-
Markus 11:27-33Die Bybel – Nuwe Wêreld-vertaling
-
-
27 Hulle het weer in Jerusalem aangekom. En terwyl hy in die tempel geloop het, het die hoofpriesters en die skrifgeleerdes en die ouermanne gekom 28 en vir hom gevra: “Met watter gesag doen jy hierdie dinge? Of wie het jou hierdie gesag gegee om hierdie dinge te doen?”+ 29 Jesus het vir hulle gesê: “Ek sal julle een vraag vra. Antwoord my eers, en dan sal ek vir julle sê met watter gesag ek hierdie dinge doen. 30 Het Johannes se gesag om te doop+ uit die hemel of van mense gekom? Antwoord my.”+ 31 Toe het hulle onder mekaar begin redeneer en gesê: “As ons sê: ‘Uit die hemel,’ sal hy vra: ‘Hoekom het julle hom dan nie geglo nie?’ 32 Maar as ons sê: ‘Van mense,’ wat sal dan gebeur?” Hulle was bang vir die skare, want die mense het almal geglo dat Johannes werklik ’n profeet was.+ 33 Hulle het dus vir Jesus gesê: “Ons weet nie.” Jesus het vir hulle gesê: “Dan sê ek ook nie vir julle met watter gesag ek hierdie dinge doen nie.”
-
-
Lukas 20:1-8Die Bybel – Nuwe Wêreld-vertaling
-
-
20 Op een van die dae, terwyl hy die volk in die tempel geleer het en die goeie nuus bekend gemaak het, het die hoofpriesters en die skrifgeleerdes saam met die ouermanne gekom 2 en vir hom gevra: “Sê vir ons: Deur watter gesag doen jy hierdie dinge? Wie het jou hierdie gesag gegee?”+ 3 Hy het hulle geantwoord: “Ek sal julle ook ’n vraag vra, en sê julle vir my: 4 Het Johannes se gesag om te doop uit die hemel of van mense gekom?” 5 Toe het hulle onder mekaar geredeneer en gesê: “As ons sê: ‘Uit die hemel,’ sal hy vra: ‘Hoekom het julle hom nie geglo nie?’ 6 Maar as ons sê: ‘Van mense,’ sal die hele volk ons met klippe doodgooi, want hulle is daarvan oortuig dat Johannes ’n profeet was.”+ 7 Daarom het hulle gesê dat hulle nie weet uit watter bron dit was nie. 8 Jesus het vir hulle gesê: “Dan sê ek ook nie vir julle met watter gesag ek hierdie dinge doen nie.”
-