 6:9). Hierdie woorde dra beslis gewig! Die nuus is vol berigte van senatore, burgemeesters, regters, bankiers, bedryfsleiers en ander wat hulle skuldig gemaak het aan bedrog of verduistering wat, volgens een verslag, in die Verenigde State alleen “minstens 200 miljard dollar [400 miljard rand] per jaar beloop”. Die ‘versoeking en strik’ van die rykdom het talle eens gerespekteerde mense in skurke en misdadigers verander. Ons wil seer seker nie “wegsink in verderf en ondergang” en aldus die “donkerheid” ondervind waarteen Jesus gewaarsku het nie.​—Kyk Spreuke 23:4, 5.

      15, 16. (a) Watter ander “begeerlikheid van die oë” moet ons vermy? (b) Hoe hou die raad in Spreuke 27:20 met ons bespreking verband?

      15 Maar is dit net die wat hulle oë op rykdom rig wat gevaar loop om in donkerheid te wandel? Nee, want “die begeerlikheid van die oë” sluit baie ander dinge in. Dink terug aan Jesus se woorde in Mattheüs 5:28: “Elkeen wat na ’n vrou kyk om haar te begeer, [het] reeds in sy hart met haar egbreuk gepleeg.” Daardie waarskuwing geld sekerlik ook vir mense wat hulle oë laat rus op stof wat bedoel is om ongeoorloofde hartstog en begeertes te wek.

      16 Dan is daar die bekommernis oor voedsel, drank en klere waarvan Jesus gepraat het (Mattheüs 6:25-32). Hoewel hierdie dinge nodig is, kan ’n buitensporige begeerte om altyd die jongste, die beste, die gesogste te hê ons verstand en hart verslaaf (Romeine 16:18; Filippense 3:19). Selfs ten opsigte van ontspanning, stokperdjies, sport, oefening en dies meer moet ons goeie balans handhaaf en daarteen waak dat ons meegevoer word deur die giere en grille van die wêreld. Wat al hierdie dinge betref, kan ons gerus die wyse woorde van Spreuke 27:20 in gedagte hou: “Die doderyk en die plek van vertering word nie versadig nie; so word die oë van ’n mens nie versadig nie.” Ons moet inderdaad selfbeheersing aan die dag lê sodat ons ons nie geestelik in gevaar stel deurdat ons probeer om ons oë te bevredig nie.

Afrikaanse publikasies (1975-2025)
Meld af
Meld aan
  • Afrikaans
  • Deel
  • Voorkeure
  • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
  • Gebruiksvoorwaardes
  • Privaatheidsbeleid
  • Privaatheidsinstellings
  • JW.ORG
  • Meld aan
Deel