Eksodus
1 En dít is die name van Israel se seuns wat saam met Jakob na Egipte gekom het, elke man wat saam met sy huisgesin gekom het:+ 2 Ruben, Siʹmeon, Levi, Juda,+ 3 Isʹsaskar, Seʹbulon, Benjamin, 4 Dan, Nafʹtali, Gad en Aser.+ 5 Jakob het altesaam 70 nakomelinge gehad, maar Josef was reeds in Egipte.+ 6 Uiteindelik het Josef gesterf,+ en al sy broers en daardie hele geslag het ook gesterf. 7 En die Israeliete het kinders gehad en baie vermeerder, en hulle het baie geword en buitengewoon vinnig magtiger geword, en die land het vol van hulle geword.+
8 Ná verloop van tyd het ’n nuwe koning oor Egipte begin regeer, wat niks van Josef geweet het nie. 9 Toe het hy vir sy volk gesê: “Die volk Israel is groter en magtiger as ons.+ 10 Ons moet verstandig wees en iets doen, want anders sal hulle aanhou vermeerder. As daar oorlog uitbreek, sal hulle by ons vyande aansluit en teen ons veg en die land verlaat.”
11 Toe het hulle toesighouers* oor hulle aangestel om hulle te onderdruk deur hulle baie hard te laat werk.+ En hulle het stede vir Farao gebou waar hy voorraad kon stoor, naamlik Pitom en Raämses.+ 12 Maar hoe meer hulle hulle onderdruk het, hoe meer het hulle vermeerder en hoe meer het hulle versprei. Daarom het die Egiptenare baie bang geword as gevolg van die Israeliete.+ 13 Die Egiptenare het die Israeliete dus gedwing om harde slawewerk+ te doen. 14 Hulle het hulle lewe moeilik gemaak deur hulle baie hard te laat werk. Hulle het hulle messelklei en stene laat maak en het hulle baie hard in die veld laat werk. Die Egiptenare het hulle mishandel en het hulle allerhande slawewerk+ laat doen.
15 Later het die koning van Egipte met die Hebreeuse vroedvroue Sifra en Pua gepraat 16 en vir hulle gesê: “Wanneer julle die Hebreeuse vrouens help om geboorte te gee+ en julle sien dat dit ’n seuntjie is, moet julle hom doodmaak, maar as dit ’n dogtertjie is, moet julle haar laat lewe.” 17 Maar die vroedvroue het die ware God gevrees, en hulle het nie gedoen wat die koning van Egipte vir hulle gesê het om te doen nie. Hulle het die seuntjies laat lewe.+ 18 Ná verloop van tyd het die koning van Egipte die vroedvroue geroep en vir hulle gevra: “Hoekom het julle die seuntjies laat lewe?” 19 Die vroedvroue het vir Farao gesê: “Die Hebreeuse vrouens is nie soos die Egiptiese vrouens nie. Hulle is so sterk dat hulle al klaar geboorte gegee het nog voordat die vroedvrou by hulle kom.”
20 Daarom het God dit goed laat gaan met die vroedvroue, en die volk het aangehou om te vermeerder en het baie magtig geword. 21 En omdat die vroedvroue die ware God gevrees het, het hy later vir hulle gesinne gegee. 22 Uiteindelik het Farao sy hele volk beveel: “Julle moet al die pasgebore seuntjies van die Hebreërs in die Nylrivier gooi, maar julle moet al die dogtertjies laat lewe.”+