Vasbeslote om geestelik ryk te wees
DIT vereis doelgerigte inspanning en opofferings om materiële rykdom te verkry. Dieselfde kan gesê word van geestelike rykdom. Dit is wat Jesus geïmpliseer het met sy woorde: “Gaar . . . vir julle skatte in die hemel op” (Matteus 6:20). Geestelike rykdom val nie in ’n mens se skoot nie. Net soos die feit dat iemand ’n bankrekening het, nie noodwendig beteken dat hy finansieel welaf is nie, beteken die blote feit dat iemand aan ’n godsdiens behoort, nie dat hy geestelik ryk is nie. Om ’n hegte verhouding met God op te bou, as ’n geestelike persoon te groei en ryk te word in geestelike eienskappe, vereis vasbeslotenheid, tyd, doelgerigte inspanning en opofferings.—Spreuke 2:1-6.
Kan jy albei hê?
Kan ’n mens geestelike rykdom sowel as ’n oorvloed van materiële dinge hê? Miskien, maar slegs een kan suksesvol nagestreef word. Jesus het gesê: “Julle kan nie God én Rykdom as slawe dien nie” (Matteus 6:24b). Waarom nie? Omdat die nastrewing van geestelike rykdom bots met die nastrewing van materiële rykdom. Die een meng in met die ander. Daarom het Jesus, voordat hy sy dissipels aangespoor het om geestelike rykdom op te gaar, gesê: “Hou op om vir julle skatte op die aarde op te gaar.”—Matteus 6:19.
Wat sal gebeur as iemand Jesus se raad ignoreer en probeer om geestelike sowel as materiële rykdom na te streef? Jesus het gesê: “Niemand kan twee here as slaaf dien nie; want hy sal óf die een haat en die ander liefhê, óf die een aankleef en die ander verag” (Matteus 6:24a). Wanneer ’n mens albei nastreef, kan geestelike sake dan, selfs wanneer jy uit pligsgevoel daarna omsien, ’n ergernis word wat skynbaar altyd in die pad is. In plaas daarvan om op God te vertrou, vertrou jy dalk op geld en wat dit kan koop as die vernaamste middel om die lewe se sorge die hoof te bied. Dit is soos Jesus gesê het: “Jou hart is altyd waar jou rykdom is.”—Matteus 6:21, Today’s English Version.
Elke Christen moet ernstig oor sulke Bybelraad nadink voordat hy besluit waarop hy sy tyd sal bestee, sy aandag sal toespits en sy hart sal rig. Net omdat God nie spesifieke beperkings plaas op hoeveel ’n Christen kan bymekaarmaak nie, beteken dit nie dat Sy waarskuwings teen hebsug met geen straf gepaardgaan nie (1 Korintiërs 6:9, 10). Diegene wat Bybelraad verontagsaam en vasbeslote word om ryk te wees, ly op geestelike, verstandelike en emosionele gebied, soos ons reeds gesien het (Galasiërs 6:7). In teenstelling hiermee het Jesus gesê dat diegene wat bewus is van hulle geestelike behoefte, gelukkig sal wees (Matteus 5:3). Ons Skepper en sy Seun weet tog sekerlik wat tot ons geluk en welsyn sal lei!—Jesaja 48:17, 18.
’n Keuse waaroor jy nie spyt sal wees nie
Wat gaan jy kies: God of rykdom? Ons moet natuurlik aandag skenk aan ons materiële behoeftes. In sy eerste brief aan Timoteus het die apostel Paulus gesê: “Ja, as iemand vir sy eie mense, en veral vir dié wat lede van sy huisgesin is, nie sorg nie, het hy die geloof verloën en is hy erger as ’n ongelowige.” Paulus het Christene ook aangespoor om hulle hoop nie op geld te vestig nie, maar op God en “om ryk te wees in goeie werke” (1 Timoteus 5:8; 6:17, 18). Waarop sal jy jou toespits? Wat sal jy nastreef? Die belangrikste van die goeie werke waarna Paulus verwys het, is die predikings- en dissipelmaakwerk wat Jesus sy dissipels gegee het om te doen (Matteus 28:19, 20). Wanneer Christene hulle lewens vrywillig vereenvoudig, nie net om minder te doen en die lewe te geniet nie, maar om ’n groter aandeel aan hierdie betekenisvolle werk te hê, ‘bewaar hulle vir hulleself ’n goeie fondament vir die toekoms [in God se beloofde nuwe wêreld] veilig as ’n skat’. En selfs nou vind hulle dat geestelike rykdom soveel ‘beter is as goud!’—1 Timoteus 6:19; Spreuke 16:16; Filippense 1:10.
Neem byvoorbeeld die ondervinding van Eddie, wie se gesin Jehovah se Getuies geword het toe hy nog jonk was. Op een stadium het sy gesin alles verloor en is hulle gedwing om uit hulle huis uit te trek. Eddie verduidelik: “Ek het my altyd bekommer oor wat sou gebeur as ons die punt bereik waar ons regtig niks het nie. Wel, toe het ons regtig niks gehad nie. En weet jy wat het gebeur? Niks nie! Ons het nog steeds iets gehad om te eet, te drink en aan te trek. Jehovah het in ons behoeftes voorsien, en mettertyd het ons van ons verliese herstel. Hierdie ondervinding het my geleer om Jesus se belofte in Matteus 6:33 ernstig op te neem—dat ons, as ons God se Koninkryk die belangrikste ding in ons lewe maak, ons nooit hoef te kwel oor ons materiële behoeftes nie.” Vandag dien Eddie as ’n voltydse reisende opsiener, saam met sy vrou. Hulle het wat hulle materieel nodig het. Maar nog belangriker, hulle is geestelik ryk.
Onmeetbare voordele
In teenstelling met skatte op aarde, wat deur diewe gesteel kan word, kan geestelike rykdom blywend wees (Spreuke 23:4, 5; Matteus 6:20). Dit is waar dat geestelike vooruitgang moeiliker is om te meet. Dit is nie so maklik om vas te stel hoeveel ’n mens in liefde, vreugde of geloof gegroei het as wat dit is om jou finansiële vooruitgang te meet nie. Maar die belonings van geestelike rykdom is onmeetbaar. Toe Jesus gepraat het van dissipels wat selfs hulle huise en landerye—ja, hulle lewensonderhoud—sou verlaat om plek te maak vir geestelike dinge, het hy gesê: “Voorwaar, ek sê vir julle: Niemand het huis of broers of susters of moeder of vader of kinders of landerye ter wille van my en ter wille van die goeie nuus verlaat nie, of hy sal nou in hierdie tyd honderdvoudig kry: huise en broers en susters en moeders en kinders en landerye, met vervolginge, en in die komende stelsel van dinge, die ewige lewe.”—Markus 10:29, 30.
Wat sal jy eerste in jou lewe stel? God of rykdom?
[Prent op bladsy 8]
Wat streef jy na? Materiële rykdom . . .
. . . of geestelike rykdom?