Wyse raad vir die oog
● Die menseoog is ’n kunswerk. Maar dit is nie net pragtig nie. Dit is ook kragtig. Die boek Visual Impact, Visual Teaching sê dat “veertig persent van al die senuvesels wat aan die brein verbind is, gekoppel is aan die retina”, ’n dun membraan aan die binnekant van die oog wat uit komplekse weefsel bestaan.
Jesus Christus het die oog tereg “die lamp van die liggaam” genoem. Om te verduidelik wat hy hiermee bedoel het, het hy gesê: “As jou oog . . . eenvoudig [opreg, op die goeie gefokus] is, sal jou hele liggaam lig wees; maar as jou oog goddeloos is, sal jou hele liggaam duister wees” (Matteus 6:22, 23). Met hierdie woorde wou Jesus by ons tuisbring watter krag die oog in figuurlike sin het om ons gedagtes, gevoelens en dade te beïnvloed. Goeie gedagtes verlig ’n mens se lewe; slegte gedagtes verduister dit.
Neem byvoorbeeld Jesus se woorde in Matteus 5:28, 29: “Elkeen wat aanhou om na ’n vrou te kyk om hartstog vir haar te hê, [het] reeds in sy hart met haar egbreuk gepleeg . . . As daardie regteroog van jou jou dan nou laat struikel, ruk dit uit [in figuurlike sin].” Sy punt? ’n Dwalende oog kan verkeerde begeertes in so ’n mate aanvuur dat ’n persoon hom dalk selfs aan onsedelikheid sal skuldig maak, as die geleentheid hom voordoen, en God se guns sal verloor.—Jakobus 1:14, 15.
Hoeveel beter is dit tog om selfbeheersing te beoefen, al is dit net so moeilik soos om ’n oog uit te ruk! Is dit immers die moeite werd om die ewige lewe op te offer vir ’n paar vlietende oomblikke van sensuele genot?
Die dinge waarna ons kyk, kan ook gierigheid aanwakker. Daarom waarsku die Bybel ons dat die selfsugtige “begeerte van die oë . . . nie [sy] oorsprong by die Vader [het] nie, maar . . . by die wêreld. Wat meer is, die wêreld gaan verby en so ook sy begeerte, maar hy wat die wil van God doen, bly vir ewig.”—1 Johannes 2:16, 17.
Is die Bybel te beperkend? Glad nie! As ons nie die standaarde daarin volg nie, lei dit tot probleme en ongelukkigheid (Galasiërs 6:7, 8). As ons ag slaan op God se Woord, insluitende die wyse raad vir ons figuurlike oog, sal ons geluk maai. “Gelukkig is . . . dié wat die woord van God hoor en dit nakom”, het Jesus gesê (Lukas 11:28). Wat meer is, hulle het die vooruitsig om vir ewig op die aarde te woon, terwyl diegene wat ’n onsedelike of gierige oog ontwikkel, hulle geluk sowel as hulle lewe prysgee.