Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • su hfst. 24 bl. 183-189
  • Die uurglas loop leeg!

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Die uurglas loop leeg!
  • Oorlewing tot in ’n nuwe aarde
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • GEBEURE WAT NOG VOORLÊ
  • ’N LUISTERRYKE „NUWE AARDE”
  • Vrede van God af—Wanneer?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1986
  • “Vrede en veiligheid”—Dan “skielike verderf”
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1982
  • Hoe die Koninkryk “kom”
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1982
  • Wanneer sal die voorspelde wêreldvernietiging kom?
    Ware vrede en veiligheid—Hoe kan jy dit vind?
Sien nog
Oorlewing tot in ’n nuwe aarde
su hfst. 24 bl. 183-189

Hoofstuk 24

Die uurglas loop leeg!

1. Hoe naby is die „oordeelsdag” volgens vooraanstaande wetenskaplikes?

IN 1947 het wetenskaplikes ’n „oordeelsdaghorlosie” uitgedink. Dit verskyn op die buiteblad van The Bulletin of the Atomic Scientists en word gebruik om aan te dui hoe onheilspellend naby die wêreld na hulle mening aan kernuitwissing is. Die wysers van daardie „horlosie” is al telkemaal geskuif—soms vorentoe, soms agtertoe, afhangende van hoe gevaarlik die internasionale situasie skyn te wees. Vroeg in 1984 is daardie wysers tot drie minute voor middernag aangeskuif. Wanneer hulle middernag bereik, sal dit beteken dat die gevreesde kernoorlog begin het.

2. Wanneer het Jehovah sy aftelling begin, en wat sal gebeur wanneer dit eindig?

2 Maar nagenoeg 6 000 jaar gelede het Jehovah God met ’n aftelling begin wat onstuitbaar voorwaarts beweeg het, nooit agteruit nie. Daardie aftelling sal eindig wanneer God se bestemde tyd aanbreek om sy soewereiniteit te regverdig, iets waarvan die vrede en welsyn van die ganse heelal afhang. Hy het sy voorneme openlik verklaar en tydbakens voorsien wat ons in staat stel om die ontwikkeling daarvan dop te hou. Onmiddellik ná die opstand in Eden het Jehovah beloof dat hy deur sy „vrou”, sy organisasie van lojale geesskepsele, ’n „saad” sou verwek wat Satan, „die ou slang”, se kop sou vermorsel en hom uiteindelik vir goed sou vernietig (Genesis 3:15; Openbaring 12:9; Romeine 16:20). Hoe verlang liefhebbers van geregtigheid tog nie na daardie tyd nie!

3. (a) Wat toon dat die tyd van die Messias se koms noukeurig bereken is? (b) Waarvoor is die grondslag toe gelê?

3 Op God se bestemde tyd, wat lank tevore voorspel is, het die beloofde „saad”, die Messias, God se eie Seun, op die aarde verskyn. As ’n dawerende antwoord op Satan se tartende uitdaging het Jesus tot die dood toe volmaakte godvrugtige toewyding gehandhaaf. En deur sy dood as ’n sondelose mens het hy ook die middel voorsien om Adam se nakomelinge van sonde en die dood vry te koop. So is die grondslag gelê om uiteindelik „die werke van die duiwel te verbreek”.—1 Johannes 3:8; Daniël 9:25; Galasiërs 4:4, 5.

4. (a) Watter groep het Jesus begin versamel toe hy op aarde was? (b) Wanneer het Christus, ooreenkomstig die goddelike tydrooster, as Koning begin regeer? (c) Wat was een van die eerste dinge wat hy gedoen het?

4 Terwyl Jesus nog op aarde was, het hy begin om manne en vroue te versamel wat mede-erfgename van hom in sy hemelse Koninkryk sou word. Net 144 000 gekose, beproefde en lojale persone sou ingesluit word. Toe die tyd aangebreek het om die laaste lede van hierdie groep te versamel, het Jesus self in die hemel „heerskappy en eer en koningskap” ontvang (Daniël 7:13, 14). Presies op tyd, in 1914, het hy as heersende Koning tot aksie oorgegaan. Satan en sy demone is dadelik uit die hemel gewerp, en so is die regeringsetel gereinig (Openbaring 12:7-12). Die huidige wêreldstelsel het sy laaste dae binnegegaan.

5. Wie sal lewe om die regverdiging van Jehovah se soewereiniteit te aanskou?

5 Die aftelling wat reeds sowat ses millenniums aan die gang is, loop nou snel ten einde. Daardie einde is so naby dat mense wat in 1914 gelewe het, en wat nou hoogbejaard is, nie almal van die toneel sal verdwyn voordat die heuglike gebeure plaasvind waartydens Jehovah sy soewereiniteit sal regverdig nie.—Markus 13:30.

6, 7. (a) Watter feite omtrent die „groot menigte” toon dat die groot verdrukking baie naby moet wees? (b) Waarom sien hulle met groot afwagting na die toekoms uit?

6 Ander lojale knegte van God sal ook daar wees om die gebeure van daardie groot dag te aanskou. Hierdie persone het veral sedert 1935, toe die identiteit van die „groot menigte” duidelik verstaan is, in groot getalle na vore begin kom. Aanvanklik was daar honderde, toe duisende, later honderdduisende, en nou is daar miljoene rondom die aarde. God se onfeilbare Woord toon dat hierdie groep as oorlewendes „uit die groot verdrukking kom”, wat beteken dat hulle tot in God se Nuwe Orde voortleef sonder dat hulle ooit hoef te sterf (Openbaring 7:9, 10, 14; Johannes 11:26). Die vroeë lede van hierdie groep is nou in die sestig of sewentig of ouer. Jehovah het nie die insameling van hierdie groep te gou laat begin nie. Die „groot menigte”, waaronder baie van die eerste lede van daardie groep, sal tot in die „nuwe aarde” oorleef.

7 Die hoop van die „groot menigte” sal nie verydel word deur ’n kernslagting wat die hele mensdom vernietig nie. Hulle is met goeie rede optimisties en moedig. Hulle hou die gebeure van hierdie „laaste dae” met groot afwagting dop, terwyl hulle Jesus se raad op hulleself toepas: „As hierdie dinge begin gebeur, kyk dan na bo en hef julle hoofde op, omdat julle verlossing naby is” (Lukas 21:28). Maar verdere gebeure van wêreldskuddende betekenis moet nog plaasvind voor die tyd vir daardie verlossing aanbreek.

GEBEURE WAT NOG VOORLÊ

8. (a) Watter baie betekenisvolle verwikkeling, wat in 1 Thessalonicense 5:3 voorspel is, lê nog voor? (b) Hoe is die weg baie jare gelede hiervoor gebaan? (c) Watter druk word in die laaste jare uitgeoefen om wêreldvrede te verseker?

8 Die apostel Paulus het op een van hierdie verwikkelinge gewys toe hy geskryf het: „Wanneer hulle sê: Vrede en veiligheid—dan oorval ’n skielike verderf hulle soos die barensnood ’n swanger vrou, en hulle sal sekerlik nie ontvlug nie” (1 Thessalonicense 5:3). Dit is nie bekend watter vorm daardie aankondiging sal aanneem nie. Maar dit is opmerkenswaardig dat die weg daarvoor gebaan is kort nadat die wêreld „die laaste dae” binnegegaan het. In 1919 is die Volkebond gestig met die verklaarde doel om „vrede en veiligheid” te bewerkstellig. Ná die Tweede Wêreldoorlog het die Handves van die Verenigde Volke weer eens „vrede en veiligheid” as die vernaamste doel van daardie internasionale liggaam gestel. Daardie doel is nooit bereik nie. In die laaste jare neem mense uit alle lewenstande egter in baie lande aan ontsaglike openbare betogings deel om die wêreldleiers te oorreed om die vervaardiging, toetsing en ontplooiing van kernwapens te staak. Hulle wil verseker wees van wêreldvrede en is doodbang vir die alternatief soos hulle dit sien.

9. Waarom sal skielike verderf diegene oorval wat die voorspelde aankondiging van „Vrede en veiligheid” onderskryf?

9 Hetsy as gevolg hiervan of van ’n ander inisiatief sal menseleiers binnekort ’n baie belangrike aankondiging van „Vrede en veiligheid” maak. Dit sal blote skyn wees. Maar die wat dit onderskryf, sal verklaar dat hulle hulle doel op eie houtjie bereik het, sonder die hulp van God se Koninkryk. Met hierdie verwerping van Jehovah se soewereiniteit „oorval ’n skielike verderf hulle”.

10. Hoe neem die situasie nou reeds vorm aan vir die vernietiging van Babilon die Grote?

10 Gebeure sal vinnig op mekaar volg. Babilon die Grote, die wêreldryk van valse godsdiens, sal deur haar voormalige politieke minnaars verwoes word. Regeerders is reeds terdeë daarvan bewus dat godsdiens ’n opruiende krag is wat haat, bloedvergieting en oorlog rondom die aarde aanblaas. Politici raak moeg vir die druk wat geestelikes op hulle uitoefen. In baie dele van die wêreld het kerkbywoning skerp afgeneem. ’n Ateïstiese beskouing, hetsy openlik of bedek, beïnvloed die openbare mening. Boonop het baie ledelande van die Verenigde Volke sterk anti-godsdienstige beleide. Wanneer Jehovah se aangewese uur aanbreek om oordeel te voltrek, sal hy toelaat dat die politieke regeerders, in ’n omvattende, internasionale stap, Babilon die Grote aanval en haar geheel en al vernietig.—Openbaring 17:15, 16; 19:1, 2.

11. (a) Op wie sal die nasies vervolgens ’n aanval doen? (b) Tot watter verdere gebeure sal dit lei?

11 In die roes van daardie oorwinning en op aanstigting van hulle onsigbare owerste, Satan die Duiwel, sal die nasies dan ’n aanval doen op Jehovah se getroue getuies op aarde (Esegiël 38:14-16). Die feit dat hulle vredeliewende, wetsgehoorsame mense is wat hulle nie met die politiek bemoei of aandadig is aan oorlog nie, sal geen verskil maak nie. Die nasies sal aandring op totale ondersteuning, aanbidding van die politieke stelsel. Maar wanneer hulle probeer om Jehovah se sigbare organisasie te verbrysel, sal God beslissend optree ten behoewe van sy lojale knegte en hulle red. Die leërs van die hemel sal elke spoor van Satan se sigbare organisasie uitwis, tesame met almal wat daaraan vasklou. Dan sal die aartsvyand, Satan die Duiwel self, gegryp en duisend jaar lank geheel en al onskadelik gemaak word. Gedurende daardie tydperk sal al die gevolge van sy bose invloed verwyder word en sal die aarde in ’n paradys omskep word. Daarna sal Satan vir ’n kort tydjie losgelaat word om die herstelde mensdom te toets. Alle mense wat besluit om hom te volg, sal vernietig word, tesame met Satan en sy demone.—Openbaring 19:19-21; 20:1-3, 7-10.

’N LUISTERRYKE „NUWE AARDE”

12. (a) Aan wie sal die „groot menigte” hulle verlossing toeskryf? (b) Wie sal God saam met hulle loof?

12 Met die angswekkende gebeure van die einde van die huidige wêreld agter die rug en die Duisendjarige Heerskappy van Christus wat voor hulle uitstrek, sal die begunstigde oorlewendes op aarde oorstelp wees van innige dankbaarheid terwyl hulle hulle stemme tot lof van God verhef. Met diepe ontroering sal die „groot menigte” met ’n groot stem uitroep: „Heil aan onse God [Jehovah] wat op die troon sit, en aan die Lam [Jesus Christus]!” En al die lede van God se lojale hemelse organisasie sal die belangrikheid van hierdie gebeure besef en saam met die „groot menigte” aanbid deur te sê: „Amen! Die lof en die heerlikheid en die wysheid en die danksegging en die eer en die krag en die sterkte aan onse God tot in alle ewigheid! Amen.”—Openbaring 7:10-12.

13. Hoe beskryf die Bybel die voorsiening wat gemaak is om die mensdom te voed en te genees?

13 Die hele mensdom sal uiteindelik ’n verenigde gemeenskap vorm wat die ware God eer, „’n nuwe aarde” onder „’n nuwe hemel” wat Jehovah se liefdevolle soewereiniteit uitoefen. Met die gebruik van pragtige simboliek beskryf die laaste boek van die Bybel die wonderlike voordele wat dan na die mensdom sal vloei as „’n suiwer rivier van die water van die lewe, helder soos kristal, wat uitstroom uit die troon van God en van die Lam” al langs die middel van die breë straat van die hemelse Nuwe Jerusalem. Aan die oewers van hierdie rivier is daar „bome van die lewe” wat vrugte dra as voedsel en blare tot genesing van die nasies. Dit verteenwoordig die hele voorsiening wat God gemaak het vir die genesing en voeding van die gelowige, gehoorsame mensdom en waardeur hulle in staat gestel word om die ewige lewe deur Jesus Christus te geniet.—Openbaring 21:1, 2; 22:1, 2, vergelyk NW.

14. Hoe sal toestande in die „nuwe aarde” anders wees as dié wat vandag heers?

14 Die toestande wat dan op aarde bestaan, sal verfrissend anders wees as enigiets wat ooit deur die ou wêreld tot stand gebring is. Deur die aanwending van die voordele van Christus se offerande en deur onderrigting in die wil van God sal gehoorsame mense, met inbegrip van diegene wat uit die dood verrys, bevry word van elke spoor van sonde en gehelp word om fisies, verstandelik, emosioneel en geestelik tot volmaaktheid te groei. In plaas daarvan om die verdelende „werke van die vlees” te openbaar, sal almal leer om godvrugtige eienskappe soos liefde, blydskap, vrede, lankmoedigheid, vriendelikheid, goedheid, geloof, sagmoedigheid en selfbeheersing in oorvloedige mate voort te bring (Galasiërs 5:19-22). Met so ’n gees wat heers, sal die aarde se opbrengs gebruik word om ruim in die behoeftes van die hele mensdom te voorsien. Die lewe sal sinvoller as ooit tevore wees terwyl die mensdom saamwerk om die Skepper se oorspronklike voorneme met hierdie aarde en sy bewoners te verwesenlik.

15. (a) Watter aanloklike uitnodiging word reeds tot die mensdom gerig? (b) Wat moet elkeen van ons dus doen?

15 In vreugdevolle afwagting van al hierdie dinge rig God se gees en die bruid van Christus nou ’n dringende uitnodiging tot mense oral: „Kom! En laat hom wat hoor, sê: Kom! En laat hom wat dors het, kom; en laat hom wat wil, die water van die lewe neem, verniet” (Openbaring 22:17). Dit is dus nie nou die tyd om agteroor te sit en net te wag dat Jehovah se groot dag moet aanbreek nie. As jy die vriendelike uitnodiging aangeneem het om ‚die water van die lewe verniet te neem’ het jy nou die voorreg om daardie uitnodiging aan ander oor te dra. Dit is ’n tyd vir ywerige werk aan die kant van almal wat die reikhalsende begeerte koester om oorlewendes tot in God se luisterryke „nuwe aarde” te wees.

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel