Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g98 6/8 bl. 8-11
  • Die einde van armoede kom nader

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Die einde van armoede kom nader
  • Ontwaak!—1998
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Armoede en die Mosaïese Wet
  • Jesus was besorg oor die armes
  • Nou verseker van sorg
  • Nie vir ewig by ons nie
  • Volg Jesus se voorbeeld en toon besorgdheid oor die armes
    ie Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2006
  • Binnekort sal niemand meer arm wees nie!
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1995
  • ’n Wêreld sonder armoede is op hande
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2005
Ontwaak!—1998
g98 6/8 bl. 8-11

Die einde van armoede kom nader

WAT het Jesus bedoel toe hy gesê het: “Julle het die armes altyd by julle”? (Matteus 26:11). Het hy bedoel dat armoede vir ewig sou bestaan, sonder enige oplossing?

Jesus het geweet dat daar armoede sal wees so lank as wat die huidige stelsel van menseheerskappy bestaan. Hy het geweet dat dit nie deur enige vorm van menseregering of enige ekonomiese of maatskaplike stelsel vir goed uitgeroei kon word nie. En die geskiedenisverslag bevestig dit.

Deur die duisende jare van die mensegeskiedenis heen is elke regeringsvorm en elke soort ekonomiese en maatskaplike stelsel op die proef gestel, tog het ons nog steeds met armoede te kampe. Trouens, ten spyte van vooruitgang op gebiede soos die wetenskap, nywerheid en geneeskunde, is dit ’n onbetwisbare feit dat die aantal mense wat wêreldwyd in armoede vasgevang is, bly toeneem.

Jesus was deeglik bewus van die baie faktore wat tot armoede lei, soos hongersnood, droogte, invalle deur vyandelike leërs, swak regering, wanbestuur van die ekonomie, verdrukking van die armes en die swakkes deur die rykes en magtiges, ongelukke en siekte sowel as verarmde wese en weduwees wat deur die dood van hulle mans agtergelaat word. Daarbenewens het hy geweet dat mense armoede oor hulleself en hulle gesin kan bring deur slegte gewoontes soos luiheid, dronkenskap, dobbelary en dwelmverslawing.

Toe Jesus dus gesê het dat ‘julle die armes altyd by julle het’, het hy bedoel dat hierdie wêreld se instansies nie armoede kán uitroei nie. Hy het bedoel dat daar arm mense sal wees so lank as wat die huidige stelsel van menseheerskappy bestaan.

Hoewel die probleem van armoede baie oud is, moet ons nie tot die gevolgtrekking kom dat Jesus of sy hemelse Vader ongevoelig teenoor die armes is nie. Ons moet ook nie uit Jesus se woorde aflei dat armoede nooit tot ’n einde sal kom nie. Dít blyk duidelik uit wat die Bybel oor die saak sê.

Armoede en die Mosaïese Wet

Beskou byvoorbeeld die Wet wat God deur Moses aan die eertydse nasie Israel gegee het. Een bepaling van die Wet was dat elke Israelitiese gesin ’n stuk grond as erfdeel in die land Kanaän gegee is (Deuteronomium 11:8-15; 19:14). Die enigste uitsondering was die Leviete, wat geen erfdeel gekry het nie. Hulle is eerder onderhou deur ’n tiende van die opbrengs van die land wat hulle ontvang het vanweë die spesiale werk wat hulle by die tempel verrig het .—Numeri 18:20, 21, 24.

Die erfwette onder die Mosaïese Wet het boonop verseker dat die grond behou sou word deur die gesin of stam aan wie dit gegee is (Numeri 27:8-11). Selfs as ’n man sy grond verkoop het, kon dit net tydelik aan die nuwe eienaar behoort het. Met verloop van tyd sou die grond teruggegee word aan die familielede van die een wat dit verkoop het.

Vir diegene wat om verskillende redes arm geword het, soos die wanbestuur van hulle grond of die verkwisting van hulle geld, het die Wet die reg gewaarborg om voedsel op die lande, in die boorde en die wingerde van ander in te samel (Levitikus 23:22). Daarbenewens kon ’n behoeftige Israeliet geld leen sonder dat hy rente moes betaal. Vrygewigheid moes inderdaad aan die armes betoon word.—Exodus 22:25.

Jesus was besorg oor die armes

Eeue later, toe Jesus aarde toe gekom het, het hy voortgegaan om die vrygewigheid te openbaar wat hy by sy Vader, Jehovah, geleer het. Jesus het persoonlike belangstelling getoon in diegene wat materieel arm was. Hy en sy dissipels het ’n gemeenskaplike fonds gehad waaruit hulle vir behoeftige Israeliete gegee het.—Johannes 12:5-8.

Ná Jesus se dood het Christene dieselfde besorgdheid oor die armes geopenbaar wanneer hulle materiële hulp aan veral hulle armer geestelike broers en susters verleen het (Romeine 15:26). Ware Christene betoon vandag dieselfde liefdevolle sorg aan mekaar.

Hoewel die Bybel medelye met slagoffers van verdrukkende omstandighede uitspreek, wys dit natuurlik diegene tereg wat in werklikheid ‘hulle eie vlees opeet’ weens luiheid (Prediker 4:1, 5). Die apostel Paulus het geskryf: “As iemand nie wil werk nie, laat hom dan ook nie eet nie” (2 Tessalonisense 3:10). Net so kan diegene wat hulle geld verspil op gewoontes soos dwelm-, tabak- of alkoholverslawing hulle ook in armoede bevind. Dit is ’n gevolg van hulle eie slegte dade; in werklikheid ‘maai hulle dit wat hulle gesaai het’.—Galasiërs 6:7.

Nou verseker van sorg

Die Bybel toon dat God spesiaal belangstel in die omstandighede van diegene wat sy wil probeer doen. In Psalm 37:25 sê Dawid byvoorbeeld: “Ek was jonk, ook het ek oud geword, maar nooit het ek die regverdige verlate gesien, of dat sy nageslag brood soek nie.” Daar word nie rykdom beloof aan diegene wat regverdiggesind is nie, maar die aanduiding hier is dat God seker sal maak dat hulle genoeg materiële voorsienings het om ’n bestaan te maak. En vers 28 van daardie selfde psalm sê: “Die HERE het die reg lief en sal sy gunsgenote nie verlaat nie.”

Jesus het nie gedurende sy lewe op aarde net besorgdheid oor die armes getoon deur hulle materieel te help nie. Hy het hulle daarvan verseker dat God sal toesien dat daar ten minste in hulle basiese behoeftes voorsien sal word, nou sowel as in die toekoms, so lank as wat hulle God se wil probeer doen. Jesus het die volgende gesê:

“Hou die voëls van die hemel noukeurig dop, want hulle saai nie saad nie en hulle maai nie en hulle maak nie in voorraadskure bymekaar nie; nogtans voed julle hemelse Vader hulle. Is julle nie meer werd as hulle nie? . . . Ook wat klere betref, waarom is julle besorg? Leer ’n les by die lelies van die veld, hoe hulle groei; hulle swoeg nie, en hulle spin ook nie; maar ek sê vir julle dat nie eens Salomo in al sy heerlikheid soos een van hulle geklee was nie. As God dan die plantegroei van die veld, wat vandag hier is en môre in die oond gegooi word, so klee, sal hy julle nie veel eerder klee nie, julle kleingelowiges? Moet dus nooit besorg wees en sê: ‘Wat gaan ons eet?’ of: ‘Wat gaan ons drink?’ of: ‘Wat gaan ons aantrek?’ nie. . . . Want julle hemelse Vader weet dat julle al hierdie dinge nodig het.”—Matteus 6:26-32.

Jesus het afgesluit deur sy volgelinge aan te spoor: “Hou dan aan om eers die koninkryk [van God] en sy regverdigheid te soek, en al hierdie ander dinge sal vir julle bygevoeg word” (Matteus 6:33). Watter puik aanmoediging is dit tog vir mense wat arm is, maar wat daarna streef om die wil van God te doen! Let ook daarop dat Jesus getoon het dat die Koninkryk van God die heel belangrikste ding in sy volgelinge se lewe moes wees. Jesus het geweet dat armoede eers uit die weg geruim sal word wanneer God se hemelse Koninkryk algehele beheer oor die hele aarde oorneem—en nie voor die tyd nie.

Nie vir ewig by ons nie

Jesus het ons dus ’n wonderlike hoop vir die toekoms gegee. Toe hy gesê het “julle het die armes altyd by julle” het hy dus verwys na die lewe onder die huidige stelsel van menseheerskappy. Hy het nie na die toekomstige lewe onder die heerskappy van God se hemelse Koninkryk verwys nie. Die Bybel voorspel: “Die arme sal nie vir altyd vergeet word nie, ook sal die hoop van die sagmoediges nooit vergaan nie” (Psalm 9:18, NW). En as Koning van God se Koninkryk sal Christus Jesus niemand duld wat ander probeer uitbuit of verdruk nie.

Jesus het die heerskappy van God se hemelse Koninkryk die hooftema van sy onderrigting gemaak (Matteus 4:17). Onder Koninkryksheerskappy sal toestande op aarde ’n weerspieëling van toestande in die hemel wees. Daarom het hy sy volgelinge geleer om tot God te bid: “Laat u koninkryk kom. Laat u wil geskied, soos in die hemel, so ook op die aarde.”—Matteus 6:10.

Hoe sal dit gebeur? Dit is God se voorneme om die huidige stelsel van menseheerskappy geheel en al van die aarde te verwyder en om dit met die heerskappy van sy hemelse Koninkryk te vervang. Die profesie in Daniël 2:44 sê: “In die dae van dié konings [wat nou bestaan] sal die God van die hemel ’n koninkryk verwek wat in ewigheid nie vernietig sal word nie, en die heerskappy daarvan sal aan geen ander volk oorgelaat word nie [geen menseheerskappy meer nie]; dit sal al daardie [huidige] koninkryke verbrysel en daar ’n einde aan maak, maar self sal dit vir ewig bestaan.”

Dan, in ’n nuwe wêreld onder die heerskappy van God se Koninkryk, sal die hele aarde omskep word in ’n paradys van oorvloed, sonder enige spoor van armoede. Kyk wat ’n paar Bybelprofesieë oor die toestande sê wat dan sal heers:

“Die HERE van die leërskare sal . . . vir al die volke berei . . . ’n maaltyd van ou wyn, van vetspyse vol murg” (Jesaja 25:6). “Mag daar volheid van koring wees in die land, op die top van die berge” (Psalm 72:16). ‘Daar sal stortreëns van seën wees. En die bome van die veld sal hulle vrugte gee, en die land sal sy opbrings gee, en hulle sal veilig wees in hul land’ (Esegiël 34:26, 27). “Die aarde het sy opbrings gelewer; God, onse God, sal ons seën” (Psalm 67:7). “Die woestyn en die dor land sal bly wees, en die wildernis sal juig en bloei soos ’n narsing.”—Jesaja 35:1.

Miga 4:4 belowe verder: “Hulle sal sit elkeen onder sy wingerdstok en onder sy vyeboom, sonder dat iemand hulle verskrik.” Elkeen sal sy eie huis hê: “Hulle sal huise bou en bewoon, . . . hulle sal nie bou dat ’n ander dit bewoon nie” (Jesaja 65:21, 22). Dit is geen wonder nie dat Jesus aan dié wat sy leringe geglo het, kon belowe: “Jy sal saam met my in die Paradys wees”!—Lukas 23:43.

Ja, God se eie geïnspireerde Woord leer duidelik dat daar ’n totale einde aan armoede sal kom. En daardie tyd kom nader, want Bybelprofesieë toon dat hierdie wêreld nou in sy “laaste dae” is en “kritieke tye” ondervind “wat moeilik is om deur te kom” (2 Timoteus 3:1-5, 13). Binnekort gaan die huidige stelsel van dinge vir ewig verwyder word, en armoede sal vir goed uitgewis word—nie deur mensepogings nie, maar deur Goddelike ingryping. Die Koning Jesus Christus “sal die behoeftige red wat daar roep om hulp, en die ellendige en wie geen helper het nie. Hy sal hom ontferm oor die arme en behoeftige, en die siele van die behoeftiges sal hy red.”—Psalm 72:12, 13.

[Prent op bladsy 8, 9]

In God se nuwe wêreld sal daar goeie behuising en volop voedsel vir almal wees

[Prent op bladsy 10]

In die nuwe wêreld sal daar nooit honger kinders wees nie

    Afrikaanse publikasies (1975-2021)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2021 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel