Van klein eiland tot besige lughawe
Deur Ontwaak!-medewerker in Hongkong
“ONS stamp seker televisieantennes van die dakke af!” het die ontstelde passasier uitgeroep toe sy by die venster van die vliegtuig uitkyk terwyl dit sak om op Hongkong se Kai Tak- Internasionale Lughawe te land. Op die dak van ’n gebou in nabygeleë Kowloon-stad moes ’n vrou wat besig was om haar wasgoed op te hang haar ore vinnig toedruk terwyl sy weer eens die verskriklike geraas moes verduur van die vliegtuig wat oor haar kop vlieg.
“Die probleem is die berge”, sê John, ’n vlieënier wat hierdie gevaarlike landing al baie keer uitgevoer het. “As ons van die noordweste af land, beteken dit ’n skerp draai net voor die aanloopbaan. Die berge dra ook by tot gevaarlike daaltrekke, wat ons windskuiwing noem.”
Vir die senuweeagtige passasiers, die vlieëniers en veral vir die mense van Kowloon-stad kon die dag waarop die laaste vliegtuig op Kai Tak sou land nie gou genoeg kom nie. En daardie dag het aangebreek, want in Julie 1998 het Hongkong ’n nuwe lughawe begin gebruik.
’n Lughawe op ’n eiland
In die tagtigerjare het Kai Tak-lughawe sy maksimum kapasiteit bereik. Aangesien dit nie moontlik was om verder uit te brei nie, is daar na ’n nuwe terrein gesoek. Maar Hongkong het geen gelyk grond beskikbaar gehad wat groot genoeg was vir ’n lughawe nie. Buitendien wou mense nie ’n raserige lughawe in hulle omgewing hê nie. Die oplossing? Tsjek Lap Kok, ’n klein eiland aan die afgeleë kant van Lantau, ’n groot, maar meestal onontwikkelde eiland. ’n Siviele ingenieur sou hierdie uitdaging verwelkom.
Om die lughawe te bou, moes die klein eiland en ’n kleiner naburige eiland gelykgemaak word, en ongeveer nege en ’n half vierkante kilometer land moes uit die see herwin word. Die lughawe is met die stad Hongkong verbind deur ’n treinspoor en ’n snelweg van 34 kilometer te bou, wat oor eilande en kanale, deur die stad Kowloon en oor die Victoria-hawe strek. Dit het weer beteken dat brûe, tonnels en viadukte gebou moes word. Dit alles het gelei tot een van die grootste bouprojekte wat al ooit onderneem is.
Unieke brûe om eilande te verbind
Duisende mense gaan na Hongkong se Nuwe Gebiede om die Lantau-verbinding te sien, wat ’n wêreldberoemde landmerk geword het en wat Lantau-eiland met die vasteland verbind. Dit bestaan uit ’n kabelankerbrug wat Lantau-eiland met die klein Ma Wan-eiland verbind, ’n viaduk oor Ma Wan en ’n hangbrug met ’n hoofspanning van 1377 meter, wat Ma Wan-eiland met ’n derde eiland, Tsing Ji, verbind. Hierdie dubbeldekkerbrûe is van die langstes van hulle soort in die wêreld, en die boonste vlak word deur padverkeer gebruik terwyl daar ’n treinspoor en twee bane vir verkeer is op die onderste vlak wat toegebou is.
Die kabels waaraan die hangbrug hang, lyk van ver af maar redelik swak. ’n Mens wonder of die ingenieurs hulle berekeninge reg gedoen het en of die brug in die water gaan beland. ’n Nadere kykie toon egter dat die kabels beslis nie swak is nie. Die kabels wat 1,1 meter dik is, bevat 160 000 kilometer draad, genoeg om vier keer om die aarde te gaan. Die kabels moet so dik wees omdat hulle die 95 voorafvervaardigde 500-ton-ryvlakdele waaruit die brug bestaan in die lug moet hou. Toe die kabels voltooi is, is die voorafvervaardigde dele deur ’n vragboot na die terrein toe vervoer en uit die water opgehys.
Inwoners daar naby was gefassineer terwyl hulle gekyk het hoe die pilare opgerig word wat die kabels stut. Die pilare het in die lug opgegaan sonder die steierwerk wat ’n mens gewoonlik met bouprojekte assosieer. Die bouers het gebruik gemaak van ’n proses wat stygvormwerk genoem word. Met hierdie metode word die vorms waarin die beton gegiet word geleidelik opgeskuif sonder om dit op elke stadium uitmekaar te haal en weer op te rig. Deur hierdie nuwe metode te gebruik, het bouers een 190 meter hoë brugpilaar in net drie maande opgerig.
Hongkong lê in die tifoongordel. Watter uitwerking sal sterk winde op die brûe hê? In 1940 is die oorspronklike Tacoma Narrows-brug, Washington, VSA, vernietig toe ’n wind van 68 kilometer per uur dit gebuig het asof dit van bamboes gemaak is. Die ontwerp van brûe het sedertdien al ver gevorder. Hierdie nuwe brûe is ontwerp en getoets om rukwinde van 300 kilometer per uur te weerstaan.
Van lughawe na stad in 23 minute!
’n Mens kan Hongkong-eiland vinniger van die nuwe lughawe af bereik as van die vorige lughawe by Kai Tak, hoewel dit meer as vier keer verder is. Waarom? Daar is ’n treindiens met treine wat teen 135 kilometer per uur tot in die sakesentrum van Hongkong loop, wat gepas as Sentraal bekend staan. Eerstens kry ’n mens ’n mooi uitsig op Lantau se kaal berge. Dan, nadat die trein oor die verskillende eilande na die vasteland gereis het, snel dit verby die wêreld se grootste houerkaai in Kwai Tsjoeng. Vyf kilometer verder gaan dit deur Mong Kok, waar 170 000 mense woon. Hierna gaan dit deur die toeristesentrum Tsim Sja Tsoei en deur ’n tonnel onder die hawe, waarna die trein die stasie in Sentraal bereik, net 23 minute nadat dit die lughawe verlaat het!
’n Lughawe vir die toekoms
In Desember 1992 was Tsjek Lap Kok ’n rotsagtige eiland van 302 hektaar. Teen Junie 1995 was dit ’n gelykte van 1248 hektaar vir die nuwe lughawe, en Hongkong se landoppervlakte is met byna 1 persent vergroot. Terwyl die oorspronklike eiland met 44 000 ton kragtige plofstof gelykgemaak is, het ’n groot vloot baggerbote sand op die terrein gestort wat van die seebodem af opgebring is. Gedurende die bedrywigste konstruksietyd het hulle meer as twee hektaar land per dag herwin. Gemiddeld tien ton vulmateriaal is elke sekonde gedurende die hele 31 maande verskuif. Toe die landvormingskontrakteurs hulle werk voltooi het, het ander begin met die bouwerk aan die lughawe self.
Steve, wat baie betrokke was by die projek, gee ’n paar interessante besonderhede: “Hedendaagse makrostralers kan ’n aanloopbaan beskadig wat swak gebou is. Massiewe rollers is dus gebruik om die sand saam te pers voordat die asfaltoppervlakte gegooi is. Daar word geraam dat hierdie rollers, teen die tyd dat hulle die eerste aanloopbaan en harde staanplek voltooi het, ’n afstand van 192 000 kilometer sou gedek het, wat gelyk is aan vyf keer die afstand om die wêreld.
“Ons maatskappy het ’n kontrak vir die lughawegebou gehad; ons het die staaldakkappe gebou en opgerig. Hulle weeg tot 150 ton elk. Ons het ’n reusehyskraan gebruik om hulle op sleepwaens te laai wat hulle teen twee kilometer per uur na die lughawegebou vervoer het.”
Hierdie lughawegebou is nie net ’n vierkantige betongebou nie. Die klem was eerder daarop om ’n omgewing te skep met baie lig en lug wat vir lughawewerkers sowel as passasiers aangenaam sou wees. Die lughawe is boonop ontwerp sodat daar die minimum oponthoud vir passasiers sal wees. Passasiers kan binne 30 minute nadat hulle by ’n vertrektoonbank aangekom het hulle sitplek op die vliegtuig inneem. Om beweging te vergemaklik, is ’n bestuurderlose trein beskikbaar om passasiers van die een kant van die lughawegebou na die ander kant te vervoer. Daarbenewens maak bewegende loopvlakke wat altesaam 2,8 kilometer lank is die lewe baie makliker vir mense met moeë arms en bene.
Steve sê verder: “Wat ’n groot verandering van Kai Tak, waardeur meer as 27 miljoen passasiers in 1995 gegaan het! Die nuwe lughawe kan 35 miljoen passasiers en driemiljoen ton goedere per jaar behartig. Uiteindelik sal dit kan omsien na 87 miljoen passasiers en negemiljoen ton goedere!”
Hongkong belê geweldig baie geld in hierdie projek—ongeveer R99 miljard, of sowat R15-700 vir elkeen van Hongkong se 6,3 miljoen inwoners. Die hoop is dat Tsjek Lap Kok-lughawe Hongkong sal help om sy huidige welvarendheid te behou. Hoewel dit nog gesien moet word, is een ding seker: Dit sal altyd ’n onvergeetlike ondervinding wees om in Hongkong te land.
[Kaart op bladsy 12]
(Sien publikasie vir oorspronklike teksuitleg)
Lughawe-spoorweg
Snelweg
Lughawe by Tsjek Lap Kok
Lantau-eiland
Noord-Lantau-snelweg
Lantau-verbinding
Kap Sjoei Moen-brug
Tsing Ma-brug
Wes-Kowloon-snelweg
Kowloon
Lughawe by Kai Tak
Hongkong-eiland
[Prent op bladsy 13]
Die Tsing Ma-brug in aanbou
[Foto-erkenning op bladsy 11]
Projekkoördineringskantoor van die nuwe lughawe