Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • Johannes sien die verheerlikte Jesus
    Openbaring—Sy groot klimaks is op hande!
    • 12. Wat beteken die “skerp, lang tweesnydende swaard”?

      12 “En in sy regterhand het hy sewe sterre gehad, en uit sy mond het ’n skerp, lang tweesnydende swaard gekom, en sy aangesig was soos die son wanneer hy in sy krag skyn. En toe ek hom sien, het ek asof dood voor sy voete neergeval” (Openbaring 1:16, 17a). Jesus verduidelik self ’n bietjie later wat die sewe sterre beteken. Maar let op wat uit sy mond kom: “’n skerp, lang tweesnydende swaard”. Hoe gepas tog! Want Jesus is die een wat aangestel is om Jehovah se finale oordele teen Sy vyande uit te spreek. Beslissende woorde uit sy mond lei tot die teregstelling van alle goddeloses.—Openbaring 19:13, 15.

      13. (a) Waaraan herinner Jesus se helder, glansende gesig ons? (b) Watter algemene indruk kry ons uit Johannes se beskrywing van Jesus?

      13 Jesus se helder, glansende gesig herinner ons daaraan dat Moses se gesig geglinster het nadat Jehovah op die berg Sinai met hom gepraat het (Eksodus 34:29, 30). Onthou ook dat toe Jesus byna 2 000 jaar gelede voor drie van sy apostels van gedaante verander het, ‘sy gesig geskyn het soos die son en sy boklere skitterend geword het soos die lig’ (Matteus 17:2). Nou, in ’n visioenêre voorstelling van Jesus gedurende die dag van die Here, weerspieël sy gesig ook die luisterryke glans van iemand wat in Jehovah se teenwoordigheid was (2 Korintiërs 3:18). Trouens, die algemene indruk wat Johannes se visioen skep, is dié van glansende heerlikheid. Van die sneeuwit hare, die vurige oë en die blink gesig tot die gloeiende voete is dit ’n voortreflike visioen van die Een wat nou “in ontoeganklike lig” woon (1 Timoteus 6:16). Wat ’n realistiese skouspel! Hoe het die verwonderde Johannes gereageer? Die apostel vertel ons: “En toe ek hom sien, het ek asof dood voor sy voete neergeval.”—Openbaring 1:17.

  • ’n Heilige geheim word onthul
    Openbaring—Sy groot klimaks is op hande!
    • 2. (a) Met watter titel stel Jesus homself voor? (b) Wat beteken dit wanneer Jehovah sê: “Ek is die eerste en ek is die laaste”? (c) Waarop vestig Jesus se titel “die Eerste en die Laaste” die aandag?

      2 Ons ontsag hoef egter nie in morbiede vrees te verander nie. Jesus het Johannes gerusgestel, soos die apostel vervolgens vertel. “En hy het sy regterhand op my gelê en gesê: ‘Moenie bevrees wees nie. Ek is die Eerste en die Laaste, en die lewende’” (Openbaring 1:17b, 18a). In Jesaja 44:6 beskryf Jehovah tereg Sy posisie as die enigste almagtige God deur te sê: “Ek is die eerste en ek is die laaste, en buiten my is daar geen God nie.”a Wanneer Jesus homself met die titel “die Eerste en die Laaste” voorstel, maak hy nie aanspraak op gelykheid met Jehovah, die Grootse Skepper, nie. Hy gebruik ’n titel wat God met reg aan hom gegee het. In Jesaja het Jehovah ’n verklaring gemaak oor Sy unieke posisie as die ware God. Hy is vir ewig God, en buiten hom is daar inderdaad geen God nie (1 Timoteus 1:17). In Openbaring praat Jesus van die titel wat hy gegee is en vestig hy die aandag op sy unieke opstanding.

      3. (a) In watter sin was Jesus “die Eerste en die Laaste”? (b) Wat beteken die feit dat Jesus “die sleutels van die dood en van Hades” het?

      3 Jesus was inderdaad “die Eerste” mens wat tot onsterflike geeslewe opgewek is (Kolossense 1:18). Daarbenewens is hy “die Laaste” wat op hierdie manier deur Jehovah self opgewek is. Hy word derhalwe “die lewende . . . [wat] lewe vir ewig en altyd”. Hy het onsterflikheid. In hierdie opsig is hy soos sy onsterflike Vader, wat “die lewende God” genoem word (Openbaring 7:2; Psalm 42:2). Jesus self is vir alle ander mense “die opstanding en die lewe” (Johannes 11:25). In ooreenstemming hiermee sê hy vir Johannes: “Ek het doodgegaan, maar kyk! ek lewe vir ewig en altyd, en ek het die sleutels van die dood en van Hades” (Openbaring 1:18b). Jehovah het hom die gesag gegee om die dooies op te wek. Daarom kan Jesus sê dat hy die sleutels het om die poorte oop te sluit vir dié wat deur die dood en Hades (die doderyk) vasgehou word.—Vergelyk Matteus 16:18.

Afrikaanse publikasies (1975-2025)
Meld af
Meld aan
  • Afrikaans
  • Deel
  • Voorkeure
  • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
  • Gebruiksvoorwaardes
  • Privaatheidsbeleid
  • Privaatheidsinstellings
  • JW.ORG
  • Meld aan
Deel