Die Bybelse beskouing
Wat is die sin van die lewe?
“DARWINISTE VOER AAN DAT NATUURLIKE TEELTKEUSE ’N VOLDOENDE VERDUIDELIKING VAN ORGANIESE LEWE IS. TOG SÊ GESONDE VERSTAND VIR ’N MENS DAT, AS ’N ORGANISME TOT GROTER KOMPLEKSITEIT, SELFBEWUSTHEID EN INTELLIGENSIE VORDER, DAARDIE EIENSKAPPE VERKIES WORD.” —DYLAN THOMAS (1914-53, WALLIESE DIGTER EN SKRYWER).
DIE soeke na die sin van die lewe is niks nuuts nie. Nuuskierige mense peins al eeue lank daaroor. ’n Onlangse meningsopname toon dat Nieu-Seelanders vandag meer daaroor dink as tien jaar gelede. Volgens die verslag wat in die tydskrif Listener gepubliseer is, het 49 persent van die bevolking van 15 jaar en ouer “al dikwels oor die sin van die lewe gedink”, in vergelyking met 32 persent toe ’n soortgelyke opname in 1985 gedoen is.
Dit lyk of Nieu-Seelanders die gevoelens van mense van ander lande weerspieël. Die Listener sê voorts: “Die toenemende geneigdheid om die sin van ons bestaan te bevraagteken, dui moontlik daarop dat ons nou meer beangs is as in die tagtigerjare, dat ons minder koersvas is.”
Evolusioniste se antwoord op die universele vraag: Waarom is ons hier? is blykbaar vir al hoe meer mense onbevredigend. Kan die Bybel die sedelike leiding voorsien wat nodig is om sin in die lewe te vind?
“Die vernaamste dryfkrag”
Van al die aarde se skepsele is die mens die enigste een wat oor die doel van die lewe peins. Weet jy waarom? Die Bybel gee een rede in Prediker 3:11. Dit sê aangaande die Skepper: “Hy het die mens ’n tydsbesef van die verlede en die toekoms gegee” (The New English Bible). Hoewel alle lewende dinge gewoonlik aan die lewe vasklou, lyk dit asof die mens die enigste een is wat ’n begrip van tyd het—die verlede, die hede en die toekoms. Die mens kan oor die verlede peins en na die toekoms kyk en daarvoor beplan, ja, selfs ’n sterk begeerte hê om ’n deelgenoot daaraan te wees. En hy kan gefrustreerd raak wanneer hy vanweë die kortstondigheid van sy lewensduur nie sy toekomsdrome kan verwesenlik nie.
Daarom vra slegs die mens die vrae: Waarom is ek hier? Waarheen gaan ek? Die psigiater Viktor Frankl het geskryf: “Die strewe om sin in ’n mens se lewe te vind, is die vernaamste dryfkrag in die mens. . . . Ek verstout my om te sê dat daar niks in die wêreld is wat ’n mens so effektief sal help om selfs die allerergste toestande te oorleef as die wete dat jou lewe sin het nie.”
Salomo se bevinding deur Jesus bevestig
Die behoefte daaraan om sin in die lewe te vind, het die manne van die ou tyd se belangstelling geboei. Kom ons gaan drieduisend jaar terug in die geskiedenis tot die tyd van die koninkryk van Israel onder die heerskappy van Salomo. Die koningin van Skeba het van hom gesê: “Die woord was waarheid wat ek in my land gehoor het oor u en oor u wysheid; en ek het die woorde nie geglo nie, totdat ek gekom en my oë gesien het; en kyk, die helfte is my nie meegedeel nie. U oortref in wysheid en in welvaart die gerug wat ek gehoor het.”—1 Konings 10:6, 7.
Toe koning Salomo die Bybelboek Prediker geskryf het, het hy sy lesers van die uiteinde van ’n eksperiment vertel wat hy gedoen het om lig op die doel van die lewe te werp. Dit was ’n eksperiment waarin hy die geleentheid gehad het om die lewe te geniet soos ’n tipiese koning dit destyds in die Ooste kon geniet. In hoofstuk 2, verse 1-10, het hy ’n lewe van plesier beskryf wat vandag nouliks denkbaar is. Hy het alles op die proef gestel wat die lewe in die vorm van materiële rykdom en vleeslike genietinge gebied het. Tot watter gevolgtrekking het hy gekom oor die sinrykheid van sulke strewes? Sy antwoord behoort die selfversekerdes te verras.
Wanneer hy op al hierdie dinge teruggekyk het, was sy bevinding dikwels negatief. Dit was tevergeefs, ’n verkwisting van tyd. Hy het geskryf: “Toe het ek gekyk na al my werke wat my hande tot stand gebring het, en al die moeitevolle arbeid wat ek verrig het—en kyk, dit was alles tevergeefs en ’n gejaag na wind, en daar was geen voordeel onder die son nie.”—Prediker 2:11.
Hy het tot die gevolgtrekking gekom dat aardse genietinge, op hulle beste, slegs tydelike genot meebring. Nie eers menslike wysheid kan die mens van die pyn en angs van die lewe verlos nie.
Jesus Christus het tot dieselfde gevolgtrekking gekom toe hy, in antwoord op ’n man se oordrewe besorgdheid oor ’n materiële erfenis, vir die skare wat na hom geluister het, gesê het: “Hou julle oë oop en waak teen elke soort hebsug, want selfs wanneer iemand oorvloed het, spruit sy lewe nie voort uit die dinge wat hy besit nie.”—Lukas 12:15.
Net Jehovah God kan menslike tekortkominge in die daaglikse lewe heeltemal oorkom en mense se bedrywighede sinvol maak. Dit is waarom lewe sonder God sinloos is. Soos in Prediker 12:13 opgeteken is, het Salomo verduidelik: “Die hoofsaak van alles wat gehoor is, is: Vrees God en hou sy gebooie; want dit geld vir alle mense.”
Hoe om die sin van die lewe te vind
Salomo se bevinding dat die sin van die lewe nie van ’n heilsame vrees van God geskei kan word nie, is herhaaldelik deur Jesus Christus bevestig. “Daar staan geskrywe”, het Jesus gesê toe hy God se Woord aangehaal het: “Die mens moet nie van brood alleen lewe nie, maar van elke uiting wat deur Jehovah se mond uitgaan” (Matteus 4:4; Deuteronomium 8:3). Ja, om ’n sinvolle lewe te kan lei, kan die geestelike sy van ’n mens se lewe nie geïgnoreer word nie. Jesus het verder van homself gesê: “My voedsel is om die wil te doen van hom wat my gestuur het en om sy werk te volbring” (Johannes 4:34). Gehoorsame diens aan sy hemelse Vader was ’n bron van vreugde en bevrediging. Dit het hom gevoed. Dit het sy lewe sinvol gemaak.
Kan die lewe dus werklik sinvol wees sonder God? Nee! Dit is interessant dat die geskiedskrywer Arnold Toynbee eenkeer geskryf het: “Die ware doel van ’n hoër godsdiens is om die geestelike raad en waarhede wat die wese daarvan vorm, uit te straal na soveel siele as wat daardeur bereik kan word, sodat dit elk van hierdie siele in staat kan stel om die ware oogmerk van die Mens te bereik. Die Mens se ware oogmerk is om God te verheerlik en Hom vir ewig te geniet.” Die profeet Maleagi het God se beskouing uitgespreek: “Dan sal julle weer die onderskeid sien tussen die regverdige en die goddelose, tussen die wat God dien en die wat Hom nie dien nie.”—Maleagi 3:18.
[Prent op bladsy 26]
“Die denker”, deur Rodin
[Erkenning]
Scala/Art Resource, N.Y.