Lewe
Definisie: ’n Aktiewe toestand wat plante, diere, mense en geeswesens van lewelose voorwerpe onderskei. Fisiese, lewende dinge het gewoonlik die vermoë om te groei, voedsel te verwerk, op uitwendige prikkels te reageer en voort te plant. Plante het aktiewe lewe, maar nie lewe as ’n siel met sintuie nie. In aardse siele, wat diere en mense insluit, is daar aktiewe lewenskrag om hulle te verlewendig en asem om daardie lewenskrag te onderhou.
Die lewe in die volste sin, soos toegepas op intelligente persone, is volmaakte bestaan met die reg daarop. Die mensesiel is nie onsterflik nie. Maar getroue knegte van God het die vooruitsig op die ewige lewe in volmaaktheid—op die aarde vir baie, in die hemel vir ’n “klein kuddetjie” as erfgename van die Koninkryk van God. Met hulle opwekking tot geeslewe ontvang lede van die Koninkryksklas ook onsterflikheid, ’n soort lewe wat nie deur enige geskape voorwerp onderhou hoef te word nie.
Wat is die doel van menselewe?
Die erkenning van die Bron van die lewe is ’n basiese vereiste vir ’n sinvolle lewe. Indien die lewe die produk van blinde toeval was, sou ons bestaan noodwendig sinloos wees en sou daar geen betroubare toekoms wees om voor te beplan nie. Maar Handelinge 17:24, 25, 28 deel ons mee: “Die God wat die wêreld gemaak het en alles wat daarin is, . . . [gee] aan almal lewe en asem en alles . . . want in Hom lewe ons, beweeg ons en is ons.” Openbaring 4:11, wat tot God gerig is, voeg by: “U is waardig, o Here, om te ontvang die heerlikheid en die eer en die krag, want U het alles geskape en deur u wil bestaan hulle en is hulle geskape.” (Kyk ook bladsye 160-166, onder “God”.)
Frustrasie is die gevolg van ’n lewensweg wat strydig is met die Skepper se vereistes en sy riglyne vir geluk. Galasiërs 6:7, 8 waarsku: “Moenie dwaal nie; God laat Hom nie bespot nie; want net wat die mens saai, dit sal hy ook maai. Hy wat in sy vlees saai, sal uit die vlees verderf maai.”—Ook Galasiërs 5:19-21. (Kyk ook “Onafhanklikheid”.)
Die sonde wat van Adam geërf is, verhinder dat mense die lewe op die oomblik ten volle geniet soos God hom aan die begin voorgeneem het. As gevolg van die goddelike oordeel ná Adam se sonde sê Romeine 8:20: “Die skepping [die mensdom] is aan die nietigheid onderworpe.” Aangaande sy eie situasie as ’n sondige mens het die apostel Paulus geskryf: “Ek is vleeslik, verkoop onder die sonde. . . . Want die goeie wat ek wil, doen ek nie, maar die kwaad wat ek nie wil nie, dit doen ek. . . . Ek verlustig my in die wet van God na die innerlike mens; maar ek sien ’n ander wet in my lede wat stryd voer teen die wet van my gemoed en my gevange neem onder die wet van die sonde wat in my lede is. Ek, ellendige mens!”—Rom. 7:14, 19, 22-24.
Ons vind nou die grootste geluk moontlik en ons lewens verkry ’n sinvolheid as ons Bybelbeginsels toepas en die voorkeur aan God se wil gee. Ons verryk God nie deur hom te dien nie; hy onderrig ons ‘tot ons beswil’ (Jes. 48:17, NAV). Die Bybel vermaan: “Wees standvastig, onbeweeglik, altyd oorvloedig in die werk van die Here, omdat julle weet dat julle arbeid in die Here nie tevergeefs is nie.”—1 Kor. 15:58.
Die Bybel hou aan ons die vooruitsig op die ewige lewe in volmaaktheid voor mits ons geloof beoefen in Jehovah se voorsienings vir die lewe en in sy weë wandel. Daardie hoop is stewig gegrond; dit sal nie teleurstel nie; werke in harmonie met daardie hoop kan ons lewens selfs nou waarlik sinvol maak.—Joh. 3:16; Tit. 1:2; 1 Pet. 2:6, vgl. NW.
Is mense gemaak om net ’n paar jaar te lewe en dan te sterf?
Gen. 2:15-17: “Toe het die HERE God die mens [Adam] geneem en hom in die tuin van Eden gestel om dit te bewerk en te bewaak. En die HERE God het aan die mens bevel gegee en gesê: Van al die bome van die tuin mag jy vry eet, maar van die boom van die kennis van goed en kwaad, daarvan mag jy nie eet nie; want die dag as jy daarvan eet, sal jy sekerlik sterwe.” (God het hier van die dood gepraat as iets wat die gevolg van die sonde sou wees, nie as iets onvermydeliks nie. Hy het Adam aangespoor om dit te vermy. Vergelyk Romeine 6:23.)
Gen. 2:8, 9: “Ook het die HERE God ’n tuin geplant in Eden, in die Ooste, en daar aan die mens wat Hy geformeer het, ’n plek gegee. En die HERE God het allerhande bome uit die grond laat uitspruit, begeerlik om te sien en goed om van te eet; ook die boom van die lewe in die middel van die tuin.” (Volgens Genesis 3:22, 23 is die mensepaar ná Adam se sonde uit Eden verdryf sodat hulle nie van die boom van die lewe sou eet nie. Dit wil dus voorkom of God Adam, mits hy aan sy Skepper gehoorsaam gebly het, mettertyd sou toegelaat het om van daardie boom te eet as ’n simbool dat hy waardig is om vir ewig te lewe. Die teenwoordigheid van die boom van die lewe in Eden het op so ’n vooruitsig gedui.)
Ps. 37:29: “Die regverdiges sal die aarde besit en vir ewig daarop woon.” (Hierdie belofte toon duidelik dat God se basiese voorneme met die aarde en die mensdom nie verander het nie.)
Kyk ook bladsy 85, onder “Dood”.
Maar is die lewe in ons geval vandag bedoel om net ’n kort bestaan te wees wat dikwels deur lyding bederf word?
Rom. 5:12, NAV: “Deur een mens [Adam] het die sonde in die wêreld gekom en deur die sonde die dood, en so het die dood tot al die mense deurgedring, omdat almal gesondig het.” (Dit is wat ons almal geërf het, nie omdat God hom dit voorgeneem het nie, maar weens Adam se sonde.) (Kyk ook “Noodlot”.)
Job 14:1: “Die mens uit ’n vrou gebore, is kort van dae en sat van onrus.” (Dit is ’n raak beskrywing van die lewe in hierdie onvolmaakte stelsel.)
Maar selfs onder hierdie omstandighede kan ons lewens ryklik lonend en sinvol wees. Kyk die materiaal op bladsye 268, 269 oor die doel van menselewe.
Is die lewe op aarde bloot ’n toetsterrein om te bepaal wie hemel toe sal gaan?
Kyk bladsye 195-200, onder “Hemel”.
Het ons ’n onsterflike siel wat ná die dood van die vleeslike liggaam voortleef?
Kyk bladsye 374-379, onder “Siel”.
Op watter grondslag kan enigeen hoop om meer as sy teenswoordige kort menslike bestaan te geniet?
Matt. 20:28, NAV: “So is dit ook met die Seun van die mens [Jesus Christus]: Hy het nie gekom om gedien te word nie maar om te dien en sy lewe te gee as losprys vir baie mense.”
Joh. 3:16: “So lief het God die wêreld gehad, dat Hy sy eniggebore Seun gegee het, sodat elkeen wat in Hom glo, nie verlore mag gaan nie, maar die ewige lewe kan hê.”
Hebr. 5:9: “Nadat Hy [Jesus Christus] volmaak is, het Hy vir almal wat Hom gehoorsaam is, ’n bewerker van ewige saligheid geword.” (Ook Johannes 3:36)
Hoe sal die vooruitsig op toekomstige lewe verwesenlik word?
Hand. 24:14, 15: “Dit erken ek voor u dat ek . . . ’n hoop op God het, ’n hoop wat hulle self ook verwag, dat daar ’n opstanding sal wees van die dode, regverdiges sowel as onregverdiges.” (Dit sal persone insluit wat God in die verlede getrou gedien het sowel as die groot getal wat nooit genoeg van die ware God af geweet het om sy weë aan te neem of te verwerp nie.)
Joh. 11:25, 26: “Jesus sê vir haar [die suster van ’n man wat hy daarna opgewek het]: Ek is die opstanding en die lewe; wie in My glo, sal lewe al het hy ook gesterwe; en elkeen wat lewe en in My glo, sal nooit sterwe tot in ewigheid nie. Glo jy dit?” (Benewens die hoop op die opstanding het Jesus dus ook iets anders voorgehou aan persone wat sou lewe wanneer die teenswoordige goddelose wêreld eindig. Diegene met die hoop om aardse onderdane van God se Koninkryk te wees, het die vooruitsig om behoue te bly en nooit te sterf nie.)
Is daar enigiets omtrent die samestelling van die menseliggaam wat toon dat dit ontwerp is om vir ewig te lewe?
Daar word algemeen erken dat die mensebrein ’n oneindig groter vermoë het as wat ons gedurende ons huidige lewe kan gebruik, al lewe ons 70 of selfs 100 jaar lank. Die Encyclopædia Britannica sê dat die mensebrein “begaaf is met ’n baie groter potensiaal as wat in die loop van een persoon se lewe verwesenlik kan word” (1976, Dl. 12, bl. 998). Wetenskaplike Carl Sagan sê dat die mensebrein informasie kan berg wat “sowat twintigmiljoen boeke sal vul, soveel as wat daar in die wêreld se grootste biblioteke is” (Cosmos, 1980, bl. 278). Aangaande die vermoë van die mensebrein se “liasseerstelsel” het biochemikus Isaac Asimov geskryf: “Dit is volkome in staat om enige leer- of geheuelading wat die mens daarop kan laai te behartig—en ’n duisendmiljoen maal soveel.”—The New York Times Magazine, 9 Oktober 1966, bl. 146. (Waarom is die mensebrein met so ’n vermoë begaaf as dit nie gebruik sou word nie? Is dit nie redelik dat mense, met hul oneindige leervermoë, gemaak is om vir ewig te lewe nie?)
Bestaan daar lewe op ander planete?
The New York Times berig: “Die soektog na intelligente lewe elders in die heelal . . . het 25 jaar gelede begin . . . Die enorme taak wat die aftasting van honderdmiljarde sterre behels, het tot dusver geen duidelike bewys opgelewer dat daar lewe buite die Aarde bestaan nie.”—2 Julie 1984, bl. A1.
The Encyclopedia Americana sê: “Geen ander planete [buitekant ons sonnestelsel] is vir seker waargeneem nie. Maar vir elke planeet wat moontlik buitekant die sonnestelsel bestaan, bestaan daar ’n moontlikheid dat lewe begin en tot ’n gevorderde beskawing geëvolueer het” (1977, Dl. 22, bl. 176). (Is dit, soos deur hierdie verklaring weerspieël word, moontlik dat ’n groot beweegrede vir die peperduur soektog na lewe in die buitenste ruimte die begeerte is om bewys te vind vir die evolusieteorie, bewys dat die mens nie deur God geskape is nie en dus nie teenoor Hom aanspreeklik is nie?)
Die Bybel toon dat die lewe op hierdie aarde nie die enigste is wat daar is nie. Daar is geeswesens—God en die engele—wat die mens verreweg in intelligensie en krag oortref. Hulle het reeds met die mensdom gekommunikeer en die oorsprong van die lewe sowel as die oplossing vir die oorweldigende probleme waarmee die wêreld te kampe het, verduidelik. (Kyk “Bybel” en “God”.)