Waarom is ons hier?
VOLGENS die Bybel is God, wie se naam Jehovah is, hoogs intelligent. Hy is die Bron van al die krag in die kosmos en die Skepper van die heelal (Psalm 83:18; 92:5). Die eerste hoofstuk van die Bybel sê: “In die begin het God die hemel en die aarde geskep.” Daarna het God die mens na sy “beeld” gemaak—dit wil sê met eienskappe soos syne—en God het vir die mens gesê om te vermeerder en die aarde te vul.—Genesis 1:1, 26, 28.
Beteken dit dat God die heelal, wat die aarde met al die diere en plante insluit, bloot ter wille van die mens geskep het? En is ons maar net hier om die lewe ’n paar dekades lank te geniet, om te eet, te drink en kinders voort te bring?
Waarom het God ons geskep?
Jehovah God het die mens geskep as ’n blyk van sy liefde—hy wou die lewe en geluk met mense deel. Dit het God ongetwyfeld groot vreugde verskaf om allerhande fisiese skeppingswerke voort te bring, sodat die mens deur prag en oorvloed omring sou wees. Bowenal moes mense ’n betekenisvolle verhouding met hulle Skepper hê, hom ken en met hom kommunikeer. Hulle is geskep om vir ewig onder volmaakte, vreedsame toestande te lewe.—Genesis 3:8, 9; Psalm 37:11, 29.
Jehovah het mense ook vervullende en betekenisvolle werk gegee om te doen. God het vir die eerste mense gesê: “Wees vrugbaar en word baie en vul die aarde en onderwerp dit, en die visse van die see en die voëls van die hemel en al die diere wat op die aarde kruip, moet aan julle onderworpe wees” (Genesis 1:28). Ja, die eerste mensepaar en hulle nakomelinge moes die hele aarde in ’n paradys van genot omskep.
Sake het nie onmiddellik volgens Jehovah se voorneme verloop nie.a God se oorspronklike voorneme vir die mensdom sal nietemin vervul word.—Jesaja 46:9-11; 55:11.
Intussen word die mens se begeerte—sy behoefte—om God te ken en ’n verhouding met hom te hê, geopenbaar in sy soeke na ’n doel in die lewe. Die mens is geskep as ’n intelligente wese met die begeerte om te ondersoek en te verstaan. En die Bybel sê dat die mens vir ewig sal voortgaan om bevredigende kennis van God en sy skepping in te neem.
’n Bybelskrywer het die mens se doel in die lewe so beskryf: “Ek het die bedrywigheid gesien wat God aan die mensekinders gegee het om hulle mee besig te hou. Alles het hy mooi gemaak op die tyd daarvoor. Selfs onbepaalde tyd het hy in hulle hart gesit, dat die mensdom nooit die werk wat die ware God gemaak het, van begin tot einde kan uitvind nie. Ek het te wete gekom dat daar vir hulle niks beters is nie as om bly te wees en om goed te doen in die lewe; en ook dat elke mens eet en inderdaad drink en die goeie sien vir al sy harde werk. Dit is die gawe van God” (Prediker 3:10-13). Die dinge wat die mensdom oor God en sy skepping kan uitvind, sal dus nooit tot ’n einde kom nie.
Leer oor God
Jy kan Jehovah leer ken deur sy skepping te ondersoek. ’n Bybelskrywer het gesê dat God se “onsigbare eienskappe . . . van die wêreld se skepping af duidelik gesien [word], omdat hulle waargeneem word in die dinge wat gemaak is, ja, sy ewige krag en Godheid” (Romeine 1:20). Ja, baie blyke van Jehovah se liefde, wysheid en krag kan in die skepping gesien word.
Nog ’n uiters belangrike inligtingsbron oor God is die Bybel. Hierdie geïnspireerde boek vertel ons baie meer omtrent Jehovah—sy beskouings, eienskappe en voorneme—as wat ons kan leer wanneer ons sy skepping ondersoek.
Aangaande God se voorneme sê die Bybel: “Wat die hemel betref, aan Jehovah behoort die hemel, maar die aarde het hy aan die mensekinders gegee” (Psalm 115:16). Die enigste geskikte plek in hierdie heelal waar die mensdom kan lewe, is blykbaar die aarde, wat Jehovah juis met dié doel gemaak het.
Wat dan van die eindelose kosmos? Is al die sterre om ons maar net daar om ons sonnestelsel in volmaakte ewewig te hou sodat lewe op die aarde moontlik kan wees? Is die hemelliggame maar net daar om die naghemel te verfraai? Ons moet erken dat daar baie dinge is wat ons nog nie weet nie. Maar dit is ’n goeie ding! Waarom?
Die ewigheid sal nie genoeg wees vir die mensdom om al God se werke en voornemens te verstaan nie. Hy wil hê dat ons toekoms een van eindelose ontdekkings en eindelose vreugde moet wees. Die ewige lewe in geluk op die aarde sal gehoorsame mense oorgenoeg geleentheid bied om baie, baie meer oor die heelal uit te vind.
[Voetnoot]
a Die feit dat boosheid en lyding bestaan, maak dit vir baie mense moeilik om aan ’n liefdevolle Skepper te glo. Vir inligting oor hierdie onderwerp, sien asseblief hoofstuk 11 van die boek Wat leer die Bybel werklik?, uitgegee deur Jehovah se Getuies.
[Lokteks op bladsy 9]
Die mens is geskep as ’n intelligente wese met die begeerte om te ondersoek en te verstaan
[Prente op bladsy 10]
Die Bybel toon dat die aarde hoofsaaklik vir die mens se genot geskep is