Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • “Vrede vir julle”
    Die Wagtoring – 1988 | Februarie 15
    • 4. Hoe kan Jehovah se volk in hierdie swaar tye vrede van die verstand en hart behou?

      4 Ons lewe in die tyd van die einde, in “swaar tye” (2 Timotheüs 3:1). Die perderuiters wat in Openbaring voorspel is, ry deur die aarde—soos jy aan die oorloë, voedselskaarste en dood weens siekte kan sien (Openbaring 6:3-8). Jehovah se volk word ook deur die toestande om hulle geraak. Hoe kan jy dan goddelike vrede van die verstand en hart behou? Deur na aan die groot Bron van vertroosting en vrede te bly. Soos die vorige artikel getoon het, verg dit herhaalde gebed en smeking. Sodoende sal ‘die vrede van God, wat alle verstand te bowe gaan, julle harte en julle denkvermoëns bewaar deur Christus Jesus’.—Filippense 4:6, 7, vgl. NW.

      5. Waarom was Paulus seker dat “die vrede van God” ons hart kan bewaar?

      5 Die apostel Paulus, wat daardie woorde geskryf het, het self gevare en moeilikhede deurgemaak. Hy is deur Jode en Romeine gevange geneem en geslaan. Hy is gestenig en vir dood agtergelaat. Reise was destyds gevaarlik; Paulus het drie keer skipbreuk gely, en hy was dikwels in gevaar van struikrowers. Hy het talle slapelose nagte deurgebring, het baiemaal koud gekry en was dikwels honger en dors. Buiten dit alles was hy elke dag ‘besorg oor al die gemeentes’ (2 Korinthiërs 11:24-28, vgl. NAV). Paulus het dus uit ruime ondervinding geweet hoe belangrik “die vrede van God” is wat ons hart kan bewaar.

      6. Waarom is dit lewensbelangrik om ’n innige, intieme band met ons Skepper te verkry en te behou?

      6 “Die vrede van God” kan verduidelik word as ’n gevoel van kalmte en onverstoordheid, wat ’n goeie verhouding met God weerspieël. Dit is baie belangrik vir Christene, veral wanneer hulle voor verdrukking of beproewing te staan kom. Waarom? Wel, ons almal is onvolmaak; gevolglik kan ons maklik bang word wanneer ons deur probleme, spanning, teëstand of verskeie terugslae geteister word. Dit kan veroorsaak dat ons nie ons onkreukbaarheid handhaaf nie. Dit kan God se naam tot oneer strek en veroorsaak dat ons Jehovah se guns en die ewige lewe verbeur. Dit is dus inderdaad van lewensbelang dat ons daarna strewe om “die vrede van God” te verkry wat ons sal help om sulke uitdagings met welslae die hoof te bied. Daardie vrede is beslis een van die ‘goeie gawes en volmaakte geskenke’ wat ons hemelse Vader voorsien.—Jakobus 1:17, NAV.

      7, 8. (a) Waarop is “die vrede van God” gegrond, en hoe ‘gaan dit alle verstand te bowe’? (b) Hoe het die geval van ’n Swart broer sulke vrede toegelig?

      7 Jy het dalk opgemerk dat sommige mense kalm en vol vertroue deur die lewe gaan. Dit is dikwels aan natuurlike vermoë, gesinsinvloed, rykdom, opvoeding of ander sulke faktore te danke. “Die vrede van God” is baie anders. Dit is nie gegrond op gunstige omstandighede nie en spruit nie uit mensevermoë of -denke voort nie. Dit is van God afkomstig en ‘gaan alle verstand te bowe’. J. B. Phillips se vertaling van Filippense 4:7 sê dat “die vrede van God . . . menslike begrip oortref”. Wêreldse mense staan dikwels verstom oor die manier waarop Christene ernstige probleme, liggaamlike skade of selfs die dood onder die oë sien.

      8 ’n Hedendaagse voorbeeld hiervan was een van Jehovah se Getuies wat ’n Christenvergadering gehou het in ’n Afrikaland waar die Getuies, hoofsaaklik op aanstigting van plaaslike Katolieke, daarvan beskuldig is dat hulle terroriste is. Skielik het militêre polisie met gevelde bajonette verskyn. Hulle het die vroue en kinders huis toe gestuur, maar het die mans begin slaan. Die Getuie sê: “Ek het nie woorde om te beskryf hoe ons behandel is nie. Die bevelvoerende korporaal het openlik gesê dat ons doodgeslaan sou word. Ek is so erg met ’n houtknuppel geslaan dat ek daarna 90 dae lank bloed opgebring het. Maar ek was bekommerd oor die lewe van my metgeselle. Ek het Jehovah in gebed gevra om na hulle, sy skape, se lewe om te sien”, en hulle almal het dit oorleef. Dit is voorwaar ’n voorbeeld van hoe iemand onder verskriklike beproewing kalm gebly en ander liefdevol in ag geneem het! Ja, ons liefdevolle hemelse Vader verhoor wel die versoeke van sy getroue knegte en gee hulle sy vrede. Een van die verbysterde soldate wat by daardie voorval betrokke was, het gesê dat die God van die Getuies “die ware een moet wees”.

      9. Watter uitwerking kan dit hê as ons die Bybel lees en daaroor peins?

      9 In hierdie moeilike tye het baie Christene probleme wat hulle gefrustreerd en mismoedig laat voel. ’n Goeie manier om gemoedsrus te behou, is om die Bybel te lees en daaroor te peins. Dit kan ’n mens besiel met die krag en vasbeslotenheid om deur te druk en standvastig te bly. “Die woord van God is lewend en kragtig.”—Hebreërs 4:12.

      10. Hoe kan dit ’n seën wees as ons tekste kan onthou?

      10 Maar sê nou teëspoed oorval ons wanneer die Bybel nie beskikbaar is nie. Wat dan? ’n Christen kan byvoorbeeld skielik in hegtenis geneem en sonder ’n Bybel in die tronk gegooi word. Dan sal dit waarlik ’n seën wees om tekste soos Filippense 4:6, 7; Spreuke 3:5, 6; 1 Petrus 5:6, 7 en Psalm 23 te kan onthou. Sou jy dit nie hoog op prys stel as jy sulke gedeeltes kan onthou en daaroor kan nadink nie? Teen die sombere agtergrond van ’n gevangenis sou dit wees asof Jehovah self met jou praat. God se Woord kan gekwetste verstande genees, benoude harte versterk en sielsangs deur vrede vervang. (Kyk Psalm 119:165.) Ja, dit is baie belangrik om nou, terwyl ons nog die geleentheid het om dit te doen, tekste in ons verstand in te prent.

      11. Hoe het ’n broer in Nederland getoon dat hy ’n behoefte aan geestelike voedsel het?

      11 Arthur Winkler was iemand wat ’n diep waardering vir die Bybel gehad het, veral gedurende die Nazibesetting van Nederland, toe die Getuies hulle Christenbedrywigheid ondergronds moes voortsit. Die Gestapo het na broer Winkler gesoek. Toe hulle hom uiteindelik gevange geneem het, het hulle probeer om hom ’n kompromis te laat aangaan, maar hulle het gefaal. Toe het hulle hom bewusteloos geslaan. Met sy tande uitgeslaan, sy onderkaak uit lit en sy liggaam pimpel en pers geslaan, is hy in ’n donker sel gesit. Maar sy wag was simpatiek en vriendelik. Broer Winkler het Jehovah in gebed om leiding gevra. Hy het ook ’n groot behoefte aan geestelike voedsel gehad en het die wag om hulp gevra. Die seldeur is later oopgemaak en ’n Bybel is ingegooi. “Watter vreugde was dit tog”, sê broer Winkler, “om daagliks die aangename woorde van waarheid te geniet . . . Ek het gevoel hoe ek geestelik sterker word.”a

      Goddelike vrede sal jou beskerm

      12. Waarom is dit veral nodig dat ons ons hart en denkvermoëns bewaar?

      12 Jehovah beloof dat sy vrede ‘julle harte en julle denkvermoëns sal bewaar’ (Filippense 4:7, vgl. NW). Dit is so noodsaaklik! Die hart is die setel van die beweegrede en emosies. In hierdie laaste dae kan ons hart maklik deur vrees of angs verswak word of ons in die versoeking bring om te sondig. Die algemene lewenspatroon gaan vinnig agteruit. Ons moet voortdurend op ons hoede wees. Benewens die feit dat ons ’n sterk hart nodig het, moet ons ook dat God ons “denkvermoëns” deur middel van sy Woord en sy gemeente versterk en rig.

      13. Watter voordele kan dit hê as ons denkvermoëns bewaar word?

      13 Volgens W. E. Vine dra die Griekse woord noʹe·ma (wat as “denkvermoëns” weergegee word) die gedagte van “voorneme” of “oogmerk” (An Expository Dictionary of New Testament Words). God se vrede kan dus ons Christelike voorneme versterk en ons beskerm teen enige neiging om te verswak of sonder goeie rede van plan te verander. Ontmoediging of probleme sal ons dus nie maklik van stryk bring nie. As ons ons byvoorbeeld voorgeneem het om Jehovah in die een of ander spesiale hoedanigheid te dien, soos deur ’n voltydse pionierbedienaar te wees of te verhuis na waar bedienaars uiters nodig is, sal “die vrede van God” ons baie help om daardie doel met volharding na te jaag (Vergelyk Lukas 1:3, NW; Handelinge 15:36; 19:21; Romeine 15:22-24, 28; 1 Thessalonicense 2:1, 18.) Jy moet genoeg tyd aan ’n studie van God se Woord en aan Christelike omgang wy om jou denkvermoëns verder te versterk. Op hierdie manier voed jy jou verstand en hart met rein, opbouende gedagtes. Wy jy genoeg tyd daaraan om God se geïnspireerde “woorde” jou eie te maak? Behoort jy meer aandag daaraan te skenk?

      14. Op watter geïnspireerde raad moet ons noulettend ag slaan, en waarom?

      14 Jy kan sien dat die hart sowel as die verstand, of denkvermoëns, ’n rol speel as ons “die vrede van God” wil verkry en daarby wil baat vind. Dit word deur die goddelike raad bevestig: “My seun, luister na wat ek sê, neig jou oor tot my woorde, laat hulle nie wyk uit jou oë nie, bewaar hulle binne-in jou hart. Want hulle is die lewe vir die wat hulle vind, en ’n genesing vir hulle hele liggaam. Bewaak jou hart meer as alles wat bewaar moet word, want daaruit is die oorspronge van die lewe.”—Spreuke 4:20-23.

      15. Watter rol speel Jesus daarin dat ons “die vrede van God” het?

      15 “Die vrede van God” wat uit ’n innige, intieme band met Jehovah voortspruit, bewaar ons hart en denkvermoëns “deur Christus Jesus” (Filippense 4:7, NW). Watter rol speel Jesus hierin? Paulus verduidelik: “Genade vir julle en vrede van God die Vader en onse Here Jesus Christus, wat Homself gegee het vir ons sondes, sodat Hy ons kan uitred uit die teenwoordige bose wêreld, volgens die wil van onse God en Vader” (Galasiërs 1:3, 4). Ja, Jesus het liefdevol sy lewe afgelê om ons vry te koop (Mattheüs 20:28). Dit is derhalwe “deur Christus Jesus” dat ons vir Jehovah aanneemlik kan wees as sy toegewyde knegte en daardie goddelike vrede kan geniet wat ons kan beskerm.

  • “Vrede vir julle”
    Die Wagtoring – 1988 | Februarie 15
    • 20. Wat moet enigiemand doen wat hom aan growwe sonde skuldig maak?

      20 As enigiemand hom aan growwe sonde skuldig maak, maar dit geheim hou, sal hulle uiteraard Jehovah se goedkeuring en “die vrede van God” wat hulle gehad het, verbeur. Hulle sal ook hulle eie gemoedsrus verloor. (Vergelyk 2 Samuel 24:10; Mattheüs 6:22, 23.) Jy kan dus sien waarom dit noodsaaklik is dat enige Christen wat hom aan ernstige sonde skuldig maak dit bely aan Jehovah en aan liefdevolle ouere manne, wat geestelike genesing kan bevorder (Jesaja 1:18, 19; 32:1, 2; Jakobus 5:14, 15). Wanneer iemand wat sy geestelike ewewig op die glibberige pad van die sonde verloor het ryp broers om hulp nader, sal hy nie meer ’n gekwelde gewete hê of sonder goddelike vrede wees nie.

      21. Om watter rede kan ons Jehovah vandag diep dankbaar wees, en wat moet ons vaste voorneme wees?

      21 Dit is voorwaar ’n voorreg om vandag een van Jehovah se toegewyde Getuies te wees! Oral om ons verbrokkel hierdie Sataniese wêreld en word dit ’n warboel. Dit sal eerlank verbygaan. Baie mense se harte “beswyk van vrees en verwagting van die dinge wat oor die wêreld kom”. Maar ons kan ons hoofde ophef omdat ons weet dat ons “verlossing naby is” (Lukas 21:25-28). Laat ons, as blyk van ons dankbaarheid teenoor Jehovah vir sy “vrede . . . wat alle verstand te bowe gaan”, ons uiterste bes doen om “die God wat vrede gee” getrou te dien.—Romeine 15:33, NW; 1 Korinthiërs 15:58.

Afrikaanse publikasies (1975-2027)
Meld af
Meld aan
  • Afrikaans
  • Deel
  • Voorkeure
  • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
  • Gebruiksvoorwaardes
  • Privaatheidsbeleid
  • Privaatheidsinstellings
  • JW.ORG
  • Meld aan
Deel