Hoofstuk 11
Is jou naam in die boek van die lewe?
SARDIS
1. Wat is die geestelike toestand van die gemeente in Sardis, en hoe begin Jesus sy boodskap?
SOWAT 48 kilometer suid van hedendaagse Akhisar (Tiatira) is die ligging van die volgende gemeente wat ’n boodskap van die verheerlikte Jesus ontvang: Sardis. In die sesde eeu voor ons Gewone Jaartelling was hierdie stad die trotse hoofstad van die eertydse koninkryk Lidië en die setel van die skatryk koning Kroisos. Teen Johannes se dag maak dit moeilike tye deur, en die vroeëre glorie onder Kroisos is bloot geskiedenis. Die Christengemeente daar het eweneens geestelik verarm. Vir die eerste keer begin Jesus nie sy boodskap met lof nie. Hy sê eerder: “En skryf aan die engel van die gemeente in Sardis: Hierdie dinge sê hy wat die sewe geeste van God en die sewe sterre het: ‘Ek ken jou dade, dat jy die naam het dat jy lewend is, maar jy is dood.’”—Openbaring 3:1.
2. (a) Wat beteken die feit dat Jesus “die sewe geeste” het, vir die Christene in Sardis? (b) Watter reputasie het die gemeente in Sardis gehad, maar wat was die ware toedrag van sake?
2 Waarom identifiseer Jesus homself as die een “wat die sewe geeste . . . het”? Omdat hierdie geeste Jehovah se heilige gees afbeeld wat in sy volheid vloei. Later beskryf Johannes hulle ook as “sewe oë”, ’n aanduiding van die deurdringende gesigsvermoë wat God se heilige gees aan Jesus verleen (Openbaring 5:6). Hy kan derhalwe enige situasie onthul en hanteer (Matteus 10:26; 1 Korintiërs 4:5). Die gemeente in Sardis het die reputasie dat dit lewend, bedrywig, is. Maar Jesus kan sien dat dit geestelik dood is. Klaarblyklik het die meeste gemeentelede in ’n toestand van onverskilligheid verval wat soortgelyk is aan dié waarin hulle verkeer het voordat hulle Christene geword het.—Vergelyk Efesiërs 2:1-3; Hebreërs 5:11-14.
3. (a) Waarom moet “die engel van die gemeente in Sardis” veral let op die feit dat Jesus “die sewe sterre” het? (b) Watter reguit raad gee Jesus die gemeente in Sardis?
3 Jesus herinner ook “die engel van die gemeente in Sardis” daaraan dat Hy die een is wat “die sewe sterre” het. Hy hou daardie gemeentelike ouer manne in sy regterhand en het die gesag om hulle in hulle herderswerk te rig. Hulle moet hulle harte daarop rig om ‘die voorkoms van die skape goed te ken’ (Spreuke 27:23). Hulle moet derhalwe sorg dat hulle aandagtig na Jesus se volgende woorde luister: “Word waaksaam, en versterk die oorblywende dinge wat op die punt was om te sterf, want ek het nie gevind dat jou dade ten volle voor my God verrig is nie. Onthou dan hoe jy ontvang en hoe jy gehoor het, en hou aan om dit te bewaar, en toon berou. Waarlik, tensy jy wakker word, sal ek soos ’n dief kom, en jy sal glad nie weet in watter uur ek op jou sal afkom nie.”—Openbaring 3:2, 3.
4. Hoe sou Petrus se woorde die gemeente in Sardis help om ‘die oorblywende dinge te versterk’?
4 Die ouer manne in Sardis moet terugdink aan hulle aanvanklike vreugde toe hulle die waarheid geleer het en aan die seëninge wat hulle destyds ontvang het. Maar nou is hulle dood wat geestelike bedrywigheid betref. Hulle gemeentelike lamp flikker weens ’n gebrek aan werke van geloof. Jare tevore het die apostel Petrus aan die gemeentes in Asië (waarskynlik ook aan Sardis) geskryf om waardering op te bou vir die glorieryke goeie nuus wat Christene aangeneem het en wat verkondig is “met heilige gees wat uit die hemel gestuur is”—soos afgebeeld deur die sewe geeste van Johannes se visioen. Petrus het daardie Christene in Asië ook daaraan herinner dat hulle behoort tot ‘’n uitverkore ras, ’n koninklike priesterdom, ’n heilige nasie, ’n volk vir spesiale besit, sodat hulle die voortreflikhede alom bekend sou maak van die een wat hulle uit die duisternis tot in sy wonderbare lig geroep het’ (1 Petrus 1:12, 25; 2:9). Bepeinsing oor sulke geestelike waarhede sal die gemeente in Sardis help om berou te toon en ‘die oorblywende dinge te versterk’.—Vergelyk 2 Petrus 3:9.
5. (a) Wat het met die Christene in Sardis se waardering gebeur? (b) Wat sal gebeur as die Christene in Sardis nie aan Jesus se raad gehoor gee nie?
5 Op die oomblik is hulle waardering en liefde vir die waarheid soos ’n vuur wat byna uitgebrand het. Net ’n paar kole gloei nog. Jesus spoor hulle aan om die vonk aan te blaas, die vuur op te stook, berou te toon oor die sondes wat hulle weens hulle nalatigheid gedoen het en om weer eens ’n geestelik lewende gemeente te word. (Vergelyk 2 Timoteus 1:6, 7.) Anders sal die gemeente in Sardis onvoorbereid wees wanneer Jesus onverwags—“soos ’n dief”—kom om oordeel te voltrek.—Matteus 24:43, 44.
Hy kom “soos ’n dief”
6. Hoe het Jesus in 1918 “soos ’n dief” gekom, en watter situasie het hy onder sy verklaarde volgelinge gevind?
6 Jesus se waarskuwing dat hy “soos ’n dief” sou kom, geld nog steeds in hedendaagse tye. Dit was in die besonder van toepassing op Christene wat tot in die dag van die Here behoue gebly het. Kort ná 1914 het Maleagi se profesie in vervulling gegaan: “‘Skielik sal die ware Heer, na wie julle soek, na Sy tempel kom, en die boodskapper van die verbond, in wie julle behae het. Kyk! Hy sal beslis kom’, het Jehovah van die leërs gesê” (Maleagi 3:1; Openbaring 1:10). Jesus het as “boodskapper van die verbond” gekom om dié wat beweer het dat hulle sy volgelinge is, te inspekteer en te oordeel (1 Petrus 4:17). Op daardie tydstip, in 1918, was die Christendom verwikkel in die vergieting van bloed in die Eerste Wêreldoorlog en was sy, geestelik gesproke, heeltemal dood. Selfs ware Christene, wat voor die oorlog so ywerig getuig het, het ’n tyd van geestelike lomerigheid deurgemaak. Party van hulle vooraanstaande ouer manne is in die gevangenis gegooi, en die predikingswerk het byna tot stilstand gekom. Toe Jehovah se gees hierdie Christene die volgende jaar gewek het, was nie almal gereed nie. Party was, soos die dwase maagde van Jesus se gelykenis, nie geestelik toegerus vir die voorreg om Jehovah te dien nie. Maar gelukkig was daar baie wat, soos die verstandige maagde, ag geslaan het op Jesus se waarskuwing: “Hou dus aan waak, want julle weet nie die dag en ook nie die uur nie.”—Matteus 25:1-13.
7. Waarom moet Christene vandag wakker bly?
7 Die nodigheid dat ’n Christen waaksaam moet wees, het nie vroeg in die dag van die Here geëindig nie. In sy groot profesie oor “die teken . . . wanneer al hierdie dinge bestem is om tot ’n voleinding te kom”, het Jesus ’n sterk waarskuwing gegee: “Van daardie dag of die uur weet niemand nie . . . Bly op die uitkyk, bly wakker, want julle weet nie wanneer dit die vasgestelde tyd is nie. Maar wat ek vir julle sê, sê ek vir almal: Hou aan waak” (Markus 13:4, 32, 33, 37). Ja, tot op hierdie oomblik moet ons almal, hetsy ons van die gesalfdes of van die groot menigte is, waaksaam bly en stry dat ons nie geestelik aan die slaap raak nie. Mag ons wawyd wakker bevind word wanneer Jehovah se dag “soos ’n dief in die nag” kom, sodat ons ’n gunstige oordeel kan ontvang.—1 Tessalonisense 5:2, 3; Lukas 21:34-36; Openbaring 7:9.
8. Hoe spoor die Johannes-klas God se volk vandag aan om geestelik lewend te bly?
8 Die Johannes-klas is vandag self daarvan bewus dat dit nodig is om God se volk aan te spoor om geestelik lewend te bly. Met dié doel word spesiale byeenkomste etlike kere elke jaar wêreldwyd gereël. In ’n onlangse jaar was die gesamentlike bywoning by 2 981 streekbyeenkomste 10 953 744, en 122 701 nuwe gelowiges is gedoop. Die Johannes-klas gebruik die tydskrif Die Wagtoring al meer as honderd jaar lank om Jehovah se naam en voorneme bekend te maak. In antwoord op die bittere vervolging gedurende die twee wêreldoorloë het Die Wagtoring Jehovah se Getuies tot hernieude ywer gewek deur artikels te publiseer soos “Geseënd is die onverskrokkenes” (1919), “’n Oproep tot aksie” (1925) en “Verydeling van vervolging” (1942).
9. (a) Wat behoort alle Christene hulle af te vra? (b) Watter aansporing het Die Wagtoring gegee?
9 Soos in Sardis is volgehoue selfondersoek lewensbelangrik vir alle Christene in die hedendaagse gemeentes. Ons almal moet aanhou om ons af te vra: Is ons ‘dade ten volle verrig’ voor ons God? Kweek ons persoonlik, sonder om ander te oordeel, ’n selfopofferende gees aan en streef ons daarna om heelhartige diens aan God te verrig? Die Wagtoring het in hierdie verband aansporing gegee deur ’n bespreking van onderwerpe soos “Stel julleself voortdurend op die proef” en “Ons lewe nie langer vir onsself nie”.a Laat ons ons diepste wese aan die hand van sulke skriftuurlike hulp ondersoek, terwyl ons probeer om nederig en biddend in onkreukbaarheid voor Jehovah te wandel.—Psalm 26:1-3; 139:23, 24.
“’n Paar name”
10. Watter aanmoedigende aspek het Jesus in die gemeente in Sardis opgemerk, en watter uitwerking moet dit op ons hê?
10 Jesus se volgende woorde aan die gemeente in Sardis is baie aanmoedigend. Hy sê: “Jy het nietemin ’n paar name in Sardis wat nie hulle boklere verontreinig het nie, en hulle sal in wittes saam met my wandel, omdat hulle dit waardig is. Hy wat oorwin, sal so geklee word in wit boklere; en ek sal sy naam hoegenaamd nie uit die boek van die lewe uitwis nie, maar ek sal sy naam voor my Vader en voor sy engele erken” (Openbaring 3:4, 5). Wek hierdie woorde ons nie op en versterk dit nie ons vaste voorneme om getrou te wees nie? Nalatigheid aan die kant van ’n liggaam van ouer manne kan veroorsaak dat ’n gemeente in sy geheel geestelik vas aan die slaap raak. Maar sommige individue in die gemeente probeer dalk moedig om hulle Christelike identiteit rein en vlekkeloos te bewaar en behou sodoende ’n goeie naam by Jehovah.—Spreuke 22:1.
11, 12. (a) Hoe moes party, selfs gedurende die groot afvalligheid, soos daardie getroue “paar name” in Sardis gewees het? (b) Watter verligting het koringagtige Christene gedurende die dag van die Here ontvang?
11 Ja, daardie “boklere” verwys na ’n persoon se regverdige identiteit as ’n Christen. (Vergelyk Openbaring 16:15; 19:8.) Dit moet vir Jesus verblydend wees om te sien dat “’n paar name”, ’n paar gesalfde Christene in Sardis, dit nog steeds regkry om hierdie identiteit te behou, ondanks die onverskilligheid van die oorgrote meerderheid. Daar moes ook, toe verklaarde Christene gedurende die lang eeue van die groot afvalligheid geabsorbeer is deur Babilon die Grote, die wêreldryk van valse godsdiens, altyd ’n paar persone gewees het wat, ondanks alle teenstand, probeer het om Jehovah se wil te doen. Hulle was regverdig soos koring wat tussen ’n magdom van sektariese onkruid versteek was.—Openbaring 17:3-6; Matteus 13:24-29.
12 Jesus het beloof dat hy “al die dae tot aan die voleinding van die stelsel van dinge” met hierdie koringagtige Christene sal wees. Hy weet wie hulle is en watter goeie naam elkeen gemaak het (Matteus 28:20; Prediker 7:1). Stel jou die vreugde voor van daardie “paar” getroues wat nog aan die begin van die dag van die Here gelewe het! Hulle is uiteindelik afgeskei van die geestelik dooie Christendom en is versamel in ’n regverdige gemeente wat meer soos die gemeente in Smirna was.—Matteus 13:40-43.
13. Watter seëninge lê voor vir gesalfde Christene wat nie “hulle boklere verontreinig” nie?
13 Vir diegene in Sardis wat tot die einde toe getrou is en nie hulle Christelike identiteit besoedel nie, word ’n wonderlike hoop verwesenlik. Hulle word ná die oprigting van Jesus se Messiaanse Koninkryk in 1914 tot geeslewe opgewek en word as oorwinnaars beklee met wit boklere as simbool van hulle vlekkelose, onbesoedelde regverdigheid. Hulle sal ’n ewige beloning geniet omdat hulle die smal pad wat na die lewe lei, bewandel het.—Matteus 7:14; sien ook Openbaring 6:9-11.
Vir ewig in die boek van die lewe!
14. Wat is “die boek van die lewe”, en wie se name word daarin opgeteken?
14 Wat is “die boek van die lewe”, en wie se name sal daarin behou word? Die boek, of boekrol, van die lewe verwys na die verslag oor Jehovah se knegte wat in aanmerking kom om die ewige lewe as gawe te ontvang (Maleagi 3:16). Hier in Openbaring word spesifiek na die name van gesalfde Christene verwys. Maar die name van dié wat in aanmerking kom vir ewige lewe op die aarde, word ook daarin opgeteken. Wat meer is, name kan uit daardie boek ‘uitgewis’ word (Eksodus 32:32, 33). Nietemin ontvang die lede van die Johannes-klas wie se name tot hulle dood in die boek van die lewe bly, onsterflike lewe in die hemel (Openbaring 2:10). Dit is die name wat Jesus spesifiek voor sy Vader en voor Sy engele erken. Wat ’n wonderlike beloning tog!
15. Hoe sal lede van die groot menigte hulle name onuitwisbaar in die boek van die lewe geskryf kry?
15 Die groot menigte, wie se name ook in die boek van die lewe geskryf word, sal lewend uit die groot verdrukking kom. As hulle dwarsdeur Jesus se Duisendjarige Heerskappy en gedurende die beslissende toets wat daarop volg, geloof beoefen, sal hulle met ewige lewe in die Paradys op aarde beloon word (Daniël 12:1; Openbaring 7:9, 14; 20:15; 21:4). Hulle name sal dan onuitwisbaar in die boek van die lewe geskryf bly. Reageer jy nie, noudat jy weet wat hier deur middel van die heilige gees bekend gemaak word, geesdriftig op Jesus se herhaalde vermaning nie: “Laat die een wat ’n oor het, hoor wat die gees vir die gemeentes sê”?—Openbaring 3:6.
[Voetnoot]
a Sien Die Wagtoring, 15 Julie 2005 en 15 Maart 2005.
[Prent op bladsy 57]
Mag jou naam in die boek van die lewe bly