-
Wat is God se Koninkryk?Geniet die lewe vir ewig! – Bybellesse wat jou kan help
-
-
7. God se Koninkryk het baie beter wette as dié van enige menseregering
Regerings maak wette wat hulle dink hulle burgers sal help en beskerm. God se Koninkryk het ook wette, en die burgers van die Koninkryk moet gehoorsaam wees daaraan. Lees 1 Korintiërs 6:9-11, en bespreek dan hierdie vrae:
Hoe dink jy sal die wêreld wees as almal gehoorsaam is aan God se wette?a
Dink jy dat Jehovah die reg het om te verwag dat die burgers van die Koninkryk hierdie wette moet gehoorsaam? Hoekom?
Wat wys dat mense wat nie gehoorsaam is aan hierdie wette nie, kan verander? – Sien vers 11.
Regerings maak wette om hulle burgers te beskerm en te help. God se Koninkryk het baie beter wette om die burgers daarvan te beskerm en te help
-
-
Wat sê die Bybel oor seks?Geniet die lewe vir ewig! – Bybellesse wat jou kan help
-
-
LES 41
Wat sê die Bybel oor seks?
Baie mense voel ongemaklik om oor seks te praat. Maar wanneer die Bybel oor seks praat, is dit op ’n reguit en respekvolle manier. Wat dit sê, help ons. Dit maak sin omdat die Bybel van Jehovah af kom en hy ons Skepper is. So hy weet wat die beste vir ons is. Hy sê vir ons wat ons moet doen om hom gelukkig te maak en wat ons sal help om die lewe vir ewig te geniet.
1. Hoe beskou Jehovah seks?
Seks is ’n geskenk van Jehovah af. Hy wil hê dat dit geniet moet word deur ’n man en ’n vrou wat met mekaar getroud is. Hierdie geskenk laat paartjies nie net toe om kinders te hê nie, maar ook om hulle liefde op ’n natuurlike en aangename manier vir mekaar te wys. Daarom sê God se Woord: “Vind vreugde in die vrou van jou jeug” (Spreuke 5:18, 19). Jehovah verwag van getroude Christene om lojaal te wees aan hulle huweliksmaat, en daarom sal hulle nooit egbreuk pleeg nie. – Lees Hebreërs 13:4.
2. Wat is seksuele onsedelikheid?
Die Bybel sê vir ons dat “mense wat seksueel onsedelik is . . . God se Koninkryk nie [sal] erf nie” (1 Korintiërs 6:9, 10). Bybelskrywers wat in Grieks geskryf het, het die woord por·neiʹa gebruik om seksuele onsedelikheid te beskryf. Daardie woord sluit die volgende in: (1) seksuele omganga tussen mense wat nie met mekaar getroud is nie, (2) homoseksualiteit en (3) seks tussen mense en diere. Dit is goed vir ons wanneer ons “van seksuele onsedelikheid [af] wegbly”, en dit maak Jehovah gelukkig. – 1 Tessalonisense 4:3.
SOEK DIEPER
Kyk hoe jy van seksuele onsedelikheid af kan wegbly en hoe dit jou sal help wanneer jy sedelik rein bly.
3. Vlug vir seksuele onsedelikheid
’n Lojale man met die naam Josef het nee gesê vir ’n vrou wat seks met hom wou hê. Lees Genesis 39:1-12, en bespreek dan hierdie vrae:
Wat het Josef gemotiveer om te vlug? – Sien vers 9.
Dink jy dat Josef die regte besluit gemaak het? Hoekom?
Hoe kan jongmense Josef vandag navolg en vir seksuele onsedelikheid vlug? Speel die VIDEO.
Jehovah wil hê dat almal van ons seksuele onsedelikheid moet verwerp. Lees 1 Korintiërs 6:18, en bespreek dan hierdie vrae:
Watter situasies kan veroorsaak dat ’n persoon seksuele onsedelikheid pleeg?
Hoe kan jy vir seksuele onsedelikheid vlug?
4. Jy kan versoeking weerstaan
Wat kan dit moeilik maak om die versoeking om seksueel onsedelik te wees, te weerstaan? Speel die VIDEO, en bespreek dan die volgende vraag.
Wat het die broer in die video gedoen toe hy besef het dat hy dalk ontrou aan sy vrou kan wees as gevolg van die dinge wat hy dink en doen?
Selfs lojale Christene sukkel soms om hulle gedagtes skoon te hou. Hoe kan jy onsedelike gedagtes onmiddellik verwerp? Lees Filippense 4:8, en bespreek dan hierdie vrae:
Aan watter soort dinge moet ons dink?
Hoe kan dit ons help om die versoeking te weerstaan om te sondig as ons die Bybel lees en onsself besig hou in Jehovah se diens?
5. Jehovah se standaarde is goed vir ons
Jehovah weet wat die beste vir ons is. Hy sê vir ons hoe om sedelik rein te bly en watter seëninge ons sal kry as ons dit doen. Lees Spreuke 7:7-27 of speel die VIDEO, en bespreek dan die volgende vrae.
Hoe het die jong man in ’n situasie beland wat tot versoeking kon lei? – Sien Spreuke 7:8, 9.
Volgens Spreuke 7:23, 26 kan seksuele onsedelikheid ernstige gevolge hê. Watter probleme kan ons vermy as ons sedelik rein bly?
Hoe kan sedelike reinheid ons help om die lewe vir ewig te geniet?
Party mense dink dat die dinge wat die Bybel oor homoseksualiteit sê, nie liefdevol is nie. Maar Jehovah, die God van liefde, wil hê dat almal die lewe vir ewig moet geniet. Om te kwalifiseer, moet ons gehoorsaam wees aan sy standaarde. Lees 1 Korintiërs 6:9-11, en bespreek dan hierdie vraag:
Is homoseksuele begeertes volgens God die enigste verkeerde begeertes?
As ons God tevrede wil stel, moet almal van ons veranderinge maak. Is dit die moeite werd? Lees Psalm 19:8, 11, en bespreek dan hierdie vrae:
Dink jy dat Jehovah se standaarde in die Bybel redelik is? Hoekom, of hoekom nie?
Jehovah het baie mense gehelp om gehoorsaam te wees aan sy standaarde in die Bybel. Hy kan jou ook help
PARTY MENSE SÊ: “Enige twee mense kan met mekaar seks hê, solank hulle lief is vir mekaar.”
Wat sal jy sê?
WAT ONS GELEER HET
Seks is ’n geskenk van Jehovah af wat deur ’n man en sy vrou geniet moet word.
Hersiening
Wat sluit seksuele onsedelikheid in?
Wat sal ons help om van seksuele onsedelikheid af weg te bly?
Hoe help dit ons wanneer ons gehoorsaam is aan Jehovah se standaarde in die Bybel?
LEER MEER
Kyk hoekom dit vir God saak maak of paartjies getroud is of nie.
“Wat sê die Bybel oor saambly sonder om te trou?” (Web-artikel)
Leer hoekom die Bybel se standaard oor homoseksualiteit nie beteken dat ons homoseksuele mense moet haat nie.
Vind uit hoe God se wette oor alle seksuele dade ons beskerm.
In die ondervinding “Hulle het my met waardigheid behandel”, kyk wat ’n homoseksuele persoon gemotiveer het om sy lewe te verander om God gelukkig te maak.
a Hierdie verkeerde seksuele dade sluit verskillende dinge in, soos seksuele omgang, orale seks, anale seks en om iemand anders se geslagsdele op ’n seksuele manier te streel.
-
-
Hoe moet Christene oor alkohol voel?Geniet die lewe vir ewig! – Bybellesse wat jou kan help
-
-
LES 43
Hoe moet Christene oor alkohol voel?
Regoor die wêreld het mense verskillende opinies oor alkohol. Party kies om soms te drink wanneer hulle saam met vriende kuier. Ander kies om glad nie te drink nie. En ander drink so baie dat hulle dronk word. Wat sê die Bybel oor alkohol?
1. Is dit verkeerd om alkohol te drink?
Die Bybel sê nie dat dit verkeerd is om alkohol te drink nie. Om die waarheid te sê, wanneer die Bybel praat van die baie goeie dinge wat God vir ons gegee het, noem dit ook “wyn wat die hart van die mens vrolik maak” (Psalm 104:14, 15). Party lojale mans en vrouens van wie daar in die Bybel gepraat word, het alkohol gedrink. – 1 Timoteus 5:23.
2. Watter raad gee die Bybel vir dié wat kies om te drink?
Jehovah sê dat dronkenskap en om te veel te drink, verkeerd is (Galasiërs 5:21). Sy Woord sê: “Bly weg van mense wat te veel wyn drink” (Spreuke 23:20). So as ons kies om te drink – selfs wanneer ons alleen is – moet ons nie so baie drink dat ons nie reguit kan dink nie. En ons moet ook nie so baie drink dat ons nie die dinge wat ons sê en doen, kan beheer nie of dat ons ons gesondheid in gevaar stel nie. As ons nie kan beheer hoeveel ons drink nie, moet ons bereid wees om heeltemal op te hou drink.
3. Hoe kan ons ander se besluite oor alkohol respekteer?
Elke persoon moet besluit of hy alkohol sal drink of nie. Ons moenie iemand oordeel wat kies om alkohol te drink nie, en ons moenie druk op iemand plaas om te drink as hy nie wil drink nie (Romeine 14:10). Ons kies om nie te drink nie as dit vir ander probleme kan veroorsaak. (Lees Romeine 14:21.) Ons soek “nie [ons] eie voordeel . . . nie, maar dié van die ander persoon”. – Lees 1 Korintiërs 10:23, 24.
SOEK DIEPER
Kyk na Bybelbeginsels wat jou sal help om te besluit of jy moet drink of nie en hoeveel om te drink as jy drink. Vind ook uit wat jy kan doen as jy ’n drankprobleem het.
4. Besluit of jy sal drink of nie
Wat het Jesus van alkohol gedink? Om die antwoord te kry, kyk na die eerste wonderwerk wat hy gedoen het. Lees Johannes 2:1-11, en bespreek dan hierdie vrae:
Wat kan ons uit hierdie wonderwerk leer oor wat Jesus dink van alkohol en van dié wat dit drink?
Jesus het nie gesê dat dit verkeerd is om alkohol te drink nie, so hoe moet ’n Christen voel oor iemand wat kies om te drink?
Maar net omdat ’n Christen alkohol mag drink, beteken dit nie dat dit altyd goed is vir hom om dit te doen nie. Lees Spreuke 22:3, en kyk hoe die volgende dinge jou kan help om te besluit of jy sal drink of nie:
Jy gaan bestuur of met masjinerie werk.
Jy is swanger.
’n Dokter het vir jou gesê om nie te drink nie.
Jy sukkel om te beheer hoeveel jy drink.
Dis teen die wet om te drink.
Jy is saam met iemand wat kies om nie te drink nie omdat hy in die verlede gesukkel het om te beheer hoeveel hy drink.
Moet jy alkohol bedien by troues of ander sosiale geleenthede? Om te sien wat jou kan help om te besluit, speel die VIDEO.
Lees Romeine 13:13 en 1 Korintiërs 10:31, 32. Nadat elke vers gelees is, bespreek hierdie vraag:
Hoe kan hierdie beginsel jou help om ’n besluit te maak waarmee Jehovah tevrede sal wees?
Elke Christen besluit self of hy alkohol sal drink of nie. Selfs al drink hy soms alkohol, sal hy dalk op ander tye kies om nie te drink nie
5. Besluit hoeveel jy sal drink
As jy kies om alkohol te drink, onthou die volgende: Al sê Jehovah nie dat dit verkeerd is om alkohol te drink nie, sê hy dat dit verkeerd is om te veel alkohol te drink. Hoekom? Lees Hosea 4:11, 18, en bespreek dan hierdie vraag:
Wat kan gebeur wanneer ’n persoon te veel drink?
Wat kan ons help om nie te veel te drink nie? Ons moet beskeie wees, of bewus wees van ons beperkings. Lees Spreuke 11:2, en bespreek dan hierdie vraag:
Hoekom is dit goed om voor die tyd te besluit presies hoeveel jy sal drink?
6. Wat kan iemand help om op te hou om te veel alkohol te drink?
Kyk wat een man gehelp het om op te hou om alkohol te misbruik. Speel die VIDEO, en bespreek dan die volgende vrae.
Hoe het Dmitri opgetree wanneer hy alkohol gedrink het?
Kon hy onmiddellik ophou drink?
Hoe het hy dit reggekry om uiteindelik op te hou om te veel alkohol te drink?
Lees 1 Korintiërs 6:10, 11, en bespreek dan hierdie vrae:
Hoe ernstig is dronkenskap?
Wat wys dat iemand wat alkohol misbruik, kan verander?
Lees Matteus 5:30, en bespreek dan hierdie vraag:
Toe Jesus in ’n illustrasie gesê het dat iemand sy hand moet afkap, het hy bedoel dat ons dalk opofferings sal moet maak om Jehovah gelukkig te maak. Wat kan jy doen as jy sukkel om op te hou om alkohol te misbruik?a
Lees 1 Korintiërs 15:33, en bespreek dan hierdie vraag:
Watter uitwerking kan jou vriende hê op hoeveel jy drink?
IEMAND VRA DALK: “Is dit verkeerd om te drink?”
Wat sal jy sê?
WAT ONS GELEER HET
Jehovah het alkohol vir ons gegee om te geniet, maar hy sê dat dronkenskap en om te veel te drink, verkeerd is.
Hersiening
Wat sê die Bybel oor alkohol?
Wat is die gevare as jy te veel drink?
Hoe kan ons ander se besluite oor alkohol respekteer?
LEER MEER
Hoe kan tieners goeie besluite oor alkohol maak?
Kyk wat jy kan doen om op te hou om te veel te drink.
Wanneer en hoe moet ouers met hulle kinders praat oor die gebruik van alkohol?
In die lewensverhaal “Ek was ’n bodemlose vaatjie”, kyk hoe ’n man opgehou het om te veel te drink.
a Mense wat verslaaf is aan alkohol, het dalk professionele hulp nodig om op te hou om alkohol te misbruik. Baie dokters sê dat mense wat ’n drankprobleem gehad het, glad nie moet drink nie.
-
-
Wat as jy ’n ernstige sonde pleeg?Geniet die lewe vir ewig! – Bybellesse wat jou kan help
-
-
Al is jy baie lief vir Jehovah, en al probeer jy hard om niks te doen wat hom sal seermaak nie, sal jy nou en dan foute maak. Maar party sondes is ernstiger as ander (1 Korintiërs 6:9, 10). As jy ’n ernstige sonde pleeg, moet jy onthou dat Jehovah nog steeds lief is vir jou. Hy is bereid om jou te vergewe en om jou te help.
1. Wat moet ons doen sodat Jehovah ons sal vergewe?
Dié wat lief is vir Jehovah, is baie hartseer wanneer hulle besef dat hulle ’n ernstige sonde gepleeg het. Maar Jehovah vertroos hulle met sy belofte aan sy aanbidders: “Al is julle sondes so rooi soos skarlaken, sal dit so wit soos sneeu gemaak word” (Jesaja 1:18). As ons uit die hart uit berou toon, sal Jehovah ons heeltemal vergewe. Hoe toon ons berou? Ons hou op om te doen wat sleg is en smeek Jehovah om ons te vergewe omdat ons regtig jammer is oor wat ons gedoen het. Dan werk ons hard om die verkeerde gedagtes of gewoontes te verander wat veroorsaak het dat ons sondig, en ons probeer om volgens Jehovah se rein standaarde te lewe. – Lees Jesaja 55:6, 7.
2. Hoe gebruik Jehovah die ouermanne om ons te help wanneer ons sondig?
As ons ’n ernstige sonde pleeg, sê Jehovah vir ons om “die ouermanne van die gemeente [te] roep”. (Lees Jakobus 5:14, 15.) Hierdie ouermanne is lief vir Jehovah en vir dié wat hom dien. Hulle is gekwalifiseerd om ons te help om ons verhouding met Jehovah te herstel. – Galasiërs 6:1.
Hoe help die ouermanne ons as ons ’n ernstige sonde pleeg? Twee of drie ouermanne sal ons reghelp deur vir ons raad uit die Bybel te gee. Hulle sal ook vir ons praktiese wenke en aanmoediging gee om ons te help om nie weer te sondig nie. As iemand wat ’n ernstige sonde gepleeg het, nie berou toon nie, sal die ouermanne hom uit die gemeente verwyder sodat hy nie ’n slegte invloed op ander het nie.
SOEK DIEPER
Kry meer waardering vir die manier waarop Jehovah ons help as ons ’n ernstige sonde pleeg.
3. Wanneer ons ons sondes erken, help dit ons om te herstel
Enige sonde wat ons pleeg, raak Jehovah, en daarom is dit net reg dat ons ons sondes aan hom erken. Lees Psalm 32:1-5, en bespreek dan hierdie vraag:
Hoekom is dit goed vir ons om ons sondes aan Jehovah te erken eerder as om dit te probeer wegsteek?
As ons ook die ouermanne vra om ons te help nadat ons ons sondes aan Jehovah erken het, sal ons baie beter voel. Speel die VIDEO, en bespreek dan die volgende vraag.
Hoe het die ouermanne Canon gehelp om terug te keer na Jehovah?
Ons moet eerlik wees met die ouermanne. Hulle is daar om ons te help. Lees Jakobus 5:16, en bespreek dan hierdie vraag:
Hoekom is dit makliker vir die ouermanne om ons te help as ons eerlik is met hulle?
Erken jou sonde, wees eerlik met die ouermanne en aanvaar Jehovah se liefdevolle hulp
4. Jehovah betoon genade aan sondaars
As ’n persoon wat ’n ernstige sonde gepleeg het, weier om Jehovah se standaarde te volg, word hy uit die gemeente verwyder, en ons spandeer nie onnodige tyd met hom nie. Lees 1 Korintiërs 5:6, 11, en bespreek dan hierdie vraag:
Net soos suurdeeg deeg laat gis, hoe sal dit die gemeente affekteer as hulle onnodige tyd met ’n onberouvolle sondaar spandeer?
Ouermanne volg Jehovah se genade teenoor onvolmaakte sondaars na en reik uit na en help dié wat uit die gemeente verwyder is. Baie het na die gemeente toe teruggekeer omdat die dissipline, al het dit seergemaak, hulle gehelp het om te besef dat wat hulle gedoen het, verkeerd was. – Psalm 141:5.
Hoe wys die manier hoe Jehovah sondaars hanteer dat hy redelik, genadig en liefdevol is?
5. Jehovah vergewe ons wanneer ons berou toon
Jesus het ’n illustrasie gebruik wat ons help om te verstaan hoe Jehovah voel wanneer ’n persoon berou toon. Lees Lukas 15:1-7, en bespreek dan hierdie vraag:
Wat leer dit jou oor Jehovah?
Lees Esegiël 33:11, en bespreek dan hierdie vraag:
Watter belangrike stap moet ons neem om te wys dat ons berou toon?
Soos ’n herder, gee Jehovah baie om vir sy skape
PARTY MENSE SÊ: “Ek’s bang dat die ouermanne my uit die gemeente sal verwyder as ek vir hulle van my sonde vertel.”
Wat sal jy vir iemand sê wat so voel?
WAT ONS GELEER HET
As ons ’n ernstige sonde pleeg, maar regtig jammer is daaroor en vasbeslote is om op te hou doen wat sleg is, sal Jehovah ons vergewe.
Hersiening
Hoekom is dit goed vir ons om ons sondes aan Jehovah te erken?
Wat moet ons doen sodat Jehovah ons sondes sal vergewe?
As ons ’n ernstige sonde pleeg, hoekom moet ons die ouermanne vra om ons te help?
LEER MEER
Kyk hoe een man Jehovah se genade wat in Jesaja 1:18 beskryf word, ondervind het.
Hoe probeer die ouermanne dié help wat ’n ernstige sonde pleeg?
“Hoe om liefde en genade aan sondaars te betoon” (Die Wagtoring, Augustus 2024)
Kyk hoe liefde en genade aan onberouvolle sondaars betoon word.
“Hulp vir dié wat uit die gemeente verwyder word” (Die Wagtoring, Augustus 2024)
In die lewensverhaal “Ek moes na Jehovah terugkeer”, leer hoekom ’n man wat van die waarheid af weggedryf het, gevoel het dat Jehovah hom weer na Hom toe getrek het.
-