Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • re hfst. 10 bl. 47-54
  • Verafsku die “diep dinge van Satan”

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Verafsku die “diep dinge van Satan”
  • Openbaring—Sy groot klimaks is op hande!
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • “Daardie vrou Isebel”
  • ‘Hou vas aan wat julle het’
  • Handhaaf onkreukbaarheid
  • Luister na wat die gees sê!
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2003
  • Isebel—’n Slegte koningin
    My boek met Bybelverhale
  • Hoor wat die gees aan die gemeentes sê
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1989
  • ’n Goddelose koningin word gestraf
    Lesse wat jy kan leer uit die Bybel
Sien nog
Openbaring—Sy groot klimaks is op hande!
re hfst. 10 bl. 47-54

Hoofstuk 10

Verafsku die “diep dinge van Satan”

TIATIRA

 1. Waar was Tiatira geleë ten opsigte van ander gemeentes, en wat was die godsdiensmilieu daarvan?

ONGEVEER 64 kilometer suidoos van Bergama (Pergamum) lê die florerende Turkse dorp Akhisar. Hierdie dorp was sowat 1 900 jaar gelede die ligging van Tiatira. ’n Reisende opsiener kon Tiatira maklik deur middel van ’n binnelandse pad van Pergamum af bereik en dan na die oorblywende gemeentes van Openbaring hoofstuk 3—Sardis, Filadelfia en Laodisea—reis. In teenstelling met Pergamum was Tiatira blykbaar nie ’n belangrike sentrum van keiseraanbidding nie, maar daar was wel heiligdomme en tempels wat aan heidense gode toegewy was. Tiatira was by uitstek ’n handelsentrum.

 2, 3. (a) Wat is vroeër opgeteken omtrent ’n inwoner van Tiatira wat ’n Christen geword het? (b) Wat beteken dit vir die Christene in Tiatira dat Jesus “die Seun van God” is en dat hy ‘oë soos ’n vuurvlam’ het?

2 Toe Paulus in Masedonië gepreek het, het hy ’n Tiatiriese vrou met die naam Lidia, ’n purperverkoopster, ontmoet. Lidia en haar hele huisgesin het die boodskap wat Paulus verkondig het, met blydskap aangeneem en buitengewone gasvryheid getoon (Handelinge 16:14, 15). Sover bekend was sy die eerste inwoner van Tiatira wat die Christelike godsdiens aangeneem het. Later het die stad ’n gemeente van Christene gehad. Jesus rig sy langste boodskap aan hulle: “En skryf aan die engel van die gemeente in Tiatira: Hierdie dinge sê die Seun van God, hy wat oë het soos ’n vuurvlam, en sy voete is soos fyn koper.”—Openbaring 2:18.

3 Hierdie is die enigste keer dat die uitdrukking “Seun van God” in Openbaring voorkom, hoewel Jesus wel op ander plekke na Jehovah as “my Vader” verwys (Openbaring 2:27; 3:5, 21). Die gebruik van die titel hier herinner die Christene in Tiatira waarskynlik aan Jesus se intimiteit met Jehovah. Hierdie Seun het ‘oë soos ’n vuurvlam’—’n waarskuwing aan die Christene in Tiatira dat sy oordeel sal ontvlam teen enigiets verontreinigends wat hy in die gemeente sien. Deur ’n tweede keer na sy gloeiende, koperagtige voete te verwys, beklemtoon hy sy eie ligtende voorbeeld van getrouheid toe hy op hierdie aarde was. Die Christene in Tiatira het ongetwyfeld aan sy raad gehoor gegee, en ons moet dit vandag ook doen!—1 Petrus 2:21.

 4, 5. (a) Waarom kon Jesus die Christene in Tiatira prys? (b) Hoe is die gemeente in Tiatira kenmerkend van die hedendaagse gemeentes van Jehovah se Getuies?

4 Gelukkig kan Jesus diegene in Tiatira prys. Hy sê: “Ek ken jou dade en jou liefde en geloof en bediening en volharding en weet dat jou dade in die laaste tyd meer is as dié van vroeër” (Openbaring 2:19). In teenstelling met die Efesiërs het die gesalfde Christene hier nie hulle eerste liefde vir Jehovah verloor nie. Hulle geloof is sterk. Daarbenewens is hulle dade meer as dié van vroeër, en soos die drie voorgaande gemeentes volhard die Christene in Tiatira. Hoe kenmerkend is dit tog van die feitlik 100 000 gemeentes van Jehovah se Getuies wat vandag regoor die aarde bestaan! Liefde vir Jehovah is opvallend, terwyl ’n gees van ywer in die bediening oral in die organisasie aangetref word, wat jonk en oud aanspoor. Al hoe meer span hulle in as pioniers en gebruik sodoende die oorblywende tyd op verstandige wyse om die wonderlike hoop van God se inkomende Koninkryk te verkondig!—Matteus 24:14; Markus 13:10.

5 Talle getroues, lede van die gesalfde oorblyfsel sowel as van die groot menigte, lê al dekades lank voorbeeldige volharding in God se diens aan die dag terwyl die wêreld om hulle heen al hoe dieper in ’n wanhopige duisternis verval. Maar laat ons goeie moed hou! Openbaring bevestig die getuienis van God se vroeëre profete. “Die groot dag van Jehovah is naby. Dit is naby en kom baie vinnig nader.”—Sefanja 1:14; Joël 2:1; Habakuk 2:3; Openbaring 7:9; 22:12, 13.

“Daardie vrou Isebel”

 6. (a) Watter probleem wat onmiddellike aandag verg, merk Jesus op in die gemeente in Tiatira, ondanks hulle prysenswaardige eienskappe? (b) Wie was Isebel, en kon sy met reg daarop aanspraak maak dat sy ’n profetes is?

6 Jesus se vurige oë het verder deurgedring. Hy merk iets op wat onmiddellike aandag verg. “Nietemin”, sê hy vir die Christene in Tiatira, “het ek dít teen jou, dat jy daardie vrou Isebel duld, wat haarself ’n profetes noem, en sy leer en mislei my slawe om hoerery te pleeg en om afgodsoffers te eet” (Openbaring 2:20). In die tiende eeu v.G.J. het koningin Isebel, die Baälaanbiddende vrou van koning Agab van Israel, berug geword weens haar moorddadige, owerspelige, dominerende optrede. Jehu, as Jehovah se gesalfde, het haar laat teregstel (1 Konings 16:31; 18:4; 21:1-16; 2 Konings 9:1-7, 22, 30, 33). Die afgodiese Isebel kon geensins daarop aanspraak maak dat sy ’n profetes is nie. Sy was nie soos Mirjam en Debora, wat as getroue profetesse in Israel gedien het nie (Eksodus 15:20, 21; Rigters 4:4; 5:1-31). En Jehovah se gees het haar nie beweeg om te profeteer soos dit die bejaarde Anna en die vier dogters van Filippus, die evangeliedienaar, beweeg het nie.—Lukas 2:36-38; Handelinge 21:9.

 7. (a) Na watter invloed verwys Jesus blykbaar wanneer hy “daardie vrou Isebel” meld? (b) Hoe het sommige vroue wat met die gemeente omgegaan het, moontlik hulle eiesinnige handelswyse geregverdig?

7 Dit is dus duidelik dat “daardie vrou Isebel”, wat beweer dat sy ’n profetes in Tiatira is, ’n bedriegster is. Sy word nie deur God se gees gesteun nie. Wie is sy? Sy is waarskynlik ’n vrou of ’n groep vroue wat ’n skaamtelose, verderflike invloed in die gemeente is. Sommige vroue wat met die gemeente omgegaan het, het gemeentelede moontlik by onsedelikheid betrek, terwyl hulle hulle eiesinnige handelswyse skaamteloos verdedig het deur tekste verkeerd toe te pas. Hulle verkondig inderdaad valse profesieë! Hulle het ander beïnvloed om hulle na te volg in hulle “hoerery, onreinheid, geslagsdrif, skadelike begeertes en hebsug, wat afgodediens is” (Kolossense 3:5). Hulle wou hê dat lede van die gemeente ’n onsedelike, selfsugtige lewenswyse moet volg, soos die soort wat nou in die meeste van die Christendom se godsdienste toegelaat, of deur die vingers gesien, word.

 8. (a) Wat is Jesus se uitspraak oor die “Isebel” in Tiatira? (b) Hoe is ongepaste vroulike invloed in ons tyd ondervind?

8 Jesus sê verder vir die ouer manne in Tiatira: “En ek het haar tyd gegee om berou te toon, maar sy wil nie berou toon oor haar hoerery nie. Kyk! Ek staan op die punt om haar op ’n siekbed te werp, en dié wat met haar egbreuk pleeg, in groot verdrukking, tensy hulle berou toon oor haar dade” (Openbaring 2:21, 22). Net soos die oorspronklike Isebel blykbaar oor Agab baasgespeel en God se skerpregter, Jehu, getart het, probeer hierdie vroulike invloed moontlik om hulle mans en die ouer manne te manipuleer. Dit wil voorkom of die ouer manne in Tiatira hierdie onbeskeie Isebel-invloed duld. Jesus rig hier ’n sterk waarskuwing aan hulle, sowel as aan die hedendaagse, wêreldwye gemeente van Jehovah se volk. In ons tyd het ’n paar sulke eiesinnige vroue hulle mans beweeg om afvallig te word en het hulle selfs hofsake teen Jehovah se getroue knegte aanhangig gemaak.—Vergelyk Judas 5-8.

 9. (a) Waarom stel Jesus se woorde oor Isebel nie alle vroue in die gemeente in ’n slegte lig nie? (b) Slegs wanneer ontstaan ’n Isebel-invloed?

9 Dit stel getroue vroue in die Christengemeente geensins in ’n slegte lig nie. Deesdae word ’n groot deel van die getuieniswerk deur getroue susters uitgevoer; deur middel van die tuisbybelstudies wat hulle hou, bring hulle ’n menigte nuwelinge in die gemeente in. God self seën hierdie reëling, soos blyk uit Psalm 68:11: “Jehovah laat die woord hoor; die vroue wat die goeie nuus verkondig, is ’n groot leër.” Mans kan ten goede beïnvloed word deur hulle vrouens se saggeaarde, respekvolle gedrag wat “in die oë van God van groot waarde is” (1 Petrus 3:1-4). Koning Lemuel het die bekwame, vlytige vrou geprys (Spreuke 31:10-31). ’n Isebel-invloed ontstaan slegs wanneer vroue onvanpas optree deur mans te verlei of deur hoofskap te betwis of te verontagsaam.—Efesiërs 5:22, 23; 1 Korintiërs 11:3.

10. (a) Waarom word oordeel aan Isebel en haar kinders voltrek? (b) In watter gevaarlike toestand verkeer dié wat kinders van Isebel word, en wat moet hulle doen?

10 Met verwysing na “daardie vrou Isebel” sê Jesus verder: “En haar kinders sal ek met dodelike plae doodmaak, sodat al die gemeentes sal weet dat dit ek is wat die niere en harte deursoek, en ek sal aan elkeen van julle gee volgens julle dade” (Openbaring 2:23). Jesus het Isebel en haar kinders tyd gegee om berou te toon, maar hulle volhard in hulle onsedelike weë, en daarom moet oordeel aan hulle voltrek word. Hier is ’n kragtige boodskap vir hedendaagse Christene. Diegene, hetsy mans of vroue, wat Isebel navolg en dus haar kinders word deur Bybelbeginsels oor hoofskap en sedelikheid te skend of deur eiesinnig te wees en teokratiese orde te verontagsaam, is geestelik gesproke gevaarlik siek. As so iemand die ouer manne in die gemeente inroep om oor hom te bid, ‘sal die gebed van geloof die een wat ongesteld is, gesond maak, en Jehovah sal hom oprig’—mits hy nederig ooreenkomstig daardie gebede handel. Maar laat niemand dink dat hy (of sy) God of Christus kan bedrieg deur onsedelike dade te probeer bedek of deur voor te gee dat hy (of sy) ywerige diens verrig nie.—Jakobus 5:14, 15.

11. Hoe word gemeentes vandag gehelp om op hulle hoede te wees teen die indringing van ongeoorloofde vroulike invloed?

11 Gelukkig is die meeste gemeentes van Jehovah se Getuies vandag op hulle hoede teen hierdie gevaar. Ouer manne waak teen neigings tot onteokratiese gesindhede en oortreding. Hulle probeer om mans sowel as vroue wat in gevaar verkeer, te help sodat hulle hulle geestelikheid kan opbou en reggehelp kan word voordat dit te laat is (Galasiërs 5:16; 6:1). Hierdie Christenopsieners keer liefdevol en ferm enige poging van vroue om klieke te vorm wat bewegings soortgelyk aan die vrouevryheidsbeweging sal bevorder. Bowendien word tydige raad van tyd tot tyd in die publikasies van Jehovah se Getuies gegee.a

12. Hoe toon die Johannes-klas vandag ywer soos dié van Jehu?

12 Maar wanneer growwe onsedelikheid plaasgevind het, en veral as dit ’n gewoonte word, moet onberouvolle sondaars uitgesit word. Ons onthou Jehu se ywer om ontslae te raak van alle spore van Isebel se invloed in Israel. Die Johannes-klas tree vandag ook streng op, waardeur hulle ’n voorbeeld vir hulle “Jonadab”-metgeselle stel en toon dat hulle hemelsbreed van die Christendom se permissiewe geestelikes verskil.—2 Konings 9:22, 30-37; 10:12-17.

13. Wat sal gebeur met dié wat voor verkeerde vroulike invloed swig?

13 As Jehovah se Boodskapper en Regter tree die Seun van God korrek op deur die moderne Isebel te identifiseer en haar op ’n siekbed te werp, want haar geestelike siekte is inderdaad chronies (Maleagi 3:1, 5). Dié wat voor hierdie verkeerde vroulike invloed geswig het, sal ook groot verdrukking ly—die smart van uitsetting, afsnyding van die Christengemeente asof hulle dood is. Tensy hulle berou toon, hulle bekeer en weer in die gemeente aanvaar word, staar hulle ook fisiese dood deur “dodelike plae” in die gesig—op die laatste in die groot verdrukking. Intussen is herstel moontlik as hulle ten volle berou toon oor hulle verkeerde dade.—Matteus 24:21, 22; 2 Korintiërs 7:10.

14. (a) Hoe gebruik Jesus die ouer manne om sekere probleme, soos enige Isebel-invloed, op te los? (b) Hoe moet die gemeente die ouer manne ondersteun wat sulke probleme hanteer?

14 “Al die gemeentes” moet weet dat Jesus “die niere”, die diepste emosies, en die ‘hart’, die innerlike persoon, met inbegrip van die onderliggende beweegredes, ondersoek. Met dié doel gebruik hy betroubare sterre, of ouer manne, om sekere probleme, soos enige Isebel-invloed wat verskyn, op te los (Openbaring 1:20). Nadat hierdie ouer manne so ’n saak ten volle ondersoek en uitspraak gelewer het, betaam dit individue nie om op die hoekoms en waaroms van die optrede in te gaan nie. Almal moet die ouer manne se beslissing oor sake nederig aanvaar en aanhou om hierdie gemeentelike sterre te ondersteun. Lojaliteit teenoor Jehovah en sy organisatoriese reëlings sal beloon word (Psalm 37:27-29; Hebreërs 13:7, 17). Mag jý ’n seën ontvang wanneer Jesus aan elkeen gee volgens sy dade.—Galasiërs 5:19-24; 6:7-9.

‘Hou vas aan wat julle het’

15. (a) Wat het Jesus gesê vir dié wat nie deur Isebel verderf is nie? (b) Wat toon dat nie almal wat in 1918 beweer het dat hulle Christene is, deur die afvallige Christendom verderf is nie?

15 Jesus se volgende woorde bring vertroosting: “Ek sê egter vir die res van julle wat in Tiatira is, almal wat nie hierdie leer het nie, juis dié wat nie die ‘diep dinge van Satan’, soos hulle sê, leer ken het nie: Ek lê geen ander las op julle nie. Hou nietemin vas aan wat julle het totdat ek kom” (Openbaring 2:24, 25). Daar is getroue gemeentelede in Tiatira wat nie deur Isebel beïnvloed is nie. So ook het nie alle verklaarde Christene, van 40 jaar voor 1918 af en sedertdien, die onsedelike, verdorwe weë wat in die Christendom so algemeen is, geduld nie. Die groepie Bybelstudente, wat nou as Jehovah se Getuies bekend staan, wat kerklidmate probeer help het om te besef dat baie van die Christendom se leerstellings ’n onchristelike oorsprong het, het opgetree om ontslae te raak van alle Babiloniese opvattings en gebruike wat van die afvallige Christendom ontvang is. Dit sluit die permissiewe leer van “daardie vrou Isebel” in.

16. Watter dinge moet vermy word, al het Jesus en die eerste-eeuse Christelike bestuursliggaam geen verdere las bygevoeg nie?

16 Die Johannes-klas spoor vandag ook hulle metgeselle, die groot menigte, aan om te waak teen onsedelike invloede, soos dié in die verdorwe vermaaklikheidswêreld. ’n Mens hoef nie na verdorwenheid te kyk of dit te ondervind omdat jy nuuskierig is of wil leer wat om te vermy nie. Die verstandige weg is om ver weg te bly van die “diep dinge van Satan”. Soos Jesus sê: “Ek lê geen ander las op julle nie.” Dit herinner ons aan die bevel van die Christelike bestuursliggaam van die eerste eeu: “Die heilige gees en ons het dit goedgedink om geen verdere las vir julle by te voeg nie, behalwe hierdie noodsaaklike dinge: om julle voortdurend te onthou van afgodsoffers en van bloed en van wat verwurg is en van hoerery. As julle julle sorgvuldig van hierdie dinge bewaar, sal julle voorspoedig wees” (Handelinge 15:28, 29). Vermy valse godsdiens, die misbruik van bloed (soos in bloedoortappings) en onsedelikheid om geestelik voorspoedig te wees! En jou fisiese gesondheid sal waarskynlik ook beskerm word.

17. (a) Hoe versoek Satan mense vandag met “diep dinge”? (b) Hoe moet ons die “diep dinge” van Satan se gesofistikeerde wêreld beskou?

17 Satan het vandag ander “diep dinge”, soos ingewikkelde bespiegelings en filosofieë wat die intellek streel. Benewens permissiewe, onsedelike redenasies sluit hierdie dinge spiritisme en die evolusieteorie in. Hoe beskou die alwyse Skepper hierdie “diep dinge”? Die apostel Paulus haal hom soos volg aan: “Ek sal die wysheid van die wyse mense vernietig.” In teenstelling hiermee is “die diep dinge van God” eenvoudig, duidelik en verblydend. Verstandige Christene vermy die “diep dinge” van Satan se gesofistikeerde wêreld. Onthou, “die wêreld gaan verby en so ook sy begeerte, maar hy wat die wil van God doen, bly vir ewig”.—1 Korintiërs 1:19, Ou Afrikaanse Bybelvertaling; 2:10; 1 Johannes 2:17.

18. Watter seëninge het Jesus aan gesalfde Christene beloof wat tot die einde toe getrou bly, en watter voorreg sal hierdie verresenes by Armageddon hê?

18 Jesus rig nou verblydende woorde aan daardie Christene in Tiatira. Dit moedig ook vandag gesalfde Christene aan: “En aan hom wat oorwin en my dade tot die einde toe onderhou, sal ek gesag oor die nasies gee, en hy sal met ’n ysterstaf as herder teenoor die mense optree, sodat hulle soos kleivoorwerpe verbrysel sal word, net soos ek van my Vader ontvang het” (Openbaring 2:26, 27). Dit is inderdaad ’n wonderlike voorreg! Hierdie gesag wat gesalfde oorwinnaars by hulle opstanding ontvang, is dat hulle by Armageddon saam met Jesus die “ysterstaf” van vernietiging teen die opstandige nasies sal gebruik. Op sy beste sal die kernvuurkrag van daardie nasies soos ’n nat klapper sis wanneer Christus sy vyande soos kleivoorwerpe verbrysel.—Psalm 2:8, 9; Openbaring 16:14, 16; 19:11-13, 15.

19. (a) Wie is “die môrester”, en hoe sal hy gegee word aan dié wat oorwin? (b) Watter aanmoediging ontvang die groot menigte?

19 Jesus voeg by: “En ek sal hom die môrester gee” (Openbaring 2:28). Jesus verduidelik self later wat hierdie ‘ster’ is deur te sê: “Ek is die wortel en die nakomeling van Dawid, en die helder môrester” (Openbaring 22:16). Ja, dit is Jesus wat die profesie vervul wat Jehovah die onwillige Bileam gedwing het om uit te spreek: “’n Ster sal beslis uit Jakob te voorskyn tree, en ’n septer sal inderdaad uit Israel opkom” (Numeri 24:17). Hoe sal Jesus “die môrester” gee aan dié wat oorwin? Blykbaar deur homself aan hulle te gee, deur hulle in die hegste, intiemste verhouding met hom te bring (Johannes 14:2, 3). Beslis ’n kragtige aansporing om te volhard! Dit is ook vir die groot menigte aanmoedigend om te weet dat “die helder môrester” binnekort sy Koninkryksgesag gaan uitoefen om die Paradys hier op die aarde te herstel!

Handhaaf onkreukbaarheid

20. Watter verwikkelinge in die Christendom laat ons dink aan party van die swakhede in die gemeente in Tiatira?

20 Hierdie boodskap moes die Christene in Tiatira baie aangemoedig het. Dink net—die verheerlikte Seun van God in die hemel het persoonlik met die Christene in Tiatira oor party van hulle probleme gepraat! Ten minste party in die gemeente moes tog sekerlik op hierdie liefdevolle, herderlike leiding gereageer het. Hierdie boodskap, die langste van die sewe, help ons ook vandag om die ware Christengemeente te identifiseer. Toe Jesus in 1918 na Jehovah se tempel gekom het om te oordeel, was verreweg die meeste organisasies wat beweer het dat hulle Christelik is, met afgodediens en geestelike onsedelikheid besoedel (Jakobus 4:4). Party het hulle opvattings gebaseer op die leerstellings van wilskragtige vroue van die 19de eeu, soos Ellen White van die Sewendedag-Adventiste en Mary Baker Eddy van die Christian Scientists, en deesdae is daar baie vroue op die preekstoel. (Vergelyk 1 Timoteus 2:11, 12.) Onder die verskillende vorme van Katolisisme word Maria dikwels meer as God en Christus vereer. Jesus het haar nie so vereer nie (Johannes 2:4; 19:26). Kan organisasies wat sulke ongeoorloofde vroulike invloed toelaat, werklik as Christelik aanvaar word?

21. Watter lesse bevat Jesus se boodskap aan Tiatira vir individue?

21 Dit sal verstandig wees van individuele Christene, hetsy van die Johannes-klas of van die ander skape, om hierdie boodskap in gedagte te hou (Johannes 10:16). Party vind dit dalk aanloklik om ’n maklike weg te volg, soos daardie dissipels van die Isebel in Tiatira gedoen het. Daar is ook die versoeking om ’n kompromis aan te gaan. Vandag moet kwessies soos die eet van bloedprodukte of die aanvaarding van bloedoortappings die hoof gebied word. Party voel dalk dat ywer in die velddiens of die feit dat hulle toesprake hou, hulle die reg gee om op ander gebiede minder streng te wees, soos om na gewelddadige en onsedelike rolprente en video’s te kyk of te veel alkohol te gebruik. Jesus se waarskuwing aan die Christene in Tiatira sê vir ons dat ons ons nie sulke vryhede moet veroorloof nie. Jehovah wil hê dat ons rein en heelhartig moet wees, nie verdeeld soos baie Christene in Tiatira was nie.

22. Hoe beklemtoon Jesus die belangrikheid van ’n horende oor?

22 Jesus sê ten slotte: “Laat die een wat ’n oor het, hoor wat die gees vir die gemeentes sê” (Openbaring 2:29). Hier herhaal Jesus hierdie besielende refrein die vierde keer, en dit sal al drie boodskappe afsluit wat nog moet kom. Het jy so ’n ontvanklike oor? Hou dan aan om aandagtig te luister terwyl God, deur sy gees, voortgaan om deur sy kanaal raad te voorsien.

[Voetnoot]

a Sien byvoorbeeld die artikel “Getroue Christenvroue—kosbare aanbidders van God” in Die Wagtoring van 1 November 2003.

[Prente op bladsy 51]

Vandag word ’n groot deel van die getuieniswerk deur getroue susters uitgevoer, terwyl hulle teokratiese gesag beskeie ondersteun

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel