Jona
4 Maar dit het Jona baie ontstel, en hy het baie kwaad geword. 2 Toe het hy tot Jehovah gebid en gesê: “Ag, Jehovah, dit is presies waaroor ek bekommerd was toe ek in my eie land was. Dit is hoekom ek in die eerste plek na Tarsis+ probeer vlug het, want ek het geweet dat u ’n God is wat medelye* betoon en genadig is, wat nie gou kwaad word nie en vol lojale liefde+ is en wat sleg voel oor rampspoed. 3 O Jehovah, neem nou asseblief my lewe,* want dit is beter vir my om te sterf as om te lewe.”+
4 Jehovah het gevra: “Is dit reg dat jy so kwaad is?”
5 Jona het toe uit die stad gegaan en oos van die stad gaan sit. Hy het daar vir hom ’n skuiling gemaak en in die skaduwee daarvan gesit om te sien wat met die stad sou gebeur.+ 6 Jehovah God het toe ’n kalbasplant* oor Jona laat opkom om vir hom skaduwee oor sy kop te gee en hom beter te laat voel. En Jona was baie bly oor die kalbasplant.
7 Maar die ware God het met dagbreek die volgende dag ’n wurm gestuur, en dit het aan die kalbasplant gevreet, en dit het verlep. 8 Toe die son begin skyn het, het God ook ’n verskroeiende oostewind gestuur, en die son het op Jona se kop bly steek, en hy het amper flou geword. Hy het bly vra om te sterf,* en hy het oor en oor gesê: “Dit is beter vir my om te sterf as om te lewe.”+
9 God het vir Jona gevra: “Is dit reg dat jy so kwaad is oor die kalbasplant?”+
Toe het hy gesê: “Ek het die reg om kwaad te wees, so kwaad dat ek wil sterf.” 10 Maar Jehovah het gesê: “Jy het jammer gevoel vir die kalbasplant, waarvoor jy nie gewerk het nie en wat jy nie laat groei het nie. Dit het in een nag gegroei en in een nag doodgegaan. 11 In Niʹneve is daar meer as 120 000 mense wat nie eers die verskil tussen reg en verkeerd* ken nie, asook baie diere.+ Moet ek nie ook vir hierdie groot stad jammer voel nie?”+