“Laat julle hart nie ontsteld word nie”
“Laat julle hart nie ontsteld word nie; glo in God, glo ook in My.”—JOHANNES 14:1.
1. Waarom was Jesus se woorde in Johannes 14:1 baie tydig?
DIT was 14 Nisan in die jaar 33 G.J. ’n Groepie mans het na sononder in ’n bovertrek in Jerusalem vergader. Hulle Leier het hulle afskeidsraad en bemoediging gegee. Hy het ten dele gesê: “Laat julle hart nie ontsteld word nie” (Johannes 14:1). Sy woorde was baie tydig, want skokkende gebeure sou eerlank plaasvind. Hy is daardie nag gevange geneem, verhoor en veroordeel om tereggestel te word.
2. Waarom was daardie dag so beslissend, en wat het die dissipels gehelp?
2 Jy het goeie rede om daardie dag as die beslissendste dag in die geskiedenis te beskou, wat die hele toekoms van die mensdom geraak het. Die offerdood van die Leier, Jesus, het talle eertydse profesieë vervul en die grondslag voorsien vir ewige lewe vir diegene wat in hom glo (Jesaja 53:5-7; Johannes 3:16). Die apostels, wat weens die traumatiese gebeure van daardie nag oorbluf en verbyster was, was egter ’n tyd lank verward en bevrees. Petrus het Jesus selfs verloën (Mattheüs 26:69-75). Maar nadat die getroue apostels die beloofde helper, die heilige gees, ontvang het, het hulle vrymoedig en onbekommerd geword (Johannes 14:16, 17, NW). Toe Petrus en Johannes kwaai teëgestaan en gevange geneem is, het hulle dus tot God gebid om hulp om sy woord “met alle vrymoedigheid” te spreek. Hulle gebed is verhoor.—Handelinge 4:1-3, 29-31.
3. Waarom is so baie mense vandag diep verontrus?
3 Ons lewe vandag in ’n wêreld vol beroering. Die einde van hierdie ou stelsel kom vinnig nader (2 Timotheüs 3:1-5). Miljoene word persoonlik geraak deur of is diep verontrus oor ’n ernstige ineenstorting van die gesinslewe en sedestandaarde, ’n onrusbarende toename van vreemde siektes, politieke onbestendigheid, werkloosheid, voedselskaarste, terrorisme en die bedreiging van kernoorlog. Baie harte is ongerus weens ’n dreigende vrees vir die toekoms. Soos Jesus voorspel het, is daar “benoudheid van nasies . . . en mense se harte beswyk van vrees en verwagting van die dinge wat oor die wêreld kom”.—Lukas 21:25, 26.
4. Watter faktore kan veroorsaak dat Christene spanning ondervind?
4 Selfs Christene kan ernstig deur sulke ontmoedigende faktore geraak word. Hulle het dalk ook met spanning te kampe weens godsdiensvooroordeel of teëstand van familielede, bure, medewerkers, skoolmaats en regeringsowerhede (Mattheüs 24:9). Hoe kan ons dan in hierdie moeilike tye kalm en onbekommerd bly? Hoe kan ons ons gemoedsrus behou wanneer dinge skeef loop? Hoe kan ons die toekoms met vertroue tegemoetgaan? Wat sal ons help om die diepe angs wat alledaags word te bowe te kom? Ons lewe in die tyd waaroor Jesus die raad in Johannes 14:1 gegee het. Laat ons dit dus noukeurig ondersoek.
Hoe kan ons angs te bowe kom?
5. Watter bemoedigende vermaninge gee die Skrif ons?
5 Nadat Jesus sy apostels liefdevolle bemoediging gegee het om ‘hulle harte nie ontsteld te laat word nie’, het hy vir hulle gesê: “Glo in God, glo ook in My” (Johannes 14:1). Die geïnspireerde Skrif gee ons talle soortgelyke vermaninge: “Werp jou sorg op die HERE, en Hý sal jou onderhou.” “Laat jou weg aan die HERE oor en vertrou op Hom, en Hý sal dit uitvoer” (Psalm 55:23; 37:5). Paulus het die Filippense hierdie uiters belangrike raad gegee: “Wees oor niks besorg nie, maar laat julle begeertes in alles deur gebed en smeking met danksegging bekend word by God. En die vrede van God, wat alle verstand te bowe gaan, sal julle harte en julle [denkvermoëns] bewaar.”—Filippense 4:6, 7, vgl. NW.
6, 7. (a) Wat is een manier om spanning te verminder? (b) Hoe kan ons ’n hegte band met Jehovah kweek?
6 Angs of kommer as gevolg van probleme en groot verantwoordelikheid kan soms ons gesondheid sowel as ons gees aantas. Maar ’n mediese deskundige sê in die boek Don’t Panic: “As mense hulle probleme kan bespreek met iemand vir wie hulle respek het . . . , word die spanningsvlak dikwels in baie groot mate verminder.” As dit die uitwerking is wat ’n gesprek met ’n ander mens het, sal dit jou seer seker baie meer help as jy met God praat. Vir wie kan ons groter respek hê as vir Jehovah?
7 Dit is waarom ’n hegte, persoonlike verhouding met hom vandag vir Christene so lewensbelangrik is. Ryp knegte van Jehovah weet dit goed, en hulle vermy dus sorgvuldig die soort omgang met wêreldse mense of die soort vermaak wat daardie verhouding kan ondermyn (1 Korinthiërs 15:33). Hulle besef ook hoe belangrik dit is om Jehovah in gebed te nader, nie een of twee keer per dag nie, maar dikwels. Jong of nuwe Christene in die besonder moet hierdie hegte band met Jehovah kweek deur gereelde studie van en bepeinsing oor sy Woord en deur Christelike omgang en diens. Ons word aangespoor: “Nader tot God, en Hy sal tot julle nader.”—Jakobus 4:8.
Raad wat Jesus gegee het
8, 9. Watter positiewe raad oor geldelike probleme kan ons toepas?
8 In baie lande is werkloosheid en ekonomiese depressie ernstige oorsake van kommer. Jesus het uiters positiewe raad oor hierdie redes tot kommer gegee: “Moenie julle kwel oor jul lewe [“siele”, NW]—wat julle sal eet en wat julle sal drink nie; of oor jul liggaam—wat julle sal aantrek nie. Is die lewe [“siel”, NW] nie meer as die voedsel en die liggaam as die klere nie?” (Mattheüs 6:25). Ja, die siel en liggaam, of die hele mens, is verreweg belangriker as voedsel en klere. God se knegte kan seker wees dat hy hulle sal help om in hulle basiese lewensbehoeftes te voorsien. Jesus het hierdie voorbeeld gegee: “Kyk na die voëls van die hemel; hulle saai nie en hulle maai nie en hulle bring nie bymekaar in skure nie, en tog voed julle hemelse Vader hulle. Is julle nie baie meer werd as hulle nie?” (Mattheüs 6:26). Dit is ondenkbaar dat God vir voëls sou voorsien, maar sy menslike knegte, wat vir hom baie kosbaar is en vir wie Christus sy lewe afgelê het, sou verwaarloos.
9 Jesus het hierdie gedagte toe benadruk deur die lelies van die veld te noem wat nie arbei of spin nie, maar ‘selfs Salomo in al sy heerlikheid was nie bekleed soos een van hulle nie’. Koning Salomo se bewind was bekend vir die praal daarvan. Jesus het vervolgens vertroostend gevra: “Sal [God] julle nie veel eerder beklee nie?”—Mattheüs 6:28-32, vgl. NW; Hooglied 3:9, 10.
10. (a) Aan wie word Jesus se vertroostende woorde gerig? (b) Watter raad het hy oor die toekoms gegee?
10 Jesus toon egter verder dat dit net vir diegene geld wat ‘eers die koninkryk en sy geregtigheid soek’. Wêreldwyd besef sulke ware Christene wat God se Koninkryk werklik is en stel hulle dit eerste in hulle lewe. Jesus se vermaning is op hulle van toepassing: “Kwel julle dus nie oor môre nie, want môre sal hom oor sy eie dinge kwel. Elke dag het genoeg aan sy eie kwaad” (Mattheüs 6:33, 34). Met ander woorde, pak elke probleem aan wanneer dit ontstaan, en moet jou nie te veel oor die toekoms bekommer nie.
11, 12. Hoe het sommige Christene gemeen dat Jehovah hulle gebede verhoor en hulle gehelp het?
11 Die meeste mense is egter geneig om hulle oor die toekoms te bekommer, veral wanneer dinge skeef loop. Maar Christene kan en behoort hulle in geloof tot Jehovah te wend. Beskou die geval van Eleanor. Haar man was baie siek en hy kon ’n jaar lank nie werk nie. Sy moes twee kindertjies en ’n bejaarde vader versorg en kon dus nie boonop voltyds werk nie. Sy het Jehovah om hulp gevra. Een oggend, kort daarna, het hulle ’n koevert onder die deur gekry. Dit het ’n groot som geld bevat—genoeg om hulle aan die gang te hou totdat die man weer kon werk. Hulle was innig dankbaar vir hierdie tydige hulp. Daar is geen Bybelse grondslag om te verwag dat iets soortgelyks met elke behoeftige Christen sal gebeur nie, maar ons kan seker wees dat Jehovah ons geroep sal hoor en dat hy ons op verskeie maniere kán help.
12 ’n Christenweduwee in Suider-Afrika moes werk soek om vir haar twee kindertjies te sorg. Maar sy wou baie graag net halfdag werk sodat sy tyd saam met hulle kon deurbring. Nadat sy werk gekry het, moes sy noodgedwonge bedank toe die bestuurder besluit dat hy ’n voltydse sekretaresse nodig het. Hierdie suster, wat weer eens werkloos was, het Jehovah opreg om hulp gebid. Drie weke later het haar voormalige bestuurder haar gevra om weer halfdag te kom werk. Hoe bly was sy tog! Sy het gemeen dat Jehovah haar gebede verhoor het.
Smeek Jehovah
13. (a) Wat beteken “smeking”? (b) Watter Skriftuurlike voorbeelde van smeking het ons?
13 Let asseblief daarop dat Paulus, nadat hy ons aangeraai het: “Wees oor niks besorg nie”, byvoeg, “maar laat julle begeertes in alles deur gebed en smeking met danksegging bekend word by God” (Filippense 4:6). Waarom meld hy “smeking”? Die woord beteken “ernstige bede”, of ‘smeekbede’. Dit behels dat ’n mens God baie ernstig smeek, soos ten tyde van groot spanning of gevaar. Toe Paulus ’n gevangene was, het hy mede-Christene gevra om met smeking vir hom te bid sodat hy ‘die goeie nuus as ’n gesant in kettings’ onverskrokke kon verkondig (Efesiërs 6:18-20, vgl. NW). Die Romeinse leëroffisier Cornelius het ‘God ook voortdurend gesmeek’. Hoe opgewonde moes hy tog gewees het toe ’n engel gesê het: “Jou gebede en jou aalmoese het voor God in gedagtenis gekom”! En hoe bevoorreg was hy tog om onder die eerste nie-Jode te wees wat met die heilige gees gesalf is!—Handelinge 10:1-4, vgl. NW, 24, 44-48.
14. Hoe weet ons of ’n mens Jehovah net een keer ernstig moet smeek?
14 Dit is opmerkenswaardig dat ’n mens Jehovah gewoonlik nie net een keer ernstig moet smeek nie. Jesus het in sy beroemde Bergpredikasie gesê: “Bly vra, en dit sal julle gegee word; bly soek, en julle sal vind; bly klop, en daar sal vir julle oopgemaak word” (Mattheüs 7:7, NW). Baie Bybelvertalings gee dit soos volg weer: “Vra . . . soek . . . klop.” Maar die oorspronklike Grieks bevat die gedagte van volgehoue handeling.a
15. (a) Waarom was Nehemia droefgeestig terwyl hy koning Artasasta met wyn bedien het? (b) Hoe het Nehemia meer gedoen as om bloot ’n kort gebed op te stuur?
15 Toe Nehemia die Persiese koning Artasasta as wynkelner bedien het, het die koning hom gevra waarom hy so droefgeestig was. Nehemia het gesê dat dit is omdat hy gehoor het dat Jerusalem verlate is. Die koning het toe gevra: “Wat is dan jou begeerte?” Nehemia het Jehovah onmiddellik om hulp gevra, ongetwyfeld kortliks en stilswyend. Toe het hy toestemming gevra om na Jerusalem terug te keer om sy geliefde tuisstad te herbou. Sy versoek is toegestaan (Nehemia 2:1-6). Maar voor daardie deurslaggewende onderhoud het Nehemia Jehovah dae lank om hulp gesmeek en gebid (Nehemia 1:4-11). Sien jy die les hierin vir jou?
Jehovah verhoor gebede
16. (a) Watter spesiale voorreg het Abraham gehad? (b) Watter kragtige hulpmiddels het ons wat ’n rol by die verhoring van ons gebede speel?
16 Abraham het by geleentheid die voorreg gehad om deur engele met Jehovah te praat (Genesis 22:11-18; 18:1-33). Hoewel dit nie vandag gebeur nie, het ons kragtige hulpmiddels wat Abraham nie gehad het nie. Een daarvan is die volledige Bybel—’n onuitputlike bron van leiding en bemoediging (Psalm 119:105; Romeine 15:4). Die Bybel kan ons dikwels die leiding of bemoediging gee wat ons nodig het, en Jehovah help ons om die verlangde gedeeltes te onthou. ’n Konkordansie of een van die talle Bybelpublikasies wat God deur sy organisasie voorsien, kan ons dikwels die antwoord gee. ’n Uitvoerige en doeltreffende register op hierdie publikasies is nog ’n onskatbare hulpmiddel om die nodige inligting te vind.
17. Op watter ander maniere kan Jehovah ons gebede verhoor, en hoe kan liefdevolle, simpatieke Christene help?
17 As ’n probleem ons kwel of as ons hartseer of moedeloos voel, kan ons gebede ook op ander maniere verhoor word. ’n Bybeltoespraak by die gemeente of by ’n byeenkoms van Jehovah se Getuies kan byvoorbeeld presies die nodige “medisyne” bevat. By ander geleenthede sal ’n geselsie met ’n ander Christen voorsien wat ons nodig het. Gemeentelike ouere manne kan baiemaal bemoediging of raad gee. Ons sal dikwels baie beter voel as ons eenvoudig ons hart uitstort teenoor ’n ryp, liefdevolle en simpatieke Christen wat ’n goeie luisteraar is. Dit is veral die geval as hierdie vriend ons help om oor Bybelse gedagtes na te dink. So ’n gesprek kan ons verstand en hart van ’n swaar las bevry.—Spreuke 12:25; 1 Thessalonicense 5:14.
18. Watter spesiale bedrywigheid kan Christene help om tydperke van terneergedruktheid te bowe te kom, en hoe het dit ’n jong pionier gehelp?
18 Verskeie vorme van terneergedruktheid is gedurende hierdie “swaar tye” iets algemeens (2 Timotheüs 3:1). Mense raak om ’n verskeidenheid van redes moedeloos en neerslagtig. Dit kan ook met Christene gebeur en kan ’n uiters onaangename ondervinding wees. Maar talle het gevind dat die verkondiging van die goeie nuus hulle gehelp het om van ’n tydelike aanval van terneergedruktheid ontslae te raak.b Het jy dit al probeer? Probeer om, wanneer jy ietwat terneergedruk voel, aan ’n vorm van Koninkryksdiens deel te neem. As jy met ander oor God se Koninkryk praat, sal dit jou dikwels help om ’n negatiewe gemoedstemming positief te maak. As jy oor Jehovah praat en sy Woord gebruik, kan dit jou vreugde—’n vrug van sy gees—verskaf en jou anders laat voel (Galasiërs 5:22). ’n Jong pionier het ook gevind dat ’n bedrywige roetine in Koninkrykswerk haar laat besef het dat haar probleme, “in vergelyking met ander s’n, baie klein en tydelik is”.
19. Hoe het ’n Christen met swak gesondheid negatiewe gedagtes te bowe gekom?
19 Soms kan liggaamlike aftakeling, wat dalk deur bekommernisse of probleme vererger word, tot terneergedruktheid lei. Dit kan veroorsaak dat ’n mens snags met ’n gekwelde gemoed wakker word, soos soms met ’n middeljarige Christen met swak gesondheid gebeur het. Maar hy het gevind dat hartgrondige gebed ’n groot hulp was. Telkens wanneer hy wakker geword en terneergedruk gevoel het, het hy kalm tot Jehovah gebid. Dit het hom weldra beter laat voel. Dit was ook vir hom kalmerend om vertroostende Bybelgedeeltes, soos Psalm 23, uit die hoof op te sê. Jehovah se gees, wat in antwoord op gebed of deur sy Woord werk, het sonder uitsondering gehelp om die terneergedrukte gemoedstemming deur ’n gelukkiger gemoedstemming te vervang. Die man kon later ewewigtig en kalm oor sy probleme nadink en sien hoe hy dit kan oplos of versterk voel om dit te verduur.
20. Waarom lyk dit soms asof die antwoord op ’n gebed vertraag word?
20 Dit is ’n voorbeeld van hoe gebed verhoor kan word. Maar soms lyk dit asof daar ’n vertraging is voor ’n oplossing gevind word. Waarom? Moontlik moet die antwoord tot God se regte tyd wag. Dit blyk dat God in sommige gevalle toelaat dat diegene wat tot hom bid die diepte van hulle besorgdheid, die intensiteit van hulle begeerte en die opregtheid van hulle toegewydheid bewys. Een van die psalmiste het dit ondervind!—Psalm 88:14, 15; vergelyk 2 Korinthiërs 12:7-10.
21. Waarom is dit ’n groot voorreg om vandag een van Jehovah se Getuies te wees, en hoe kan ons waardering toon?
21 Kommunikasie met die almagtige God in gebed is in elk geval ’n geloofversterkende ondervinding wat wanhoop kan verlig en ons vertroue kan gee. Hoe vertroostend is dit tog om te weet dat hy hoor en antwoord! Soos Paulus aan die gemeente in Filippi geskryf het, moet ons ons gebede en smeekbedes “met danksegging” doen (Filippense 4:6). Ja, ons moet ons hart daagliks in dankbaarheid aan Jehovah uitstort en ‘in alles dankbaar wees’ (1 Thessalonicense 5:18). Dit sal bydra tot ’n hegte, innige band en sal ons vrede gee. Die volgende artikel toon hoe belangrik dit in hierdie veelbewoë, gevaarlike tye vir Jehovah se knegte is.
[Voetnote]
a Ooreenkomstig die noukeurigheid van die New World Translation of the Holy Scriptures vertaal Charles B. Williams die vers soos volg: “Bly vra . . . bly soek . . . bly klop, en die deur sal vir julle oopgaan.”—The New Testament: A Translation in the Language of the People.
b Tydelike weemoed is anders as diep, langdurige depressie, wat ’n baie ernstiger en komplekser emosionele of geestestoestand is. Kyk Ontwaak! van 22 Oktober 1987, bladsye 3-16.
Hoe sou jy antwoord?
◻ Watter faktore kan veroorsaak dat Christene verontrus voel?
◻ Wat kan ons help om angs te bowe te kom?
◻ Waarom kan Christene seker wees dat God hulle sal help om in hulle lewensbehoeftes te voorsien?
◻ Wat beteken “smeking”, en hoe lig voorbeelde uit die verlede Jehovah se reaksie daarop toe?
◻ Op watter verskillende maniere kan Jehovah ons gebede verhoor?
[Prent op bladsy 12]
‘Julle hemelse Vader voed die voëls. Is julle nie baie meer werd as hulle nie?’