Van stille diens tot heilige diens
Soos vertel deur Andrew Hogg
“As ons ooit ons kernplofkoppe moet lanseer”, het die bevelvoerder van ons duikboot gesê, “was ons sending ’n mislukking.” Dit het tot lewendige gesprekke gelei oor hoe eties kernoorlogvoering is. Maar hoe het ek duikbootdiens begin doen, wat ook die stille diens genoem is weens ons pogings om onbespeur te bly?
EK IS in 1944 in Philadelphia, Pennsilvanië, VSA, gebore. Terwyl ek grootgeword het, is ek deur my pa, oupa en oom beïnvloed wat almal in die weermag gedien het en dit as die hoogste mensestrewe beskou het. As seun het ek op ’n toer deur die nabygeleë marinewerf gegaan en my eerste duikboot gesien. Van daardie oomblik af was duikbootdiens my doelwit. Gedurende my laaste jaar op skool het ek toelating tot die Amerikaanse Vlootkollege gekry. Vier jaar later, in Junie 1966, het ek gegradueer.
Ek het by die Vloot se Kernaandrywingsprogram aangesluit vir opleiding in kernaandrywing en die werking van duikbote. Toe, in April 1967, is ek met Mary Lee Carter getroud, wat tot vandag toe my dierbare vrou is. In Maart 1968 is my kinderdrome uiteindelik bewaarheid toe ek my eerste toewysing ontvang het—diens op die duikboot USS Jack. Ongeveer ’n jaar later het Mary Lee geboorte gegee aan die eerste van ons twee kinders—ons dogter, Allison.
In 1971 is ek aangestel as offisier-masjinis op die USS Andrew Jackson, waarvan die kaptein die stelling gemaak het wat aan die begin gemeld is. Terwyl ons in hierdie Polarismissiel-duikboot op see was, het ons ’n noodsituasie gehad wat alle duikbootvaarders vrees—’n brand. Kort ná middernag, terwyl ek saam met ’n paar mede-offisiere ontspan het, het ons ’n stamp gevoel. Toe het ons die ghong, ghong, ghong van die algemene alarm gehoor en die woorde: “Brand in masjienkamer een!”
Omdat ek verantwoordelik was vir byna al die meganiese en elektriese stelsels, het ek na die agterskip gehardloop om vas te stel wat die skade is. ’n Skielike brand het uitgebreek in een van die boot se suurstofontwikkelaars, wat help om skoon lug te produseer. Vier van ons het vinnig gasmaskers opgesit en die gebied van enige vlambare gasse gesuiwer. Gelukkig is niemand beseer nie. Ondanks die ongeluk kon ons voortgaan met ons toegewese patrolliewerk—’n bewys van die bemanning se goeie opleiding.
Ek besluit om van ’n vredemaker te lees
Om ons te help om werksdruk die hoof te bied, is ons aangemoedig om ’n paar uur per week iets kultureels te doen. Ek het gewoonlik die lewensverhale van vername militêre manne gelees. Maar hierdie keer het ek besluit om te lees van ’n welbekende vredemaker—Jesus Christus. Ek het die Bybel gebruik wat ek met my graduering aan die Vlootkollege ontvang het en die Evangelies begin lees. Maar wat ek gelees het, het meer vrae by my laat ontstaan as wat dit beantwoord het. Ek het hulp nodig gehad.
Teen die einde van ons patrollie het ons bevelvoerder die offisiere vir ’n vergadering in die offisierskajuit byeengeroep en aangekondig: “Menere, ons masjinis het so pas die beste pos in die Amerikaanse Vloot ontvang. Hy gaan die offisier-masjinis wees op die eerste van die vloot se nuutste aanvalsduikbote.” Ek was stomgeslaan!
Weens my nuwe pos het ons gesin na Newport News, Virginië, getrek, waar die USS Los Angeles in aanbou was. My werk het behels dat ek toesig moes hou oor die toets van masjienstelsels en dat ek tegniese handleidings en opleidingsprogramme moes saamstel. Die werk was baie ingewikkeld maar bevredigend. Intussen het Mary Lee geboorte gegee aan ons seun, Drew. Ek was nou die pa van twee, en ek het weer aan God begin dink: ‘Wat dink hy van oorlog? Wat gebeur wanneer ’n mens sterf? Is daar ’n hel?’
Uiteindelik antwoorde!
Omstreeks daardie tyd het my vrou besprekings met twee van Jehovah se Getuies gehad. Toe ek eendag van die skeepswerf af huis toe bel, het Mary Lee gesê: “Hier is twee ‘Bybelvroue’ by my.”
“Van watter kerk is hulle?” het ek gevra.
“Jehovah se Getuies”, het sy geantwoord.
Ek het geen idee gehad wie die Getuies was nie, maar ek wou die Bybel verstaan. “Nooi hulle om een aand oor te kom”, het ek gesê. Kort daarna het een van hulle saam met haar man teruggekom, en ek en my vrou het die Bybel begin studeer.
Uiteindelik het ek antwoorde begin kry op die vrae wat my jare lank gekwel het. Ek het byvoorbeeld geleer dat die dooies “bewus [is] van hoegenaamd niks”, asof hulle in ’n diep slaap is—’n vergelyking wat Jesus gebruik het (Prediker 9:5; Johannes 11:11-14). Die dooies ervaar dus nie saligheid of marteling nie, maar “slaap” in die dood en wag op ’n opstanding.
Ek en Mary Lee het ook Christelike vergaderinge by die plaaslike Koninkryksaal begin bywoon. Daar het ons Getuies gesien—uit verskillende kulturele, opvoedkundige en etniese agtergronde—wat God almal in vrede en eenheid dien. “Die Bybel kan mense se lewens werklik verbeter”, het ek en my vrou besef.—Psalm 19:7-10.
’n Tyd om ’n besluit te neem
Toe die Arabies-Israeliese Oorlog van 1973 uitgebreek het, is duikbote van die Amerikaanse Atlantiese Vloot ontplooi. Die situasie kon maklik handuit geruk het, en dit het werklik vir my begin duidelik word dat slegs God se Koninkryk, en nie mensepolitiek nie, ware en blywende vrede sal bring. Trouens, ek het dikwels gebid: ‘Laat u koninkryk kom. Laat u wil geskied op die aarde’, maar ek het nie geweet wat dit beteken nie (Matteus 6:9, 10). Maar nou het ek verstaan dat God se Koninkryk ’n hemelse regering is wat binnekort oor die ganse aarde sal regeer, en dit van alle boosheid en kwaaddoeners sal reinig.—Daniël 2:44; 7:13, 14.
’n Skrifgedeelte wat my baie gekwel het, was 2 Korintiërs 10:3, 4. Daarvolgens voer ware Christene “nie die stryd volgens wat ons in die vlees is nie. Want die wapens van ons stryd is nie vleeslik nie, maar kragtig deur God.” Ek het geleer dat hierdie “wapens” geestelik is en dat dit “die swaard van die gees”—die Heilige Bybel—insluit.—Efesiërs 6:17.
Ek was nou by ’n kruispad. Sou ek voortgaan met my huidige loopbaan, wat vir my ’n uitdaging sowel as genotvol was, of sou ek my lewe met Bybelwaarheid in ooreenstemming bring? Nadat ek die saak biddend oorweeg het, het ek tot die slotsom gekom dat ek dinge op God se manier moes doen as ek werklik ernstig daaroor was om ’n vredemaker te wees.
My nuwe “Opperbevelvoerder”
Ek en Mary Lee het ons toekoms biddend bespreek en besluit dat ons die enigste ware “Opperbevelvoerder”—Jehovah God—gaan dien. Ons het al twee besluit om ons lewe aan Jehovah toe te wy, en ek het my bedanking by die vloot ingedien. Ek is toe na Norfolk, Virginië, verplaas om te wag op my ontslag. Die meeste van my mede-offisiere kon nie my besluit verstaan nie, en party het my teëgestaan. Maar ander het opreg belanggestel in my Bybelse standpunt en het my gerespekteer daarvoor.
In 1974 het ek my ontslag ontvang. Daardie selfde jaar het ek en my vrou ons toewyding aan God deur waterdoop gesimboliseer by die “Goddelike Voorneme”-streekbyeenkoms van Jehovah se Getuies in Hampton, Virginië (Matteus 28:19, 20). Ons nuwe lewe het begin.
Nuwe uitdagings
Ek en Mary Lee het twee klein kindertjies gehad, geen inkomste nie en net genoeg geld vir ’n paar maande. Ek het my CV vir ’n paar werkgewers gestuur en sake in God se hande gelaat. Kort voor lank het ’n nutsmaatskappy my werk aangebied. My salaris was ongeveer die helfte van wat die vloot my betaal het, maar die werk het dit vir ons gesin moontlik gemaak om in die gebied aan te bly.
Namate ek en my vrou geestelike vooruitgang gemaak het, wou ons meer in Jehovah se diens doen. ’n Getuiegesin wat ons geken het, het na die sentrale deel van Virginië getrek waar meer Bybelonderrigters nodig was, en hulle het ons genooi om by hulle te kom kuier. Ná net een besoek het ons planne begin maak om te trek. Ek het aansoek gedoen vir ’n verplasing, en tot my vreugde is dit goedgekeur. Ek het boonop bevordering gekry! En die nutsmaatskappy het ingestem om die onkoste van ons trek te dek. ‘Ja’, het ons gedink, ‘God sorg werklik vir diegene wat sy wil probeer doen.’—Matteus 6:33.
Omdat ons gesin ’n relatief eenvoudige lewenstyl gehandhaaf het, kon ek en Mary Lee aan die voltydse bediening deelneem. Gevolglik kon ons heelwat tyd saam met ons twee dierbare kinders deurbring terwyl hulle grootgeword het. Die resultate verskaf ons waarlik onbeskryflike vreugde, want Allison sowel as Drew gaan voort “om in die waarheid te wandel”.—3 Johannes 4; Spreuke 23:24.
Ja, daar was tye toe finansies, behuising, gesondheid en die blote feit dat ons ouer word, ons angstig laat voel het. Maar Jehovah het ons nog altyd bygestaan. Is ek spyt dat ek die “stille diens” verlaat het? Glad nie! Wanneer ek en Mary Lee oor ons lewe nadink, kan ons sonder enige twyfel sê dat diens aan Jehovah beslis die edelste en lonendste van die mens se strewes is.—Prediker 12:13.
[Lokteks op bladsy 14]
Ons het besluit om die enigste ware “Opperbevelvoerder” te dien
[Prent op bladsy 12, 13]
Die “USS Los Angeles”
[Erkenning]
U.S. Navy photo
[Prent op bladsy 13]
Saam met Mary Lee vandag