Die Bybel se beskouing
Kan astrologie jou toekoms ontsluit?
HOE kan jy jou lewe verbeter en suksesvol wees in jou strewe na liefde en geld? Baie mense wend hulle tot astrologie vir die antwoord. Elke dag raadpleeg miljoene mense horoskope in koerante in die hoop dat hulle hulle vooruitsigte sal kan verbeter. ’n Mens hoor selfs van wêreldleiers wat hulle besluite met behulp van die sterre neem.
Is astrologie betroubaar? Hoe maak astroloë hulle voorspellings? Moet Christene toelaat dat hemelliggame hulle lewenswyse beïnvloed?
Wat is astrologie?
Volgens The World Book Encyclopedia is astrologie “gebaseer op die opvatting dat die hemelliggame patrone vorm wat ’n persoon se karakter of toekoms kan openbaar”. Astroloë beweer dat die presiese posisies van die planete en die tekens van die diereriem op die oomblik van ’n persoon se geboorte sy lewe kan beïnvloed.a Die stand van hierdie hemelliggame op enige gegewe oomblik word ’n horoskoop genoem.
Mense glo al van antieke tye af in astrologie. Omtrent vierduisend jaar gelede het die Babiloniërs die toekoms begin voorspel volgens die posisie van die son, die maan en die vyf sigbaarste planete. Hulle het beweer dat hierdie hemelliggame kragte uitoefen wat ’n mens se gedrag beïnvloed. Later het hulle die tekens van die diereriem by hulle voorspellings ingesluit.
’n Lang geskiedenis van mislukking
Die Bybel beklemtoon die verband tussen Babilon en astrologie, en dit verwys etlike kere na Babiloniese sterrewiggelaars, oftewel astroloë (Daniël 4:7; 5:7, 11). In die dae van die profeet Daniël was astrologie so algemeen in Galdea (Babilonië) dat jy net sowel van sterrewiggelaars kon gepraat het as jy die woord “Galdeërs” gebruik het.
Daniël het nie net gesien watter invloed astrologie in Babilon gehad het nie, maar ook dat die stad se sterrewiggelaars nie in staat was om die ondergang daarvan te voorspel nie (Daniël 2:27). Let op wat die profeet Jesaja twee eeue vroeër akkuraat voorspel het. “Laat hulle tog optree en jou red—die wat die hemel indeel, die sterrekykers wat elke maand laat weet wat oor jou sal kom”, het Jesaja minagtend geskryf. “Hulle kan hulself nie red . . . nie.”—Jesaja 47:13, 14, Die Bybel, 1953.
Die Babiloniese sterrewiggelaars kon blykbaar nie hulle stad se ondergang selfs ’n paar uur vooruit voorspel nie. En toe God se ongunstige oordeel op die muur van koning Belsasar se paleis verskyn het, kon die sterrewiggelaars glad nie die kriptiese skrif uitlê nie.—Daniël 5:7, 8.
Vandag is astroloë nog niks meer suksesvol daarmee om belangrike gebeure te voorspel nie. Nadat wetenskaplike navorsers R. Culver en Philip Ianna meer as 3 000 spesifieke astrologiese voorspellings ondersoek het, het hulle tot die gevolgtrekking gekom dat slegs 10 persent daarvan akkuraat was. Enige goed ingeligte ontleder kan beter as dit doen.
In stryd met Bybelleerstellings
Maar die Hebreeuse profete het astrologie nie net verwerp omdat dit klaarblyklik nie die toekoms akkuraat kon voorspel nie. Die Wet wat God vir Moses gegee het, het die Israeliete uitdruklik gewaarsku om nie voortekens te soek nie. “Daar mag niemand onder jou gevind word . . . wat van waarsêery gebruik maak . . . of voortekens soek . . . nie”, het die Wet gesê. “Elkeen wat hierdie dinge doen, is vir Jehovah verfoeilik.”—Deuteronomium 18:10, 12.
Al word astrologie nie spesifiek in hierdie teks genoem nie, sluit die verbod klaarblyklik hierdie gebruik in. Die Encyclopædia Britannica sê dat astrologie ’n “vorm van waarsêery is waarin aardse en menslike gebeure voorspel word deur die waarneming en die interpretering van die vaste sterre, die son, die maan en die ander planete”. Alle vorme van waarsêery—of dit nou op die sterre of op ander voorwerpe gebaseer is—skend God se wette. Waarom? Daar is goeie rede hiervoor.
In plaas daarvan om ons suksesse of mislukkings aan die sterre toe te skryf, sê die Bybel duidelik dat “wat ’n mens saai, dit sal hy ook maai” (Galasiërs 6:7). God hou elkeen van ons vir ons dade verantwoordelik omdat ons wilsvryheid het (Deuteronomium 30:19, 20; Romeine 14:12). Ons kan weliswaar ’n ongeluk maak of ’n siekte opdoen weens gebeure buite ons beheer. Maar sulke ellendes, verduidelik die Skrif, is te wyte aan “tyd en onvoorsiene gebeurtenisse”, nie ons horoskoop nie.—Prediker 9:11.
Wat menseverhoudings betref, moedig die Bybel ons aan om ons met eienskappe soos medelye, goedhartigheid, ootmoed, sagmoedigheid, lankmoedigheid en liefde te beklee (Kolossense 3:12-14). Hierdie eienskappe help om blywende vriendskappe te smee en huwelike te versterk. “Astrologiese versoenbaarheid” is nie ’n betroubare gids om ’n huweliksmaat te kies nie. Die sielkundige Bernard Silverman het die geboortehoroskope van omtrent 3 500 paartjies ontleed, waarvan 17 persent geskei het. Hy het nie ’n laer egskeidingsyfer gevind onder diegene wat ‘astrologies versoenbaar’ was nie.
Dit is duidelik dat astrologie onbetroubaar sowel as misleidend is. Dit kan veroorsaak dat ons eerder die sterre as onsself blameer wanneer ons foute maak. Bowenal word dit duidelik in God se Woord veroordeel.
[Voetnoot]
a Die tekens van die diereriem is die 12 sterrebeelde wat in die astrologie gebruik word.