Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w99 10/1 bl. 17-21
  • Jy kan tot die einde toe volhard

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Jy kan tot die einde toe volhard
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1999
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Die regte voeding—’n vereiste
  • Toeskouers om jou aan te spoor
  • Kies jou pas verstandig
  • Hou jou oog op die prys
  • Namate die einde nader kom
  • Hardloop die wedloop met volharding
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1991
  • Hardloop die wedloop met volharding
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2011
  • Hoe hardloop jy in die wedloop van die lewe?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1992
  • “Hardloop só”
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2001
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1999
w99 10/1 bl. 17-21

Jy kan tot die einde toe volhard

“Laat ons die wedloop wat voor ons gestel is met volharding hardloop.”—HEBREËRS 12:1.

1, 2. Wat beteken dit om te volhard?

“JULLE het volharding nodig”, het die apostel Paulus aan die eerste-eeuse Hebreeuse Christene geskryf (Hebreërs 10:36). Die apostel Petrus het eweneens die belangrikheid van hierdie eienskap beklemtoon toe hy Christene aangespoor het: ‘Voeg by julle geloof volharding’ (2 Petrus 1:5, 6). Maar presies wat is volharding?

2 ’n Grieks-Engelse woordeboek omskryf die Griekse werkwoord vir “volhard” as “om te bly in plaas van te vlug . . . om vas te staan, om uit te hou”. Oor die Griekse selfstandige naamwoord vir “volharding” sê een naslaanwerk: “Dit is die gesindheid wat dinge kan verdra, nie bloot met berusting nie, maar met vurige hoop . . . Dit is die eienskap wat ’n man laat staande bly wanneer hy die wind van voor kry. Dit is die deug wat die swaarste beproewing in heerlikheid kan verander omdat dit die doelwit anderkant die pyn sien.” Wanneer ’n mens voor struikelblokke en probleme te staan kom, help volharding jou dus om standvastig te bly en nie mismoedig te word nie. Wie het veral hierdie eienskap nodig?

3, 4. (a) Wie het volharding nodig? (b) Waarom moet ons tot die einde toe volhard?

3 Alle Christene is figuurlik gesproke in ’n wedloop wat volharding vereis. Omstreeks 65 G.J. het die apostel Paulus aan sy medewerker en getroue reisgenoot Timoteus hierdie bemoedigende woorde geskryf: “Ek het die voortreflike stryd gestry, ek het die wedloop enduit gehardloop, ek het die geloof bewaar” (2 Timoteus 4:7). Met die uitdrukking “die wedloop enduit gehardloop”, het Paulus sy lewe as ’n Christen vergelyk met ’n wedloop wat ’n spesifieke roete volg en ’n eindstreep het. Op daardie stadium het Paulus die einde van die wedloop seëvierend genader, en hy het vol vertroue daarna uitgesien om die beloning te ontvang. “Van nou af”, het hy verder gesê, “is die kroon van regverdigheid vir my weggelê, wat die Here, die regverdige regter, my in daardie dag as beloning sal gee” (2 Timoteus 4:8). Paulus was oortuig daarvan dat hy die beloning sou ontvang omdat hy tot die einde toe volhard het. Wat van die res van ons?

4 Om diegene aan te moedig wat die wedloop aangepak het, het Paulus geskryf: “Laat ons die wedloop wat voor ons gestel is met volharding hardloop” (Hebreërs 12:1). As Christene begin ons hierdie wedloop van volharding wanneer ons ons deur middel van Jesus Christus aan Jehovah God toewy. Dit is belangrik om die wedloop van dissipelskap goed te begin, maar wat uiteindelik tel, is dat ons die wedloop voltooi. Jesus het gesê: “Wie tot die einde toe volhard het, hy sal gered word” (Matteus 24:13). Die prys vir diegene wat die wedloop met welslae voltooi, is ewige lewe! Aangesien ons dus ’n doelwit voor oë het, moet ons tot die einde toe volhard. Wat sal ons help om daardie doelwit te bereik?

Die regte voeding—’n vereiste

5, 6. (a) Waaraan moet ons aandag gee as ons in die wedloop om die lewe wil volhard? (b) Van watter geestelike voorsienings moet ons gebruik maak, en waarom?

5 Naby die stad Korinte, Griekeland, was die terrein waar die welbekende Ismiese Spele in die ou tyd gehou is. Paulus het ongetwyfeld geweet dat die Korintiese broers bekend was met die atletiekwedstryde en ander kompetisies wat daar gehou is. Hy het van hulle kennis gebruik gemaak en hulle herinner aan die wedloop om die lewe waaraan hulle deelgeneem het: “Weet julle nie dat die hardlopers in ’n wedloop almal hardloop, maar dat net een die prys ontvang nie? Hardloop só dat julle dit kan verkry.” Paulus het beklemtoon hoe belangrik dit is om in die wedloop te bly en tot die einde voort te beur. Maar wat sou hulle help om dit te doen? “Elkeen wat aan ’n wedstryd deelneem, beoefen selfbeheersing in alles”, het hy bygevoeg. Ja, die deelnemers aan die eertydse spele het hulle aan strawwe oefening onderwerp, het noukeurig gelet op wat hulle eet en drink en elke bedrywigheid streng beheer sodat hulle kon wen.—1 Korintiërs 9:24, 25.

6 Wat van die wedloop waaraan Christene deelneem? “’n Mens moet aandag gee aan jou geestelike voeding as jy in die wedloop om die lewe wil volhard”, sê ’n ouer man in ’n gemeente van Jehovah se Getuies. Dink aan die geestelike voedsel wat Jehovah, “die God wat volharding . . . verskaf”, aan ons voorsien (Romeine 15:5). Ons hoofbron van geestelike voeding is sy Woord, die Bybel. Behoort ons nie ’n goeie program vir Bybellees te volg nie? Deur middel van “die getroue en verstandige slaaf” het Jehovah ons ook voorsien van die tydige tydskrifte Die Wagtoring en die Ontwaak! en ander Bybelpublikasies (Matteus 24:45). As ons dit ywerig bestudeer, sal dit ons geestelik versterk. Ja, ons moet tyd opsy sit—‘die geleë tyd uitkoop’—vir persoonlike studie.—Efesiërs 5:16.

 7. (a) Waarom moet ons nie net tevrede wees met ’n kennis van die basiese Christelike leerstellings nie? (b) Hoe kan ons “tot volwassenheid voortbeur”?

7 Om op die weg van Christendissipelskap te bly, moet ons nie net by die “grondleer” bly nie, maar “tot volwassenheid voortbeur” (Hebreërs 6:1). Ons moet dus belangstelling ontwikkel in “die breedte en lengte en hoogte en diepte” van die waarheid en voedingskrag verkry uit die ‘vaste voedsel wat by volwasse mense behoort’ (Efesiërs 3:18; Hebreërs 5:12-14). Neem byvoorbeeld die vier betroubare verslae van Jesus se lewe op aarde—die Evangelie van Matteus, Markus, Lukas en Johannes. Wanneer ons hierdie Evangelieverslae sorgvuldig bestudeer, raak ons nie net vertroud met die dade wat Jesus verrig het en die soort persoon wat hy is nie, maar kan ons ook sien watter soort denke sy dade gemotiveer het. Dan kan ons “die denke van Christus” ontwikkel.—1 Korintiërs 2:16.

 8. Hoe help Christelike vergaderinge ons om in die wedloop om die lewe te volhard?

8 Paulus het sy medegelowiges aangemoedig: “Laat ons op mekaar ag gee om tot liefde en voortreflike werke aan te spoor en nie ons onderlinge vergadering nalaat soos party die gewoonte het nie, maar mekaar aanmoedig, en dit des te meer namate julle die dag sien nader kom” (Hebreërs 10:24, 25). Wat ’n bron van bemoediging is Christelike vergaderinge tog! En hoe verkwikkend is dit tog om saam met liefdevolle broers en susters om te gaan wat in ons belangstel en wat ons wil help om tot die einde toe te volhard! Ons kan dit nie bekostig om hierdie liefdevolle voorsiening van Jehovah ligtelik op te neem nie. Laat ons, deur ons ywerige persoonlike studie en gereelde vergaderingbywoning, “volgroeid in begripsvermoëns” word.—1 Korintiërs 14:20.

Toeskouers om jou aan te spoor

9, 10. (a) In watter opsig kan toeskouers ’n bron van aanmoediging in ’n wedloop van volharding wees? (b) Wat is die “groot wolk van getuies rondom ons” waarvan Hebreërs 12:1 praat?

9 Maar al is ’n hardloper ook hoe goed voorbereid, is daar dinge wat langs die pad kan gebeur wat hom kan laat struikel en val. “Julle het goed gehardloop. Wie het julle verhinder om die waarheid te bly gehoorsaam?” het Paulus gevra (Galasiërs 5:7). Party Christene in Galasië het blykbaar met slegte mense begin meng, en hulle aandag is gevolglik afgetrek van hulle wedloop om die lewe. Daarenteen kan die ondersteuning en aansporing van ander dit makliker maak om in die wedloop te volhard. Dit is amper soos die uitwerking wat die toeskouers by ’n wedstryd op die deelnemers kan hê. Geesdriftige skares dra by tot die opgewondenheid wat die deelnemers van die begin tot die einde aanspoor. Die gejuig van die toeskouers, wat dikwels met harde musiek en applous gepaardgaan, kan die deelnemers daardie ekstra dryfkrag gee wat hulle nodig het wanneer hulle in die pylvak kom. Trouens, simpatieke toeskouers kan ’n positiewe uitwerking op diegene in die wedloop hê.

10 Wie is die toeskouers in die wedloop om die lewe waaraan Christene deelneem? Nadat Paulus ’n lys gegee het van getroue voor-Christelike getuies van Jehovah, soos in die 11de hoofstuk van Hebreërs opgeteken is, het hy geskryf: “Daarom dan, omdat ons so ’n groot wolk van getuies rondom ons het, . . . laat ons die wedloop wat voor ons gestel is met volharding hardloop” (Hebreërs 12:1). Toe Paulus hierdie metafoor van ’n wolk gebruik het, het hy nie ’n Griekse woord gebruik wat ’n duidelik omlynde wolk van ’n bepaalde grootte en vorm beskryf het nie. Hy het eerder ’n woord gebruik wat volgens die leksikograaf W. E. Vine “dui op ’n wolkagtige, vormlose massa wat die hemelruim bedek”. Paulus het ongetwyfeld ’n groot menigte getuies in gedagte gehad—soveel dat hulle soos ’n wolkmassa was.

11, 12. (a) Hoe kan getroue voor-Christelike getuies ons as ’t ware aanspoor om die wedloop met volharding te hardloop? (b) Hoe kan ons in groter mate baat vind by die “groot wolk van getuies”?

11 Kan getroue voor-Christelike getuies vandag letterlik toeskouers wees? Nouliks. Hulle slaap almal in die dood en wag op ’n opstanding. Maar toe hulle nog gelewe het, was hulle self ook suksesvolle hardlopers, en hulle voorbeelde bly voortbestaan in die bladsye van die Bybel. Wanneer ons die Skrif bestudeer, kan hierdie getroue persone in ons gedagtes begin lewe en ons as ’t ware aanspoor om die wedloop te voltooi.—Romeine 15:4.a

12 Sê nou byvoorbeeld wêreldse geleenthede doen hulle voor. Sal dit ons dan nie aanspoor om in die wedloop te bly as ons dink aan hoe Moses die glorie van Egipte verwerp het nie? As ons met ’n beproewing te kampe het wat baie swaar lyk, sal dit ons beslis aanmoedig om nie tou op te gooi in die stryd van die geloof nie as ons die moeilike toets onthou waarvoor Abraham te staan gekom het toe hy gevra is om sy seun Isak op te offer. Die mate waarin die “groot wolk” van hierdie getuies ons in hierdie weg aanspoor, hang af van hoe duidelik ons hulle met die oë van ons verstand sien.

13. Hoe word ons deur hedendaagse Getuies van Jehovah aangespoor om in die wedloop om die lewe te bly?

13 Ons het ook baie hedendaagse Getuies van Jehovah rondom ons. Watter uitstekende voorbeelde van geloof is gesalfde Christene sowel as mans en vroue van die “groot skare” tog! (Openbaring 7:9). Ons kan hulle lewensverhale van tyd tot tyd in hierdie tydskrif en in ander Wagtoringpublikasies lees.b Wanneer ons nadink oor hulle geloof, word ons aangemoedig om tot die einde toe te volhard. En hoe wonderlik is dit tog om die ondersteuning te hê van intieme vriende en familielede wat Jehovah ook getrou dien! Ja, daar is baie wat ons kan aanspoor in die wedloop om die lewe.

Kies jou pas verstandig

14, 15. (a) Waarom is dit belangrik om jou pas verstandig te kies? (b) Waarom moet ons redelik wees wanneer ons doelwitte stel?

14 Wanneer ’n atleet ’n lang afstand, soos ’n maraton, hardloop, moet hy sy pas verstandig kies. “As jy te vinnig wegspring, kan dit jou later duur te staan kom”, sê die tydskrif New York Runner. “Jy sal óf oor die laaste paar myl sukkel óf uitsak.” ’n Maratonhardloper sê: “Die spreker by ’n lesing wat ek voor die wedloop bygewoon het, het uitdruklik gewaarsku: ‘Moenie by die vinnige atlete probeer byhou nie. Hardloop teen jou eie pas. Anders sal jy moeg word en dalk uitsak.’ Deur hierdie raad te volg, het ek die wedloop voltooi.”

15 In die wedloop om die lewe moet God se knegte hulle kragtig inspan (Lukas 13:24). Maar die dissipel Jakobus het geskryf: “Die wysheid van bo is . . . redelik” (Jakobus 3:17). Hoewel die goeie voorbeeld van ander ons aanspoor om meer te doen, sal redelikheid ons help om realistiese doelwitte in ooreenstemming met ons vermoëns en omstandighede te stel. Die Skrif herinner ons hieraan: “Laat elkeen sy eie werk op die proef stel, en dan sal hy net met betrekking tot homself rede tot verblyding hê, en nie in vergelyking met die ander persoon nie. Want elkeen sal sy eie vrag dra.”—Galasiërs 6:4, 5.

16. Hoe help beskeidenheid ons om ons pas te kies?

16 In Miga 6:8 (NW) word ons hierdie gedagteprikkelende vraag gevra: “Wat anders vra Jehovah van jou terug as om . . . beskeie te wandel met jou God?” Beskeidenheid behels dat ’n mens bewus is van jou beperkings. Word ons diens aan God beperk deur swak gesondheid of die ouderdom? Laat ons nie mismoedig word nie. Jehovah aanvaar ons pogings en opofferings ‘volgens wat ons het, nie volgens wat ons nie het nie’.—2 Korintiërs 8:12; vergelyk Lukas 21:1-4.

Hou jou oog op die prys

17, 18. Waarop het Jesus sy oog gevestig gehou sodat hy in staat was om die folterpaal te verduur?

17 Toe Paulus vir die Christene in Korinte getoon het hoe belangrik volharding in die wedloop om die lewe is, het hy na nog ’n aspek van die Ismiese Spele verwys wat hulle aandag verdien het. Aangaande die deelnemers in daardie spele het Paulus geskryf: “Húlle [hardloop] natuurlik sodat hulle ’n verderflike kroon kan kry, maar ons ’n onverderflike. Daarom is die manier waarop ek hardloop nie onseker nie; die manier waarop ek my houe rig, is só dat ek nie in die lug slaan nie” (1 Korintiërs 9:25, 26). Die prys vir die wenner van daardie eertydse spele was ’n kroon, of ’n krans, wat van denne of ander plante of selfs van droë wildeseldery gemaak is—waarlik ’n “verderflike kroon”. Maar waarna kan Christene uitsien wat tot die einde toe volhard?

18 Paulus het na ons Voorbeeld, Jesus Christus, verwys en geskryf: “Vir die vreugde wat hom voorgehou is, het hy ’n folterpaal verduur, terwyl hy die skande verag het, en [hy het] aan die regterhand van die troon van God gaan sit” (Hebreërs 12:2). Jesus het tot die einde van sy lewe as ’n mens volhard deur verby die folterpaal te kyk na sy beloning, wat die vreugde ingesluit het om by te dra tot die heiliging van Jehovah se naam, om die mensdom van die dood los te koop en om as Koning en Hoëpriester te heers terwyl hy gehoorsame mense tot ewige lewe op ’n paradysaarde herstel.—Matteus 6:9, 10; 20:28; Hebreërs 7:23-26.

19. Wat moet ons duidelik voor oë hou terwyl ons die weg van Christendissipelskap volg?

19 Dink aan die vreugde wat ons voorgehou word terwyl ons die weg van Christendissipelskap volg. Jehovah het ons die uiters bevredigende werk gegee om die goeie nuus van God se Koninkryk te verkondig en die lewensreddende kennis van die Bybel aan ander oor te dra (Matteus 28:19, 20). Hoeveel vreugde verskaf dit ons tog om iemand te vind wat in die ware God belangstel en daardie persoon te help om aan die wedloop om die lewe deel te neem! En ongeag wat die reaksie van die mense is vir wie ons getuig, dit is ’n voorreg om ’n aandeel te hê aan die werk wat met die heiliging van Jehovah se naam verband hou. Wanneer ons in die bediening volhard ondanks onverskilligheid of teenstand aan die kant van diegene in die gebied waar ons getuig, het ons die vreugde om Jehovah se hart bly te maak (Spreuke 27:11). En die groot beloning wat hy ons beloof, is die ewige lewe. Wat ’n vreugde sal dit tog wees! Ons moet hierdie seëninge voor oë hou en in die wedloop volhard.

Namate die einde nader kom

20. Hoe sal die wedloop om die lewe dalk moeiliker word namate ons die einde daarvan nader?

20 In die wedloop om die lewe moet ons ’n stryd voer teen ons grootste vyand, Satan die Duiwel. Namate ons die einde nader, probeer hy hard om ons te laat struikel of ons ons pas te laat verslap (Openbaring 12:12, 17). En dit is nie maklik om as getroue, toegewyde Koninkryksverkondigers te volhard te midde van die oorloë, die hongersnode, die peste en al die ander probleme wat “die tyd van die einde” kenmerk nie (Daniël 12:4; Matteus 24:3-14; Lukas 21:11; 2 Timoteus 3:1-5). Daarbenewens lyk dit dalk soms vir ons of die einde verder is as wat ons verwag het, veral as ons al dekades gelede aan die wedloop begin deelneem het. Maar God se Woord verseker ons dat die einde wel sal kom. Jehovah sê dat dit nie sal versuim nie. Die einde is in sig.—Habakuk 2:3; 2 Petrus 3:9, 10.

21. (a) Wat sal ons versterk terwyl ons volhard in die wedloop om die lewe? (b) Wat moet ons vasbeslote wees om te doen namate die einde nader kom?

21 Ten einde die wedloop om die lewe met welslae te voltooi, moet ons dus krag put uit die geestelike voedsel wat Jehovah liefdevol aan ons voorsien. Ons het ook al die aanmoediging nodig wat ons kan kry deur gereeld om te gaan met ons medegelowiges wat ook aan die wedloop deelneem. Al maak hewige vervolging en onvoorsiene gebeurtenisse langs die pad ons wedloop moeiliker, kan ons tot die einde toe volhard omdat Jehovah ons voorsien van “die krag wat bo die normale is” (2 Korintiërs 4:7). Hoe bemoedigend is dit tog om te weet dat Jehovah wil hê dat ons die wedloop seëvierend moet voltooi! Laat ons dan met absolute vasbeslotenheid “die wedloop wat voor ons gestel is met volharding hardloop”, vol vertroue dat ons “op die regte tyd sal . . . maai indien ons nie moeg word nie”.—Hebreërs 12:1; Galasiërs 6:9.

[Voetnote]

a Sien Die Wagtoring van 15 Januarie 1987, bladsye 10-20, vir ’n bespreking van Hebreërs 11:1–12:3.

b ’n Paar onlangse voorbeelde van sulke bemoedigende ondervindinge kan gevind word in Die Wagtoring van 1 Junie 1998, bladsye 28-31; 1 September 1998, bladsye 24-8; 1 Februarie 1999, bladsye 25-9.

Onthou jy?

◻ Waarom moet ons tot die einde toe volhard?

◻ Watter voorsienings van Jehovah moet ons nie afskeep nie?

◻ Waarom is dit belangrik dat ons ons pas verstandig kies?

◻ Watter vreugde word ons voorgehou terwyl ons aan die wedloop bly deelneem?

[Prent op bladsy 18]

Christelike vergaderinge is ’n bron van bemoediging

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel