Verwysings vir die Lewe en Bediening-vergaderingwerkboek
© 2023 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
3-9 JULIE
SKATTE UIT GOD SE WOORD | ESRA 4-6
“Moenie met die werk . . . inmeng nie”
Sien jy wat Sagaria gesien het?
13 Al was daar ’n verbod op die bouwerk van die tempel, het die manne wat aangestel is om die leiding te neem – die hoëpriester Jesua (Josua) en goewerneur Serubbabel – “die huis van God . . . begin herbou” (Esra 5:1, 2). Party van die Jode sou miskien gedink het dat dit ’n slegte besluit is. Hulle vyande sou sien dat hulle besig is om die tempel te bou en sou alles doen wat hulle kon om moeilikheid te maak. Die twee manne wat die leiding geneem het, Josua en Serubbabel, het die versekering nodig gehad dat Jehovah hulle ondersteun. En hulle het dit gekry. Hoe?
w86 2/1 29, venster ¶2-3
Jehovah se oog ‘het op die ouere manne gebly’
Na die terugkeer van die Joodse oorblyfsel uit Babilon was daar ’n onbedrywige tydperk van 16 jaar. Die profete Haggai en Sagaria het daarin geslaag om die Jode uit hulle onverskilligheid te wek, en die bouwerk aan Jehovah se tempel is hervat. Maar Persiese amptenare het weldra teen hierdie werk beswaar gemaak. “Wie het julle bevel gegee om hierdie huis te bou?” het die teenstanders gevra.—Esra 5:1-3.
Die antwoord op hierdie vraag was van kritieke belang. As die ouere manne hulle laat intimideer het, sou die herstelwerk aan die tempel skielik beëindig word. As die ouere manne hierdie amptenare vyandig gemaak het, sou die werk onmiddellik verbied word. Die ouere manne (ongetwyfeld onder leiding van goewerneur Serubbabel en hoëpriester Josua) het derhalwe ’n taktvolle dog doeltreffende antwoord opgestel. Hulle het die amptenare herinner aan die langvergete bevel van Kores wat die Jode koninklike toestemming gegee het om hierdie werk voort te sit. Hierdie amptenare, wat geweet het van die Persiese beleid om nooit ’n verklaarde wet te herroep nie, het verstandig besluit om nie ’n koninklike bevel teen te gaan nie. Die werk kon dus voortgaan totdat koning Kores later sy amptelike verlof toegestaan het!—Esra 5:11-17; 6:6-12.
Sien jy wat Sagaria gesien het?
7 Iets het toe gebeur wat die bouers van die tempel gehelp het. Wat was dit? In 520 VHJ het Darius I koning van Persië geword. In die tweede jaar van sy koningskap het hy uitgevind dat die verbod op die bouwerk van die tempel onwettig was. Darius het toe vir die Jode die toestemming gegee om die bouwerk van die tempel te voltooi (Esra 6:1-3). Die koning se besluit het almal verbaas. Maar dit was nie al nie. Die koning het die Jode se teenstanders ook beveel om nie in te meng met die bouwerk van die tempel nie en om vir die Jode geld en alles te gee wat hulle nodig het om die bouwerk te voltooi! (Esra 6:7-12). As gevolg hiervan het die Jode die tempel omtrent vier jaar later, in 515 VHJ, voltooi. – Esra 6:15.
Sien jy wat Sagaria gesien het?
16 Nog ’n manier hoe Jehovah ons lei, is deur middel van “die getroue en verstandige slaaf” (Matt. 24:45). Soms sal hierdie slaaf miskien vir ons instruksies gee wat ons nie ten volle verstaan nie. Byvoorbeeld, ons sal dalk instruksies kry oor hoe om voor te berei vir ’n natuurramp, maar miskien dink ons dat so iets nie in ons gebied sal gebeur nie. Of dalk dink ons dat die slaaf te versigtig is gedurende ’n pandemie. Wat moet ons doen as ons dink dat die instruksies nie prakties is nie? Ons kan dink aan hoe dit die Israeliete gehelp het toe hulle Josua en Serubbabel se instruksies gevolg het. Ons kan ook dink aan ander Bybelverslae wat ons al gelees het. Soms het God se volk instruksies gekry wat nie prakties gelyk het nie, maar wat op die ou end lewens gered het. – Rigt. 7:7; 8:10.
Geestelike skatte
Kan jy vertroue in die Bybel hê?
Die muntstuk is in Tarsus gemaak, ’n stad in die suidoostelike deel van wat nou Turkye is. Die muntstuk is in die vierde eeu v.G.J. gedurende die regering van die Persiese goewerneur Mazaeus gemaak. Dit identifiseer hom as goewerneur van die provinsie “Oorkant die Rivier”, dit is die Eufraatrivier.
Maar waarom is daardie uitdrukking interessant? Want jy sal dieselfde benaming in jou Bybel vind. Esra 5:6–6:13 (NW) bevat korrespondensie tussen die Persiese koning Darius en ’n goewerneur met die naam Tattenai. Onder bespreking was die Jode se herbouing van hulle tempel in Jerusalem. Esra was ’n bekwame kopiïs van God se Wet, en ’n mens sou verwag dat hy presies en akkuraat sou wees in wat hy geskryf het. Jy sal sien dat hy Tattenai in Esra 5:6 en 6:13 “die goewerneur oorkant die Rivier” noem.
Esra het dit in ongeveer 460 v.G.J. neergeskryf, nagenoeg 100 jaar voor die muntstuk gemunt is. Party voel dalk weliswaar dat die benaming van ’n antieke amptenaar ’n onbeduidende besonderheid is. Maar as jy die Bybelskrywers in sulke klein besonderhede kan vertrou, behoort dit nie jou vertroue te vergroot in enigiets anders wat hulle geskryf het nie?
10-16 JULIE
SKATTE UIT GOD SE WOORD | ESRA 7-8
“Esra se gedrag het Jehovah geëer”
Studie—Lonend en genotvol
8 Ja, ons liefde vir Jehovah se Woord moet uit ons hart, die setel van emosies, kom. Ons moet dit geniet om stil te staan by sekere Skrifgedeeltes wat ons pas gelees het. Ons moet nadink oor diep geestelike gedagtes, daarin verdiep raak en daaroor peins. Dit vereis stille nadenke en gebed. Soos Esra moet ons ons hart berei om God se Woord te lees en te bestudeer. Die verslag sê van hom: “Esra het sy hart berei om die wet van Jehovah te raadpleeg en om dit na te kom en om Israel voorskrif en geregtigheid te leer” (Esra 7:10, NW). Let op met watter drievoudige doel Esra sy hart berei het: om te studeer, om persoonlike toepassing te maak en om ander te leer. Ons behoort sy voorbeeld te volg.
Bybelboek nommer 13—1 Kronieke
5 Niemand was beter bekwaam om hierdie egte en akkurate geskiedenis saam te stel as Esra nie. “Want Esra het sy hart daarop gerig om die wet van die HERE te ondersoek en te betrag, en om Israel die insettinge en verordeninge te leer” (Esra 7:10). Jehovah het hom deur middel van heilige gees gehelp. Die Persiese wêreldheerser het die wysheid van God in Esra gesien en omvattende burgerlike magte in die regsgebied Juda aan hom verleen (Esra 7:12-26). Aldus toegerus met goddelike en vorstelike gesag, kon Esra sy verslag aan die hand van die beste beskikbare dokumente saamstel.
it-1-E 1158 ¶4
Nederigheid
Voorsien die regte leiding. Iemand wat homself voor God verneder, kan God se leiding ontvang. Esra het ’n groot verantwoordelikheid gehad om meer as 1 500 manne, buiten die priesters, die Netinim en die vrouens en kinders van Babilon terug na Jerusalem te lei. Hulle het ook baie goud en silwer saam met hulle gedra om die tempel in Jerusalem mooi te maak. Hulle het beskerming nodig gehad, maar Esra wou nie die koning van Persië vir militêre beskerming vra en op daardie manier wys dat hulle op menslike mag staatmaak nie. En hy het ook vroeër vir die koning gesê: “Die goeie hand van ons God is oor almal wat hom dien.” Daarom het hy ’n vas aangekondig sodat die volk hulleself voor Jehovah sou verneder. Hulle het God gevra om hulle te lei, en hy het na hulle geluister en hulle teen vyande en rowers op die pad beskerm sodat hulle veilig in Jerusalem sou aankom (Esr 8:1-14, 21-32). Toe Daniël ’n gevangene in Babilon was, het God gewys dat hy Sy goedkeuring het deur ’n engel na hom toe te stuur met ’n visioen omdat Daniël homself voor God verneder het deur God se leiding te soek. – Da 10:12.
Geestelike skatte
Glanspunte uit die boek Esra
7:28–8:20—Waarom was baie Jode in Babilon teësinnig om saam met Esra na Jerusalem op te gaan? Al het meer as 60 jaar verbygegaan sedert die eerste groep Jode na hulle vaderland teruggekeer het, was Jerusalem nog yl bevolk. Om na Jerusalem terug te keer, het beteken dat hulle ’n nuwe lewe moes begin onder ongerieflike en gevaarlike omstandighede. Jerusalem het in daardie dae nie enige aantreklike materiële vooruitsigte gebied vir Jode wat moontlik in Babilon voorspoedig was nie. Ook moet die gevaarlike reis in ag geneem word. Dié wat wou terugkeer, sou sterk geloof in Jehovah, ywer vir ware aanbidding en moed nodig hê. Selfs Esra het homself versterk volgens die hand van Jehovah oor hom. Weens Esra se aanmoediging het 1 500 gesinne—dalk bykans 6 000 mense—positief gereageer. Nadat Esra bykomende stappe geneem het, het 38 Leviete en 220 Netinim gereageer.
17-23 JULIE
SKATTE UIT GOD SE WOORD | ESRA 9-10
“Die pynlike gevolge van ongehoorsaamheid”
Glanspunte uit die boek Esra
9:1, 2—Hoe ernstig was die bedreiging wat ondertrouery met die mense van die land ingehou het? Die herstelde nasie moes die bewaarder van Jehovah se aanbidding wees totdat die Messias kom. Ondertrouery met ander nasies het ’n ernstige bedreiging vir ware aanbidding ingehou. Omdat party onder die volk huweliksverbintenisse met die afgodsaanbiddende mense aangegaan het, kon dit daartoe gelei het dat die hele volk uiteindelik deel van die heidense nasies word. Ware aanbidding kon van die aarde af verdwyn het. Na wie sou die Messias dan kom? Geen wonder dat Esra verstom was om te sien wat gebeur het nie!
Wat vra Jehovah van ons?
Ons gewillige gehoorsaamheid sal seëninge meebring. Moses skryf: ‘Onderhou die gebooie . . . wat ek jou vandag beveel, sodat dit met jou goed kan gaan’ (vers 13). Ja, elkeen van Jehovah se gebooie—alles wat hy van ons vra—is tot ons voordeel. Hoe dan anders? “God is liefde”, sê die Bybel (1 Johannes 4:8). Gevolglik het hy ons net gebooie gegee wat ons blywende welsyn bevorder (Jesaja 48:17). As ons alles doen wat Jehovah van ons vra, sal dit ons nou al baie frustrasie spaar en eindelose toekomstige seëninge onder sy Koninkryksheerskappy tot gevolg hê.
Geestelike skatte
Glanspunte uit die boek Esra
10:3, 44—Waarom is die kinders saam met die vrouens weggestuur? As die kinders agtergebly het, was daar ’n groter moontlikheid dat die vrouens wat weggestuur is, weens hulle kinders sou terugkeer. Bowendien het klein kindertjies gewoonlik die sorg van hulle moeder nodig.
24-30 JULIE 2012
SKATTE UIT GOD SE WOORD | NEHEMIA 1-2
“Ek het dadelik . . . gebid”
Hou Jehovah voortdurend voor jou
5 Soms is dit dalk vir ons nodig om vinnig tot God te bid vir hulp. By een geleentheid het die Persiese koning Artasasta opgelet dat sy skinker Nehemia droefgeestig is. “Wat verlang jy?”, het die koning gevra. “Dadelik het [Nehemia] tot die God van die hemel gebid.” Hierdie waarskynlik stille gebed van Nehemia kon nie lank gewees het nie. Tog het God dit verhoor, want die koning het Nehemia sy steun gegee om die mure van Jerusalem te herbou. (Lees Nehemia 2:1-8.) Ja, selfs ’n kort, stille gebed kan doeltreffend wees.
Ekstemporêre voordrag
Wat kan jou help om ’n doeltreffende antwoord te gee wanneer jy onverwags gevra word om jou oortuiging te verduidelik? Volg Nehemia se voorbeeld, wat ’n stille gebed gedoen het voordat hy koning Artasasta se vraag beantwoord het (Neh. 2:4). Werk dan gou in jou gedagtes ’n skets uit van wat jy wil sê. Die basiese stappe kan soos volg uiteengesit word: (1) Kies een of twee punte wat in die verduideliking ingesluit moet word (jy besluit dalk om punte te gebruik wat in Redenering uit die Skrif gevind word). (2) Besluit watter tekste jy gaan gebruik om daardie punte te staaf. (3) Dink aan hoe jy jou verduideliking gaan begin sodat die persoon bereid sal wees om te luister. Begin dan praat.
Geestelike skatte
Ware aanbidding seëvier
Nee, want Jerusalem se verwoeste toestand was geruime tyd lank “dag en nag” die onderwerp van Nehemia se gebede (1:4, 6). Toe hy die geleentheid gekry het om koning Artasasta te vertel van sy begeerte om Jerusalem se mure te herbou, het Nehemia weer gebid soos hy reeds by herhaling gedoen het. Jehovah het die gebed verhoor, en dit het gelei tot ’n bevel om die stadsmure te herbou.
Les vir ons: Nehemia het op Jehovah vertrou vir leiding. Wanneer ons gewigtige besluite moet neem, moet ons ook “volhard in die gebed” en optree in ooreenstemming met Jehovah se leiding.—Romeine 12:12.
31 JULIE–6 AUGUSTUS
SKATTE UIT GOD SE WOORD | NEHEMIA 3-4
“Dink jy dat jy te belangrik is om fisiese werk te doen?”
Glanspunte uit die boek Nehemia
3:5, 27. Ons moenie fisiese werk wat in die belang van ware aanbidding gedoen word, as benede ons waardigheid beskou, soos die “vooraanstaandes” onder die Tekoïete gedoen het nie. Ons kan eerder die voorbeeld navolg van die gewone Tekoïete wat hulle gewillig ingespan het.
Wat sal Jehovah jou laat word?
11 Honderde jare later was die dogters van Sallum deel van die groep mense wat Jehovah gebruik het om die mure van Jerusalem te herbou (Neh. 2:20; 3:12). Alhoewel hulle pa ’n vors, of ’n leier, was, was Sallum se dogters bereid om hierdie moeilike en gevaarlike werk te doen (Neh. 4:15-18). Hulle was nie soos die belangrike manne van die Tekoïete wat hulleself nie wou verneder om hierdie werk te doen nie! (Neh. 3:5). Stel jou net voor hoe gelukkig die dogters van Sallum was toe die projek in net 52 dae voltooi is! (Neh. 6:15). In ons dag is gewillige susters bly om in ’n spesiale vorm van heilige diens te dien – die bou en instandhouding van geboue wat aan Jehovah toegewy is. Ons het hierdie vaardige, entoesiastiese en lojale susters nodig vir hierdie werk om suksesvol te wees.
Kweek ’n Christelike beskouing van grootheid aan
16 Alle Christene, jonk en oud, moet daarna streef om die Christelike beskouing van grootheid aan te kweek. In die gemeente moet ’n verskeidenheid take verrig word. Moet nooit gegrief voel as jy gevra word om iets te doen wat na ’n nederige taak lyk nie (1 Samuel 25:41; 2 Konings 3:11). Ouers, moedig julle julle kinders en tieners aan om vreugdevol enige taak te verrig wat hulle ontvang, hetsy dit by die Koninkryksaal, ’n kringbyeenkoms of ’n streekbyeenkoms is? Sien hulle dat julle nederige take verrig? ’n Broer, wat tans by die wêreldhoofkwartier van Jehovah se Getuies dien, kan sy ouers se voorbeeld nog goed onthou. Hy het vertel: “Die gesindheid waarmee hulle die Koninkryksaal of ’n byeenkomssentrum skoongemaak het, het vir my gewys dat hulle dit as belangrik beskou. Hulle het dikwels aangebied om take te verrig wat tot nut van die gemeente of die broederskap sou wees, ongeag hoe onbelangrik daardie take dalk gelyk het. Hierdie gesindheid het my gehelp om enige werkstoewysing hier by Bethel gewillig te aanvaar.”
Geestelike skatte
Glanspunte uit die boek Nehemia
4:17, 18—Hoe kon ’n man die herbouwerk met net een hand doen? Vir lasdraers was dit nie ’n probleem nie. Wanneer die vrag op hulle kop of skouers geplaas is, kon hulle dit maklik met een hand balanseer “terwyl die ander hand die werpspies vasgehou het”. Die bouers wat albei hande moes gebruik om hulle werk te doen, “het elkeen sy swaard aan sy heup gegord gehad, terwyl hulle gebou het”. Hulle was gereed om te veg as die vyand hulle sou aanval.
7-13 AUGUSTUS
SKATTE UIT GOD SE WOORD | NEHEMIA 5-7
“Nehemia wou dien, nie gedien word nie”
Ondersteuners van ware aanbidding—destyds en vandag
Nehemia het nie net sy tyd en organisatoriese vaardighede gebruik nie. Hy het ook sy materiële middele gebruik om ware aanbidding te ondersteun. Hy het met sy eie geld sy Joodse broers uit slawerny vrygekoop. Hy het geld uitgeleen sonder om rente te vra. Hy het dit nooit “swaar gemaak” vir die Jode deur ’n toelae as goewerneur te eis nie, iets waarop hy geregtig was. Hy was vrygewig en het kos voorsien aan “honderd-en-vyftig man, en dié wat uit die nasies rondom ons na ons toe gekom het”. Hy het elke dag “een bul, ses uitgesoekte skape en voëls” vir sy gaste voorsien. Daarbenewens het hy een keer elke tien dae vir hulle “allerhande soorte wyn in oorvloed” voorsien—alles op sy eie onkoste.—Nehemia 5:8, 10, 14-18.
“Laat jou hande nie slap word nie
16 Met Jehovah se ondersteuning het Nehemia en sy metgeselle hulle hande versterk vir die werk. Toe het hulle Jerusalem se mure in net 52 dae voltooi! (Neh. 2:18; 6:15, 16). Nehemia het nie net toesig gehou oor die werk nie. Hy het self ook gehelp om Jerusalem se mure te herbou (Neh. 5:16). Talle liefdevolle ouer manne volg Nehemia se voorbeeld deur op teokratiese bouprojekte te help of deur hulle plaaslike Koninkryksaal skoon te maak en in stand te hou. Deur saam met medeverkondigers in die bediening te werk en deur herdersbesoeke te doen, versterk hulle ook die swak hande van dié wat angstig van hart is—Lees Jesaja 35:3, 4.
Sal Jehovah ten goede aan jou dink?
Regdeur die Bybel toon dit dat die woorde ‘dink aan’ vir God positiewe optrede beteken. Nadat die aarde byvoorbeeld 150 dae lank deur die vloedwaters bedek is, ‘het God aan Noag gedink, en God het ’n wind oor die aarde laat waai, sodat die waters gesak het’ (Genesis 8:1). Eeue later het Simson, nadat die Filistyne sy oë uitgesteek en hom geboei het, gebid: “HERE, dink tog aan my en versterk my tog net hierdie keer.” Jehovah het aan Simson gedink deur hom bomenslike krag te gee sodat hy hom op God se vyande kon wreek (Rigters 16:28-30). Wat Nehemia betref, Jehovah het sy pogings geseën, en ware aanbidding is in Jerusalem herstel.
Geestelike skatte
“Hou aan om die kwaad met die goeie te oorwin”
15 Derdens het Nehemia se vyande ’n verraaier gebruik, die Israeliet Semaja, om Nehemia sover te probeer kry om God se Wet te verbreek. Semaja het vir Nehemia gesê: “Laat ons volgens afspraak byeenkom in die huis van die ware God, binne-in die tempel, en laat ons die deure van die tempel toemaak; want hulle kom om u dood te maak.” Semaja het gesê dat Nehemia gevaar loop om vermoor te word, maar dat hy sy lewe kan red deur in die tempel weg te kruip. Maar Nehemia was nie ’n priester nie. Dit sou vir hom ’n sonde wees om in die huis van God weg te kruip. Sou hy God se Wet verbreek in ’n poging om sy lewe te red? Nehemia het geantwoord: “Wie is daar soos ek wat in die tempel sou kon ingaan en bly lewe? Ek sal nie ingaan nie!” Waarom het Nehemia nie in die strik getrap wat vir hom gestel is nie? Omdat hy geweet het dat dit “nie God [was] wat [Semaja] gestuur het nie”, al was hy ’n mede-Israeliet. ’n Ware profeet sou hom immers nooit aangeraai het om God se Wet te verbreek nie. Nehemia het weer eens nie toegelaat dat hy deur teenstanders met kwade bedoelings oorwin word nie. Kort hierna kon hy berig: “Eindelik is die muur op die vyf-en-twintigste dag van Elul voltooi, in twee-en-vyftig dae.”—Nehemia 6:10-15; Numeri 1:51; 18:7.
14-20 AUGUSTUS
SKATTE UIT GOD SE WOORD | NEHEMIA 8-9
“Die vreugde van Jehovah is julle vesting”
Lesse uit ’n goed voorbereide gebed
2 ’n Maand voor die bogenoemde samekoms het die Jode die herbouing van Jerusalem se mure voltooi (Neh. 6:15). God se volk het die werk binne net 52 dae voltooi, en toe het hulle op hulle geestelike behoeftes gekonsentreer. Op die eerste dag van die nuwe maand, Tisjri, het hulle dus op die openbare plein bymekaargekom om te luister terwyl Esra, asook ander Leviete, God se Wet voorgelees en verduidelik het (Prent 1). Gesinne, insluitende “almal wat genoeg begrip gehad het om te luister”, het “van dagbreek af tot die middaguur toe” gestaan en luister. Wat ’n uitstekende voorbeeld is dit tog vir dié van ons wat vandag vergaderinge bywoon in gerieflike Koninkryksale! Maar vind jy soms by sulke geleenthede dat jou gedagtes dwaal en dat jy aan minder belangrike dinge begin dink? Indien wel, dink weer aan die voorbeeld van daardie eertydse Israeliete wat nie net na die voorlesing van die Wet geluister het nie, maar dit in so ’n mate ter harte geneem het dat hulle begin huil het omdat hulle as ’n nasie versuim het om God se Wet te gehoorsaam.—Neh. 8:1-9.
Sal jy ‘aanhou om deur gees te wandel’?
9 Vreugde is ’n toestand van groot geluk. Jehovah is “die gelukkige God” (1 Timoteus 1:11; Psalm 104:31). Die Seun skep behae daarin om sy Vader se wil te doen (Psalm 40:8; Hebreërs 10:7-9). En “die vreugde van Jehovah is [ons] vesting”.—Nehemia 8:10.
10 Godgegewe vreugde verskaf ons diepe tevredenheid wanneer ons God se wil doen, selfs in tye van teëspoed, smart of vervolging. Hoe gelukkig maak “die kennis van God” ons tog! (Spreuke 2:1-5). Ons vreugdevolle verhouding met God is gegrond op juiste kennis en op geloof in hom en in Jesus se losprysoffer (1 Johannes 2:1, 2). Om deel te wees van die enigste ware internasionale broederskap, is nog ’n bron van vreugde (Sefanja 3:9; Haggai 2:7). Ons Koninkrykshoop en die wonderlike voorreg om die goeie nuus te verkondig, maak ons vreugdevol (Matteus 6:9, 10; 24:14). Die vooruitsig op die ewige lewe doen dit ook (Johannes 17:3). Aangesien ons so ’n wonderlike hoop het, moet ons “net vreugdevol” wees.—Deuteronomium 16:15.
Geestelike skatte
it-1-E 145 ¶2
Aramees
’n Hele paar jaar nadat die Jode uit Babilon teruggekeer het, het die priester Esra die boek van die Wet vir die Jode in Jerusalem voorgelees, en verskillende Leviete het dit aan die volk verduidelik. Nehemia 8:8 sê: “Hulle het bly voorlees uit die boek, uit die Wet van die ware God, en het mooi verduidelik wat dit beteken. Hulle het die volk dus gehelp om te verstaan wat voorgelees word.” Die Hebreeuse teks was blykbaar in Aramees verduidelik. Die Jode het moontlik Aramees gepraat toe hulle in Babilon was. Maar al het die Jode Hebreeus verstaan, het hierdie verduideliking hulle gehelp om die dieper betekenis van wat gelees was, te verstaan.
21-27 AUGUSTUS
SKATTE UIT GOD SE WOORD | NEHEMIA 10-11
“Hulle het persoonlike opofferings vir Jehovah gemaak”
’n Jerusalem wat sy naam gestand doen
13 Die “vaste verbond” wat in Nehemia se dag bekragtig is, het God se eertydse volk voorberei vir die inwydingsdag van Jerusalem se muur. Maar ’n ander dringende saak het nog aandag nodig gehad. Jerusalem, wat nou deur ’n groot muur met 12 poorte omsluit is, het ’n groter bevolking nodig gehad. Hoewel sommige Israeliete daar gewoon het, was “die stad . . . wyd uitgestrek en groot, maar die mense daarin was min” (Nehemia 7:4). Om hierdie probleem op te los, het die volk “die lot gewerp om een uit tien daartoe te bring om in die heilige stad Jerusalem te woon”. Die gewillige reaksie op hierdie reëling het die volk beweeg om “al die manne [te seën] wat hulle vrywillig aangebied het om in Jerusalem te woon” (Nehemia 11:1, 2). Wat ’n goeie voorbeeld is dit tog vir hedendaagse ware aanbidders wie se omstandighede hulle toelaat om te verhuis na waar die hulp van ryp Christene nodig is!
Ware aanbidding seëvier
Dit het sekere uitgawes en ongerief tot gevolg gehad om erfgrond te verlaat en na Jerusalem te trek. Die inwoners van daardie stad was moontlik ook aan verskillende gevare blootgestel. In sulke omstandighede het ander die vrywilligers as lofwaardig beskou en ongetwyfeld gebid dat Jehovah hulle sou seën.
Getrouheid bring God se goedkeuring mee
15 Toe ons ons aan Jehovah toegewy het, het ons belowe dat ons sy wil onvoorwaardelik sal doen. Ons het geweet dat dit nie altyd maklik sal wees om hierdie belofte na te kom nie. Maar hoe reageer ons wanneer ons gevra word om iets te doen waarvan ons nie hou nie? As ons sulke gevoelens oorkom en God gewillig gehoorsaam, toon dit dat ons ons belofte getrou nakom. Soms maak ons groot en moeilike opofferings, maar Jehovah se seëninge is altyd groter (Maleagi 3:10). Maar wat van Jefta se dogter? Hoe het sy op haar vader se belofte gereageer?
Geestelike skatte
Glanspunte uit die boek Nehemia
10:34—Waarom moes die volk hout voorsien? Die Mosaïese Wet het nie ’n houtoffer vereis nie. Hierdie vereiste het bloot ontstaan weens die behoefte daaraan. Groot hoeveelhede hout was nodig om die offerandes op die altaar te brand. Daar was blykbaar nie genoeg Netinim, nie-Israelitiese tempelslawe, om hiermee te help nie. Die lot is dus gewerp om te verseker dat daar altyd hout was.
28 AUGUSTUS–3 SEPTEMBER
SKATTE UIT GOD SE WOORD | NEHEMIA 12-13
“Wees lojaal aan Jehovah wanneer jy vriende kies”
it-1-E 95 ¶5
Ammoniete
Nadat Tobia van die tempelgebied weggejaag is, was God se wet in Deuteronomium 23:3-6 gelees en toegepas. Dit het gesê dat die Ammoniete en Moabiete nie in die gemeente van Israel mag kom nie (Ne 13:1-3). Hierdie wet was omtrent 1 000 jaar vroeër ingestel toe die Ammoniete en Moabiete geweier het om die Israeliete te help toe hulle op pad na die Beloofde Land toe was. Daar word oor die algemeen verstaan dat hierdie mense nie wetlik deel kon word van die nasie Israel nie en dat hulle nie al die regte en voorregte kon ontvang wat dié ontvang het wat deel was van die nasie Israel nie. Dit beteken nie noodwendig dat individue wat Ammoniete en Moabiete was nie onder die Israeliete kon woon en die seëninge kon ontvang wat God se volk geniet het nie. Dit kan duidelik gesien word in die feit dat Selek onder Dawid se hoofvegters genoem word, asook in die verslag oor Rut die Moabitiese vrou. – Rut 1:4, 16-18.
Julle is geheilig
5 Lees Nehemia 13:4-9. Aangesien ons deur onrein invloede omring word, is dit nie vir ons maklik om heilig te bly nie. Dink aan Eljasib en Tobia. Eljasib was die hoëpriester, en Tobia was ’n Ammoniet en waarskynlik ’n kleinamptenaar in die Persiese administrasie van Judea. Tobia en sy metgeselle het Nehemia se pogings om Jerusalem se mure te herbou, teëgestaan (Neh. 2:10). Ammoniete is nie toegelaat om in die tempelgebied in te kom nie (Deut. 23:3). Waarom sou die hoëpriester dan ’n eetsaal in die tempel tot die beskikking stel van ’n man soos Tobia?
6 Tobia was blykbaar ’n intieme metgesel van Eljasib. Tobia en sy seun Johanan het met Joodse vroue getrou, en baie Jode het met lof van Tobia gepraat (Neh. 6:17-19). Een van Eljasib se kleinseuns was getroud met die dogter van Sanballat, die goewerneur van Samaria, wat een van Tobia se intiemste metgeselle was (Neh. 13:28). Hierdie bande verklaar moontlik waarom die hoëpriester, Eljasib, toegelaat het dat ’n ongelowige en ’n teenstander hom beïnvloed. Maar Nehemia het getoon dat hy aan Jehovah lojaal is deur al Tobia se huisraad uit die eetsaal te gooi.
Bied die uitdaging van lojaliteit die hoof
6 As ons lojaal teenoor Jehovah God is, sal ons dit vermy om met enigeen vriende te maak wat ’n vyand van hom is. Dit is waarom die dissipel Jakobus geskryf het: “Egbreeksters, weet julle nie dat die vriendskap met die wêreld vyandskap met God is nie? Elkeen dan wat ’n vriend van die wêreld wil wees, maak homself ’n vyand van God” (Jakobus 4:4). Ons wil graag die lojaliteit hê waarvan koning Dawid getuig het toe hy gesê het: “HERE, sou ek dié nie haat wat vir U haat, en ’n afsku hê van die wat teen U opstaan nie? Ek haat hulle met ’n volkome haat; vyande is hulle vir my!” (Psalm 139:21, 22). Ons wil nie met enige moedswillige sondaars omgaan nie, want ons het niks met hulle in gemeen nie. Sal lojaliteit teenoor God nie verhoed dat ons met enigeen van hierdie vyande van Jehovah assosieer nie, hetsy dit persoonlik is of deur middel van die televisie?
Geestelike skatte
it-2-E 452 ¶9
Musiek
Dit was baie belangrik om by die tempel te sing. Dit kan duidelik gesien word in die feit dat daar so baie teksverwysings oor die sangers is, asook die feit dat hulle “vrygestel [was] van ander pligte” wat gewoonlik deur Leviete gedoen was sodat hulle hulle volle aandag aan hulle diens kon gee (1Kr 9:33). Die feit dat hulle ’n spesiale groep Leviete was, word beklemtoon deur die feit dat hulle apart genoem word onder dié wat van Babilon teruggekeer het (Esr 2:40, 41). Selfs die Persiese koning Artasasta (Longimanus) het beveel dat hulle saam met ander spesiale groepe vrygespreek word van “belasting, skatting of tolgeld” (Esr 7:24). Die koning het ook later beveel dat “daar ’n vaste reëling moet wees om die sangers elke dag te gee wat hulle nodig het”. Alhoewel daar gesê word dat Artasasta hierdie bevel gegee het, was dit heel moontlik deur Esra uitgereik op grond van die gesag wat Artasasta hom gegee het (Ne 11:23; Esr 7:18-26). Daarom maak dit sin dat die Bybel van “die sangers en die Leviete” praat, want alhoewel die sangers almal Leviete was, word daar na die sangers as ’n spesiale groep verwys. – Ne 7:1; 13:10.