Die Bybel se beskouing
Hoe moet ons tot God bid?
OM MET die Almagtige te kan praat en hom van ons intiemste gedagtes te vertel, is ’n onvergelyklike voorreg. Maar baie mense is onseker oor hoe om te bid, en ander wil hulle gebede verbeter. Party van Jesus Christus se vroeë volgelinge was klaarblyklik besorg oor die gehalte van hulle gebede. Een van hulle het vir hom gesê: “Here, leer ons hoe om te bid” (Lukas 11:1). In antwoord hierop het Jesus ’n modelgebed gegee, wat die Onse Vader genoem word. Hierdie pragtige, dog eenvoudige, gebed help ons nie net om God op ’n aanneemlike wyse te nader nie, maar werp ook lig op die hoofboodskap van die Bybel.
Jesus se modelgebed
Jesus het gesê: “Julle moet dan só bid: ‘Ons Vader in die hemele, laat u naam geheilig word. Laat u koninkryk kom. Laat u wil geskied, soos in die hemel, so ook op die aarde. Gee ons vandag ons brood vir hierdie dag; en vergewe ons ons skulde, soos ons ook ons skuldenaars vergewe het. En bring ons nie in versoeking nie, maar verlos ons van die bose.’”—Matteus 6:9-13.
Let daarop dat Jesus gesê het: “Julle moet dan só bid.” Die punt? Jesus wou nie hê dat sy volgelinge sy woorde soos ’n resitasie moet opsê nie. Trouens, hy het hulle kort tevore afgeraai om dit te doen (Matteus 6:7). Sy gebed is eerder ’n les in prioriteite—wat in God se oë belangrik is, nie net ons s’n nie. Om te verstaan wat hierdie prioriteite is, moet ons die betekenis van Jesus se woorde verstaan. Kom ons ondersoek sy woorde dus punt vir punt.
’n Verduideliking van die modelgebed
“Ons Vader in die hemele, laat u naam geheilig word.” Jesus het God tereg as “Vader” aangespreek omdat Hy liefdevol en beskermend is, soos ’n goeie mensevader. Hy het ook ’n persoonlike naam—Jehovah—wat nie met al sy titels, soos Almagtige, God en Here, verwar moet word nie (Psalm 83:18).a Maar waarom moet God se naam, wat met sy reputasie verband hou, geheilig word? Omdat dit oneer aangedoen is en belaster is.
Party mense blameer God vir hulle beproewinge, terwyl die werklike oorsaak moontlik ’n menslike oorsprong het of hulle dalk bloot op die verkeerde tyd op die verkeerde plek was (Spreuke 19:3; Prediker 9:11). Ander meen dat God vir natuurrampe verantwoordelik is. Die Bybel sê egter: “Met bose dinge kan God nie beproef word nie, en ook beproef hy self niemand nie” (Jakobus 1:13). En baie godsdienste leer dat God slegte mense straf deur hulle vir ewig in ’n helse vuur te pynig, ’n leerstelling wat die God van liefde sekerlik aanstoot gee (Jeremia 19:5; 1 Johannes 4:8). “Die loon wat die sonde betaal, is die dood”, sê Romeine 6:23, nie ewige pyniging nie!b
“Laat u koninkryk kom.” God se Koninkryk is ’n koninklike regering waarvan Jesus Christus die Koning is. Hy sal binnekort volle beheer oor die hele aarde oorneem. “Aan hom is heerskappy en waardigheid en ’n koninkryk gegee”, sê Daniël 7:14. God se Koninkryk sal “kom” wanneer dit in menseaangeleenthede ingryp deur alle heerskappye wat daarteen gekant is, te verbrysel en volkome beheer oor die aarde oor te neem.—Daniël 2:44.
“Laat u wil geskied, soos in die hemel, so ook op die aarde.” Onder Koninkryksheerskappy sal die mensdom hulle aan God se wil onderwerp. Gevolglik sal ware vrede heers en sal alle mense God in waarheid aanbid. Politiek, wat verdeeldheid veroorsaak, en valse godsdiens sal iets van die verlede wees. In figuurlike sin sal “die tent van God . . . by die mensdom” wees, sê Openbaring 21:3, 4, “en hy sal elke traan van hulle oë afvee, en die dood sal daar nie meer wees nie, en ook verdriet en angsgeroep en pyn sal daar nie meer wees nie. Die vorige dinge het verbygegaan.”
“Gee ons vandag ons brood vir hierdie dag.” Nadat Jesus voorkeur gegee het aan God se naam en Koninkryk, het hy die aandag op ons behoeftes gevestig. Sy woorde toon dat ons nie veel meer moet probeer verkry as wat ons “vir hierdie dag” nodig het nie. Ons moet eerder ag slaan op die raad in Spreuke 30:8: “Gee my nie armoede of rykdom nie. Laat my die voedsel verslind wat vir my voorgeskryf is.”
“Vergewe ons ons skulde, soos ons ook ons skuldenaars vergewe het.” Die woord “skulde” beteken hier “sondes”.c Ons almal is gehoorsaamheid aan God verskuldig. Wanneer ons dus aan hom ongehoorsaam is, of teen hom sondig, loop ons skuld as ’t ware op. Jehovah is egter gewillig om hierdie skuld te vergewe as ons diegene wat teen ons sondig, vryelik vergewe.—Matteus 18:21-35.
“Bring ons nie in versoeking nie, maar verlos ons van die bose.” “Die bose” is Satan die Duiwel, wat ook “die Versoeker” genoem word (Matteus 4:3). Omdat ons onvolmaakte vlees swak is, het ons God se hulp nodig om Satan en sy menslike agente te weerstaan.—Markus 14:38.
Mag Jesus se modelgebed jou help om jou gebede te verbeter, moontlik deur aan die belangriker dinge voorkeur te gee wanneer jy bid. Maar hoe werp Jesus se modelgebed lig op die hoofboodskap van die Bybel? Soos Jesus se woorde toon, is die hooftema van die Bybel die heiliging van God se naam, die verwydering van alle goddeloosheid en die vreedsame heerskappy van God se Koninkryk oor die aarde. Ja, watter geestelike skatte vind ons tog in Jesus se modelgebed!
[Voetnote]
a Toe die Bybel in sy oorspronklike tale geskryf is, hoofsaaklik Hebreeus en Grieks, het die goddelike naam sowat 7 000 keer daarin voorgekom. Ongelukkig gebruik talle hedendaagse vertalings God se titels pleks van sy heilige naam.
b Die dooies lewe nie in ’n ander vorm voort nie, maar hulle “slaap”, dit wil sê hulle “is bewus van hoegenaamd niks” nie, en wag op ’n toekomstige opstanding.—Johannes 5:28, 29; 11:11-13; Prediker 9:5.
c Sien Lukas 11:4, waar die twee woorde uitruilbaar gebruik word.
HET JY AL GEWONDER?
● Wat het Jesus bedoel toe hy gesê het: “Julle moet dan só bid”?—Matteus 6:9.
● Watter sake behoort oor die algemeen eerste in ons gebede te kom?—Matteus 6:9, 10.
● Wat is “ons skulde”, en waarom moet ons mense vergewe wat teen ons sondig?—Matteus 6:12.
[Prent op bladsy 13]
Jesus se modelgebed kan jou help om te bid oor wat in God se oë belangrik is, nie net joune nie