Die Bybel se beskouing
Moet jy tot die Maagd Maria bid?
MARIA is ’n bekende figuur vir die meeste mense wat iets omtrent die Christelike geloof weet. Volgens die Skrif het die almagtige God hierdie jong vrou grootliks geseën deur haar te kies om die moeder van Jesus te wees. Jesus se geboorte was uniek omdat Maria ’n maagd was toe sy swanger geraak het. Sekere kerke van die Christendom gee lank reeds spesiale eer aan Maria. In 431 G.J. het die Konsilie van Efese haar die titel “Moeder van God” gegee, en vandag word baie mense geleer om hulle gebede tot haar te rig.a
Opregte aanbidders weet dat hulle hulle gebede tot die regte persoon moet rig. Wat leer die Bybel in dié verband? Moet Christene tot die Maagd Maria bid?
“Leer ons hoe om te bid”
Die Evangelieverslag van Lukas sê dat een van Jesus se dissipels hom gevra het: “Here, leer ons hoe om te bid.” Jesus het sy antwoord só begin: “Wanneer julle bid, sê: ‘Vader, laat u naam geheilig word.’” Gedurende sy Bergpredikasie het Jesus eweneens sy volgelinge beveel om te bid: “Ons Vader in die hemele, laat u naam geheilig word.”—Lukas 11:1, 2; Matteus 6:9.
Die eerste punt wat ons dus leer, is dat gebed, of eerbiedige spraak, gerig moet word tot Jesus se Vader, Jehovah. Nêrens gee die Bybel ons toestemming om tot enigiemand anders te bid nie. Dit is gepas, want, soos daar vir Moses gesê is toe hy die Tien Gebooie ontvang het, Jehovah is “’n God wat uitsluitlike toegewydheid eis”.—Eksodus 20:5.
Wat van die rosekrans?
Baie wat tot Maria bid, is geleer dat hulle seëninge kan ontvang deur ’n stel formuliere op te sê—gebede soos die Ave Maria, Onse Vader en ander. “Die algemeenste manier waarop [Katolieke] hulle toegewydheid aan Maria betoon, is ongetwyfeld deur die rosekrans”, sê die boek Symbols of Catholicism. Die rosekrans is ’n godsdiensoefening ter ere van die Maagd Maria. Die term verwys ook na die string krale wat gebruik word om gebede af te tel. “Vyf stelle van tien krale wat deur ’n ander soort kraal geskei word”, verduidelik dieselfde boek, “is ’n uitnodiging om vyftig keer die ‘Ave Maria’, vyf keer die ‘Onse Vader’ en vyf keer ‘Eer aan die Vader’ te bid.” Luister God met goedkeuring wanneer die rosekrans opreg gebid word?
Weer eens kry ons ’n gesaghebbende antwoord in die instruksies wat Jesus sy dissipels gegee het. “Wanneer julle bid, moet julle nie dieselfde dinge oor en oor sê, net soos die mense van die nasies nie”, het hy gesê, “want hulle dink dat hulle verhoor sal word omdat hulle baie woorde gebruik” (Matteus 6:7). Jesus het dus spesifiek vir sy volgelinge gesê om vaste formuliere in hulle gebede te vermy.
‘Maar het Jesus nie sy dissipels geleer om die Onse Vader te bid, wat deel van die rosekrans is nie?’ vra iemand dalk. Jesus het weliswaar ’n modelgebed voorsien, wat bekend geword het as die Onse Vader, of die Gebed van die Here. Maar ons moet in gedagte hou dat hy dit gedoen het net nadat hy die waarskuwing hierbo gegee het om nie ‘dieselfde dinge oor en oor te sê’ nie. Dat Jesus nie bedoel het dat die modelgebed soos ’n rympie opgesê moet word nie, kan ook duidelik gesien word uit die verskille in uitdrukkings wat hy gebruik het in die twee opgetekende gevalle waar hy sy dissipels geleer bid het (Matteus 6:9-15; Lukas 11:2-4). Die gedagtes wat Jesus by daardie geleenthede uitgespreek het, was soortgelyk, maar sy woorde was nie dieselfde nie. Dit lei ons tot die gevolgtrekking dat Jesus eenvoudig ’n model of voorbeeld voorsien het van hoe sy volgelinge kan bid en van die dinge waarvoor dit vir hulle gepas is om te bid. Nog belangriker, sy woorde het getoon tot wie gebede gerig moet word.
Respek vir Maria
Die feit dat die Skrif Christene nie leer om tot Maria te bid nie, impliseer glad nie dat hulle haar nie respekteer vir die rol wat sy in die uitvoering van God se voornemens gespeel het nie. Die seëninge wat deur middel van haar Seun verkry word, sal tot die ewige voordeel van alle gehoorsame mense wees. “Alle geslagte [sal] my gelukkig noem”, het Maria self gesê. En haar niggie Elisabet het gesê dat Maria “geseënd is . . . onder die vroue”. Ja, sy was beslis geseënd. Dit was ’n wonderlike voorreg vir Maria om gekies te word om die Messias voort te bring.—Lukas 1:42, 48, 49.
Maria is egter nie die enigste vrou wat in die Skrif geseënd genoem word nie. Omdat Jael daadwerklik opgetree het tot voordeel van die eertydse nasie Israel, is sy ook “hoogs geseënd . . . onder die vroue” genoem (Rigters 5:24). Getroue Jael, Maria en baie ander godvrugtige vroue wat in die Bybel gemeld word, verdien beslis om nagevolg te word—maar nie om vereer te word nie.
Maria was ’n getroue volgeling van Jesus. Sy was teenwoordig by verskeie geleenthede gedurende sy aardse bediening en ook by sy dood. Ná Jesus se opstanding het sy saam met Jesus se broers “volhard in gebed”. Dit gee ons rede om te glo dat sy ook saam met hulle op Pinkster 33 G.J. met heilige gees gesalf is en dus ook die hoop gekoester het om deel van die bruidsklas te wees wat saam met Christus in die hemel sal regeer.—Matteus 19:28; Handelinge 1:14; 2:1-4; Openbaring 21:2, 9.
Maar niks hiervan laat ons toe om tot Maria te bid nie. Hartgrondige gebed is ’n noodsaaklike deel van aanbidding, en Christene word aangespoor om ‘vol te hou met gebed’ (Romeine 12:12). Maar hierdie eerbiedige verering moet tot Jehovah alleen, deur Jesus Christus, gerig word.—Matteus 4:10; 1 Timoteus 2:5.
[Voetnoot]
a Die idee dat Maria die moeder van God is, is gegrond op die onskriftuurlike Drie-eenheidsleer, wat sê dat Jesus God is.