Die eerste boek van Samuel
13 Saul was . . .* jaar oud toe hy koning geword het,+ en hy het twee jaar oor Israel regeer. 2 Toe het Saul vir hom 3 000 manne uit Israel gekies: 2 000 van hulle was by Saul in Migmas en in die bergstreek van Bet-El, en 1 000 was by Joʹnatan+ in Giʹbea+ van Benjamin. Hy het die res van die manne weggestuur na hulle tente toe. 3 Toe het Joʹnatan die groep Filistynse+ soldate verslaan wat in Geba+ was, en die Filistyne het daarvan gehoor. Saul het beveel dat daar regoor die land op die horing geblaas moet word+ en gesê moet word: “Laat die Hebreërs dit hoor!” 4 Die hele Israel het die nuus gehoor: “Saul het ’n groep Filistynse soldate verslaan, en nou haat die Filistyne Israel nog meer.” Toe is die manne bymekaargeroep om Saul by Gilgal+ te volg.
5 Die Filistyne het ook bymekaargekom om teen Israel te veg met 30 000 strydwaens, 6 000 perderuiters en so baie soldate soos die sandkorrels op die strand.+ Hulle het na Migmas, oos van Bet-Awen,+ gegaan en daar kamp opgeslaan. 6 En die manne van Israel het gesien dat hulle in die moeilikheid is en dat hulle situasie nie goed lyk nie. Daarom het die volk in die grotte,+ die holtes, die kranse, die kelders en die waterputte gaan wegkruip. 7 Party van die Hebreërs het selfs die Jordaanrivier oorgesteek en na die land van Gad en Giʹlead+ gegaan. Maar Saul was nog in Gilgal, en al die manne wat hom gevolg het, het van vrees gebewe. 8 Hy het sewe dae lank gewag, tot die tyd wat Samuel vasgestel het, maar Samuel het nie na Gilgal gekom nie, en die manne het Saul begin verlaat. 9 Uiteindelik het Saul gesê: “Bring die brandoffer en die vrede-offers* na my toe.” Toe het hy die brandoffer geoffer.+
10 Maar net toe hy die brandoffer klaar geoffer het, het Samuel daar aangekom. Saul het dus uitgegaan om hom te ontmoet en om hom te seën. 11 Samuel het gevra: “Wat het jy gedoen?” Saul het geantwoord: “Ek het gesien dat die manne my begin verlaat,+ en u het nie binne die vasgestelde tyd gekom nie, en die Filistyne het in Migmas+ bymekaargekom. 12 Toe het ek vir myself gesê: ‘Nou gaan die Filistyne my hier in Gilgal aanval, en ek het nog nie Jehovah se goedkeuring gesoek nie.’* Ek het dus verplig gevoel om die brandoffer te offer.”
13 Toe het Samuel vir Saul gesê: “Dit was baie dom van jou. Jy het nie die gebod gehoorsaam wat Jehovah jou God jou gegee het nie.+ As jy gehoorsaam was, sou Jehovah jou koninkryk vir ewig stewig oor Israel bevestig het. 14 Maar nou gaan jou koninkryk nie bly bestaan nie.+ Jehovah sal vir hom ’n man na sy hart+ vind, en Jehovah sal hom as ’n leier oor sy volk aanstel,+ want jy was nie gehoorsaam aan Jehovah se bevel nie.”+
15 Toe het Samuel opgestaan en van Gilgal na Giʹbea van Benjamin gegaan, en Saul het die manne getel. Daar was nog ongeveer 600 manne by hom.+ 16 Saul, sy seun Joʹnatan en die manne wat nog by hulle was, het in Geba+ van Benjamin gebly, en die Filistyne het in Migmas+ kamp opgeslaan. 17 Daar was drie groepe soldate wat uit die kamp van die Filistyne op strooptogte gegaan het. Die een groep het gewoonlik die pad na Ofra, na die land Sual, geneem. 18 Die ander groep het die pad na Bet-Horon+ geneem, en die derde groep het die pad geneem na die grens wat op die Seboʹïm-vallei uitkyk, in die rigting van die wildernis.
19 In daardie tyd was daar nie ’n enkele metaalwerker in die hele land van Israel nie, want die Filistyne het gesê: “Anders kan die Hebreërs swaarde en spiese maak.” 20 En al die Israeliete moes na die Filistyne toe gaan om hulle ploegskare, bylpikke, byle en sekels te laat skerp maak. 21 Dit het ’n pim* gekos vir die skerpmaak van ’n ploegskaar of ’n bylpik of ’n drietandwerktuig of ’n byl of vir herstelwerk aan ’n osdrywerstok.* 22 In oorlogstyd het nie een van die manne by Saul en Joʹnatan+ ’n swaard of ’n spies gehad nie. Net Saul en sy seun Joʹnatan het wapens gehad.
23 En ’n groep Filistynse soldate* het na die pas by die kloof van Migmas+ gegaan.