-
Die verseëling van die Israel van GodOpenbaring—Sy groot klimaks is op hande!
-
-
Die vier winde
3. (a) Watter spesiale diens wat deur engele verrig word, sien Johannes? (b) Wat word deur “die vier winde” gesimboliseer?
3 Voordat Jehovah hierdie grimmigheid ontketen, verrig hemelse engele ’n spesiale diens. Johannes sien dit nou in die visioen: “Hierna het ek op die vier hoeke van die aarde vier engele sien staan, wat die vier winde van die aarde styf vashou, sodat geen wind op die aarde of op die see of teen enige boom sou waai nie” (Openbaring 7:1). Wat beteken dit vandag vir ons? Hierdie “vier winde” is ’n treffende simbool van vernietigende oordeel wat binnekort losgelaat sal word op ’n goddelose aardse gemeenskap, op die golwende “see” van wettelose mense en op verhewe heersers wat, soos bome, steun en onderhoud uit die mense van die aarde put.—Jesaja 57:20; Psalm 37:35, 36.
4. (a) Wat stel die vier engele voor? (b) Wat sal die uitwerking op Satan se aardse organisasie wees wanneer die vier winde losgelaat word?
4 Hierdie vier engele stel ongetwyfeld vier engelegroepe voor, wat deur Jehovah gebruik word om die voltrekking van oordeel tot die vasgestelde tyd terug te hou. Wanneer die engele daardie winde van goddelike gramskap loslaat om terselfdertyd uit die noorde, suide, ooste en weste te warrel, sal die verwoesting verskriklik wees. Dit sal ooreenkom, maar op ’n ontsaglike skaal, met Jehovah se gebruik van die vier winde om die eertydse Elamiete te verstrooi, wat tot hulle verplettering en uitroeiing gelei het (Jeremia 49:36-38). Dit sal ’n reusestormwind wees, baie verwoestender as die “orkaan” waardeur Jehovah die nasie Ammon verdelg het (Amos 1:13-15). Geen deel van Satan se organisasie op die aarde sal kan staan in die dag van Jehovah se grimmigheid nie, wanneer hy sy soewereiniteit tot in alle ewigheid regverdig.—Psalm 83:15, 18; Jesaja 29:5, 6.
5. Hoe help Jeremia se profesie ons om te verstaan dat God se oordele die hele aarde sal insluit?
5 Kan ons seker wees dat God se oordele verwoesting oor die hele aarde sal saai? Luister weer na sy profeet Jeremia: “Kyk! ’n Rampspoed gaan uit van nasie tot nasie, en ’n groot storm sal uit die mees afgeleë dele van die aarde opgewek word. En dié wat deur Jehovah omgebring is, sal dié dag beslis van die een einde van die aarde tot die ander einde van die aarde lê” (Jeremia 25:32, 33). Dit is gedurende hierdie groot storm dat duisternis hierdie wêreld sal verswelg. Die regeringselemente daarvan sal so geskud word dat hulle in die vergetelheid verdwyn (Openbaring 6:12-14). Maar die toekoms sal nie vir almal duister wees nie. Ter wille van wie word die vier winde dan teruggehou?
Die verseëling van God se slawe
6. Wie beveel die engele om die vier winde terug te hou, en waarvoor gee dit tyd?
6 Johannes beskryf verder hoe party vir oorlewing gemerk sal word: “En ek het ’n ander engel van die sonsopgang af sien opkom, met ’n seël van die lewende God; en hy het met ’n harde stem geroep na die vier engele aan wie dit gegee is om die aarde en die see te beskadig en gesê: ‘Moenie die aarde of die see of die bome beskadig tot ná ons die slawe van ons God op hulle voorkoppe verseël het nie.’”—Openbaring 7:2, 3.
7. Wie is die vyfde engel werklik, en watter getuienis help ons om sy identiteit vas te stel?
7 Hoewel hierdie vyfde engel nie by name genoem word nie, dui al die getuienis daarop dat hy die verheerlikte Here Jesus moet wees. In ooreenstemming met die feit dat Jesus die Aartsengel is, oefen hy hier gesag oor die ander engele uit (1 Tessalonisense 4:16; Judas 9). Hy styg uit die ooste op, soos “die konings wat van die sonsopgang af kom”—Jehovah en sy Christus—wat kom om oordeel te voltrek, soos konings Darius en Kores gedoen het toe hulle eertydse Babilon verneder het (Openbaring 16:12; Jesaja 45:1; Jeremia 51:11; Daniël 5:31). Hierdie engel kom ook met Jesus ooreen in die sin dat die verseëling van gesalfde Christene aan hom toevertrou word (Efesiërs 1:13, 14). En wanneer die winde losgelaat word, is dit Jesus wat die hemelse leërs lei om oordeel aan die nasies te voltrek (Openbaring 19:11-16). Jesus sou dus logieserwys die een wees wat sou beveel dat die vernietiging van Satan se aardse organisasie teruggehou word totdat God se slawe verseël is.
-
-
Die verseëling van die Israel van GodOpenbaring—Sy groot klimaks is op hande!
-
-
[Volbladillustrasie op bladsy 114]
-