Hoofstuk 13
Koop goud wat deur vuur gelouter is
LAODISEA
1, 2. Wat is die ligging van die laaste van die sewe gemeentes wat ’n boodskap van die verheerlikte Jesus ontvang, en wat is ’n paar kenmerke van die stad?
LAODISEA is die laaste van die sewe gemeentes wat ’n boodskap van die verrese Jesus ontvang. En watter insiggewende, aansporende inligting dra dit tog oor!
2 Jy sal die ruïnes van Laodisea vandag naby Denizli, ongeveer 88 kilometer suidoos van Alasehir, aantref. Laodisea was in die eerste eeu ’n welvarende stad. Aangesien dit by ’n belangrike padkruising geleë was, was dit ’n sleutelsentrum vir die bankwese en die handel. Die verkoop van ’n welbekende oogsalf het sy rykdom vergroot, en die stad was ook beroemd vir sy kledingstukke van hoë gehalte wat plaaslik uit goeie swart wol vervaardig is. ’n Gebrek aan water, ’n groot probleem vir die stad, is te bowe gekom deur water uit warmbronne ’n hele ent daarvandaan in kanale af te voer. Teen die tyd dat die water die stad bereik het, was dit dus net lou.
3. Hoe begin Jesus sy boodskap aan die gemeente in Laodisea?
3 Laodisea was naby Kolosse. In sy brief aan die Kolossense meld die apostel Paulus ’n brief wat hy aan die Laodiseërs gestuur het (Kolossense 4:15, 16). Ons weet nie wat Paulus in daardie brief geskryf het nie, maar die boodskap wat Jesus nou aan die Laodiseërs stuur, toon dat hulle in ’n jammerlike geestelike toestand verval het. Soos gewoonlik noem Jesus egter eers sy eie kwalifikasies deur te sê: “En skryf aan die engel van die gemeente in Laodisea: Hierdie dinge sê die Amen, die getroue en waaragtige getuie, die begin van die skepping deur God.”—Openbaring 3:14.
4. Hoe is Jesus “die Amen”?
4 Waarom noem Jesus homself “die Amen”? Hierdie titel verleen regterlike krag aan sy boodskap. “Amen” is ’n transliterasie van ’n Hebreeuse woord wat “beslis”, “laat dit so wees”, beteken en word aan die einde van gebede gebruik om die gedagtes wat daarin uitgedruk is, te bevestig (1 Korintiërs 14:16). Jesus is “die Amen” omdat sy vlekkelose onkreukbaarheid en sy offerdood die vervulling van al Jehovah se kosbare beloftes bevestig en gewaarborg het (2 Korintiërs 1:20). Sedertdien word alle gebede gepas deur Jesus tot Jehovah gerig.—Johannes 15:16; 16:23, 24.
5. In watter sin is Jesus “die getroue en waaragtige getuie”?
5 Jesus is ook “die getroue en waaragtige getuie”. Hy word in profesieë dikwels met getrouheid, waarheid en regverdigheid verbind, want hy is volkome betroubaar as ’n kneg van Jehovah God (Psalm 45:4; Jesaja 11:4, 5; Openbaring 1:5; 19:11). Hy is die grootste Getuie vir Jehovah. Trouens, as “die begin van die skepping deur God” het Jesus van die begin af God se heerlikheid bekend gemaak (Spreuke 8:22-30). As ’n mens op die aarde het hy van die waarheid getuig (Johannes 18:36, 37; 1 Timoteus 6:13). Ná sy opstanding het hy heilige gees aan sy dissipels beloof en vir hulle gesê: “Julle sal getuies van my wees in Jerusalem sowel as in die hele Judea en Samaria en tot in die mees afgeleë deel van die aarde.” Van Pinkster 33 G.J. af het Jesus hierdie gesalfde Christene gerig om die goeie nuus “in die hele skepping wat onder die hemel is”, te verkondig (Handelinge 1:6-8; Kolossense 1:23). Jesus verdien werklik om die getroue en waaragtige getuie genoem te word. Dit sal vir die gesalfde Christene in Laodisea voordelig wees om na sy woorde te luister.
6. (a) Hoe beskryf Jesus die geestelike toestand van die gemeente in Laodisea? (b) Watter goeie voorbeeld van Jesus het die Christene in Laodisea versuim om te volg?
6 Watter boodskap het Jesus vir die Laodiseërs? Hy het geen lof vir hulle nie. Hy sê onomwonde: “Ek ken jou dade, dat jy nie koud of warm is nie. Ek wens jy was koud of anders warm. Omdat jy dan nou lou is en nie warm of koud nie, gaan ek jou uit my mond uitbraak” (Openbaring 3:15, 16). Hoe sou jy op so ’n boodskap van die Here Jesus Christus reageer? Sou jy nie wakker word en jouself ondersoek nie? Daardie Laodiseërs moes hulle beslis regruk, want hulle het geestelik traag geword en blykbaar te veel as vanselfsprekend aanvaar. (Vergelyk 2 Korintiërs 6:1.) Jesus, wie se voorbeeld hulle as Christene moes gevolg het, toon altyd ’n vurige ywer vir Jehovah en sy diens (Johannes 2:17). Bowendien het sagmoediges gevind dat hy altyd vriendelik en saggeaard is, so verkwikkend soos ’n koppie koue water op ’n snikhete dag (Matteus 11:28, 29). Maar die Christene in Laodisea is nie warm of koud nie. Soos die waters wat na hulle stad vloei, het hulle lou geword. Hulle loop gevaar om geheel en al deur Jesus verwerp, ‘uit sy mond uitgebraak’, te word! Mag ons, soos Jesus, altyd ywerig daarna streef om ander geestelik te verkwik.—Matteus 9:35-38.
“Jy sê: ‘Ek is ryk’”
7. (a) Hoe identifiseer Jesus die grondoorsaak van die probleem van die Christene in Laodisea? (b) Waarom sê Jesus dat die Christene in Laodisea “blind en naak” is?
7 Wat is in werklikheid die grondoorsaak van die Laodiseërs se probleem? Jesus se volgende woorde gee ons ’n goeie aanduiding: “Omdat jy sê: ‘Ek is ryk en het rykdom verwerf en het hoegenaamd niks nodig nie’, maar jy nie weet dat jy ellendig en bejammerenswaardig en arm en blind en naak is nie.” (Openbaring 3:17; vergelyk Lukas 12:16-21.) Hulle woon in ’n ryk stad en is vol selfvertroue weens hulle rykdom. Hulle lewenswyse is waarskynlik beïnvloed deur die stadion, teaters en gimnasiums, sodat hulle “liefhebbers van genot eerder as liefhebbers van God” geword het (2 Timoteus 3:4).a Maar die Laodiseërs, wat materieel ryk is, is geestelik arm. Hulle het min of geen ‘skatte in die hemel opgegaar’ nie (Matteus 6:19-21). Hulle het nie hulle oog eenvoudig gehou deur God se Koninkryk eerste te stel in hulle lewe nie. Hulle is in werklikheid in duisternis, blind, sonder geestelike gesigsvermoë (Matteus 6:22, 23, 33). Wat meer is, ondanks die pragtige kledingstukke wat hulle moontlik met hulle materiële rykdom gekoop het, is hulle in Jesus se oë naak. Hulle het geen geestelike kledingstukke om hulle as Christene te identifiseer nie.—Vergelyk Openbaring 16:15.
8. (a) In watter sin bestaan daar ook vandag ’n situasie soos dié in Laodisea? (b) Hoe het sommige Christene hulleself in hierdie hebsugtige wêreld bedrieg?
8 Wat ’n skokkende toestand! Maar sien ons deesdae nie dikwels ’n soortgelyke situasie nie? Wat is die grondoorsaak daarvan? Dit is ’n selfversekerde gesindheid wat spruit uit vertroue op materiële besittings en menslike hulpbronne. Party onder Jehovah se volk bedrieg hulleself, net soos die kerkgangers van die Christendom, deur te dink dat hulle God kan behaag deur net af en toe vergaderinge by te woon. Hulle is daarmee tevrede om bloot vormlike “daders van die woord” te wees (Jakobus 1:22). Ondanks herhaalde waarskuwings van die Johannes-klas sit hulle hulle hart op modieuse klere, motors en huise, asook op ’n lewe wat om vermaak en genot draai (1 Timoteus 6:9, 10; 1 Johannes 2:15-17). Dit alles laat geestelike insig vervaag (Hebreërs 5:11, 12). Pleks van lusteloos lou te wees, moet hulle weer “die vuur van die gees” aanblaas en verkwikkende gretigheid om ‘die woord te verkondig’, aan die dag lê.—1 Tessalonisense 5:19; 2 Timoteus 4:2, 5.
9. (a) Watter woorde van Jesus behoort lou Christene wakker te skud, en waarom? (b) Hoe kan die gemeente afgedwaalde “skape” help?
9 Hoe beskou Jesus lou Christene? Sy reguit woorde behoort hulle wakker te skud: “Jy [weet nie] dat jy ellendig en bejammerenswaardig en arm en blind en naak is nie.” Hulle gewete is so gevoelloos dat hulle nie eens besef in watter verskriklike toestand hulle verkeer nie. (Vergelyk Spreuke 16:2; 21:2.) Hierdie ernstige toestand in die gemeente kan nie ligtelik opgeneem word nie. Deur ’n goeie voorbeeld van ywer te stel en liefdevolle herderswerk te doen, sal ouer manne en ander wat deur hulle aangewys word, hierdie afgedwaalde “skape” dalk kan help om hulle vroeëre vreugde in heelhartige diens te herwin.—Lukas 15:3-7.
Raad oor hoe om ‘ryk te word’
10. Wat is die “goud” wat Jesus die Christene in Laodisea aansê om by hom te koop?
10 Kan daar iets omtrent die droewige situasie in Laodisea gedoen word? Ja, indien daardie Christene Jesus se raad volg: “Ek [raai] jou aan om by my goud te koop wat deur vuur gelouter is, sodat jy ryk kan word” (Openbaring 3:18a). Ware Christelike “goud”, wat deur vuur gelouter en waaruit al die onsuiwerhede verwyder is, sal hulle “ryk . . . teenoor God” maak (Lukas 12:21). Waar kan hulle sulke goud koop? Nie by die plaaslike bankiers nie, maar by Jesus! Die apostel Paulus het verduidelik wat hierdie goud is toe hy vir Timoteus gesê het om ryk Christene te beveel “om goed te doen, om ryk te wees in goeie werke, om vrygewig te wees, mededeelsaam, en vir hulleself ’n goeie fondament vir die toekoms veilig as ’n skat te bewaar”. Alleenlik deur hulle op hierdie manier in te span, kon hulle “’n stewige houvas op die werklike lewe . . . kry” (1 Timoteus 6:17-19). Die materieel welgestelde Laodiseërs moes op Paulus se raad ag geslaan en sodoende geestelik ryk geword het.—Sien ook Spreuke 3:13-18.
11. Watter hedendaagse voorbeelde het ons van mense wat “goud . . . koop wat deur vuur gelouter is”?
11 Is daar hedendaagse voorbeelde van mense wat “goud . . . koop wat deur vuur gelouter is”? Ja, daar is! Selfs terwyl die dag van die Here nader gekom het, het ’n groepie Bybelstudente bewus geword van die valsheid van die Christendom se baie Babiloniese leringe, soos die Drie-eenheid, onsterflikheid van die siel, foltering in die helse vuur, kinderdoop en aanbidding van beelde (insluitende die kruis en Mariabeelde). Hierdie Christene, wat voorstanders van Bybelwaarheid was, het verkondig dat Jehovah se Koninkryk die mensdom se enigste hoop is en dat Jesus se losprysoffer die grondslag vir redding is. Byna 40 jaar voor die tyd het hulle gesê dat 1914 die jaar is wanneer die tye van die nasies volgens Bybelprofesie sou eindig, wat met skrikwekkende gebeurtenisse op die aarde sou gepaardgaan.—Openbaring 1:10.
12. Wie was een van dié wat die leiding geneem het onder ontwakende Christene, en hoe het hy ’n uitmuntende voorbeeld gestel as iemand wat skatte in die hemel opgegaar het?
12 Charles Taze Russell, wat in die vroeë 1870’s ’n Bybelstudieklas in Allegheny (nou deel van Pittsburgh), Pennsilvanië, VSA, gestig het, het die leiding geneem onder hierdie ontwakende Christene. Toe Russell na die waarheid begin soek het, was hy in vennootskap met sy vader en op pad om ’n miljoenêr te word. Maar hy het sy sakebelange in ’n kettingwinkel verkoop en sy fortuin daaraan bestee om die verkondiging van God se Koninkryk oor die hele aarde te help finansier. In 1884 het Russell die eerste president geword van die korporasie wat nou bekend staan as die Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania. Hy is in 1916 naby Pampa, Texas, op ’n trein op pad na New York oorlede, uitgeput deur sy laaste predikingsreis deur die westelike Verenigde State. Hy het ’n uitmuntende voorbeeld gestel as iemand wat geestelike skatte in die hemel opgegaar het, ’n voorbeeld wat vandag deur honderdduisende selfopofferende pionierbedienaars gevolg word.—Hebreërs 13:7; Lukas 12:33, 34; vergelyk 1 Korintiërs 9:16; 11:1.
Smeer geestelike oogsalf aan
13. (a) Hoe sal geestelike oogsalf die toestand van die Laodiseërs verbeter? (b) Watter soort kledingstukke beveel Jesus aan, en waarom?
13 Jesus vermaan daardie Laodiseërs ook streng: “Koop . . . wit boklere, sodat jy geklee kan word en die skande van jou naaktheid nie openbaar word nie, en oogsalf om in jou oë te smeer, sodat jy kan sien” (Openbaring 3:18b). Hulle moet genesing vir hulle geestelike blindheid soek deur genesende oogsalf te koop, nie dié van die plaaslike genesers nie, maar die soort wat net Jesus kan verskaf. Dít sal hulle help om geestelike onderskeidingsvermoë te verkry sodat hulle “die pad van die regverdiges” kan bewandel terwyl hulle hulle stralende oë daarop gevestig hou om God se wil te doen (Spreuke 4:18, 25-27). Sodoende kan hulle hulle klee, nie met die duur kledingstukke van swart wol wat plaaslik in Laodisea gemaak word nie, maar met pragtige “wit boklere” wat hulle bevoorregte identiteit as navolgers van Jesus Christus openbaar.—Vergelyk 1 Timoteus 2:9, 10; 1 Petrus 3:3-5.
14. (a) Watter geestelike oogsalf is sedert 1879 beskikbaar? (b) Wat is die eintlike bron van Jehovah se Getuies se geldelike steun? (c) Hoe verskil Jehovah se Getuies van ander wat die gebruik van bydraes betref?
14 Is geestelike oogsalf in hedendaagse tye beskikbaar? Dit is beslis! In 1879 het pastor Russell, soos hy met toegeneentheid genoem is, die tydskrif wat vandag wêreldwyd bekend staan as Die Wagtoring—Kondig Jehovah se Koninkryk aan, ter verdediging van die waarheid begin publiseer. In die tweede nommer daarvan het hy gesê: “Ons glo dat JEHOVAH die ondersteuner van [hierdie tydskrif] is, en terwyl dit die geval is, sal dit nooit bedel of mense om ondersteuning smeek nie. Wanneer Hy wat sê: ‘Al die silwer en die goud van die berge is myne’, nie die nodige geld voorsien nie, sal ons verstaan dat dit tyd is om die publikasie te staak.” Sommige televisie-evangeliste het ontsaglike fortuine vergaar en in skaamtelose (en soms onsedelike) weelde gelewe (Openbaring 18:3). Daarenteen het die Bybelstudente, wat vandag as Jehovah se Getuies bekend staan, al die vrywillige bydraes wat hulle ontvang het, gebruik om die wêreldwye verkondiging van Jehovah se inkomende Koninkryk te organiseer en te bevorder. Die Johannes-klas rig vandag nog die publikasie van Die Wagtoring en Ontwaak!, tydskrifte wat in 2006 ’n gesamentlike oplaag van meer as 59 miljoen gehad het. Die Wagtoring is in ongeveer 150 tale beskikbaar. Dit is die amptelike tydskrif van ’n gemeente van meer as sesmiljoen Christene wat sulke geestelike oogsalf gebruik het om hulle oë oop te maak vir valse godsdiens en vir die dringendheid daarvan om die goeie nuus in al die nasies te verkondig.—Markus 13:10.
Vind baat by
teregwysing en dissipline
15. Waarom gee Jesus die Christene in Laodisea reguit raad, en hoe moet die gemeente daarop reageer?
15 Laat ons nou na die Laodiseërs terugkeer. Hoe sal hulle op Jesus se streng raad reageer? Moet hulle mismoedig raak en dink dat Jesus hulle nie meer as sy volgelinge wil hê nie? Nee, dit is glad nie die geval nie. Die boodskap sê verder: “Almal vir wie ek geneentheid het, wys ek tereg en dissiplineer ek. Wees dus ywerig en toon berou” (Openbaring 3:19). Soos in die geval van Jehovah se dissipline, is Jesus se dissipline ’n blyk van sy liefde (Hebreërs 12:4-7). Die gemeente in Laodisea moet by sy liefderyke besorgdheid baat vind en sy raad toepas. Hulle moet berou toon en erken dat hulle louheid op sonde neerkom (Hebreërs 3:12, 13; Jakobus 4:17). Laat die ouer manne hulle materialistiese weë agterlaat en die gawe wat hulle van God ontvang het, ‘soos ’n vuur aanwakker’. Laat almal in die gemeente, danksy die werking van die geestelike oogsalf, verkwikking vind, soos dié wat ’n verkoelende drankie koue fonteinwater bied.—2 Timoteus 1:6; Spreuke 3:5-8; Lukas 21:34.
16. (a) Hoe word Jesus se liefde en geneentheid vandag getoon? (b) Hoe moet ons reageer as ons reguit raad ontvang?
16 Wat van ons vandag? Jesus het nog steeds ‘dié lief wat syne is en in die wêreld is’. Dit sal die geval wees “al die dae tot aan die voleinding van die stelsel van dinge” (Johannes 13:1; Matteus 28:20). Sy liefde en geneentheid word deur middel van die hedendaagse Johannes-klas en die sterre, of ouer manne, in die Christengemeente getoon (Openbaring 1:20). In hierdie uiters beproewende tye wil die ouer manne ons almal, oud en jonk, baie graag help om binne die grense van die teokratiese kraal te bly en die onafhanklikheid, die materialistiese hebsug en die onsedelike smerigheid van die wêreld te weerstaan. As ons soms reguit raad of streng dissipline ontvang, moet ons onthou dat “die teregwysings van dissipline . . . die weg van die lewe” is (Spreuke 6:23). Ons is almal onvolmaak en moet ywerig wees om berou te toon wanneer dit nodig is sodat ons reggehelp kan word en in God se liefde kan bly.—2 Korintiërs 13:11.
17. Hoe kan rykdom vir ons geestelik gevaarlik wees?
17 Ons moenie toelaat dat materialisme, rykdom of die gebrek aan rykdom ons lou maak nie. Rykdom kan help om nuwe diensmoontlikhede te skep, maar dit kan ook gevaarlik wees (Matteus 19:24). ’n Welgestelde persoon dink dalk dat hy nie so ywerig soos ander in die predikingswerk hoef te wees nie, mits hy van tyd tot tyd groot skenkings doen. Of hy dink dalk dat sy rykdom hom geregtig maak op gunste. Daarbenewens kan ’n ryk persoon baie vorme van genot en vermaak geniet wat ander nie kan bekostig nie. Maar hierdie dinge neem tyd in beslag, en dit kan die onbehoedsames se aandag van die Christelike bediening aflei, wat die onverstandige persoon laat lou word. Mag ons al sulke strikke vermy en heelhartig aanhou om ‘hard te werk en ons in te span’, met die ewige lewe in die vooruitsig.—1 Timoteus 4:8-10; 6:9-12.
‘Die aandmaal eet’
18. Watter geleentheid bied Jesus die Christene in Laodisea?
18 Jesus sê verder: “Kyk! Ek staan by die deur en klop. As iemand my stem hoor en die deur oopmaak, sal ek in sy huis inkom en die aandmaal saam met hom eet, en hy saam met my” (Openbaring 3:20). As die Christene in Laodisea Jesus maar net in hulle gemeente wil verwelkom, sal hy hulle help om hulle louheid te bowe te kom!—Matteus 18:20.
19. Wat bedoel Jesus wanneer hy beloof om die aandmaal saam met die gemeente in Laodisea te eet?
19 Jesus se melding van die aandmaal herinner die Laodiseërs ongetwyfeld aan die kere toe hy maaltye saam met sy dissipels geëet het (Johannes 12:1-8). Sulke geleenthede het altyd vir die aanwesiges geestelike seëninge meegebring. Daar was ook ná Jesus se opstanding opmerkenswaardige geleenthede toe hy saam met sy dissipels by ’n maaltyd was, en hierdie geleenthede het hulle baie versterk (Lukas 24:28-32; Johannes 21:9-19). Sy belofte om in die gemeente in Laodisea in te kom en die aandmaal saam met hulle te eet, is dus ’n belofte om vir hulle ryk geestelike voordele te bring as hulle hom maar net wil ontvang.
20. (a) Wat het die Christendom se louheid aan die begin van die dag van die Here tot gevolg gehad? (b) Watter uitwerking het Jesus se oordeel op die Christendom gehad?
20 Jesus se liefdevolle vermaning aan die Laodiseërs het vandag vir die oorblywende gesalfde Christene groot betekenis. Party van hulle onthou dat die lidmate van die Christendom se godsdienste aan die begin van die dag van die Here in ’n skokkende mate lou was. Pleks van ons Here se terugkeer in 1914 te verwelkom, het die geestelikes verwikkel geraak in die slagting van die Eerste Wêreldoorlog, waarin 24 van die 28 strydende nasies beweer het dat hulle Christelik is. Hoe groot is hulle bloedskuld tog! Gedurende die Tweede Wêreldoorlog, wat ook hoofsaaklik in die Christendom gevoer is, het valse godsdiens se sondes weer eens “tot aan die hemel opgehoop” (Openbaring 18:5). Bowendien het die geestelikes Jehovah se inkomende Koninkryk die rug toegekeer deur die Volkebond, die Verenigde Nasies en nasionalistiese, revolusionêre bewegings te steun, waarvan nie een die mensdom se probleme kan oplos nie. Jesus het die geestelikes lankal verwerp, hulle veroordeel en weggegooi, net soos ’n visser ontslae raak van visse wat hy in sy sleepnet gevang het, maar wat nie geskik is nie. Die jammerlike toestand waarin die Christendom se kerke vandag verkeer, getuig van haar veroordeling. Mag haar uiteindelike lot vir ons ’n waarskuwing wees!—Matteus 13:47-50.
21. Hoe het Christene in die ware gemeente vanaf 1919 op Jesus se woorde aan die Christene in Laodisea gereageer?
21 Selfs in die ware gemeente is daar lou persone wat soos ’n drankie is wat nie prikkelend warm of verkwikkend koud is nie. Maar Jesus het sy gemeente nog steeds innig lief. Hy stel hom beskikbaar vir Christene wat met gasvryheid reageer, en baie het hom verwelkom, asof vir ’n aandmaal. Gevolglik is hulle oë vanaf 1919 oopgemaak vir die betekenis van Bybelprofesieë. Hulle het ’n tydperk van groot verligting geniet.—Psalm 97:11; 2 Petrus 1:19.
22. Watter toekomstige aandmaal het Jesus moontlik in gedagte gehad, en wie sal dit eet?
22 Toe Jesus aan die Laodiseërs geskryf het, het hy moontlik ook ’n ander aandmaal in gedagte gehad. Later in Openbaring lees ons: “Gelukkig is dié wat na die aandmaal van die Lam se huwelik genooi is.” Dit is die majestueuse oorwinningsmaal tot lof van Jehovah nadat hy oordeel aan valse godsdiens voltrek het—’n feesmaal wat Christus en sy voltallige bruid van 144 000 in die hemel saam geniet (Openbaring 19:1-9). Ontvanklike lede van daardie eertydse gemeente in Laodisea—ja, en getroue hedendaagse broers van Christus Jesus, wat skoon kledingstukke van identifikasie as ware gesalfde Christene dra—sal almal daardie aandmaal saam met hulle Bruidegom eet (Matteus 22:2-13). Wat ’n kragtige aansporing is dit tog om ywerig te wees en berou te toon!
’n Troon vir die oorwinnaars
23, 24. (a) Van watter verdere beloning praat Jesus? (b) Wanneer het Jesus op sy Messiaanse troon gaan sit, en wanneer het hy verklaarde Christene begin oordeel? (c) Watter wonderlike belofte het Jesus aan sy dissipels gemaak toe hy die Herdenking van sy dood ingestel het?
23 Jesus praat van ’n verdere beloning en sê: “Aan die een wat oorwin, sal ek gee om saam met my op my troon te sit, net soos ek oorwin het en saam met my Vader op sy troon gaan sit het” (Openbaring 3:21). Ter vervulling van Dawid se woorde in Psalm 110:1, 2 is Jesus, wat sy onkreukbaarheid gehandhaaf en die wêreld oorwin het, in 33 G.J. opgewek en verhef om saam met sy Vader op Sy hemelse troon te sit (Handelinge 2:32, 33). In ’n ander kritieke jaar, 1914, het Jesus gekom om as Koning en Regter op sy eie Messiaanse troon te gaan sit. Die oordeel het blykbaar in 1918 by verklaarde Christene begin. Gesalfde oorwinnaars wat voor daardie tyd gesterf het, sou toe opgewek word en by Jesus in sy Koninkryk aansluit (1 Petrus 4:17). Hy het dit aan hulle beloof toe hy die Herdenking van sy dood ingestel en vir sy dissipels gesê het: “Ek sluit ’n verbond met julle, net soos my Vader ’n verbond met my gesluit het, vir ’n koninkryk, sodat julle aan my tafel in my koninkryk kan eet en drink en op trone kan sit om die twaalf stamme van Israel te oordeel.”—Lukas 22:28-30.
24 Wat ’n wonderlike toewysing—om tydens “die herskepping” saam met die heersende Koning te sit en saam met hom, op grond van sy volmaakte offer, ’n aandeel daaraan te hê om die wêreld van die gehoorsame mensdom tot volmaaktheid soos dié in die tuin van Eden te verhef! (Matteus 19:28; 20:28). Soos Johannes ons meedeel, maak Jesus dié wat oorwin, “’n koninkryk . . . , priesters vir sy God en Vader”, om op trone rondom Jehovah se luisterryke hemelse troon te sit (Openbaring 1:6; 4:4). Laat ons almal—hetsy van die gesalfdes of van die “nuwe aarde”-gemeenskap wat hoop om ’n aandeel te hê aan die herstel van die Paradys—Jesus se woorde aan die Laodiseërs ter harte neem!—2 Petrus 3:13; Handelinge 3:19-21.
25. (a) Hoe sluit Jesus, soos met vorige boodskappe, sy boodskap aan Laodisea af? (b) Hoe moet individuele Christene vandag op Jesus se woorde aan die gemeente in Laodisea reageer?
25 Soos met vorige boodskappe, sluit Jesus hierdie boodskap met ’n vermaning af: “Laat die een wat ’n oor het, hoor wat die gees vir die gemeentes sê” (Openbaring 3:22). Ons lewe diep in die tyd van die einde. Daar is oral om ons bewyse dat die Christendom koud is wat liefde betref. Mag ons as ware Christene daarenteen geesdriftig reageer op Jesus se boodskap aan die gemeente in Laodisea, ja, op al sewe van ons Here se boodskappe aan die gemeentes. Ons kan dit doen deur ’n ywerige aandeel te hê aan die vervulling van Jesus se groot profesie vir ons dag: “En hierdie goeie nuus van die koninkryk sal in die hele bewoonde aarde verkondig word as ’n getuienis vir al die nasies; en dan sal die einde kom.”—Matteus 24:12-14.
26. Wanneer praat Jesus weer regstreeks met Johannes, maar waaraan neem hy deel?
26 Dit is die einde van Jesus se raad aan die sewe gemeentes. Hy praat eers weer in die laaste hoofstuk van Openbaring met Johannes; maar hy neem deel aan baie van die visioene deur byvoorbeeld Jehovah se oordele te voltrek. Laat ons nou die tweede merkwaardige visioen wat deur die Here Jesus Christus geopenbaar is, saam met die Johannes-klas ondersoek.
[Voetnoot]
a Hierdie plekke is tydens argeologiese opgrawings op die terrein van Laodisea gevind.
[Venster op bladsy 73]
Materialisme versus wysheid
In 1956 het ’n nuusrubriekskrywer geskryf: “Daar word geskat dat die deursneemens ’n eeu gelede 72 dinge wou hê, waarvan 16 as noodsaaklikhede beskou is. Vandag word daar geskat dat die deursneemens 474 dinge wil hê, waarvan 94 as noodsaaklikhede beskou word. ’n Eeu gelede is 200 artikels deur verkoopkuns aan die deursneemens opgedring—maar vandag is daar 32 000 artikels wat kopersweerstand verg. Die mens se noodsaaklike behoeftes is min—die dinge wat hy wil hê, ontelbaar.” Vandag word mense gebombardeer met die idee dat materiële rykdom en besittings die belangrikste ding in die lewe is. Baie mense slaan dus die wyse raad van Prediker 7:12 in die wind: “Wysheid dien as ’n beskerming net soos geld as ’n beskerming dien; maar die voordeel van kennis is dat wysheid die besitters daarvan in die lewe hou.”
[Prent op bladsy 67]
Die water wat Laodisea bereik het, was onaangenaam lou. Christene in Laodisea het ’n onbevredigende lou gees geopenbaar