Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g98 5/22 bl. 21-23
  • Jou vingernaels Versorg jy hulle?

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Jou vingernaels Versorg jy hulle?
  • Ontwaak!—1998
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • ’n Komplekse struktuur
  • Hulle nut
  • Die regte versorging maak hulle sterker
  • Versorging laat hulle groei en mooi lyk
  • Waar was sy bene?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1987
  • “Sodat niks verlore gaan nie”
    Ontwaak!—1992
  • Vrae van lesers
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1986
  • Ons beskou die wêreld
    Ontwaak!—2001
Sien nog
Ontwaak!—1998
g98 5/22 bl. 21-23

Jou vingernaels Versorg jy hulle?

DEUR Ontwaak!-MEDEWERKER IN SWEDE

WAT sou jou reaksie wees as iemand jou vra: “Kan ek jou naels sien?” Sou jy met graagte jou goed versorgde naels wys, of sou jy jou hande onmiddellik agter jou rug wegsteek? Jy het dalk goeie rede om jou naels weg te steek. Miskien lyk hulle net nie mooi nie of dalk is jy ’n naelbyter. As ons meer oor die wonderlike anatomie van ons naels weet, sal dit ons help om hulle meer te waardeer en ons beweeg om hulle beter te versorg.

Jou naels bestaan hoofsaaklik uit verharde dooie selle wat die veselagtige proteïen keratien bevat. Die tempo waarteen vingernaels groei, verskil van vinger tot vinger en van persoon tot persoon. Naels groei teen ’n gemiddelde tempo van ongeveer drie millimeter per maand. Naels wat nooit geknip word nie, kan baie lank word. Volgens The Guinness Book of World Records 1998 het ’n Indiese man die vyf naels aan sy linkerhand laat groei totdat hulle altesaam 612 sentimeter lank was. Sy duimnael was 139 sentimeter lank.

’n Komplekse struktuur

Met die eerste oogopslag lyk dit dalk asof die nael net uit een deel, die naelplaat, bestaan. Dit kan jou dus verbaas om uit te vind dat naels eintlik uit ’n aantal belangrike sigbare dele bestaan, asook uit ’n paar dele wat jy nie kan sien nie. Laat ons die naelstruktuur van naderby beskou.

 1. Naelplaat. Dit is die harde deel wat ons gewoonlik die nael noem. Die naelplaat bestaan uit twee lae, die boonste en die onderste. Die selle in hierdie twee dele is verskillend gerangskik en groei teen verskillende tempo’s. Die boonste oppervlak is glad, terwyl die binneste laag parallelle rantjies het wat met riffels op die naelbed ooreenstem. Hierdie riffels is uniek aan elke individu en kan as identifikasie dien.

 2. Lunula. Dit is die halfmaanvormige, witterige gedeelte by die basis van die naelplaat. Nie alle vingers het ’n sigbare lunula nie. Die nael groei uit ’n klein deeltjie lewende weefsel by die basis van die naelplaat, wat die wortel genoem word. Dit is die belangrikste deel van die naeleenheid. Die lunula is die einde van die naelwortel en, as sodanig, van die sigbare deel van die lewende nael. Die res van die naelplaat bestaan uit dooie selle.

 3. Naelvoue, proksimaal en lateraal. Dít verwys na die vel rondom die naelplaat. Hierdie vel word die naelvou genoem omdat dit nie by die naelplaat ophou nie, maar terugvou en die naelplaat bedek wat uitgroei. Hierdie velvoue beskerm en ondersteun die omliggende gebiede van die nael.

 4. Eponigium. Dit is die klein strokie van die velvou wat lyk asof dit by die basis van die naelplaat eindig. Dit word soms die naelvlies genoem.

 5. Naelvlies. Die ware naelvlies is ’n piepklein verlenging onder die eponigium. Dit is ’n kleurlose laag afgewerpte vel wat aan die oppervlak van die dorsale naelplaat vaskleef.

 6. Vry punt. Die deel van die naelplaat wat verby die vingerpunt groei.

 7. Hiponigium. Hierdie weefsel, wat onder die vry punt van die nael gevind word, vorm ’n waterdigte seël wat die naelbed teen infeksie beskerm.

Hulle nut

Ons naels kan vir baie dinge gebruik word, soos om te krap. Hulle is nuttig wanneer ons ’n lemoen skil, ’n knoop losmaak of klein voorwerpe hanteer. Daarbenewens ondersteun en beskerm die naels die sensitiewe en teer vingerpunte.

Die skoonheidswaarde van die naels is iets wat nie oor die hoof gesien moet word nie. Ons naels kan goeie—of swak—versorgingsgewoontes weerspieël. Hulle speel ’n belangrike rol in gewone gebare, en as hulle goed versorg is, kan hulle ons hande versier. Daarsonder sou ons probleme in ons daaglikse lewe ondervind het, en ons hande sou onvoltooid gelyk het.

Die regte versorging maak hulle sterker

Aangesien ons naels deel uitmaak van ons wonderlike liggaam, moet ons hulle behoorlik versorg. As jy ’n ernstige naelsiekte het, moet jy jou dokter spreek. Trouens, op jou vingerpunte het jy dalk tekens van die een of ander fisiese probleem. Ja, daar word gesê dat sommige fisiese kwale vasgestel kan word deur na jou naels te kyk.

Sal jou naels sterker word as jy ekstra kalsium of vitamiene inneem? Professor Bo Forslind, wat navorsing doen oor naels by die Karolinska-instituut in Stockholm, Swede, het in antwoord op hierdie vraag vir Ontwaak! gesê: “Daar is geen bewyse beskikbaar wat daardie beskouing steun nie. Ontledings van die kalsiuminhoud van normale naels toon slegs spore van hierdie element.”

Maar wat jou naels beslis sterk en buigbaar help hou, is water. Soos vroeër gesê is, bevat naels keratien. Hierdie keratienvesels het water nodig om buigbaar te wees. Professor Forslind noem ’n voorbeeld: “Alhoewel ’n stukkie van jou nael dalk buigbaar is wanneer jy dit afknip, sal dieselfde stukkie nael baie bros wees nadat dit oornag uitgedroog het.” Vogtigheid sal jou naels buigbaar en sterk hou. Maar waar kom die vogtigheid vandaan? Die naelplaat lyk solied, maar dit is deurdringbaar. Vogtigheid van die naelbed beweeg opwaarts deur die naelplaat na die oppervlak daarvan, waar dit verdamp. Wat kan jy doen om te keer dat jou naels uitdroog en om jou naels sterk te hou? Professor Forslind sê: “Daaglikse oliebehandeling sal help.”

Versorging laat hulle groei en mooi lyk

Aangesien die nael van die wortel af groei, is behoorlike versorging van hierdie deel van die nael noodsaaklik. Stimulasie van die wortel deur gereelde room- of oliemassering kan goed wees vir die naelplaat. As jy boonop ’n druppel olie onder die vry punt van die naels sit, kan dit ook help, want dit keer dat die nael uitdroog.

Die manier waarop jy jou naels vyl of knip, kan hulle sterk of swak maak. Daar word aanbeveel dat jy jou naels van die kant af na die middel vyl. Hou in gedagte dat dit die nael sal verswak as jy die hoekies wegvyl. Dit sal veroorsaak dat die nael gepunt is, wat die heel swakste vorm is, aangesien dit geen ondersteuning aan die kante het nie. As jy sterk, kort naels wil hê, word jy aangeraai om jou naels reguit te laat groei totdat die kante omtrent 1,5 millimeter ver uitgegroei het en om dit dan in ’n geronde vorm te vyl wat ooreenkom met die vorm van die vingerpunt.

Sommige vroue verkies dalk hulle naels ’n bietjie langer. Maar hier is ’n woordjie van waarskuwing. Naels wat te lank is, kan onnodige aandag op jou vestig en kan jou ook verhinder om gewone werk te doen. Handhaaf dus ’n gebalanseerde beskouing wat die lengte van jou naels betref. As jy dit doen, sal jou naels ’n bate wees en ’n goeie indruk op ander maak.

Moet nooit jou naels met ’n skerp voorwerp skoonmaak nie, sê die deskundiges. Dit kan die hiponigium, die weefsel onder die vry punt van die nael, beskadig. Hierdie weefsel vorm ’n digte seël wat die deel onder die nael beskerm. As hierdie deel beskadig is, kan die nael selfs van die naelbed af oplig en infeksie kry. Gebruik ’n baie sagte borseltjie om onder die naels skoon te maak.

Sterk en gesonde naels is gedeeltelik die gevolg van oorgeërfde faktore. Dit is waarom sommige mense sterk en buigbare naelplate het, terwyl ander droë of bros naels het. Wat ook al die toestand van jou naels, jy kan hulle voorkoms verbeter deur beskeie en gereelde sorg. Ja, as jy die struktuur, funksie en behoorlike versorging van die naeleenheid verstaan, sal jy weet wat om te doen. Die wyse gebruik van sulke inligting sal goeie resultate oplewer.

Die vingernaels is inderdaad ’n wonderlike deel van ons liggaam. Hulle struktuur en funksie getuig van die vindingryke persoon wat hulle ontwerp het. Koning Dawid van die ou tyd het nederig sy bewondering vir sy Skepper uitgespreek, soos opgeteken in Psalm 139:14 (NW): “Ek sal u prys omdat ek op ’n vreesinboesemende wyse wonderbaar gemaak is, U werke is wonderbaar, soos my siel baie goed weet.”

[Diagram op bladsy 23]

(Sien publikasie vir oorspronklike teksuitleg)

1. Naelplaat;

2. lunula;

3. naelvoue, proksimaal en lateraal;

4. eponigium;

5. naelvlies;

6. vry punt;

7. Hiponigium;

8. wortel;

9. naelbed

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel