Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • Leer jouself en ander Christelike sedelikheid
    Die Wagtoring – 2002 | Junie 15
    • 6, 7. (a) Waarom moet ons eers onsself leer? (b) In watter opsig het eerste-eeuse Jode as onderrigters te kort geskiet?

      6 Waarom word daar gesê dat ons eers onsself moet leer? Wel, ons kan ander nie behoorlik leer as ons nie eers onsself geleer het nie. Paulus het hierdie feit beklemtoon in ’n gedagteprikkelende gedeelte wat destyds vir Jode van groot betekenis was, maar wat vir Christene van vandag ook ’n belangrike boodskap bevat. Paulus het gevra: “Leer jy, die een wat iemand anders leer, dan nie jouself nie? Jy, die een wat preek: ‘Moenie steel nie’, steel jy? Jy, die een wat sê: ‘Moenie egbreuk pleeg nie’, pleeg jy egbreuk? Jy, die een wat te kenne gee dat jy ’n afsku van die afgode het, beroof jy tempels? Jy wat jou op die wet beroem, doen jy God oneer aan deur jou oortreding van die Wet?”—Romeine 2:21-23.

      7 Deur retoriese vrae het Paulus verwys na twee oortredings wat duidelik in die Tien Gebooie genoem word: Moenie steel nie en moenie egbreuk pleeg nie (Eksodus 20:14, 15). Sommige Jode in Paulus se tyd was trots daarop dat hulle God se Wet gehad het. Hulle ‘is mondeling uit die Wet onderrig en was daarvan oortuig dat hulle gidse vir die blindes is en ’n lig vir dié in duisternis, leermeesters van klein kindertjies’ (Romeine 2:17-20). Maar party was huigelaars omdat hulle in die geheim gesteel of egbreuk gepleeg het. Dit het die Wet sowel as die Bron daarvan in die hemel oneer aangedoen. Jy kan sien dat hulle beslis nie in staat was om ander te leer nie; hulle het in werklikheid nie eers hulleself geleer nie.

      8. Hoe het party Jode in Paulus se tyd moontlik ‘tempels beroof’?

      8 Paulus het gepraat van tempels wat beroof is. Het party Jode dit letterlik gedoen? Wat het Paulus in gedagte gehad? Om eerlik te wees, weens die beperkte inligting in hierdie gedeelte kan ons nie met sekerheid sê hoe party Jode ‘tempels beroof’ het nie. Vroeër het die stadskrywer van Efese gesê dat Paulus se metgeselle nie “tempelrowers” is nie, wat daarop dui dat ten minste party mense gedink het dat Jode hiervan beskuldig kon word (Handelinge 19:29-37). Het hulle kosbare voorwerpe wat veroweraars of godsdiensyweraars uit heidense tempels geroof het, self gebruik of daaruit wins gemaak? Volgens God se Wet moes die goud en silwer van afgode vernietig word, en nie vir persoonlike gebruik geneem word nie (Deuteronomium 7:25).a Paulus kon dus gesinspeel het op Jode wat God se gebod verontagsaam het en voorwerpe wat uit heidense tempels gekom het, gebruik of daaruit wins gemaak het.

      9. Watter verkeerde gebruike in verband met die tempel in Jerusalem was dalk dieselfde as om die tempel te beroof?

      9 Daarenteen het Josefus vertel dat vier Jode, waarvan die leier ’n leermeester van die Wet was, in Rome opspraak verwek het. Hierdie vier het ’n Romeinse vrou, ’n Joodse proseliet, oorreed om goud en ander kosbaarhede as ’n bydrae vir die tempel in Jerusalem aan hulle te gee. Nadat hulle dit van haar gekry het, het hulle die rykdom vir hulleself gebruik—dit was asof hulle die tempel beroof het.b Ander het in sekere sin God se tempel beroof deur gebreklike diere as offerandes te bring en ’n hebsugtige handelsgees op die tempelterrein te bevorder, wat die tempel in “’n rowerspelonk” verander het.—Matteus 21:12, 13; Maleagi 1:12-14; 3:8, 9.

  • Leer jouself en ander Christelike sedelikheid
    Die Wagtoring – 2002 | Junie 15
    • a Hoewel Josefus die Jode as vry van ontheiliging uitgebeeld het, het hy God se wet soos volg gestel: “Laat niemand die gode laster wat deur ander stede vereer word, of heidense tempels beroof of skatte neem wat in die naam van enige god toegewy is nie.” (Ons kursiveer.)—Jewish Antiquities, Boek 4, hoofstuk 8, paragraaf 10.

Afrikaanse publikasies (1975-2025)
Meld af
Meld aan
  • Afrikaans
  • Deel
  • Voorkeure
  • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
  • Gebruiksvoorwaardes
  • Privaatheidsbeleid
  • Privaatheidsinstellings
  • JW.ORG
  • Meld aan
Deel