Die handelinge van die apostels
25 Drie dae nadat Festus+ in die provinsie Judeʹa aangekom het en goewerneur geword het, het hy van Sesareʹa na Jerusalem gegaan. 2 En die hoofpriesters en die Joodse leiers het Paulus by Festus beskuldig.+ Toe het hulle Festus begin smeek 3 om hulle ’n guns te doen deur Paulus na Jerusalem te laat kom. Maar hulle het beplan om Paulus langs die pad voor te lê en hom dood te maak.+ 4 Festus het egter gesê dat Paulus in Sesareʹa gevange sou bly en dat hy self binnekort sou teruggaan soontoe. 5 Hy het gesê: “Laat die leiers onder julle saam met my kom en hom beskuldig as die man enigiets verkeerds gedoen het.”+
6 En nadat hy sowat agt of tien dae by hulle gebly het, het hy na Sesareʹa gegaan. Die volgende dag het hy op die regterstoel gaan sit en beveel dat Paulus ingebring moet word. 7 Toe hy inkom, het die Jode wat van Jerusalem af gekom het, rondom hom gaan staan en ’n groot aantal ernstige aanklagte teen hom ingebring wat hulle nie kon bewys nie.+
8 Maar Paulus het homself verdedig deur te sê: “Ek het nie teen die Wet van die Jode of teen die tempel of teen die keiser gesondig nie.”+ 9 Festus, wat die Jode se goedkeuring wou hê,+ het vir Paulus gevra: “Wil jy Jerusalem toe gaan en daar voor my oor hierdie dinge geoordeel word?” 10 Maar Paulus het gesê: “Ek staan voor die regterstoel van die keiser, waar ek geoordeel moet word. Ek het niks verkeerds teen die Jode gedoen nie, soos u ook heel goed weet. 11 As ek dan regtig ’n misdadiger is en enigiets gedoen het wat die dood verdien,+ vra ek nie om die dood vry te spring nie. Maar as hierdie manne se beskuldigings teen my vals is, kan geen mens my as ’n guns aan hulle oorlewer nie. Ek wil hê dat die keiser my saak moet verhoor!”+ 12 Toe het Festus, nadat hy met die vergadering van raadgewers gepraat het, geantwoord: “Jy wil hê dat die keiser jou saak moet verhoor – na die keiser sal jy gaan.”
13 Ná ’n paar dae het koning Agripʹpa en Bernice in Sesareʹa aangekom vir ’n amptelike besoek* aan Festus. 14 Omdat hulle ’n aantal dae daar gebly het, het Festus Paulus se saak met die koning bespreek en gesê:
“Daar is ’n sekere man wat deur Feliks as gevangene agtergelaat is, 15 en toe ek in Jerusalem was, het die hoofpriesters en die ouermanne van die Jode hom by my kom beskuldig+ en gevra dat hy gestraf moet word. 16 Maar ek het vir hulle gesê dat dit nie die Romeinse prosedure is om enige mens as ’n guns oor te lewer voordat die beskuldigde voor sy beskuldigers verskyn en ’n kans kry om homself te verdedig nie.+ 17 Toe hulle dan hier aangekom het, het ek nie tyd gemors nie, maar die volgende dag het ek op die regterstoel gaan sit en beveel dat die man ingebring moet word. 18 Toe die beskuldigers opstaan en begin praat, het hulle hom nie van enige van die goddelose dinge aangekla wat ek gedink het hy gedoen het nie.+ 19 Daar was net sekere dinge waaroor hulle nie met hom saamgestem het nie. Dit het verband gehou met hulle eie godsdiens*+ en met ’n man met die naam Jesus wat dood is, maar Paulus het bly beweer dat hy nog lewe.+ 20 Omdat ek nie geweet het hoe om hierdie saak te hanteer nie, het ek gevra of hy na Jerusalem wil gaan en daar oor hierdie dinge geoordeel wil word.+ 21 Maar toe Paulus vra om in die tronk te bly terwyl hy vir die besluit van die keiser*+ wag, het ek beveel dat hy aangehou moet word totdat ek hom na die keiser kan stuur.”
22 Toe het Agripʹpa vir Festus gesê: “Ek sou graag self die man wil hoor.”+ Hy het gesê: “Môre sal u hom hoor.” 23 Agripʹpa en Bernice het toe die volgende dag gekom, en hulle deftige voorkoms het baie aandag getrek. Hulle het saam met militêre bevelvoerders en die belangrike manne van die stad in die gehoorsaal ingegaan, en toe Festus die bevel gee, is Paulus ingebring. 24 Festus het gesê: “Koning Agripʹpa en almal wat hier saam met ons teenwoordig is, kyk, hier is die man. Al die Jode van Jerusalem en van hierdie plek het na my toe gekom en geskree dat hy nie langer behoort te lewe nie.+ 25 Maar ek het gevind dat hy niks gedoen het wat die dood verdien nie.+ En toe hierdie man sê dat hy na die keiser wil gaan, het ek besluit om hom te stuur. 26 Maar ek het niks wat ek met sekerheid oor hom aan my Heer kan skryf nie. Daarom het ek hom voor julle almal gebring, en veral voor u, koning Agripʹpa, sodat ek ná die geregtelike ondersoek iets kan hê om te skryf. 27 Want dit lyk vir my onredelik om ’n gevangene te stuur sonder om te sê wat die aanklagte teen hom is.”