Hemel
Definisie: Die woonplek van Jehovah God en van getroue geesskepsele; ’n ryk wat onsigbaar is vir mense-oë. Die Bybel gebruik ook die woord “hemel(e)” in verskeie ander betekenisse; byvoorbeeld: vir God self, sy organisasie van getroue geesskepsele, ’n posisie van goddelike guns, die fisiese heelal onderskeie van die aarde, die uitspansel rondom die planeet Aarde, menseregerings onder Satan se oorheersing, en die regverdige nuwe hemelse regering waarin Jesus Christus en sy mede-erfgename deur Jehovah gemagtig is om te regeer.
Het ons almal in die geesteryk bestaan voordat ons as mense gebore is?
Joh. 8:23: “[Jesus Christus het gesê:] Julle is van benede, Ek is van bo; julle is uit hierdie wêreld, Ek is nie uit hierdie wêreld nie.” (Jesus het wel uit die geesteryk gekom. Maar soos Jesus gesê het, het ander mense nie.)
Rom. 9:10-12: “Rebekka was swanger . . . Toe die kinders nog nie gebore was en nog geen goed of kwaad gedoen het nie—dat die voorneme van God volgens die verkiesing kon bly staan, nie uit die werke nie, maar uit Hom wat roep—is vir haar gesê: Die oudste sal die jongste dien.” (Indien die tweeling Jakob en Esau vantevore in ’n geesteryk gelewe het, sou hulle beslis ’n reputasie verkry het op grond van hulle gedrag aldaar, nie waar nie? Maar hulle het eers na hulle geboorte as mense so ’n reputasie verkry.)
Gaan alle goeie mense hemel toe?
Hand. 2:34: “Dawid [wat in die Bybel ‘’n man na Jehovah se hart’ genoem word] het nie in die hemele opgevaar nie.”
Matt. 11:11: “Voorwaar Ek sê vir julle, onder die wat uit vroue gebore is, het daar nie een opgestaan wat groter is as Johannes die Doper nie; maar die kleinste in die koninkryk van die hemele is groter as hy.” (Johannes het dus nie hemel toe gegaan toe hy gesterf het nie.)
Ps. 37:9, 11, 29: “Die kwaaddoeners sal uitgeroei word; maar die wat die HERE verwag, hulle sal die aarde besit. . . . Die ootmoediges . . . sal die aarde besit en hulle verlustig oor groot vrede. . . . Die regverdiges sal die aarde besit en vir ewig daarop woon.”
Sou Adam eindelik hemel toe gegaan het as hy nie gesondig het nie?
Gen. 1:26: “God het gesê: Laat Ons mense maak na ons beeld, na ons gelykenis, en laat hulle heers oor die visse van die see en die voëls van die hemel en die vee en oor die hele aarde en oor al die diere wat op die aarde kruip.” (God se doel met Adam was dus dat hy opsigter van die aarde en die dierelewe daarop moes wees. Daar word nie gesê dat hy hemel toe sou gaan nie.)
Gen. 2:16, 17: “Die HERE God het aan die mens bevel gegee en gesê: Van al die bome van die tuin mag jy vry eet, maar van die boom van die kennis van goed en kwaad, daarvan mag jy nie eet nie; want die dag as jy daarvan eet, sal jy sekerlik sterwe.” (Dit was nie Jehovah se oorspronklike voorneme dat die mens eendag moes sterf nie. Die bevel van God wat hier aangehaal word, toon dat hy ’n waarskuwing gerig het teen die weg wat tot die dood sou lei. Die dood sou die straf vir ongehoorsaamheid wees, nie die deur na ’n beter lewe in die hemel nie. Gehoorsaamheid sou beloon word met volgehoue lewe, die ewige lewe, in die Paradys wat God aan die mens gegee het. Kyk ook Jesaja 45:18.)
Moet ’n mens hemel toe gaan om ’n waarlik gelukkige toekoms te hê?
Ps. 37:11: “Die ootmoediges . . . sal die aarde besit en hulle verlustig oor groot vrede.”
Openb. 21:1-4: “Ek het ’n nuwe hemel en ’n nuwe aarde gesien . . . En ek het ’n groot stem uit die hemel hoor sê: Kyk, die tabernakel van God is by die mense, en Hy sal by hulle woon, en hulle sal sy volk wees; en God self sal by hulle wees as hulle God. En God sal al die trane van hulle oë afvee, en daar sal geen dood meer wees nie; ook droefheid en geween en moeite sal daar nie meer wees nie, want die eerste dinge het verbygegaan.”
Miga 4:3, 4: “Nie meer sal nasie teen nasie die swaard ophef nie, en hulle sal nie meer leer om oorlog te voer nie. Maar hulle sal sit elkeen onder sy wingerdstok en onder sy vyeboom, sonder dat iemand hulle verskrik; want die mond van die HERE van die leërskare het dit gespreek.”
Het Jesus die weg na die hemel geopen vir diegene wat gesterf het voor hy gesterf het?
Wat beteken 1 Petrus 3:19, 20? “[Na sy opstanding het Jesus in die gees] heengegaan en gepreek . . . vir die geeste in die gevangenis, wat eertyds ongehoorsaam was toe die lankmoedigheid van God eenmaal gewag het in die dae van Noag, onderwyl die ark gereed gemaak is, waarin weinig, dit is agt, siele [“siele”, NW, KJ, Dy; “mense”, TEV, JB; “persone”, RS] deur water heen gered is.” (Was daardie “geeste in die gevangenis” die siele van die mense wat geweier het om voor die Vloed op Noag se prediking ag te slaan, en is die weg nou vir hulle geopen om hemel toe te gaan? ’n Vergelyking van 2 Petrus 2:4 en Judas 6 met Genesis 6:2-4 toon dat hierdie geeste engeleseuns van God was wat in Noag se dag verstoflik en getrou het. In 1 Petrus 3:19, 20 is die Griekse woord vir “geeste” pneuʹma·sin, terwyl die woord wat met “siele” weergegee word, psu·chè is. Die “geeste” was nie onstoflike siele nie, maar ongehoorsame engele; die “siele” wat hier gemeld word, was lewende mense, Noag en sy huisgesin. Dit moes dus ’n oordeelsboodskap gewees het wat aan die “geeste in die gevangenis” verkondig is.)
Wat beteken 1 Petrus 4:6? “Daarom is ook aan die dode die evangelie verkondig, sodat hulle wel geoordeel kan word na die mens in die vlees, maar lewe na God in die gees.” (Was hierdie “dode” die mense wat gesterf het voor Christus se dood? Soos reeds getoon is, is die dode nie “die geeste in die gevangenis” nie. Daardie geeste was ongehoorsame engele. En mense wat fisies dood is, sou nie by prediking baat gevind het nie, want hulle “weet glad niks nie”, soos Prediker 9:5 sê. En Psalm 146:4 voeg by dat dit met ’n persoon se “planne gedaan” is wanneer hy sterf. Maar Efesiërs 2:1-7, 17 vertel van mense wat geestelik dood was en wat geestelik lewend geword het omdat hulle die evangelie aangeneem het.)
Word hemelse lewe in die “Nuwe Testament” as die hoop vir alle Christene voorgehou?
Joh. 14:2, 3: “In die huis van my Vader is daar baie wonings; as dit nie so was nie, sou Ek dit vir julle gesê het. Ek gaan om vir julle plek te berei. En as Ek gegaan en vir julle plek berei het, kom Ek weer en sal julle na My toe neem, sodat julle ook kan wees waar Ek is.” (Jesus toon hier dat sy getroue apostels, met wie hy gepraat het, mettertyd saam met hom in sy Vader se “huis”, in die hemel, sou wees. Maar hy sê nie hier hoeveel ander ook hemel toe sou gaan nie.)
Joh. 1:12, 13: “Almal wat Hom [Jesus] aangeneem het, aan hulle het Hy mag gegee om kinders van God te word, aan hulle wat in sy Naam glo; wat nie uit die bloed of uit die wil van die vlees of uit die wil van ’n man nie, maar uit God gebore is.” (Let op dat die verband, in vers 11, na Jesus se “eie mense”, die Jode, verwys. Die van hulle wat hom aangeneem het toe hy in die eerste eeu na hulle gekom het, het God se kinders geword, met hemelse lewe in die vooruitsig. Die werkwoorde in die teks is in die verlede tyd, sodat hierdie gedeelte nie praat van al die mense wat sedertdien Christene geword het nie.)
Rom. 8:14, 16, 17: “Almal wat deur die Gees van God gelei word, dié is kinders van God . . . Die Gees self getuig saam met ons gees dat ons kinders van God is; en as ons kinders is, dan ook erfgename, erfgename van God en mede-erfgename van Christus, as ons naamlik saam met Hom ly, sodat ons ook saam met Hom verheerlik kan word.” (Toe hierdie woorde neergeskryf is, was almal wat deur God se gees gelei is weliswaar God se kinders wat gehoop het om saam met Christus verheerlik te word. Maar dit was nie altyd die geval nie. Lukas 1:15 sê dat Johannes die Doper met die heilige gees vervul sou wees, maar Mattheüs 11:11 toon duidelik dat hy nie die heerlikheid van die hemelse Koninkryk deelagtig sou wees nie. Na die insameling van die erfgename van die hemelse Koninkryk sou daar ander wees wat God as volgelinge van sy Seun sou dien en tog nie die hemelse heerlikheid deelagtig sou wees nie.)
Watter spesifieke vermelding is daar in die “Nuwe Testament” van ’n voorsiening vir Christene om met die ewige lewe op aarde beloon te word?
Matt. 5:5: “Salig is die sagmoediges, want hulle sal die aarde beërwe.”
Matt. 6:9, 10: “Onse Vader wat in die hemele is, laat u Naam geheilig word; laat u koninkryk kom; laat u wil geskied, soos in die hemel net so ook op die aarde.” (Wat is God se wil ten opsigte van die aarde? Wat toon Genesis 1:28 en Jesaja 45:18?)
Matt. 25:31-33, 40, 46: “Wanneer die Seun van die mens in sy heerlikheid kom en al die heilige engele saam met Hom, dan sal Hy op sy heerlike troon sit; en voor Hom sal al die nasies versamel word, en Hy sal hulle van mekaar afskei soos die herder die skape van die bokke afskei; en Hy sal die skape aan sy regterhand en die bokke aan sy linkerhand sit. . . . Die Koning sal antwoord en vir hulle [die skape] sê: Voorwaar Ek sê vir julle, vir sover julle dit gedoen het aan een van die geringstes van hierdie broeders van My, het julle dit aan My gedoen. . . . En [die bokke] sal weggaan in die ewige straf, maar die regverdiges [die skape] in die ewige lewe.” (Let op dat hierdie “skape” nie dieselfde is as die Koning se broeders, wat “deelgenote van die hemelse roeping” is nie [Hebr. 2:10–3:1]. Maar hierdie “skape” sou lewe wanneer Christus op sy troon sit en terwyl sommige van sy “broeders” nog ontberinge op aarde verduur.)
Joh. 10:16: “Ek het nog ander skape wat nie aan hierdie stal behoort nie. Ek moet hulle ook lei, en hulle sal na my stem luister, en dit sal wees een kudde, een herder.” (Wie is hierdie “ander skape”? Hulle is volgelinge van die Goeie Herder, Jesus Christus, maar is nie in die skaapstal, die “nuwe verbond”, met die hoop op hemelse lewe nie. Hulle is nietemin ten nouste verbonde met diegene wat in daardie skaapstal is.)
2 Pet. 3:13: “Ons verwag volgens sy belofte nuwe hemele en ’n nuwe aarde waarin geregtigheid woon.” (Ook Openbaring 21:1-4)
Openb. 7:9, 10: “Ná hierdie dinge [nadat die apostel Johannes die volle getal “verseëldes” gesien het wat “van die aarde vrygekoop is” om saam met Christus op die hemelse berg Sion te wees; kyk Openbaring 7:3, 4; 14:1-3] het ek gesien, en kyk, daar was ’n groot menigte wat niemand kon tel nie, uit alle nasies en stamme en volke en tale; hulle het gestaan voor die troon en voor die Lam, bekleed met wit klere en met palmtakke in hulle hande; en hulle het met ’n groot stem geroep en gesê: Heil aan onse God wat op die troon sit, en aan die Lam!”
Aan hoeveel bied die Bybel die hoop op hemelse lewe?
Luk. 12:32: “Moenie vrees nie, klein kuddetjie, want julle Vader het ’n welbehae daarin gehad om aan julle die koninkryk te gee.”
Openb. 14:1-3: “Ek het gesien, en kyk, die Lam [Jesus Christus] staan op die berg Sion [in die hemel; kyk Hebreërs 12:22-24], en saam met hom honderd-vier-en-veertigduisend met sy Naam en die Naam van sy Vader op hulle voorhoofde geskrywe. . . . En hulle het ’n nuwe lied gesing . . . en niemand kon die lied leer nie, behalwe die honderd-vier-en-veertigduisend wat van die aarde vrygekoop is.”
Is die 144 000 slegs natuurlike Jode?
Openb. 7:4-8: “Ek het die getal van die verseëldes gehoor: honderd-vier-en-veertigduisend verseëldes uit al die stamme van die kinders van Israel— . . . Juda . . . Ruben . . . Gad . . . Aser . . . Naftali . . . Manasse . . . Simeon . . . Levi . . . Issaskar . . . Sebulon . . . Josef . . . Benjamin.” (Dit kan nie die stamme van natuurlike Israel wees nie, want daar was nooit ’n stam van Josef nie, die stam van Efraim en Dan kom nie in die lys voor nie en die Leviete was afgesonder vir diens by die tempel en was nie as een van die 12 stamme gereken nie. Kyk Numeri 1:4-16.)
Rom. 2:28, 29: “Nie hý is ’n Jood wat dit in die openbaar is nie, en nie dít is besnydenis wat dit in die openbaar in die vlees is nie; maar hy is ’n Jood wat dit in die verborgene is, en besnydenis is dié van die hart, in die gees, nie na die letter nie.”
Gal. 3:26-29: “Julle is almal kinders van God deur die geloof in Christus Jesus . . . Daar is nie meer Jood of Griek nie, daar is nie meer slaaf of vryman nie, daar is nie meer man en vrou nie; want julle is almal een in Christus Jesus. En as julle aan Christus behoort, dan is julle die nageslag van Abraham en volgens die belofte erfgename.”
Is die getal 144 000 bloot simbolies?
Die antwoord blyk uit die feit dat nadat die bepaalde getal 144 000 gemeld is, Openbaring 7:9 praat van ’n “groot menigte wat niemand kon tel nie”. As die getal 144 000 nie letterlik was nie, sou dit sinloos wees as ’n teenstelling met die “groot menigte”. As ons die getal as letterlik beskou, strook dit met Jesus se verklaring in Mattheüs 22:14 oor die Koninkryk van die hemele: “Baie is geroep, maar min uitverkies.”
Gaan die lede van die “groot menigte” waarvan daar in Openbaring 7:9, 10 gepraat word ook hemel toe?
Openbaring sê nie dat hulle net soos die 144 000 “van die aarde vrygekoop is” om saam met Christus op die hemelse berg Sion te wees nie.—Openb. 14:1-3.
Wanneer daar gesê word dat hulle “voor die troon en voor die Lam” staan, dui dit nie noodwendig ’n plek aan nie, maar ’n goedgekeurde toestand. (Vergelyk Openbaring 6:17; Lukas 21:36.) Die uitdrukking “voor die troon” (Grieks, e·noʹpi·on tou throʹnou; letterlik, “in sig van die troon”, vereis nie dat hulle in die hemel moet wees nie. Hulle posisie is bloot “in sig” van God, wat vir ons sê dat hy die mensekinders uit die hemel aanskou.—Ps. 11:4; vergelyk Mattheüs 25:31-33; Lukas 1:74, 75; Handelinge 10:33.
Die “groot menigte in die hemel” waarvan Openbaring 19:1, 6 praat, is nie dieselfde as die “groot menigte” van Openbaring 7:9 nie. Daar word nie gesê dat dié hemelinge “uit alle nasies” kom of hulle redding aan die Lam toeskryf nie; hulle is engele. Die uitdrukking “groot menigte” word in verskeie verbande in die Bybel gebruik.—Mark. 5:24; 6:34; 12:37.
Wat sal diegene wat hemel toe gaan daar doen?
Openb. 20:6: “Hulle sal priesters van God en van Christus wees en sal saam met Hom as konings regeer duisend jaar lank.” (Ook Daniël 7:27)
1 Kor. 6:2: “Weet julle nie dat die heiliges die wêreld sal oordeel nie?”
Openb. 5:10, NAV: “U het hulle ’n koninkryk en priesters vir ons God gemaak en hulle sal oor [“op”, AB, RS, KJ, Dy; “oor”, NW, AT, Da, Kx, CC] die aarde regeer.” (Dieselfde Griekse woord en sinskonstruksie kom in Openbaring 11:6 voor. Daar gee AB, RS, KJ, Dy, ens. dit almal met “oor” weer.)
Wie kies diegene wat hemel toe gaan?
2 Thess. 2:13, 14: “Ons moet God altyd oor julle dank, broeders wat deur die Here bemin word, dat God julle van die begin af verkies het tot saligheid in heiligmaking van die Gees en geloof in die waarheid, waartoe Hy julle geroep het deur ons evangelie om die heerlikheid van onse Here Jesus Christus te verkry.”
Rom. 9:6, 16: “Hulle is nie almal Israel wat uit Israel is nie. . . . So hang dit dan nie af van die een wat wil of van die een wat loop nie, maar van God wat barmhartig is.”