Die laaste dae—’n oestyd
“En ek het gesien, en kyk, daar was ’n wit wolk en een soos ’n Menseseun wat op die wolk sit, met ’n goue kroon op sy hoof en in sy hand ’n skerp sekel.”—OPENBARING 14:14.
1. Wat is sommige dinge wat hierdie eeu uniek gemaak het?
HIERDIE 20ste eeu was voorwaar ’n veelbewoë tydperk! Die mensdom moes twee wrede wêreldoorloë verduur. Die een land na die ander is deur revolusie geteister. Hongersnood het meer lyding veroorsaak as ooit tevore in die mensegeskiedenis. Ekonomiese onsekerheid, misdadigheid, besoedeling en skrikwekkende siektes bedreig almal se welsyn. Terselfdertyd het die mens groot wetenskaplike deurbrake gemaak. Hy het die krag van die atoom benut en het selfs op die maan gestap. Ons geslag is waarlik in talle opsigte uniek. Maar een ding is ongetwyfeld die belangrikste gebeurtenis van ons tyd, en in vergelyking daarmee is alle ander dinge onbeduidend.
2. Watter gebeurtenis wat deur Daniël voorspel is, sou in ons tyd plaasvind?
2 Hierdie waarlik epogmakende gebeurtenis is reeds in die sesde eeu v.G.J. deur die profeet Daniël voorspel. Luister na sy goddelik geïnspireerde verslag: “Ek het gesien in die naggesigte, en kyk, met die wolke van die hemel het Een gekom soos die Seun van ’n mens, en Hy het gekom tot by die Oue van dae, en hulle het Hom nader gebring voor Hom. En aan Hom is gegee heerskappy en eer en koningskap; [sodat] al die volke en nasies en tale . . . Hom [sou dien].”—Daniël 7:13, 14, vgl. NAV.
3. (a) Wie is “die Oue van dae”, en wat het hy aan ‘Een soos die Seun van ’n mens’ gegee? (b) Wie is hierdie een “soos die Seun van ’n mens”, en hoe het die Joodse godsdiensleiers gereageer toe Jesus hom as sodanig geïdentifiseer het?
3 “Die Oue van dae” is Jehovah God. Daniël sien hom in “die wolke van die hemel”, dit wil sê, in die onsigbare geesteryk, en hy gee koningskap aan ‘Een soos die Seun van ’n mens’. Wie is daardie “Een”? Jesus het daardie vraag in 33 G.J. beantwoord toe hy voor die Sanhedrin tereggestaan het. Die Joodse hoëpriester het hom onder eed gestel om te sê of hy die Christus is of nie. In antwoord daarop het Jesus Daniël se profesie met vrymoedigheid op homself toegepas en gesê: “Van nou af sal u die Seun van die mens sien sit aan die regterhand van . . . krag . . . en kom op die wolke van die hemel.” In plaas van hom aan Jehovah se gekose Koning te onderwerp, het die hoëpriester Jesus van godslastering beskuldig. Daarna het die Joodse godsdiensleiers druk op Pontius Pilatus uitgeoefen om Jesus ter dood te veroordeel.—Mattheüs 26:63-65; 27:1, 2, 11-26.
4. Wanneer het Jesus die kroon van koningskap ontvang, en ondanks watter teëstand?
4 Hierdie poging om Jesus se woorde onvervuld te laat bly, het misluk toe hy uit die dode opgewek is en na die hemel opgevaar het om te wag vir Jehovah se regte tyd om hom die Koninkryk te gee (Handelinge 2:24, 33, 34; Psalm 110:1, 2). Daardie tyd het in 1914 aangebreek. Volgens al die bewyse het Jesus teen die einde van daardie jaar die kroon van koningskap van “die Oue van dae” ontvang en begin heers (Mattheüs 24:3-42). Die pasgebore Koninkryk het voor bittere teëstand te staan gekom. Maar die Joodse godsdiensleiers van die eerste eeu, al die vergaarde mag van die nasies en selfs Satan en sy demone kon nie verhinder dat God se wil uitgevoer word nie (Psalm 2:2, 4-6; Openbaring 12:1-12). In 1914 het die hemelse refrein reg op tyd weerklink: “Die [koninkryk] van die wêreld het die [koninkryk] van onse Here geword en van sy Christus, en Hy sal as Koning heers tot in alle ewigheid” (Openbaring 11:15, vgl. NW). Ons lewe sedertdien in “die laaste dae” van hierdie goddelose stelsel.—2 Timotheüs 3:1.
’n Oestyd
5. (a) Wie sou volgens Daniël se profesie die pasgekroonde Koning dien? (b) Watter gesig het Johannes gesien waarin Jesus ook as ’n pasgekroonde Koning verskyn het?
5 Volgens Daniël se profesie sal ‘al die volke en nasies en tale Jesus dien’ wanneer hy sy kroon ontvang. Hoe is dit moontlik as die mensdom in die geheel hom as Koning verwerp? ’n Dramatiese gesig wat aan die apostel Johannes geopenbaar is, gee die antwoord. Johannes vertel ons wat hy gesien het: “Kyk, daar was ’n wit wolk en een soos ’n Menseseun wat op die wolk sit, met ’n goue kroon op sy hoof en in sy hand ’n skerp sekel” (Openbaring 14:14). Soos in Daniël se gesig verskyn Jesus hier op ’n wolk en word hy geïdentifiseer as “een soos ’n Menseseun”. Hy dra die kroon van koningskap, maar in sy hand het hy ’n oester se sekel in plaas van ’n septer. Waarom?
6. Watter werk beveel Jehovah die pasgekroonde Jesus om te doen?
6 Johannes sê voorts: “En ’n ander engel het uit die [tempelheiligdom] gekom en met ’n groot stem geroep na Hom wat op die wolk sit: Slaan u sekel in en maai, want die uur het vir U gekom om te maai, omdat die oes van die aarde oorryp geword het.” Hoewel Jesus ’n Koning is, gehoorsaam hy steeds bevele wat van Jehovah in ‘die tempelheiligdom’ oorgedra word. Wanneer Jehovah hom dus beveel om gedurende die laaste dae ’n oeswerk te doen, gehoorsaam hy. Jesus “het sy sekel oor die aarde laat gaan, en die aarde is afgemaai”.—Openbaring 14:15, 16, vgl. NW; Hebreërs 9:24; 1 Korinthiërs 11:3.
7. (a) Wat is “die oes van die aarde”? (b) Wat was die begin van hierdie “oes”?
7 Wat is “die oes van die aarde”? Dit is mense wat uit hierdie sataniese stelsel kom om Jehovah en Sy aangestelde Koning te dien. Die oes begin met die insameling van die oorblywendes van die 144 000 wat saam met Jesus in sy hemelse koninkryk gaan regeer (Mattheüs 13:37-43). Hulle is “die Israel van God”, “eerstelinge vir God en die Lam”. Hulle is “uit elke stam en taal en volk en nasie” gekoop (Galasiërs 6:16; Openbaring 14:4; 5:9, 10). Op hierdie manier begin individue uit alle “volke en nasies en tale” om die gekroonde Jesus te dien.
8. (a) In watter jaar is die insameling van die laaste gesalfdes blykbaar voltooi? (b) Hoe het die oeswerk volgens ’n ander gesig van Johannes voortgegaan?
8 Maar hulle is nie alleen nie. Johannes sien in ’n ander gesig die verseëling van die finale lede van die 144 000 (Openbaring 7:1-8). Die insameling van hierdie persone is blykbaar teen 1935 feitlik voltooi. Maar dan sê Johannes dat hy “’n groot menigte [sien] wat niemand kon tel nie, uit alle nasies en stamme en volke en tale; hulle het gestaan voor die troon en voor die Lam” (Openbaring 7:9-17). Die oeswerk duur dus voort terwyl baie meer van “die volke en nasies en tale” begin om Jesus as Koning te dien.
9. Wie is hierdie nuwelinge, en watter ander profesieë meld hulle verskyning gedurende “die einde van die dae”?
9 Hierdie nuwelinge sien daarna uit om lewe in ’n paradysaarde onder Jehovah se aangestelde Koning te geniet (Psalm 37:11, 29; 72:7-9). Hulle insameling is in etlike ander profesieë voorspel. Jesaja het byvoorbeeld voorspel dat die nasies aan “die einde van die dae” na Jehovah se huis sou toestroom (Jesaja 2:2, 3). Haggai het voorspel dat die nasies geskud sal word en dat “die skatte van al die nasies sal toevloei” (Haggai 2:7). Sagaria het gepraat van “tien man uit al die tale van die nasies” wat hulle by God se volk sou skaar (Sagaria 8:23). En Jesus self het voorspellings oor hierdie “groot menigte” gedoen. Hy het gesê: “Wanneer die Seun van die mens in sy heerlikheid kom en al die heilige engele saam met Hom, dan sal Hy op sy heerlike troon sit; en voor Hom sal al die nasies versamel word, en Hy sal hulle van mekaar afskei soos die herder die skape van die bokke afskei; en Hy sal die skape aan sy regterhand en die bokke aan sy linkerhand sit.”—Mattheüs 25:31-33.
10. (a) Hoe word “die oes van die aarde” ingesamel? (b) Wie is die enigste mense wat in hierdie werk met die engele saamwerk?
10 Ja, die hele mensdom word ondersoek om te sien wie “skape” en wie “bokke” is. Hoe word hierdie ondersoek gedoen? In Johannes se gesig gaan die insameling van “die oes van die aarde” gepaard met kragtige boodskappe wat deur engele verkondig word. Een engel verkondig ’n boodskap van “ewige goeie nuus”. ’n Ander kondig die val van “Babilon die Grote” aan. En ’n derde waarsku teen aanbidding van “die dier”, Satan se politieke stelsel (Openbaring 14:6-10, vgl. NW). Niemand het weliswaar die stemme van hierdie engele gehoor nie. Maar hulle het ooreenstemmende boodskappe gehoor wat deur getroue mense verkondig word (Mattheüs 24:14; Jesaja 48:20; Sagaria 2:7; Jakobus 1:27; 1 Johannes 2:15-17). Dit is duidelik dat die boodskappe dus deur menslike woordvoerders onder engeleleiding verkondig word. ’n Persoon se reaksie op die engeleboodskappe identifiseer hom as ’n ‘skaap’ of ’n ‘bok’. Gedurende hierdie 20ste eeu het net Jehovah se Getuies in hierdie lewensbelangrike werk met die engele saamgewerk.
11. Hoe belangrik is die verkondiging van hierdie engeleboodskappe?
11 Die verkondiging van hierdie boodskappe is ’n dringender taak as enigiets anders wat vandag gedoen word. Geen politieke deurbraak of wetenskaplike ontdekking kan die belangrikheid daarvan ewenaar nie. Hierdie boodskappe vestig die aandag op die oplossing vir al die mensdom se probleme en vertel van die ewige redding van getroue mense. En, allerbelangriks, hulle hou verband met die heiliging van Jehovah se naam.
Die jaarrapport
12, 13. Meld ’n paar besonderhede in die jaarrapport wat toon dat ’n groot “oes” reeds ingesamel is.
12 Dit is waarom Jehovah se Getuies elke jaar daarna uitsien om die jaarrapport van die bedrywighede van Jehovah se organisasie te lees. Dit is vir hulle opwindend om steeds bewyse te sien dat hy hulle werk seën. As jy die 1987-rapport ondersoek, wat op bladsye 12 tot 15 van hierdie tydskrif verskyn, sal jy sien dat die engele en hulle menslike medewerkers verlede jaar baie bedrywig was.
13 Die goeie nuus is in 210 lande gehoor—beslis ‘elke stam en nasie en taal’ wat tans bereik kan word (Markus 13:10). Daarbenewens het ’n hoogtepunt van 3 395 612 saamgewerk om dit te bereik—meer as ooit tevore in die Christelike geskiedenis. Selfs die syfers in sommige lande is indrukwekkend. In die Verenigde State is ’n hoogtepunt van 773 219 bereik. Twee ander lande, Brasilië en Mexiko, het hoogtepunte van onderskeidelik 216 216 en 222 168 gerapporteer; en ses ander lande, Brittanje, Duitsland, die Filippyne, Italië, Japan en Nigerië, het hoogtepunte van meer as 100 000 gerapporteer. Daarenteen is daar lande met groot bevolkings en net ’n paar duisend of minder verkondigers. Die werk van hierdie getroue persone is ook uiters belangrik terwyl hulle poog om steeds die lig van waarheid onder moeilike omstandighede te laat skyn.—Mattheüs 5:14-16.
14. Watter soort mense word in Jehovah se organisasie ingesamel?
14 God se volk stel natuurlik nie bloot in vermeerdering op sigself belang nie. Maar hulle weet dat al hierdie nuwelinge wat na Jehovah se organisasie toestroom in Jehovah se oë “skatte” is. Talle het ‘gesug en gesteun oor al die gruwels’ wat hulle in die Christendom gesien het (Esegiël 9:4). Hulle stroom almal na “die berg van Jehovah” omdat hulle God se weë wil leer (Jesaja 2:2, 3, NW). Wat ’n kragtige bewys van Jehovah se seën—dat daar elke jaar honderdduisende nuwelinge is wat te midde van hierdie verdorwe en materialistiese stelsel toon dat hulle Jehovah se “skatte” is!
Dringende tye
15. (a) Hoe groot is die gebied wat deur die predikingswerk gedek moet word? (b) Hoe bedrywig is die “groot menigte” volgens Johannes se gesig?
15 Die predikingswerk van Jehovah se Getuies is dringend. Waarom? Vir eers is die gebied baie groot. Die “goeie nuus” moet “aan alle nasies en stamme en tale en volke” verkondig word (Openbaring 14:6, NW). In Jesus se gelykenis word mense van “al die nasies” as “skape” en “bokke” geskei. Baie werk moet gedoen word. Dit is dus uiters gepas dat die “groot menigte” wat deur Johannes gesien is God “dag en nag in sy tempel” loof (Openbaring 7:15). Ter vervulling van hierdie gesig het hierdie “groot menigte”, wat met hulle gesalfde broers saamwerk, gerapporteer dat altesaam 739 019 286 uur verlede jaar aan die predikingswerk bestee is—’n syfer wat byna te groot is om te begryp. Dit verteenwoordig wêreldwyd gemiddeld meer as 18 uur per verkondiger per maand. Vergelyk dit met die gemiddelde van 12 uur per maand net tien jaar gelede, en jy kan sien dat die tempo van die predikingswerk toeneem. Hoe vergelyk jou persoonlike gemiddelde met die wêreldgemiddelde?
16. (a) Wat is ’n goeie manier om ‘die woord as ’n dringende saak te verkondig’? (b) Hoeveel het verlede jaar aan hierdie werk deelgeneem?
16 Let ook op die hoogtepunt van hulp- en gewone pioniers: 650 095. Dit beteken dat daar verlede jaar meer pioniers in die veld was as wat daar in 1955 verkondigers was. Was jy een van hierdie pioniers? Dan het jy ’n uitstekende manier gevind om Paulus se raad persoonlik toe te pas: “Verkondig die woord, hou jou as ’n dringende saak daarmee besig” (2 Timotheüs 4:2, NW). Beplan gerus om ten minste een maand gedurende die 1988-diensjaar aan die pionierdiens deel te neem.
Vooruitsigte vir meer groei
17. Watter syfers toon dat die vooruitsig vir toekomstige vermeerdering belowend is?
17 Die vooruitsig vir verdere groei is voorwaar belowend. Die syfer vir tuisbybelstudies was 3 005 048—en elke Bybelstudent is ’n potensiële ‘skat’! Verder het 8 965 221 verlede April die viering van die Here se Aandmaal bygewoon. Die meerderheid van diegene wat dit bygewoon het, was nie Jehovah se Getuies nie. Sommige is nuwe belangstellendes. Hulle was baie welkom en word aangespoor om aan te hou om goeie vordering te maak. Ander het sulke geleenthede dalk etlike kere vantevore bygewoon. Hulle geniet blykbaar omgang met die Getuies, maar het nog nie gevoel dat dit nodig is om meer as dit te doen nie.
18. Wat moet ’n mens volgens die profesieë van Jesus en Sagaria doen om onder Jehovah se “skape” getel te word?
18 Hulle moet geprys word vir hulle belangstelling in Bybelwaarheid. Maar onthou, in Jesus se gelykenis is die “skape” wat ewige lewe ontvang diegene wat hulp en samewerking aan Jesus se gesalfde broers verleen (Mattheüs 25:34-40, 46). In die profesie van Sagaria sê die volledige getal van “tien man” sonder voorbehoud: “Ons wil met julle saamgaan, want ons het gehoor dat God met julle is” (Sagaria 8:23). Hulle het nie bloot ’n vriendelike gesindheid nie. Hulle “gryp” God se volk en gaan saam met hulle deur hulle toe te wy om die God van hierdie mense te dien. In ons tyd sluit dit in dat ’n mens ten volle by Jehovah se organisasie betrokke raak.
Nie veel langer nie
19, 20. (a) Wat sal volgens Johannes se gesig gebeur wanneer die insameling van “die oes van die aarde” voltooi is? (b) Wat sal dit beteken vir almal wat hulle nie aan Jesus as Koning onderwerp nie?
19 Daar is ’n tweede rede waarom die oeswerk dringend is. Dit sal eersdaags voltooi wees (Mattheüs 24:32-34). Wat gebeur dan? Lees wat vervolgens in Johannes se gesig gebeur: “En ’n ander engel het uitgekom uit die [tempelheiligdom] wat in die hemel is, en hy het ook ’n skerp sekel gehad; en ’n ander engel wat mag oor die vuur gehad het, het uit die altaar uitgekom en met ’n groot stem geroep na hom wat die skerp sekel het, en gesê: Slaan jou skerp sekel in en samel die trosse van die wingerdstok van die aarde in, want sy druiwe het ryp geword. En die engel het sy sekel oor die aarde laat gaan en die wingerdstok van die aarde afgeoes en dit gegooi in die groot parskuip van die grimmigheid van God.”—Openbaring 14:17-19, vgl. NW.
20 Nadat die oes van “skatte” ingesamel is, sal daar geen rede meer wees om hierdie verdorwe ou wêreld te laat voortbestaan nie. “Die wingerdstok van die aarde”, hierdie hele sataniese wêreldstelsel, sal afgesny en vernietig word. Dan sal selfs teëstanders verplig wees om Jehovah se aangestelde Koning te erken. Johannes het geskryf: “Kyk, Hy [Jesus] kom met die wolke, en elke oog sal Hom sien, ook hulle wat Hom deursteek het; en al die [stamme] van die aarde sal oor Hom rou bedryf” (Openbaring 1:7, vgl. NW; Mattheüs 24:30). Jesus se woorde aan die Joodse godsdiensleiers, wat die vernaamste was van “hulle wat Hom deursteek het”, sal dan vervul word (Mattheüs 26:64). Daardie godsdiensgeveinsdes sal natuurlik nie opgewek word om Jesus persoonlik te “sien” nie (Mattheüs 23:33, NW). Maar almal wat vandag daardie gees openbaar en weier om Jehovah se aangestelde Koning te aanvaar, sal verplig wees om hom te erken wanneer hy kom om die nasies by Armageddon te vernietig.—Openbaring 19:11-16, 19-21.
21. Waarom moet God se volk ywerig met die hemelse engele saamwerk?
21 Die oorlewing van individue staan voorwaar op die spel. Ons het ’n groot verantwoordelikheid as medewerkers van die engele. Maar dit is inderdaad ’n wonderlike voorreg! Mag ons voortgaan om ywerig met die hemelse engele saam te werk terwyl ons probeer om alle regskapenes, Jehovah se “skatte”, op te spoor voordat die oeswerk voltooi word.
Kan jy verduidelik?
◻ Wat was tot dusver die belangrikste gebeurtenis in hierdie 20ste eeu?
◻ Wat is “die oes van die aarde”, en hoe word dit ingesamel?
◻ Wat is sommige karaktertrekke van Jehovah se “skape”?
◻ Hoe toon die jaarrapport dat Jehovah die oeswerk seën?
◻ Waarom is die predikingswerk dringend?
[Tabel op bladsy 12-15]
WÊRELDRAPPORT VAN JEHOVAH SE GETUIES VIR DIE 1987-DIENSJAAR
(See bound volume)