-
Markus 5:25-34Die Bybel – Nuwe Wêreld-vertaling
-
-
25 En daar was ’n vrou wat 12 jaar lank+ aan bloedvloeiing gely het.+ 26 Sy het baie gely* as gevolg van baie dokters en het al haar geld uitgegee, maar sy het nie beter geword nie – haar toestand het eerder erger geword. 27 Toe sy die nuus oor Jesus hoor, het sy van agter af deur die skare gekom en aan sy bo-kleed geraak,+ 28 want sy het heeltyd gesê: “As ek net aan sy bo-klere raak, sal ek gesond word.”+ 29 En onmiddellik het haar bloedvloeiing opgehou, en sy kon in haar liggaam voel dat sy van die ernstige siekte genees is.
30 Jesus het onmiddellik agtergekom dat krag uit hom uitgegaan het,+ en hy het in die skare omgedraai en gevra: “Wie het aan my bo-klere geraak?”+ 31 Maar sy dissipels het vir hom gesê: “U kan sien dat die skare teen u druk, en tog vra u: ‘Wie het aan my geraak?’” 32 Hy het nogtans rondgekyk om te sien wie dit gedoen het. 33 Die vrou, wat besef het wat met haar gebeur het, was bang en het gebewe. Sy het voor hom kom neerval en hom die volle waarheid vertel. 34 Hy het vir haar gesê: “Dogter, jou geloof het jou gesond gemaak. Gaan in vrede.+ Jy is van jou ernstige siekte genees.”+
-
-
Lukas 8:43-48Die Bybel – Nuwe Wêreld-vertaling
-
-
43 En daar was ’n vrou wat 12 jaar lank aan bloedvloeiing gely het,+ en niemand kon haar genees nie.+ 44 Sy het van agter af gekom en aan die fraiings van sy bo-kleed geraak,+ en haar bloedvloeiing het onmiddellik opgehou. 45 Toe het Jesus gevra: “Wie het aan my geraak?” Toe hulle almal dit ontken, het Petrus gesê: “Onderrigter, die skare omring u en druk van alle kante af teen u.”+ 46 Maar Jesus het gesê: “Iemand het aan my geraak, want ek weet dat krag+ uit my uitgegaan het.” 47 Toe die vrou besef dat Jesus weet dat iets gebeur het, het sy voor hom kom neerval terwyl sy gebewe het en voor al die mense gesê hoekom sy aan hom geraak het en hoe sy onmiddellik gesond geword het. 48 Maar hy het vir haar gesê: “Dogter, jou geloof het jou gesond gemaak. Gaan in vrede.”+
-