Ontmoet die mense van Oos-Timor
DEUR ONTWAAK!- MEDEWERKER IN AUSTRALIË
OOS-TIMOR, of Timor-Leste, is ’n klein land wat die oostelike helfte van die eiland Timor beslaan. Die Maleise woord waarvan “Timor” afgelei is, en die Portugese woord Leste beteken albei “oos”. Afrikaanssprekendes noem die land gewoonlik Oos-Timor. Die naam is gepas, want die eiland is aan die oostelike punt van die Indonesiese eilandgroep geleë.
Oos-Timor beslaan sowat 14 800 vierkante kilometer, wat amper so groot soos Gauteng of die helfte van Lesotho is. Hoewel die eiland klein is, is dit op ’n ekologiese grens tussen Asië en Australië geleë. Tropiese reënwoude floreer langs droë bloekombosse en dor grasvlaktes. Die natuurlewe bestaan uit ’n mengsel van Australiese en Asiatiese spesies. Byvoorbeeld, Australiese buideldiere en voëls lewe saam met Asiatiese ape en tropiese soutwaterkrokodille. Maar wat van die mense van Oos-Timor? Wil jy hulle graag ontmoet?
Herinneringe aan ’n koloniale verlede
Portugese seevaarders het moontlik omstreeks 1514 vir die eerste keer in Oos-Timor aangekom. Destyds het enorme sandelhoutwoude die heuwels bedek. Sandelhout was ’n fortuin werd, en hierdie bome alleen was vir die Portugese genoeg rede om ’n handelspos te vestig. Die Katolieke Kerk het ook belangstelling in die gebied getoon en wou sendelinge daarheen stuur om die inheemse volke te bekeer. Hierdie twee faktore het daartoe gelei dat die Portugese in 1556 die eiland begin koloniseer het.
Oos-Timor het egter ’n eensame en verlate koloniale buitepos gebly. Toe Nederland in 1656 beheer van die westelike deel van die eiland oorgeneem het, het die Portugese na die oostekant van die eiland teruggetrek. Uiteindelik, ná meer as 400 jaar van koloniale heerskappy, het die Portugese in 1975 die land heeltemal verlaat.
In daardie selfde jaar het ’n burgeroorlog uitgebreek. Gedurende die volgende 24 jaar het ongeveer 200 000 Oos-Timorese—sowat een derde van die bevolking—in die gevegte omgekom. In 1999 het ’n vlaag van geweld die land getref, wat tot 85 persent van die huise en baie van die infrastruktuur vernietig het. Honderdduisende mense het na die berge gevlug. Uiteindelik het die Verenigde Nasies ingegryp om die vernietiging stop te sit en die land te stabiliseer.
Sedertdien werk die Timorese om hulle verwoeste lewens te herbou. In Mei 2002 is Oos-Timor, of die Demokratiese Republiek van Timor-Leste, amptelik erken as ’n nuwe staat.
’n Kulturele kruispad
Eeue van handel, die immigrasie van Asiërs en Australiërs en Europese kolonisasie het ’n kleurryke mengsel van kulture en tale regoor Oos-Timor geskep. Hoewel Portugees nog steeds deur die sakesektor en regering gebruik word, praat 80 persent van die bevolking ’n amptelike lingua franca wat Tetum genoem word en baie Portugese woorde bevat. ’n Mengelmoes van etniese groepe regoor die land praat ten minste 22 ander tale.
In plattelandse gebiede speel tradisionele konings nog steeds ’n belangrike rol in die dorpslewe. Hulle hou toesig oor seremonies, die toewysing van grond en ander tradisionele sake, terwyl ’n hoofman wat tot sy amp verkies word, die burgerlike bestuur behartig.
Godsdiens is ’n vermenging van tradisionele animisme en ingevoerde Katolisisme. Vooroueraanbidding, heksery en spiritisme raak elke aspek van die lewe. Gereelde kerkgangers raadpleeg gewoonlik die plaaslike matan do’ok, of toordokter, om die toekoms te voorspel, siektes te behandel of om hulle teen bose geeste te beskerm.
Nuuskierige en gasvrye mense
Die mense van Oos-Timor is van nature opgeruimd, nuuskierig en gasvry. “Ons het ’n sterk begeerte om te leer, te gesels en met ander te assosieer, selfs met vreemdelinge”, sê president Kay Rala Xanana Gusmão.
Besoekers wat genooi word om ’n maaltyd saam met ’n Timorese gesin te geniet, sal waarskynlik saam met die manlike gesinshoof eet. Sy vrou en kinders sal die maaltyd bedien en dan later die aand eet. Dit is goeie maniere om eers net ’n bietjie kos te neem. Die besoeker kan die kok dan komplimenteer deur ’n tweede porsie te vra.
Die meeste Timorese maaltye sluit rys, mielies of kassawe in, asook blaargroente en ander groente. Een Timorese spesialiteit, saboko, is ’n smaaklike mengsel van sardientjies, tamarynsous en speserye wat alles in ’n palmblaar toegevou word. Vleis bly nog altyd ’n duur luukse.
Kinders net waar jy kyk
Oos-Timor is ’n nasie van jongmense. Bykans die helfte van die bevolking is kinders, en baie gesinne het tussen 10 en 12 kinders in die huis.
Op pad skool toe stap kinders dikwels hand aan hand—seuns saam met seuns en meisies saam met meisies—al laggende en singende. Hulle skoolopleiding behels nie net dat hulle akademiese kennis opdoen nie, maar ook opleiding om reg te lewe en hulle goed te gedra.
’n Timorese kind speel nooit alleen of stilletjies nie—die hele buurt speel saam! ’n Gunstelingspeletjie is dudu karreta, of stootkarretjie. ’n Fietswiel is die denkbeeldige karretjie. Die kinders hardloop en lag terwyl hulle die wiel in die straat afrol en dit met ’n stok stuur en stoot.
Maar vir Timorese kinders bestaan die lewe nie net uit speletjies nie. Hulle kan byvoorbeeld gevra word om mielies met ’n swaar staalstaaf te maal. Nietemin glimlag hulle vrolik terwyl hulle werk, skynbaar onbewus van die feit dat hulle in een van die tien armste lande ter wêreld gebore is.
Geboortepyne van ’n nasie
Uiterste armoede lei tot ’n karige bestaan vir die Timorese. Veertig persent van die bevolking moet met minder as $1,50 (R10,50) per dag klaarkom—die minimum wat nodig is om in noodsaaklike kos- en huishoudelike behoeftes te voorsien. Die infrastruktuur is swak. Een regeringsverslag sê: “Landwyd lewe drie uit vier mense sonder elektrisiteit, drie uit vyf mense sonder behoorlike sanitêre geriewe en elke tweede persoon sonder veilige drinkwater.”
Onder hierdie omstandighede is gesondheidsprobleme iets algemeens. Wanvoeding, malaria, tuberkulose en ander siektes beperk die gemiddelde lewensverwagting tot 50 jaar. Ongeveer 1 kind uit 10 sterf voordat hulle vyf jaar oud is. Gedurende 2004 het minder as 50 dokters ’n bevolking van ongeveer 800 000 mense bedien.
Talle buitelandse regerings werk tans saam met die Verenigde Nasies om die Timorese te help om hulle beskadigde land te herbou. Ryk olie- en gasafsettings in die Timor-see bied ook hoop dat die swak ekonomiese situasie sal verbeter. Maar Oos-Timor se grootste aanwins is sy veerkragtige en nederige mense. Een Timorese vrou het vir Ontwaak! gesê: “Ons is dalk arm, maar ons is nie ongelukkig nie!”
“Goeie nuus van iets beters”
In onlangse jare het Jehovah se Getuies “goeie nuus van iets beters” vir die bewoners van Oos-Timor gebring (Jesaja 52:7; Romeine 10:14, 15). In 2005 het die een gemeente van Getuies in die land amper 30 000 uur daaraan bestee om ander te vertel omtrent die Bybel se wonderlike belofte van ’n komende aardse paradys.—Psalm 37:10, 11; 2 Petrus 3:13.
Party bewoners is van die onderdrukkende juk van spiritisme bevry omdat hulle Bybelwaarhede geleer het. Neem byvoorbeeld die geval van Jacob, ’n gesinshoof wat vyf kinders het en diep betrokke was by tradisionele spiritistiese gebruike. Hy het gereeld diereoffers aan die geeste van die dooies gebring. Hierdie gebruik het ’n swaar finansiële las op sy gesin geplaas. ’n Hoenderoffer het bykans ’n dag se loon gekos, en ’n spesiale offer van ’n bok of vark het baie weke se loon gekos.
Mettertyd het Jacob se vrou, Fransiska, die Bybel saam met Jehovah se Getuies begin studeer. Toe het sy vir Jacob Bybeltekste gewys wat bewys dat die dooies nie van enigiets bewus is nie en dat hulle nie die lewendes leed kan aandoen nie (Prediker 9:5, 10; Esegiël 18:4). Hulle het aanvaar wat die Bybel sê en het albei besluit om op te hou om offers aan die geeste te bring. Gevolglik het hulle woedende familielede hulle verstoot en gesê dat wraaksugtige geeste hulle kort voor lank sou doodmaak. Maar Jacob en Fransiska het standvastig gebly en gesê: “Jehovah sal ons beskerm.”
Intussen het Jacob die Bybel begin bestudeer en Christelike vergaderinge saam met sy gesin begin bywoon. Dit het daartoe gelei dat hy ander goeie veranderinge in sy lewe aangebring het. Hoewel hy jare lank elke dag ’n pakkie sigarette gerook het, het hy opgehou rook. Hy het ook geleer lees en skryf. Gedurende hierdie tyd het Fransiska opgehou om betelneut te kou. Uiteindelik, in 2005, is Jacob en Fransiska as Jehovah se Getuies gedoop. Vandag gebruik hulle hulle geld verstandig deur vir hulle kinders se opvoeding te betaal en nodige mediese onkoste te dek.
Ja, soos Jesus voorspel het, word die goeie nuus van God se Koninkryk “tot in die mees afgeleë deel van die aarde” verkondig, selfs aan die nuuskierige, gasvrye, ruimhartige bewoners van die klein eiland Oos-Timor.—Handelinge 1:8; Matteus 24:14.
[Venster/Prent op bladsy 17]
“Bring ’n naald en garing”
“Bring ’n naald en garing” is ’n uitdrukking wat die Timorese voorheen gebruik het om die geboorte van ’n meisie aan te kondig. Dit beskryf die tradisionele rol van Timorese vroue as wewers van tais, stukke mooi lap. Tais word gebruik om swierige seremoniële kleredrag, komberse en familie-erfstukke te maak. Oumas leer jonger vroue om katoen te kweek, te pluk, te spin, te kleur en dit in pragtige, veelkleurige patrone te weef. ’n Enkele tais kan ’n jaar of langer neem om te voltooi, afhangende van hoe ingewikkeld die patroon is. Aangesien elke streek sy eie tradisionele ontwerpe het, kan ’n kenner onmiddellik sien waar ’n tais gemaak is.
[Kaart op bladsy 14]
(Sien publikasie vir oorspronklike teksuitleg)
PAPOEA-NIEU-GUINEE
INDONESIË
OOS-TIMOR
AUSTRALIË
[Prent op bladsy 15]
Tradisionele keëlvormige huis
[Prent op bladsy 16]
“Dudu karreta”—’n gunstelingkinderspeletjie
[Prent op bladsy 16]
Jacob en sy gesin