Vrae van lesers
In 1 Petrus 2:9 noem die Afrikaanse Bybel van 1953 gesalfde Christene ’n “uitverkore geslag”. Moet dit ons beskouing oor Jesus se gebruik van “geslag” in Matteus 24:34 beïnvloed?
Die woord “geslag” verskyn wel in albei tekste van sekere vertalings. Volgens die Afrikaanse Bybel het die apostel Petrus geskryf: “Maar julle is ’n uitverkore geslag, ’n koninklike priesterdom, ’n heilige volk, ’n volk as eiendom verkry, om te verkondig die deugde van Hom wat julle uit die duisternis geroep het tot sy wonderbare lig.” En Jesus het voorspel: “Voorwaar Ek sê vir julle, hierdie geslag sal sekerlik nie verbygaan voordat al hierdie dinge gebeur het nie.”—1 Petrus 2:9; Matteus 24:34.
In die eersgenoemde vers het die apostel Petrus die Griekse woord geʹnos gebruik, terwyl ons ge·ne·aʹ vind in die teks met Jesus se woorde. Hierdie twee Griekse woorde lyk dalk eenders, en hulle is van ’n gemeenskaplike grondwoord afgelei; tog is hulle verskillende woorde en het hulle verskillende betekenisse. Die New World Translation of the Holy Scriptures—With References sê in ’n voetnoot by 1 Petrus 2:9: “‘Ras.’ Gr., geʹnos; verskillend van ge·ne·aʹ, ‘geslag’, soos in Mt 24:34.” ’n Ooreenstemmende voetnoot kom by Matteus 24:34 voor.
Soos daardie voetnote toon, moet geʹnos tereg met die Afrikaanse woord “ras” vertaal word. In 1 Petrus 2:9 het Petrus die profesie in Jesaja 61:6 toegepas op gesalfde Christene met die hemelse hoop. Hulle kom uit baie nasies en stamme, maar hulle natuurlike agtergronde is nie meer van belang wanneer hulle deel van die nasie van geestelike Israel word nie (Romeine 10:12; Galasiërs 3:28, 29; 6:16; Openbaring 5:9, 10). Petrus het getoon dat hulle in ’n geestelike sin ’n afsonderlike groep word—“’n uitverkore ras, ’n koninklike priesterdom, ’n heilige nasie, ’n volk vir spesiale besit”.
Maar in die Griekse teks van Jesus se woorde wat in Matteus 24:34 voorkom, vind ons die woord ge·ne·aʹ. Daar word algemeen erken dat Jesus nie na enige mense-“ras” verwys het nie, maar na die mense wat in ’n sekere tydperk lewe.
Byna honderd jaar gelede het Charles T. Russell, die eerste president van die Wagtoringgenootskap, dit verduidelik en geskryf: “Hoewel ’n mens kan sê dat die woorde ‘geslag’ en ‘ras’ van ’n gemeenskaplike grondwoord of oorsprong kom, is hulle nogtans nie dieselfde nie; en in skriftuurlike gebruik verskil die twee woorde heeltemal van mekaar. . . . In die drie verskillende verslae van hierdie profesie gebruik ons Here ’n heel ander Griekse woord (genea) wat nie ras beteken nie, maar dieselfde beteken as ons . . . woord geslag. Ander gebruike van hierdie Griekse woord (genea) lewer bewys dat dit nie spesifiek na ras verwys nie, maar dat dit na mense verwys wat in dieselfde tyd lewe.”—The Day of Vengeance, bladsye 602-3.
Meer onlangs het A Handbook on the Gospel of Matthew (1988), wat vir Bybelvertalers bedoel is, gesê: “[Die New International Version] vertaal hierdie geslag letterlik, maar het ’n voetnoot daarna: ‘Of ras.’ En ’n Nieu-Testamentikus glo dat ‘Matteus nie net die eerste geslag ná Jesus bedoel nie, maar al die geslagte van Judaïsme wat hom verwerp.’ Maar daar is geen taalkundige bewys om een van die twee gevolgtrekkings te bevestig nie, en hulle moet verwerp word as pogings om van die ooglopende betekenis weg te skram. In die oorspronklike konteks is die verwysing net na Jesus se eie tydgenote.”
Die bespreking van bladsye 10 tot 15 het getoon dat Jesus die Joodse geslag van sy tyd verdoem het, sy tydgenote wat hom verwerp het (Lukas 9:41; 11:32; 17:25). Hy het dikwels beskrywende uitdrukkings gebruik soos “goddelose en owerspelige”, “ongelowige en verdraaide” en “owerspelige en sondige” wanneer hy daardie geslag beskryf het (Matteus 12:39; 17:17; Markus 8:38). Toe Jesus die woord “geslag” die laaste keer gebruik het, was hy op die Olyfberg saam met vier apostels (Markus 13:3). Daardie manne, wat toe nog nie met die gees gesalf was en ook nie deel van ’n Christengemeente was nie, het beslis nie ’n “geslag” of ’n menseras uitgemaak nie. Maar hulle was goed vertroud met Jesus se gebruik van die term “geslag” wanneer hy na sy tydgenote verwys het. Hulle het dus logieserwys verstaan wat hy in gedagte gehad het toe hy die laaste keer van “hierdie geslag” gepraat het.a Die apostel Petrus, wat daar teenwoordig was, het Jode later aangespoor: “Laat julle uit hierdie krom geslag red.”—Handelinge 2:40.
Ons het dikwels bewyse gepubliseer dat baie dinge wat Jesus in hierdie selfde gesprek voorspel het (soos oorloë, aardbewings en hongersnode), vervul is in die tydperk nadat hy die profesie uitgespreek het en Jerusalem in 70 G.J. vernietig is. Baie dinge is vervul, maar nie alles nie. Ná die Romeine Jerusalem (66-70 G.J.) aangeval het, is daar byvoorbeeld geen bewyse dat “die teken van die Seun van die mens” verskyn het en “al die stamme van die aarde” hulleself as gevolg daarvan geslaan het nie (Matteus 24:30). Daardie vervulling tussen 33 G.J. en 70 G.J. moes dus bloot ’n eerste vervulling gewees het, nie die volle of grootskaalse vervulling waarna Jesus ook verwys het nie.
In die inleiding van sy vertaling van Josefus se werk The Jewish War skryf G. A. Williamson: “Die dissipels, sê Matteus vir ons, het [Jesus] ’n dubbele vraag gevra—oor die vernietiging van die Tempel en oor Sy eie finale koms—en Hy het hulle ’n dubbele antwoord gegee; die eerste deel daarvan het die gebeure wat sou plaasvind baie duidelik voorspel soos Josefus later breedvoerig beskryf het.”
Ja, in die eerste vervulling het “hierdie geslag” klaarblyklik dieselfde beteken as by ander geleenthede—die geslag van ongelowige Jode wat in dieselfde tyd gelewe het. Daardie “geslag” sou nie verbygaan sonder om te ervaar wat Jesus voorspel het nie. Ooreenkomstig Williamson se kommentaar was dit dan wel die geval in die dekades wat Jerusalem se vernietiging voorafgegaan het, soos ’n geskiedskrywer en ooggetuie, Josefus, beskryf het.
In die tweede of groter vervulling sou “hierdie geslag” logieserwys ook mense van dieselfde tyd wees. Soos die artikel toon wat op bladsy 16 begin, moet ons nie die gevolgtrekking maak dat Jesus na ’n vasgestelde aantal jare verwys het wat ’n “geslag” uitmaak nie.
Inteendeel, daar kan twee belangrike dinge gesê word van enige tydperk wat deur die woord “geslag” geïmpliseer word. (1) ’n Geslag mense kan nie beskou word as ’n tydperk wat ’n vasgestelde aantal jare het nie, soos in die geval van tydsaanduidings wat dui op ’n vasgestelde aantal jare (dekade of eeu). (2) Die mense van ’n geslag lewe ’n relatiewe kort tydjie, nie ’n lang tydperk nie.
Waaraan sou die apostels gevolglik gedink het toe hulle Jesus van “hierdie geslag” hoor praat het? Terwyl ons uit die geskiedenis weet dat Jerusalem se vernietiging 37 jaar later in die “groot verdrukking” gekom het, kon die apostels wat Jesus hoor praat het dit nie geweet het nie. Sy vermelding van “geslag” sou hulle nie laat dink het aan ’n lang tydperk nie, maar eerder aan die mense wat ’n relatiewe kort tydjie lewe. Dit geld ook in ons geval. Hoe gepas is Jesus se daaropvolgende woorde: “Aangaande daardie dag en uur weet niemand nie, nie die engele van die hemele nie en ook nie die Seun nie, maar net die Vader. . . . Om dié rede moet julle julle ook gereed betoon, want die Seun van die mens kom op ’n uur waarvan julle dit nie dink nie.”—Matteus 24:36, 44.
[Voetnoot]
a In die uitdrukking “hierdie geslag” kom ’n vorm van die aanwysende voornaamwoord houʹtos goed ooreen met die Afrikaanse woord “hierdie”. Dit kan na iets verwys wat teenwoordig of voor die spreker is. Maar dit kan ook ander betekenisse hê. Die Exegetical Dictionary of the New Testament (1991) sê: “Die woord [houʹtos] dui op ’n teenswoordige feit. Die [aion houʹtos] is dus die ‘huidig bestaande wêreld’ . . . en die [geneaʹ haute] is die ‘geslag wat nou lewe’ (bv., Matt 12:41e.v., 45; 24:34).” Dr. George B. Winer skryf: “Die voornaamwoord [houʹtos] verwys soms nie na die selfstandige naamwoord wat die naaste daaraan staan nie, maar na een wat verder staan, wat as die vernaamste onderwerp verstandelik die naaste, die voorste in die skrywer se gedagtes is.”—A Grammar of the Idiom of the New Testament, 7de uitgawe, 1897.