Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • Jy kan tot die einde toe volhard
    Die Wagtoring – 1999 | Oktober 1
    • 10 Wie is die toeskouers in die wedloop om die lewe waaraan Christene deelneem? Nadat Paulus ’n lys gegee het van getroue voor-Christelike getuies van Jehovah, soos in die 11de hoofstuk van Hebreërs opgeteken is, het hy geskryf: “Daarom dan, omdat ons so ’n groot wolk van getuies rondom ons het, . . . laat ons die wedloop wat voor ons gestel is met volharding hardloop” (Hebreërs 12:1). Toe Paulus hierdie metafoor van ’n wolk gebruik het, het hy nie ’n Griekse woord gebruik wat ’n duidelik omlynde wolk van ’n bepaalde grootte en vorm beskryf het nie. Hy het eerder ’n woord gebruik wat volgens die leksikograaf W. E. Vine “dui op ’n wolkagtige, vormlose massa wat die hemelruim bedek”. Paulus het ongetwyfeld ’n groot menigte getuies in gedagte gehad—soveel dat hulle soos ’n wolkmassa was.

      11, 12. (a) Hoe kan getroue voor-Christelike getuies ons as ’t ware aanspoor om die wedloop met volharding te hardloop? (b) Hoe kan ons in groter mate baat vind by die “groot wolk van getuies”?

      11 Kan getroue voor-Christelike getuies vandag letterlik toeskouers wees? Nouliks. Hulle slaap almal in die dood en wag op ’n opstanding. Maar toe hulle nog gelewe het, was hulle self ook suksesvolle hardlopers, en hulle voorbeelde bly voortbestaan in die bladsye van die Bybel. Wanneer ons die Skrif bestudeer, kan hierdie getroue persone in ons gedagtes begin lewe en ons as ’t ware aanspoor om die wedloop te voltooi.—Romeine 15:4.a

      12 Sê nou byvoorbeeld wêreldse geleenthede doen hulle voor. Sal dit ons dan nie aanspoor om in die wedloop te bly as ons dink aan hoe Moses die glorie van Egipte verwerp het nie? As ons met ’n beproewing te kampe het wat baie swaar lyk, sal dit ons beslis aanmoedig om nie tou op te gooi in die stryd van die geloof nie as ons die moeilike toets onthou waarvoor Abraham te staan gekom het toe hy gevra is om sy seun Isak op te offer. Die mate waarin die “groot wolk” van hierdie getuies ons in hierdie weg aanspoor, hang af van hoe duidelik ons hulle met die oë van ons verstand sien.

      13. Hoe word ons deur hedendaagse Getuies van Jehovah aangespoor om in die wedloop om die lewe te bly?

      13 Ons het ook baie hedendaagse Getuies van Jehovah rondom ons. Watter uitstekende voorbeelde van geloof is gesalfde Christene sowel as mans en vroue van die “groot skare” tog! (Openbaring 7:9). Ons kan hulle lewensverhale van tyd tot tyd in hierdie tydskrif en in ander Wagtoringpublikasies lees.b Wanneer ons nadink oor hulle geloof, word ons aangemoedig om tot die einde toe te volhard. En hoe wonderlik is dit tog om die ondersteuning te hê van intieme vriende en familielede wat Jehovah ook getrou dien! Ja, daar is baie wat ons kan aanspoor in die wedloop om die lewe.

      Kies jou pas verstandig

      14, 15. (a) Waarom is dit belangrik om jou pas verstandig te kies? (b) Waarom moet ons redelik wees wanneer ons doelwitte stel?

      14 Wanneer ’n atleet ’n lang afstand, soos ’n maraton, hardloop, moet hy sy pas verstandig kies. “As jy te vinnig wegspring, kan dit jou later duur te staan kom”, sê die tydskrif New York Runner. “Jy sal óf oor die laaste paar myl sukkel óf uitsak.” ’n Maratonhardloper sê: “Die spreker by ’n lesing wat ek voor die wedloop bygewoon het, het uitdruklik gewaarsku: ‘Moenie by die vinnige atlete probeer byhou nie. Hardloop teen jou eie pas. Anders sal jy moeg word en dalk uitsak.’ Deur hierdie raad te volg, het ek die wedloop voltooi.”

      15 In die wedloop om die lewe moet God se knegte hulle kragtig inspan (Lukas 13:24). Maar die dissipel Jakobus het geskryf: “Die wysheid van bo is . . . redelik” (Jakobus 3:17). Hoewel die goeie voorbeeld van ander ons aanspoor om meer te doen, sal redelikheid ons help om realistiese doelwitte in ooreenstemming met ons vermoëns en omstandighede te stel. Die Skrif herinner ons hieraan: “Laat elkeen sy eie werk op die proef stel, en dan sal hy net met betrekking tot homself rede tot verblyding hê, en nie in vergelyking met die ander persoon nie. Want elkeen sal sy eie vrag dra.”—Galasiërs 6:4, 5.

      16. Hoe help beskeidenheid ons om ons pas te kies?

      16 In Miga 6:8 (NW) word ons hierdie gedagteprikkelende vraag gevra: “Wat anders vra Jehovah van jou terug as om . . . beskeie te wandel met jou God?” Beskeidenheid behels dat ’n mens bewus is van jou beperkings. Word ons diens aan God beperk deur swak gesondheid of die ouderdom? Laat ons nie mismoedig word nie. Jehovah aanvaar ons pogings en opofferings ‘volgens wat ons het, nie volgens wat ons nie het nie’.—2 Korintiërs 8:12; vergelyk Lukas 21:1-4.

  • Jy kan tot die einde toe volhard
    Die Wagtoring – 1999 | Oktober 1
    • Namate die einde nader kom

      20. Hoe sal die wedloop om die lewe dalk moeiliker word namate ons die einde daarvan nader?

      20 In die wedloop om die lewe moet ons ’n stryd voer teen ons grootste vyand, Satan die Duiwel. Namate ons die einde nader, probeer hy hard om ons te laat struikel of ons ons pas te laat verslap (Openbaring 12:12, 17). En dit is nie maklik om as getroue, toegewyde Koninkryksverkondigers te volhard te midde van die oorloë, die hongersnode, die peste en al die ander probleme wat “die tyd van die einde” kenmerk nie (Daniël 12:4; Matteus 24:3-14; Lukas 21:11; 2 Timoteus 3:1-5). Daarbenewens lyk dit dalk soms vir ons of die einde verder is as wat ons verwag het, veral as ons al dekades gelede aan die wedloop begin deelneem het. Maar God se Woord verseker ons dat die einde wel sal kom. Jehovah sê dat dit nie sal versuim nie. Die einde is in sig.—Habakuk 2:3; 2 Petrus 3:9, 10.

      21. (a) Wat sal ons versterk terwyl ons volhard in die wedloop om die lewe? (b) Wat moet ons vasbeslote wees om te doen namate die einde nader kom?

      21 Ten einde die wedloop om die lewe met welslae te voltooi, moet ons dus krag put uit die geestelike voedsel wat Jehovah liefdevol aan ons voorsien. Ons het ook al die aanmoediging nodig wat ons kan kry deur gereeld om te gaan met ons medegelowiges wat ook aan die wedloop deelneem. Al maak hewige vervolging en onvoorsiene gebeurtenisse langs die pad ons wedloop moeiliker, kan ons tot die einde toe volhard omdat Jehovah ons voorsien van “die krag wat bo die normale is” (2 Korintiërs 4:7). Hoe bemoedigend is dit tog om te weet dat Jehovah wil hê dat ons die wedloop seëvierend moet voltooi! Laat ons dan met absolute vasbeslotenheid “die wedloop wat voor ons gestel is met volharding hardloop”, vol vertroue dat ons “op die regte tyd sal . . . maai indien ons nie moeg word nie”.—Hebreërs 12:1; Galasiërs 6:9.

Afrikaanse publikasies (1975-2025)
Meld af
Meld aan
  • Afrikaans
  • Deel
  • Voorkeure
  • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
  • Gebruiksvoorwaardes
  • Privaatheidsbeleid
  • Privaatheidsinstellings
  • JW.ORG
  • Meld aan
Deel