-
God en CaesarDie Wagtoring – 1996 | Mei 1
-
-
11. Hoe het Paulus Christene aangeraai om teenoor wêreldse heersers op te tree?
11 Dit was in ooreenstemming hiermee dat die apostel Paulus, net meer as 20 jaar ná Christus se dood, vir die Christene in Rome gesê het: “Laat elke siel onderdanig wees aan die hoër owerhede” (Romeine 13:1). Ongeveer tien jaar later, kort voor sy tweede gevangeneming en sy teregstelling in Rome, het Paulus aan Titus geskryf: “Hou aan om hulle [Kretensiese Christene] daaraan te herinner om onderdanig en gehoorsaam te wees aan regerings en owerhede as heersers, om gereed te wees vir elke goeie werk, om van niemand kwaad te spreek nie, om nie strydlustig te wees nie, om redelik te wees en alle sagmoedigheid teenoor alle mense aan die dag te lê.”—Titus 3:1, 2.
Progressiewe begrip van “die hoër owerhede”
12. (a) Wat was volgens Charles Taze Russell die regte standpunt van ’n Christen met betrekking tot die regeringsowerhede? (b) Watter verskillende standpunte het gesalfde Christene gedurende die Eerste Wêreldoorlog ingeneem wat diens in die gewapende magte betref?
12 Charles Taze Russell het reeds in 1886 in die boek The Plan of the Ages geskryf: “Nie Jesus of die Apostels het aardse heersers op enige manier teëgewerk nie. . . . Hulle het die Kerk geleer om die wette te gehoorsaam en gesagdraers vanweë hulle amp te respekteer, . . . om hulle vasgestelde belastings te betaal en om geen weerstand te bied teen enige bestaande wet nie (Rom. 13:1-7; Matt. 22:21) buiten waar dit in stryd is met God se wette (Hand. 4:19; 5:29). Jesus en die Apostels asook die vroeë kerk was almal wetsgehoorsaam, hoewel hulle afgeskeie was van die regerings van hierdie wêreld en geen aandeel daaraan gehad het nie.” Hierdie boek het “die hoër magte”, of “die hoër owerhede”, wat deur die apostel Paulus gemeld word, tereg as menslike regeringsowerhede geïdentifiseer (Romeine 13:1, King James Version). In 1904 het die boek The New Creation gesê dat ware Christene “onder die wetsgehoorsaamste mense van ons dag moet wees—nie onrusstokers, bakleiers of klaers nie”. Party het hieruit verstaan dat dit algehele onderdanigheid aan die owerheid beteken het, selfs diensneming in die gewapende magte gedurende die Eerste Wêreldoorlog. Ander het egter gemeen dat dit in stryd is met wat Jesus gesê het: “Almal wat die swaard opneem, sal deur die swaard vergaan” (Matteus 26:52). ’n Duideliker begrip van Christelike onderdanigheid aan die hoër owerhede was ongetwyfeld nodig.
13. Watter veranderde begrip van die identiteit van die hoër magte is in 1929 verkry, en hoe was dit voordelig?
13 In 1929, in ’n tyd toe wette van verskillende regerings dinge begin verbied het wat God beveel of dinge begin eis het wat God se wet verbied, is daar gemeen dat die hoër magte Jehovah God en Jesus Christus moet wees.b Dit is hoe Jehovah se knegte hierdie saak verstaan het gedurende die kritieke tydperk voor en tydens die Tweede Wêreldoorlog en tot in die Koue Oorlog, met sy afskrikkingsewewig en militêre paraatheid. Wanneer ons terugkyk, moet daar gesê word dat hierdie beskouing van sake, aangesien dit die oppergesag van Jehovah en sy Christus verhef het, God se volk gehelp het om ’n onversetlike neutrale standpunt deur hierdie hele moeilike tydperk te handhaaf.
Relatiewe onderdanigheid
14. Hoe is daar in 1962 meer lig op Romeine 13:1, 2 en verwante tekste gewerp?
14 In 1961 is die New World Translation of the Holy Scriptures voltooi. Die voorbereiding daarvan het ’n deeglike studie van die tekstuele taal van die Skrif vereis. Die presiese vertaling van nie net die woorde in Romeine hoofstuk 13 nie, maar ook in tekste soos Titus 3:1, 2 en 1 Petrus 2:13, 17 het dit duidelik gemaak dat die term “hoër owerhede” nie na die Oppergesag, Jehovah, en sy Seun, Jesus, verwys nie, maar na menslike regeringsowerhede. Laat in 1962 is artikels in Die Wagtoring gepubliseer wat ’n juiste verduideliking van Romeine hoofstuk 13 gegee het en ook ’n duideliker begrip voorsien het as wat daar in C. T. Russell se tyd bestaan het. Hierdie artikels het getoon dat Christelike onderdanigheid aan die owerheid nie absoluut kan wees nie. Dit moet relatief wees, op voorwaarde dat dit nie van God se knegte verwag om dinge te doen wat strydig met God se wette is nie. Latere artikels in Die Wagtoring het hierdie belangrike punt beklemtoon.c
15, 16. (a) Tot watter gebalanseerde beskouing het die nuwe begrip van Romeine hoofstuk 13 gelei? (b) Watter vrae moet nog beantwoord word?
15 Hierdie sleutel tot die regte begrip van Romeine hoofstuk 13 het Jehovah se volk in staat gestel om gepaste eerbied vir die politieke owerhede in ewewig te hou met ’n onversetlike standpunt oor lewensbelangrike skriftuurlike beginsels (Psalm 97:11; Jeremia 3:15). Dit het hulle in staat gestel om ’n regte beskouing van hulle verhouding met God en hulle handelinge met die Staat te hê. Dit het verseker dat hulle, terwyl hulle aan Caesar terugbetaal wat aan Caesar behoort, nie nalaat om aan God terug te betaal wat aan God behoort nie.
-
-
God en CaesarDie Wagtoring – 1996 | Mei 1
-
-
Dit is interessant dat professor F. F. Bruce in sy kommentaar oor Romeine hoofstuk 13 skryf: “Dit is duidelik uit die onmiddellike konteks, soos uit die algemene konteks van die apostoliese geskrifte, dat die staat slegs die reg het om binne die grense van die doelstellings waarvoor dit deur God aangestel is op gehoorsaamheid aan te dring—wanneer die staat veral op die trou aandring wat net God toekom, mag dit nie net weerstaan word nie, maar móét dit gedoen word.”
-