Hoofstuk 12
Weerstaan bose geesmagte
1. Hoe het Jesus gereageer wanneer hy bose geeste teëgekom het?
ONMIDDELLIK ná sy doop het Jesus Christus na die Judese wildernis gegaan om te bid en te peins. Daar het Satan die Duiwel probeer om hom God se wet te laat verbreek. Jesus het egter die Duiwel se lokaas verwerp en is nie in sy strik gevang nie. Jesus het gedurende sy bediening op die aarde met ander bose geeste te doen gehad. Maar hy het hulle keer op keer bestraf en weerstaan.—Lukas 4:1-13; 8:26-34; 9:37-43.
2. Watter vrae gaan ons bespreek?
2 Die Bybelverslae wat daardie ontmoetinge beskryf, behoort ons daarvan te oortuig dat bose geesmagte wel bestaan. Hulle probeer mense mislei. Ons kan hierdie bose geeste egter weerstaan. Maar waar kom bose geeste vandaan? Waarom probeer hulle mense bedrieg? En watter metodes gebruik hulle om hulle doel te bereik? As jy die antwoorde op sulke vrae vind, sal dit jou help om bose geesmagte te weerstaan.
BOSE GEESTE—HULLE OORSPRONG EN DOELWIT
3. Hoe het Satan die Duiwel ontstaan?
3 Lank voordat Jehovah God mense geskep het, het hy ’n menigte geesskepsele gemaak (Job 38:4, 7). Soos in Hoofstuk 6 verduidelik is, het een van hierdie engele ’n begeerte ontwikkel dat mense hom in plaas van Jehovah moet aanbid. In sy strewe na hierdie doelwit het hierdie bose engel die Skepper weerstaan en belaster en selfs vir die eerste vrou te kenne gegee dat God ’n leuenaar is. Hierdie opstandige geesskepsel het dus gepas die naam Satan (teenstander) die Duiwel (lasteraar) gekry.—Genesis 3:1-5; Job 1:6.
4. Hoe het sekere engele in Noag se dag gesondig?
4 Later het ander engele hulle aan die kant van Satan die Duiwel geskaar. In die dae van die regverdige man Noag het party van hulle hulle diens in die hemel verlaat en vleeslike liggame aangeneem om hulle begeerte na geslagsomgang met aardse vroue te bevredig. Satan het ongetwyfeld daardie engele beïnvloed om dié ongehoorsame weg in te slaan. Dit het daartoe gelei dat hulle die basternageslag verwek het wat die Nefilim genoem is en wat gewelddadige bullebakke geword het. Toe Jehovah die groot Vloed gebring het, het dit die verdorwe mensdom en hierdie onnatuurlike nakomelinge van die ongehoorsame engele vernietig. Die opstandige engele het vernietiging vrygespring deur hulle vleeslike liggame af te lê en na die geesteryk terug te keer. Maar God het hierdie demone ingeperk deur hulle te behandel as uitgeworpenes in geestelike duisternis (Genesis 6:1-7, 17; Judas 6). Satan, “die heerser van die demone”, en sy bose engele het nietemin hulle opstand voortgesit (Lukas 11:15). Wat is hulle doel?
5. Wat is die doelwit van Satan en sy demone, en wat gebruik hulle om mense te verstrik?
5 Die bose doelwit van Satan en die demone is om mense teen Jehovah God te laat draai. Gevolglik het hierdie bose skepsele mense dwarsdeur die mensegeskiedenis mislei, banggemaak en aangeval (Openbaring 12:9). Hedendaagse voorbeelde bevestig dat demoonaggressie nou boosaardiger as ooit tevore is. Die demone gebruik dikwels spiritisme in al sy vorme om mense te verstrik. Hoe gebruik die demone hierdie lokaas, en hoe kan jy jou verdedig?
HOE BOSE GEESTE JOU PROBEER MISLEI
6. Wat is spiritisme, en wat is party vorme daarvan?
6 Wat is spiritisme? Dit is kontak met demone, of bose geeste, hetsy regstreeks of deur ’n menslike medium. Spiritisme doen vir demone wat ’n lokaas vir jagters doen: Dit lok die prooi. En net soos ’n jagter ’n verskeidenheid lokase gebruik om diere in sy strik in te lok, bevorder bose geeste verskillende vorme van spiritisme om mense onder hulle beheer te bring. (Vergelyk Psalm 119:110.) Party van hierdie vorme is waarsêery, goëlery, ’n gesoek na voortekens, toorkuns, towerspreuke, die raadpleging van mediums en kommunikasie met die dooies.
7. Hoe wydverspreid is spiritisme, en waarom floreer dit selfs in sogenaamde Christenlande?
7 Die lokaas werk, want spiritisme trek mense dwarsoor die wêreld aan. Mense wat in dorpies in die oerwoud woon, besoek toordokters, en kantoorwerkers in die stad raadpleeg astroloë. Spiritisme floreer selfs in sogenaamde Christenlande. Volgens navorsing is daar in die Verenigde State alleen sowat 30 tydskrifte met ’n sirkulasie van altesaam 10 000 000 wat aan verskillende vorme van spiritisme gewy word. Brasiliane bestee elke jaar meer as 1,8 miljard rand aan spiritistiese artikels. Nietemin is 80 persent van diegene wat dikwels spiritistiese aanbiddingsentrums in daardie land besoek gedoopte Katolieke wat ook die mis bywoon. Aangesien party geestelikes spiritisme beoefen, dink talle godsdienstige mense dat die beoefening daarvan vir God aanneemlik is. Maar is dit?
WAAROM DIE BYBEL DIE BEOEFENING VAN SPIRITISME VEROORDEEL
8. Wat is die skriftuurlike beskouing van spiritisme?
8 As jy geleer is dat party vorme van spiritisme ’n manier is om met goeie geeste in aanraking te kom, sal jy moontlik verbaas wees om uit te vind wat die Bybel oor spiritisme sê. Jehovah se volk is gewaarsku: “Wend julle nie tot die geestemediums nie, en moenie professionele voorspellers van gebeure raadpleeg nie, sodat julle nie deur hulle onrein word nie” (Levitikus 19:31, NW; 20:6, 27, NW). Die Bybelboek Openbaring waarsku dat “dié wat spiritisme beoefen” in “die poel wat met vuur en swael brand”, sal beland. “Dit beteken die tweede [ewige] dood” (Openbaring 21:8; 22:15). Jehovah God keur alle vorme van spiritisme af (Deuteronomium 18:10-12). Waarom?
9. Waarom kan ons die gevolgtrekking maak dat hedendaagse boodskappe uit die geestewêreld nie van Jehovah af kom nie?
9 Voordat die Bybel voltooi is, het Jehovah goeie geeste, of regverdige engele, gestuur om met party mense te kommunikeer. Sedert die voltooiing van God se Woord het dít die leiding verskaf wat mense nodig het om Jehovah op aanneemlike wyse te dien (2 Timoteus 3:16, 17; Hebreërs 1:1, 2). Hy ignoreer nie sy heilige Woord deur boodskappe aan mediums te gee nie. Sulke hedendaagse boodskappe uit die geestewêreld kom almal van bose geeste af. Die beoefening van spiritisme kan tot demoonteistering of selfs besetenheid deur bose geeste lei. Daarom waarsku God ons uit liefde om nie by enige spiritistiese gebruike betrokke te raak nie (Deuteronomium 18:14; Galasiërs 5:19-21). Wat meer is, as ons sou voortgaan om spiritisme te beoefen nadat ons te wete gekom het wat Jehovah se beskouing daarvan is, sal ons ons aan die kant van die opstandige bose geeste skaar en sal ons vyande van God wees.—1 Samuel 15:23; 1 Kronieke 10:13, 14; Psalm 5:5.
10. Wat is waarsêery, en waarom moet ons dit vermy?
10 ’n Gewilde vorm van spiritisme is waarsêery—’n poging om met behulp van geeste iets oor die toekoms of die onbekende uit te vind. Party vorme van waarsêery is astrologie, kristalkykery, die uitlegging van drome, handkykery en fortuinvertellery deur middel van tarotkaarte. Baie beskou waarsêery as onskadelike pret, maar die By–bel toon dat fortuinvertellers en bose geeste hand aan hand gaan. Handelinge 16:16-19 meld byvoorbeeld “’n waarsêende demoon” wat ’n sekere meisie in staat gestel het om “die voorspelkuns” te beoefen. Toe die demoon uitgedryf is, het sy egter haar vermoë verloor om die toekoms te voorspel. Dit is duidelik dat waarsêery ’n lokaas is wat deur die demone gebruik word om mense in hulle strik in te lok.
11. Hoe lei pogings om met die dooies te kommunikeer mense in ’n strik?
11 As jy oor die dood van ’n geliefde gesinslid of ’n intieme vriend treur, kan jy maklik deur ’n ander lokaas verlei word. ’n Medium gee jou dalk spesiale inligting of praat miskien met ’n stem wat soos dié van die afgestorwene klink. Pas op! Pogings om met die dooies te kommunikeer, lei mense in ’n strik. Waarom? Omdat die dooies nie kan praat nie. Soos jy ongetwyfeld kan onthou, sê God se Woord duidelik dat ’n persoon by die dood ‘na sy aarde toe terugkeer; op daardie dag is dit met sy planne gedaan’. Die dooies “weet glad niks nie” (Psalm 146:4; Prediker 9:5, 10). Wat meer is, dit is in werklikheid die demone wat al die stem van die afgestorwene nageboots en ’n medium inligting gegee het oor die een wat gesterf het (1 Samuel 28:3-19). Enigiemand “wat die dooies raadpleeg”, word dus deur bose geeste verstrik en tree in stryd met die wil van Jehovah God op.—Deuteronomium 18:11, 12; Jesaja 8:19.
VAN AANLOKKING NA AANVAL
12, 13. Watter bewyse is daar dat die demone aanhou om mense te versoek en te teister?
12 Wanneer jy die raad van God se Woord oor spiritisme gehoorsaam, verwerp jy die lokaas van die demone. (Vergelyk Psalm 141:9, 10; Romeine 12:9.) Beteken dit dat bose geeste sal ophou om jou te probeer verstrik? Glad nie! Nadat Satan Jesus drie keer versoek het, het hy “tot ’n ander geskikte tyd van hom gewyk” (Lukas 4:13). Net so lok hardnekkige geeste mense nie net aan nie, maar val hulle hulle ook aan.
13 Dink aan ons vroeëre bespreking van Satan se aanval op God se kneg Job. Die Duiwel het die verlies van sy vee en die dood van die meeste van sy knegte veroorsaak. Satan het selfs Job se kinders om die lewe gebring. Daarna het hy Job met ’n pynlike siekte getref. Maar Job het sy onkreukbaarheid teenoor God gehandhaaf en is grootliks geseën (Job 1:7-19; 2:7, 8; 42:12). Sedertdien het die demone party mense stom of blind gemaak en het hulle hulle in die lyding van die mens bly verlustig (Matteus 9:32, 33; 12:22; Markus 5:2-5). Vandag toon berigte dat die demone party seksueel teister en ander tot waansin dryf. En nog ander word deur hulle aangespoor om moord en selfmoord te pleeg, wat sondes teen God is (Deuteronomium 5:17; 1 Johannes 3:15). Nietemin het duisende mense wat voorheen deur hierdie bose geeste verstrik was daarin geslaag om los te breek. Hoe was dit vir hulle moontlik? Hulle het dit reggekry deur noodsaaklike stappe te doen.
HOE OM BOSE GEESTE TE WEERSTAAN
14. Hoe kan jy bose geeste weerstaan in ooreenstemming met die voorbeeld van eerste-eeuse Christene in Efese?
14 Wat is een manier waarop jy bose geeste kan weerstaan en jou en jou gesin teen hulle strikke kan beskerm? Eerste-eeuse Christene in Efese wat spiritisme beoefen het voordat hulle gelowiges geword het, het positiewe stappe gedoen. Ons lees dat ‘heelparty van dié wat toorkunste beoefen het hulle boeke bymekaargebring en voor almal verbrand het’ (Handelinge 19:19). Al het jy nie spiritisme beoefen nie, moet jy ontslae raak van enigiets wat ’n spiritistiese gebruik het of wat enigsins daarmee verband hou. Dit sluit boeke, tydskrifte, video’s, prente, musiekopnames en voorwerpe in wat vir spiritistiese doelein–des gebruik word. Dit sluit ook afgode, gelukbringertjies en ander artikels in wat vir beskerming gedra word, asook geskenke wat ontvang word van mense wat spiritisme beoefen (Deuteronomium 7:25, 26; 1 Korintiërs 10:21). Ter toeligting: ’n Egpaar in Thailand is lank deur demone geteister. Toe het hulle ontslae geraak van voorwerpe wat met spiritisme verband hou. Wat was die gevolg? Die demoonaanvalle het opgehou en daarna het hulle goeie geestelike vooruitgang gemaak.
15. Wat is nog ’n nodige stap om bose geesmagte te weerstaan?
15 Nog ’n nodige stap om bose geeste te weerstaan, is om die apostel Paulus se raad toe te pas om die volledige geestelike wapenrusting wat van God kom aan te trek (Efesiërs 6:11-17). Christene moet hulle verweermiddele teen bose geeste versterk. Wat behels hierdie stap? “Neem bowenal die groot skild van geloof op, waarmee julle al die brandende projektiele van die bose sal kan blus”, het Paulus gesê. Ja, hoe sterker jou geloof is, hoe groter sal jou vermoë wees om bose geesmagte te weerstaan.—Matteus 17:14-20.
16. Hoe kan jy jou geloof versterk?
16 Hoe kan jy jou geloof versterk? Deur voort te gaan om die Bybel te bestudeer en die raad daarin in jou lewe toe te pas. Die vastheid van jou geloof hang grootliks af van die stewigheid van die fondament daarvan—die kennis van God. Stem jy nie saam dat die juiste kennis wat jy opgedoen en ter harte geneem het terwyl jy die Bybel bestudeer het jou geloof opgebou het nie? (Romeine 10:10, 17). Namate jy dan hierdie studie voortsit en dit ’n gewoonte maak om die vergaderinge van Jehovah se Getuies by te woon, sal jou geloof ongetwyfeld selfs verder versterk word (Romeine 1:11, 12; Kolossense 2:6, 7). Dit sal ’n kragtige verskansing teen demoonaanvalle wees.—1 Johannes 5:5.
17. Watter ander stappe is dalk nodig om bose geesmagte te weerstaan?
17 Watter ander stappe kan iemand doen wat vasbeslote is om bose geesmagte te weerstaan? Christene in Efese het beskerming nodig gehad, want hulle het in ’n stad vol demonisme gewoon. Paulus het dus vir hulle gesê: “[Hou aan] om by elke geleentheid in gees te bid” (Efesiërs 6:18). Aangesien ons in ’n wêreld vol demone lewe, is dit noodsaaklik om intens om God se beskerming te bid as ons bose geeste wil weerstaan (Matteus 6:13). In hierdie opsig is die geestelike bystand en gebede van aangestelde ouer manne in die Christengemeente nuttig.—Jakobus 5:13-15.
VOLHARD IN JOU STRYD TEEN BOSE GEESTE
18, 19. Wat kan gedoen word as die demone ’n mens weer lastig val?
18 Party is egter deur bose geeste lastig geval selfs nadat hulle hierdie basiese stappe gedoen het. ’n Man in Côte d’Ivoire het byvoorbeeld die Bybel saam met Jehovah se Getuies gestudeer en al sy amulette vernietig. Daarna het hy goeie vooruitgang gemaak, sy lewe aan Jehovah toegewy en hom laat doop. Maar ’n week ná sy doop het die demone hom weer begin lastig val, en stemme het vir hom gesê om sy nuwe geloof te verlaat. Gestel dit gebeur met jou. Sou dit beteken dat jy Jehovah se beskerming verloor het? Nie noodwendig nie.
19 Hoewel die volmaakte man Jesus Christus Goddelike beskerming geniet het, het hy die stem van die bose geesskepsel Satan die Duiwel gehoor. Jesus het getoon wat ’n mens in so ’n geval moet doen. Hy het vir die Duiwel gesê: “Gaan weg, Satan!” (Matteus 4:3-10). Jy moet eweneens weier om na stemme uit die geestewêreld te luister. Weerstaan bose geeste deur Jehovah om hulp te vra. Ja, bid hardop en gebruik God se naam. Spreuke 18:10 sê: “Die naam van Jehovah is ’n sterk toring. Die regverdige hardloop daarin en word beskerm” (NW). Die Christenman in Côte d’Ivoire het dít gedoen en die bose geeste het opgehou om hom lastig te val.—Psalm 124:8; 145:18.
20. Ter opsomming, wat kan jy doen om bose geeste te weerstaan?
20 Jehovah het die bose geeste toegelaat om voort te bestaan, maar hy toon sy krag, veral ten behoewe van sy volk, en sy naam word in die hele aarde verkondig (Exodus 9:16). As jy na aan God bly, hoef jy bose geeste nie te vrees nie (Numeri 23:21, 23; Jakobus 4:7, 8; 2 Petrus 2:9). Hulle krag is beperk. In Noag se dag is hulle gestraf, onlangs is hulle uit die hemel gewerp en nou wag finale oordeel op hulle (Judas 6; Openbaring 12:9; 20:1-3, 7-10, 14). Trouens, hulle vrees hulle komende vernietiging (Jakobus 2:19). Of bose geeste jou dan nou met die een of ander soort lokaas probeer aanlok of jou op enige manier aanval, jy kan hulle weerstaan (2 Korintiërs 2:11). Verwerp alle vorme van spiritisme, pas die raad van God se Woord toe en soek Jehovah se goedkeuring. Doen dit sonder versuim, want jou lewe hang daarvan af dat jy bose geesmagte weerstaan!
TOETS JOU KENNIS
Hoe probeer bose geeste mense mislei?
Waarom veroordeel die Bybel spiritisme?
Hoe kan ’n mens losbreek van bose geesmagte?
Waarom moet jy aanhou om bose geeste te weerstaan?
[Prent op bladsy 110]
Hoe beskou jy die talle vorme van spiritisme?