Gevangenes van armoede
IN DIE jaar 33 G.J. het Jesus Christus vir sy dissipels gesê: “Julle het die armes altyd by julle” (Matteus 26:11). Presies wat het hy bedoel? Het hy bedoel dat armoede nooit oorkom sou word nie?
James Speth, administrateur van die Verenigde Nasies se Ontwikkelingsprogram, het gesê: “Ons kan nie aanneem dat [armoede] altyd met ons sal wees nie. Die moderne wêreld het die hulpbronne, die kennis en die kundigheid wat daartoe kan lei dat armoede tot die geskiedenis behoort.” Maar kan die moderne wêreld armoede met wortel en tak uitroei?
Die Verenigde Nasies se Algemene Vergadering hoop klaarblyklik dat mensepogings armoede kan uitwis, aangesien hulle die jare 1997 tot 2006 uitgeroep het as die eerste “Dekade vir die uitroeiing van armoede van die Verenigde Nasies”. Die VN het aangebied om met regerings, nasies en instellings saam te werk ten einde ekonomiese ontwikkeling aan te moedig, toegang tot basiese dienste te verbeter, die posisie van vroue te verbeter, asook inkomste en werk te skep.
Verhewe doelwitte! Maar sal die wêreldgemeenskap dit ooit bereik? Beskou ’n paar van die struikelblokke wat die uitroeiing van armoede deur mensepogings dwarsboom.
Honger en ondervoeding
Ayembe, wat in Zaïre woon, het 15 familielede wat van haar afhanklik is. Soms kan die gesin net een maaltyd per dag bekostig—mieliepap wat met kassaweblare, sout en suiker gegeur is. Soms het hulle twee of drie dae lank niks kos nie. “Ek wag totdat die kinders huil oor kos voordat ek kook”, sê Ayembe.
Hulle geval is nie ongewoon nie. In die ontwikkelende wêreld gaan 1 uit 5 mense elke aand honger slaap. Wêreldwyd is ongeveer 800 miljoen mense—waarvan 200 miljoen kinders is—chronies ondervoed. Hierdie kinders groei nie normaal nie; hulle word dikwels siek. Hulle presteer swak op skool. As volwassenes ondervind hulle die gevolge hiervan. Armoede lei dus dikwels tot ondervoeding, wat weer tot armoede bydra.
Armoede, honger en ondervoeding kom op so ’n groot skaal voor dat dit politieke, ekonomiese en maatskaplike pogings om dit uit te skakel in die wiele ry. Trouens, die situasie verbeter nie, maar word al hoe slegter.
Swak gesondheid
Volgens die Wêreldgesondheidsorganisasie is armoede “die dodelikste siekte ter wêreld” en “die grootste enkele onderliggende oorsaak van sterftes, siektes en lyding”.
Die boek An Urbanizing World: Global Report on Human Settlements, 1996 het getoon dat ten minste 600 miljoen mense in Latyns-Amerika, Asië en Afrika in sulke armoedige huise woon—met ’n gebrek aan voldoende water, sanitêre geriewe en riolering—dat hulle lewe en gesondheid gedurig in gevaar is. Wêreldwyd het meer as ’n miljard mense geen skoon water nie. Honderdmiljoene kan nie ’n gebalanseerde dieet bekostig nie. Al hierdie faktore maak dit vir arm mense moeilik om siektes te voorkom.
Arm mense kan dikwels ook nie siektes behandel nie. Wanneer die armes siek word, kan hulle moontlik nie behoorlike medisyne of mediese behandeling bekostig nie. Arm mense sterf jonk; diegene wat bly lewe, het dalk chroniese siektes.
Zahida, ’n markverkoper op die Maledive, sê: “Armoede lei tot swak gesondheid, wat jou verhinder om te werk.” ’n Tekort aan werk veroorsaak natuurlik erger armoede. Die gevolg is ’n wrede en dodelike kringloop van armoede en siekte waarin die een tot die ander aanleiding gee.
Werkloosheid en swak betaling
’n Ander aspek van armoede is werkloosheid. Wêreldwyd kan sowat 120 miljoen mense wat geskik is vir werk nie ’n betrekking kry nie. Intussen werk ongeveer 700 miljoen ander mense lang ure vir so min geld dat hulle nie in hulle basiese behoeftes kan voorsien nie.
Rudeen is ’n bestuurder van ’n driewieltaxi in Kambodja. Hy sê: “Vir my beteken armoede dat ek meer as 18 uur per dag werk, maar nog steeds nie genoeg verdien om myself, my vrou en twee kinders te voed nie.”
Vernietiging van die omgewing
Die agteruitgang van die omgewing gaan hand aan hand met armoede. Elsa, ’n navorser in Guyana, Suid-Amerika, het gesê: “Armoede is die vernietiging van die natuur: die woud, grond, diere, riviere en mere.” Hier is nog ’n tragiese kringloop—armoede lei tot vernietiging van die omgewing wat toenemende armoede laat voortbestaan.
Dit is ’n eeue oue gebruik om saailande te bewerk totdat dit uitgeput is of vir ’n ander doel gebruik word. Dieselfde is waar van ontbossing—woude word afgekap vir hout of vuurmaakhout of om gewasse te plant. Weens die toenemende aantal mense op aarde het die situasie kritieke afmetings aangeneem.
Volgens die Internasionale Fonds vir Landbouontwikkeling het byna 20 persent van die wêreld se bogrond in saailande gedurende die afgelope 30 jaar verlore gegaan, meestal as gevolg van ’n tekort aan geld sowel as die nodige tegnologie om bewaringsmaatreëls toe te pas. Gedurende dieselfde tydperk het miljoene hektaar ’n woesteny geword as gevolg van besproeiingskemas wat nie behoorlik gebou of in stand gehou is nie. En miljoene hektaar woudgebied word elke jaar afgekap om grond vir gesaaides beskikbaar te stel of om timmer- of vuurmaakhout te bekom.
Hierdie vernietiging hou op twee maniere met armoede verband. Eerstens moet die armes dikwels noodgedwonge die omgewing uitbuit weens hulle behoefte aan voedsel en vuurmaakhout. Hoe kan ’n mens met diegene wat honger en arm is en wat noodgedwonge natuurlike hulpbronne moet beskadig om nóú ’n bestaan te kan maak oor volhoubare ontwikkeling of die welsyn van toekomstige geslagte praat? Tweedens buit die rykes dikwels die omgewingshulpbronne van die armes uit vir eie gewin. Die vernietiging van natuurlike hulpbronne deur ryk en arm laat armoede dus toeneem.
Opvoeding
Alicia, ’n maatskaplike werkster in ’n stad in die Filippyne, het gesê: “Armoede is ’n vrou wat haar kinders eerder uitstuur om op straat te bedel as om hulle skool toe te stuur, want andersins sal daar niks wees om te eet nie. Die moeder weet dat sy die kringloop herhaal wat haar vasgevang het, maar sy kan geen ander uitweg sien nie.”
Sowat 500 miljoen kinders het geen skool waarheen hulle kan gaan nie. Eenmiljard volwassenes is funksioneel ongeletterd. Sonder opvoeding is dit moeilik om ’n goeie werk te kry. Armoede lei dus tot ’n gebrek aan opvoeding, wat tot erger armoede lei.
Behuising
In arm lande, en selfs in sommige ryk lande, is daar ’n behuisingstekort. ’n Verslag sê dat byna ’n kwartmiljoen inwoners van die stad New York op die een of ander tyd gedurende die afgelope vyf jaar in plekke vir haweloses gebly het. Daar is ook arm mense in Europa. In Londen is ongeveer 400 000 mense as haweloos geregistreer. In Frankryk is ’n halfmiljoen mense haweloos.
Oor die hele ontwikkelende wêreld is die situasie nog erger. Mense stroom na dorpe en stede, gelok deur drome van voedsel, werksgeleenthede en ’n beter lewe. In sommige stede woon meer as 60 persent van die bevolking in plakkersdorpe of krotbuurte. Armoede op die platteland vererger dus armoede in die stede.
Bevolking
Al hierdie probleme word deur bevolkingsaanwas vererger. Die wêreldbevolking het in die afgelope 45 jaar meer as verdubbel. Die Verenigde Nasies skat dat die syfer teen die jaar 2000 tot 6,2 miljard sal styg en tot 9,8 miljard teen 2050. Die armste gebiede van die wêreld se bevolking neem die vinnigste toe. Van die naastenby 90 miljoen babas wat in 1995 gebore is, is 85 miljoen in lande gebore wat die minste daartoe in staat was om vir hulle te sorg.
Glo jy dat die mensdom skielik sal saamwerk om armoede vir ewig uit die weg te ruim deur die probleme op te los, soos honger, siekte, werkloosheid, vernietiging van die omgewing, gebrek aan opvoeding, onvoldoende behuising en oorlog? Waarskynlik nie.
Beteken dit dat die situasie hopeloos is? Nee, want die oplossing is in sig en sal beslis kom. Maar nie deur menslike pogings nie. Hoe dan? En wat van Jesus se woorde toe hy gesê het: “Julle het die armes altyd by julle”?
[Venster op bladsy 7]
Die armstes van die armes
In 1971 is die uitdrukking die “mins ontwikkelde lande” deur die Verenigde Nasies geskep as ’n beskrywing van “die ontwikkelende lande wat die armste is en die swakste ekonomie het”. Destyds was daar 21 van hierdie lande. Nou is daar 48 van hulle, met 33 in Afrika.
[Prent op bladsy 5]
Miljoene werk lang ure teen karige vergoeding
[Erkenning]
Godo-Foto
[Prent op bladsy 6]
Weelde en armoede bestaan sy aan sy
[Prent op bladsy 7]
Miljoene woon in minderwaardige huise