Volgens Lukas
16 Toe het hy ook vir die dissipels gesê: “’n Ryk man het ’n bestuurder* gehad wat daarvan beskuldig is dat hy sy meester se huishouding swak bestuur. 2 Toe het hy hom geroep en vir hom gesê: ‘Wat hoor ek omtrent jou? Ek wil ’n verslag hê van wat jy gedoen het, want jy sal nie meer my huis bestuur nie.’ 3 Toe het die bestuurder vir homself gesê: ‘Wat gaan ek doen? Want my meester gaan my nie meer toelaat om sy huis te bestuur nie. Ek is nie sterk genoeg om te spit nie, en ek is te skaam om te bedel. 4 A! Ek weet wat ek sal doen sodat mense my in hulle huise sal verwelkom wanneer ek nie meer die bestuurder is nie.’ 5 Toe het hy elkeen wat sy meester iets geskuld het, na hom toe laat kom. Hy het vir die eerste een gevra: ‘Hoeveel skuld jy my meester?’ 6 Hy het geantwoord: ‘Honderd maat* olyfolie.’ Hy het vir hom gesê: ‘Neem jou skuldbewys terug en gaan sit en skryf gou 50.’ 7 Daarna het hy vir ’n ander een gevra: ‘En jy, hoeveel skuld jy?’ Hy het gesê: ‘Honderd groot maat* koring.’ Hy het vir hom gesê: ‘Neem jou skuldbewys terug en skryf 80.’ 8 En sy meester het die bestuurder geprys, want al was hy onregverdig,* het hy met praktiese wysheid* opgetree. Want die kinders van hierdie wêreld* is in ’n praktiese opsig wyser teenoor mekaar* as wat die kinders van die lig is.+
9 “Ek sê ook vir julle: Maak vir julle vriende deur middel van die rykdom van hierdie onregverdige wêreld,*+ sodat hulle julle in die ewige woonplekke sal ontvang wanneer hierdie rykdom wegval.+ 10 Hy wat in die minste getrou is, is ook in baie getrou, en hy wat in die minste onregverdig is, is ook in baie onregverdig. 11 As julle dan nie getrou was in verband met die rykdom van hierdie onregverdige wêreld* nie, wie sal aan julle toevertrou wat waar is? 12 En as julle nie getrou was in verband met wat aan iemand anders behoort nie, wie sal vir julle iets gee?+ 13 Niemand kan ’n slaaf vir twee meesters wees nie, want hy sal die een haat en die ander een liefhê, of hy sal lojaal wees aan die een en die ander een nie kan verdra nie. Julle kan nie slawe van God en van Rykdom wees nie.”+
14 Die Fariseërs, wat lief was vir geld, het na al hierdie dinge geluister, en hulle het hom begin uitlag.+ 15 Hy het toe vir hulle gesê: “Julle gee voor dat julle regverdig is,+ maar God ken julle harte.+ Want wat mense as belangrik beskou, is iets walgliks in God se oë.+
16 “Die Wet en die woorde van die profete is bekend gemaak totdat Johannes op die toneel verskyn het. Van toe af word die Koninkryk van God as goeie nuus bekend gemaak, en alle soorte mense streef daarna om dit te bereik.+ 17 Ja, dit is makliker vir hemel en aarde om te verdwyn as dat selfs een deeltjie van ’n letter van die Wet nie vervul sal word nie.+
18 “Enigiemand wat van sy vrou skei en met iemand anders trou, pleeg egbreuk, en enigiemand wat met ’n vrou trou wat van haar man geskei is, pleeg egbreuk.+
19 “Daar was ’n ryk man wat altyd duur klere gedra het, en hy het van dag tot dag die lewe geniet en in weelde gelewe. 20 Maar ’n bedelaar met die naam Laʹsarus, wat vol swere was, is altyd by sy poort neergesit 21 en wou graag eet van die dinge wat van die ryk man se tafel afgeval het. Ja, selfs die honde het gekom en sy swere gelek. 22 Later het die bedelaar gesterf, en die engele het hom weggedra na ’n plek langs* Abraham.
“Die ryk man het ook gesterf en is begrawe. 23 En in die Graf* het hy opgekyk terwyl hy in pyn was, en hy het Abraham in die verte gesien en Laʹsarus, wat langs hom* is. 24 Toe het hy geroep en gesê: ‘Vader Abraham, betoon genade aan my, en stuur Laʹsarus om die punt van sy vinger in water te steek en my tong af te koel, want ek is in pyn in hierdie vlammende vuur.’ 25 Maar Abraham het gesê: ‘Kind, onthou dat jy in jou lewe baie goeie dinge geniet het, terwyl Laʹsarus slegte dinge ontvang het. Nou word hy egter hier vertroos, maar jy is in pyn. 26 En behalwe dit alles is daar ’n groot kloof tussen ons en julle, sodat niemand van hier af na julle toe kan oorgaan nie en ook niemand van daar af na ons toe kan kom nie.’ 27 Toe het hy gesê: ‘In daardie geval vra ek u, vader, om hom na die huis van my pa te stuur 28 om vir my vyf broers ’n deeglike getuienis te gee sodat hulle nie ook in hierdie plek van pyniging beland nie.’ 29 Maar Abraham het gesê: ‘Hulle het die woorde van Moses en die profete. Laat hulle daarna luister.’+ 30 Toe het hy gesê: ‘Nee, vader Abraham, maar as iemand uit die dood na hulle toe gaan, sal hulle berou toon.’ 31 Maar hy het vir hom gesê: ‘As hulle hulle nie aan die woorde van Moses en die profete steur nie,+ sal hulle ook nie oortuig word as iemand uit die dood opstaan nie.’”