Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • ‘Beoefen geregtigheid’ terwyl jy met God wandel
    Kom nader aan Jehovah
    • 13 As ons die genade in God se geregtigheid verstaan, sal ons nie gou wees om ander te oordeel oor dinge wat ons regtig nie aangaan of wat van minder belang is nie. In sy Bergpredikasie het Jesus gewaarsku: “Hou op om te oordeel, sodat julle nie geoordeel word nie” (Matteus 7:1). Volgens Lukas se verslag het Jesus bygevoeg: “Hou op om te veroordeel, en julle sal beslis nie veroordeel word nie” (Lukas 6:37).a Jesus het getoon dat hy bewus was van onvolmaakte mense se neiging om ander te oordeel. As enige van sy toehoorders in die gewoonte was om ander kras te oordeel, moes hulle ophou om dit te doen.

      ’n Suster preek vir ’n gestremde bejaarde man en ’n jong meisie.

      Ons openbaar Goddelike geregtigheid wanneer ons die goeie nuus onpartydig aan ander bekend maak

      14. Om watter redes moet ons ‘ophou om te oordeel’?

      14 Waarom moet ons ‘ophou om te oordeel’? Om maar een ding te noem, ons gesag is beperk. Die dissipel Jakobus herinner ons hieraan: “Daar is net een wat Wetgewer en Regter is” – Jehovah. Daarom vra Jakobus reguit: “Wie is jy om jou naaste te oordeel?” (Jakobus 4:12; Romeine 14:1-4). Daarbenewens kan ons sondige natuur so maklik veroorsaak dat ons oordeel onredelik is. Baie gesindhede en beweegredes – onder meer vooroordeel, gekrenkte trots, jaloesie en selfvoldaanheid – kan ons beskouing van ons medemens verwring. Ons het ook nog ander beperkings, en as ons daaraan dink, behoort dit ons daarvan te weerhou om gou met ander fout te vind. Ons kan nie harte lees nie; en ook ken ons nie al die persoonlike omstandighede van ander nie. Wie is ons dan om verkeerde beweegredes aan medegelowiges toe te skryf of om hulle pogings in God se diens te kritiseer? Hoeveel beter is dit tog om Jehovah na te volg en eerder na die goeie in ons broers en susters te soek as om op hulle tekortkominge te konsentreer!

      15. Watter woorde en behandeling hoort geensins onder God se aanbidders nie, en waarom nie?

      15 Wat van ons gesinslede? In vandag se wêreld word mense ongelukkig die krasste geoordeel in wat ’n oord van vrede behoort te wees – hulle eie huis. Dit is niks ongewoons om te hoor van mans, vrouens of ouers wat hulle gesinslede as ’t ware “vonnis” tot voortdurende uitskellery of fisiese mishandeling nie. Maar venynige woorde, bytende sarkasme en mishandeling hoort geensins onder God se aanbidders nie (Efesiërs 4:29, 31; 5:33; 6:4). Jesus se raad om ‘op te hou om te oordeel’ en ‘op te hou om te veroordeel’, is net soveel van toepassing wanneer ons by die huis is. Onthou dat die beoefening van geregtigheid beteken dat ons ander behandel soos Jehovah ons behandel. En ons God is nooit ongevoelig of wreed in sy handelinge met ons nie. Hy is eerder “baie liefdevol en genadig” teenoor diegene wat hom liefhet (Jakobus 5:11). Wat ’n wonderlike voorbeeld is dit tog vir ons om na te volg!

  • ‘Beoefen geregtigheid’ terwyl jy met God wandel
    Kom nader aan Jehovah
    • a Party vertalings sê “moenie oordeel nie” en “moenie veroordeel nie”. Sulke weergawes impliseer “moenie begin oordeel nie” en “moenie begin veroordeel nie”. Maar die Bybelskrywers gebruik hier negatiewe bevele in die teenswoordige tyd met werkwoorde wat voortdurende handeling aandui. Die betrokke handelinge het dus reeds op dié tydstip plaasgevind, maar moes ophou.

Afrikaanse publikasies (1975-2025)
Meld af
Meld aan
  • Afrikaans
  • Deel
  • Voorkeure
  • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
  • Gebruiksvoorwaardes
  • Privaatheidsbeleid
  • Privaatheidsinstellings
  • JW.ORG
  • Meld aan
Deel