Ons beskou die wêreld
Slaap help ons om probleme op te los
“Baie mense het al gevind dat ’n probleem wat voor slapenstyd nog nie opgelos is nie, in die oggend baie eenvoudiger lyk, asof die brein gedurende die nag stilletjies daaraan gewerk het”, berig The Times van Londen. Wetenskaplikes in Duitsland sê dat hulle nou bewyse gevind het dat dit wel die geval is en het hulle bevindings in die tydskrif Nature gepubliseer. Hulle het 66 vrywilligers twee reëls geleer om ’n wiskundige probleem op te los, maar het hulle nie van ’n derde reël vertel wat ’n kortpad na die regte antwoord is nie. Party van die vrywilligers is daarna toegelaat om te slaap, terwyl ander die hele nag of die hele dag wakker gehou is. “Slaap verrig wondere”, berig The Daily Telegraph van Londen in ’n kommentaar oor dieselfde studie. “Die kanse was twee keer groter dat” dié wat geslaap het, “die derde reël sou uitwerk as dié wat wakker gehou is”. Om seker te maak dat die resultate nie net gekry is omdat die groep wat geslaap het, vars en uitgerus was nie, het die wetenskaplikes ’n tweede proefneming gedoen. Die twee groepe is die probleem in die oggend gegee nadat hulle geslaap het of in die aand nadat hulle heeldag wakker was. Dié keer was daar geen verskil in hoe die groepe gevaar het nie, wat toon dat “die resultaat nie aan ’n vars brein toegeskryf kan word nie, maar aan ’n brein wat homself gedurende slaap herorganiseer het”, sê The Times. Die navorser dr. Ullrich Wagner kom dus tot die slotsom dat “slaap ’n skeppende leerproses is”.
Koopsug en kinders
Amerikaanse kinders en adolessente van vandag is “die mees handelsmerkbehepte, koopsugtige en materialistiese geslag in die geskiedenis”, sê Juliet Schor, ’n sosioloog aan die Universiteit van Boston wat ’n studie gedoen het van hoe koopsug kinders raak. Party van die simptome van koopsug is “’n oordrewe besorgdheid oor voorkoms en klere, ’n obsessie met beroemdes en rykdom, ’n toename in die tyd wat aan TV-kykery, die Internet en videospeletjies bestee word”, sê die Kanadese koerant Globe and Mail. Professor Schor het gevind dat kinders wat behep is met dinge wat hulle wil koop, meer daarvan droom om ryk te word. “Hulle word ook al hoe meer krities teenoor hulleself en ongelukkig oor hulle lewe in vergelyking met wat hulle op TV en in advertensies sien.” Daarenteen is bevind dat kinders wat nie so materialisties is nie, minder neerslagtig en angstig is, minder psigosomatiese probleme ondervind, ’n beter selfbeeld het en beter verhoudings met hulle ouers geniet, berig die Globe.
Selfopgelegde verbod op dobbelary
“Na raming is daar tussen 300 000 en 500 000 dobbelverslaafdes in Frankryk”, sê die Franse dagblad Le Figaro. Al hoe meer probleemdobbelaars besef egter dat hulle met die gewoonte moet breek. Die koerant sê dat 28 000 mense in Frankryk hulleself uit wettige dobbelhuise probeer hou deur die polisie te vra om hulle te verbied om dobbelhuise vir ’n tydperk van ten minste vyf jaar te besoek. Volgens die Franse polisie ontvang hulle elke jaar tussen 2 000 en 3 000 versoeke van dié aard en het die syfer in tien jaar sesvoudig toegeneem. Talle patologiese dobbelaars wil hê dat hulle verslawing “as net so ’n ernstige openbare gesondheidsprobleem as tabak-, alkohol- en dwelmmisbruik” beskou moet word, sê Le Figaro.
Gemmer verlig oggendsiekte
“Gemmerwortel gee verligting van oggendsiekte gedurende die eerste maande van swangerskap”, sê die koerant die Australian. Navorsing deur die Universiteit van Suid-Australië het getoon dat vroue wat ongeveer een gram gemmer per dag geneem het, gedurende hulle vroeë swangerskap minder gesukkel het met oggendsiekte. Gemmer is op baie plekke ’n tradisionele behandeling vir oggendsiekte. Maar die doeltreffendheid daarvan was nog nie wetenskaplik bewys nie. In die studie is bevind dat gemmer net so goed werk soos ’n daaglikse dosis vitamien B6, nog ’n middel wat algemeen voorgeskryf word.
Bloedoortappings verhoog sterftesyfer
In ’n studie wat in JAMA (Journal of the American Medical Association) gepubliseer is, is bevind dat pasiënte met ’n akute koronêre sindroom wat gereeld bloedoortappings ontvang het, ’n groter risiko loop om te sterf as dié wat nie oortappings ontvang het nie. Die verslag sê: “Die verhoogde gevaar van sterfte wat met oortappings verband hou, het nog steeds bestaan ná inagneming van demografiese kenmerke en voorvalle in die hospitaal soos bloeding en ingrypende prosedures.” Die dokters wat die studie gedoen het, som hulle bevindings só op: “Ons waarsku teen die roetinegebruik van bloedoortappings bloot om ’n bepaalde hematokrietvlak in stabiele pasiënte met iskemiese hartsiekte te handhaaf.”
Verdeeldheid onder Anglikane
Philip Jensen, die Anglikaanse deken van Sydney en een van Australië se prominentste biskoppe, het onlangs uitgevaar teen die Aartsbiskop van Kantelberg en hom beskryf as “’n teologiese prostituut wat sy salaris onder valse voorwendsels verdien”, berig die Australiese koerant The Age. Jensen het die leier van sy kerk veroordeel vir sy liberale beskouings oor homoseksualiteit. The Age sê: “Die Anglikaanse Kerk is wêreldwyd erg verdeeld oor homoseksualiteit, en die kerk in Afrika en Asië het hulle in baie gevalle gedistansieer van die kerk in Kanada omdat hulle homoseksuele huwelike goedkeur en van die kerk in Amerika omdat hulle ’n selferkende homoseksuele biskop aangestel het.”
’n Miljard kinders ly
Volgens die Verenigde Nasies-kinderfonds verduur meer as die helfte van die wêreld se kinders—meer as ’n miljard—ernstige ontberinge, berig The New York Times. Oorloë, vigs en armoede het baie van die vooruitgang wat gedurende die afgelope 15 jaar gemaak is, uitgewis. Sedert 1990 het oorloë—waarvan 55 burgeroorloë was—ongeveer 3,6 miljoen lewens geëis, waarvan bykans die helfte kinders was. In baie van hierdie konflikte word kinders deur rebelle ontvoer, verkrag of gebruik om te veg. Ondervoeding is algemeen; gesondheidsorg bestaan dikwels nie. Die getal kinders wat wees gelaat is weens vigs, het in 2003 tot 15 miljoen gestyg. Meer as tweemiljoen kinders het in die seksbedryf gewerk. En terwyl jaarlikse militêre besteding volgens die verslag R5,9 biljoen bereik het, sal dit net tussen R240 en R430 miljard kos om armoede te bekamp.