Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g98 5/22 bl. 18-20
  • Vyf maniere om die gehalte van jou lewe te verbeter

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Vyf maniere om die gehalte van jou lewe te verbeter
  • Ontwaak!—1998
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Nommer 1: Lê ’n tuin aan
  • Nommer 2: Koop in groot maat
  • Nommer 3: Leer die kuns van voedselbewaring aan
  • Nommer 4: Probeer kleinboerdery
  • Nommer 5: Handhaaf behoorlike higiëne
  • Reinheid—Waarom is dit belangrik?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2008
  • Kos uit jou eie tuin
    Ontwaak!—2003
  • Hoe kan jy ’n huis bestuur?
    Die geheim van gesinsgeluk
  • Maniere om jou gesondheid te verbeter
    Ontwaak!—2015
Sien nog
Ontwaak!—1998
g98 5/22 bl. 18-20

Vyf maniere om die gehalte van jou lewe te verbeter

DEUR ONTWAAK!-MEDEWERKER IN DIE SENTRAAL-AFRIKAANSE REPUBLIEK

INFLASIE, siekte, ondervoeding, armoede—hierdie probleme is algemeen in ontwikkelende lande. En daar is geen onmiddellike oplossing in sig nie, ten minste nie uit ’n menslike oogpunt nie. Is daar enigiets wat jy kan doen om die gehalte van jou lewe te verbeter as jy in ’n ontwikkelende land woon? Ja, daar is! Hier volg vyf wenke wat dalk nuttig en prakties vir jou sal wees.

Nommer 1: Lê ’n tuin aan

“Wie sy land bewerk, het volop brood”, sê die Bybel in Spreuke 28:19. Jy sal in werklikheid verbaas wees om te sien hoeveel op ’n betreklike klein stukkie grond verbou kan word. In sy boek Le jardin potager sous les tropiques (Die groentetuin in die trope) skryf Henk Waayenberg dat ’n stuk grond wat 50 tot 100 vierkante meter groot is genoeg groente kan lewer om ’n gesin van ses te voed!

Waarom moet jy jou geld bestee aan dinge wat jy self kan kweek? Na gelang van die grond en die klimaat is dit dalk moontlik om produkte soos okra, brandrissies, spinasie, pietersielie, suurlemoengras, groenuie, kassawe, pampoene, patats, suikerriet, tamaties, komkommers en mielies reg langs jou huis te kweek. So ’n tuin sal ten minste jou gesin se dieet aanvul, en jy het dalk selfs ’n bietjie ekstra om te verkoop.

As jy genoeg grond het, kan jy ook daaraan dink om ’n verskeidenheid vrugtebome te plant. In sommige gevalle kan ’n enkele vrugteboom meer vrugte lewer as wat jy en jou gesin kan eet. As jy leer hoe om kompos te maak—die proses waardeur dooie organiese materiaal hersirkuleer en as bemesting gebruik word—sal dit jou help om jou voedselproduksie te verbeter. Bome kan meer doen as om voedsel en ekstra inkomste vir jou gesin te lewer. As bome op die regte plek geplant word, kan hulle ook skaduwee gee, die lug skoonmaak en jou omgewing mooier en aangenamer maak.

Maar gestel jy weet min van tuinmaak? Het jy vriende, bure of kennisse wat ondervinding daarin het? Waarom vra jy hulle dan nie om hulp of raad nie? Jy kan moontlik ook boeke oor tuinmaak koop of leen.—Sien die artikel “Wat van ’n groentetuin?” in die Ontwaak! van 8 Augustus 1974.

Nommer 2: Koop in groot maat

Koop jy basiese artikels soos meel, rys en olie in klein hoeveelhede? Indien wel, mors jy dalk ’n groot deel van jou geld. As dit enigsins moontlik is, moet jy eerder probeer om sulke voedselartikels in groot maat te koop en die koste met twee, drie of meer gesinne te deel. Jy kan ook geld spaar as jy in groot maat koop wanneer dit die seisoen vir sekere vrugte- of groentesoorte is. In sommige gevalle kan jy dalk selfs artikels by ’n groothandelaar koop.

Nommer 3: Leer die kuns van voedselbewaring aan

As jy in groot maat koop, laat dit die vraag ontstaan hoe bederfbare artikels bewaar moet word. Om voedsel te droog, is een gewilde en praktiese manier. Baie vroue in Afrika maak ’n bestaan deur vrugte, okra, bone, murgpampoentjies, pampoensade en kruie te droog. Geen spesiale toerusting is nodig om voedsel te droog nie. Die artikel kan op ’n skoon oppervlak geplaas of opgehang word, miskien bedek met ’n net om vlieë weg te hou. Die lug en son sal die res doen.—Sien die artikel “Kan jy met minder uitkom?” in die Ontwaak! van 8 November 1975.

Nommer 4: Probeer kleinboerdery

Is dit moontlik dat jy jou eie hoenders, bokke, duiwe of ander diere kan teel? Op baie plekke is vleis nou ’n luukse. Maar met ’n bietjie hulp van ander kan jy leer hoe om ’n klein kudde diere te teel. Hou jy van vis? Wel, jy kan probeer leer hoe om ’n visdammetjie te maak. Vleis, eiers en vis bevat yster, kalsium, vitamiene, minerale en proteïene—noodsaaklikhede vir jou gesin se gesondheid.

Nommer 5: Handhaaf behoorlike higiëne

Higiëne is ook belangrik vir jou gesin se gesondheid. Vuil toestande lok rotte, vlieë en kakkerlakke—die oorsaak van allerhande siektes. As jy behoorlike higiëne wil handhaaf, sal dit tyd en inspanning kos. Maar sindelikheid sal minder as medisyne en doktersrekeninge kos. Standaarde vir sindelikheid verskil moontlik van persoon tot persoon en van land tot land. Maar daar is ’n paar algemene beginsels wat oral geldig is.

Neem toiletgeriewe as voorbeeld. In die platteland los mense dit dikwels om smerig en vervalle te word, en dit is ’n vername bron van siektes en kwale. Plaaslike gesondheidswerkers kan jou raad gee oor hoe om ’n higiëniese toilet of gemakhuisie teen ’n minimale prys te bou.

Wat van jou huis? Is dit netjies en ordelik? Ruik dit skoon? Wat van jou kombuis? Is dit netjies en skoon? Voedsel moet skoon en behoorlik gekook wees om gesond te wees. Kieme en parasiete is volop in besoedelde water. Filtreer of kook dus water voordat jy dit gebruik. Spoel eetgerei af met kookwater, en was jou hande deeglik voordat jy met voedsel werk. Hou water in skoon, digte houers.

Honde, katte, hoenders en bokke moet nie toegelaat word om in ’n kombuis rond te loop nie—nie as jy higiëniese toestande wil handhaaf nie. Rotte en muise moet ook nie toegelaat word om oor potte en panne te hardloop en jou voedsel te besmet nie. ’n Eenvoudige rotval kan die probleem oplos.—Sien “Bied die uitdaging van sindelikheid die hoof” in die Ontwaak! van 22 September 1988.

Uiteindelik sal net God se Koninkryk al die probleme van die mensdom geheel en al uit die weg ruim (Matteus 6:9, 10). Maar intussen sal hierdie eenvoudige wenke jou dalk help om die gehalte van jou lewe te verbeter.

[Prente op bladsy 18]

Lê ’n tuin aan

[Prente op bladsy 19]

Koop in groot maat

[Prente op bladsy 19]

Leer die kuns van voedsel-bewaring aan

[Prente op bladsy 20]

Probeer kleinboerdery

[Prente op bladsy 20]

Handhaaf behoorlike higiëne

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel