Hoofstuk 15
“Wie is waardig om die boekrol oop te maak?”
1. Wat gebeur nou in Johannes se visioen?
VERHEWE! ONTSAGWEKKEND! Dit beskryf die aangrypende visioen van Jehovah se troon te midde van die vuurlampe, die gerubs, die 24 ouderlinge en die glasagtige see. Maar Johannes, wat sien jy vervolgens? Johannes vestig die aandag op die middelpunt van hierdie hemelse toneel en sê vir ons: “En ek het in die regterhand van die Een wat op die troon sit, ’n boekrol gesien wat aan die binnekant en op die keersy beskrywe is en goed verseël is met sewe seëls. En ek het ’n sterk engel gesien wat met ’n harde stem uitroep: ‘Wie is waardig om die boekrol oop te maak en sy seëls los te maak?’ Maar daar was niemand in die hemel of op die aarde of onder die aarde wat die boekrol kon oopmaak of daarin kon kyk nie. En ek het baie gehuil omdat niemand waardig bevind is om die boekrol oop te maak of daarin te kyk nie.”—Openbaring 5:1-4.
2, 3. (a) Waarom is Johannes gretig dat iemand gevind moet word om die boekrol oop te maak, maar wat is skynbaar die vooruitsig hierop? (b) Waarvoor het God se gesalfde volk in ons tyd gretig gewag?
2 Jehovah self, die Soewereine Heer van die hele skepping, hou hierdie boekrol uit. Dit moet vol lewensbelangrike inligting wees, want dit is op die voor- en op die agterkant beskrywe. Dit maak ons nuuskierig. Wat bevat die boekrol? Ons onthou Jehovah se uitnodiging aan Johannes: “Kom op hierheen, en ek sal jou die dinge toon wat moet plaasvind” (Openbaring 4:1). Ons sien met tintelende afwagting daarna uit om van hierdie dinge te leer. Maar helaas, die boekrol is dig toe, verseël met sewe seëls!
3 Sal die sterk engel iemand vind wat waardig is om die boekrol oop te maak? Volgens die Kingdom Interlinear is die boekrol “op die regterhand” van Jehovah. Dit gee te kenne dat hy dit op sy oop palm uithou. Maar dit lyk asof niemand in die hemel of op die aarde waardig is om hierdie boekrol te aanvaar en oop te maak nie. Selfs nie onder die aarde, onder getroue knegte van God wat gesterf het, kwalifiseer enigiemand vir hierdie groot eer nie. Geen wonder dat Johannes sigbaar ontsteld is nie! Miskien gaan hy tog nie hoor “wat moet plaasvind” nie. In ons dag het God se gesalfde volk ook gretig gewag dat Jehovah sy lig en waarheid oor Openbaring moet uitstuur. Hy sou dit progressief doen op die vasgestelde tyd vir die vervulling van die profesie sodat hy sy volk op die weg van ’n “grootse redding” kon lei.—Psalm 43:3, 5.
Die een wat waardig is
4. (a) Wie word gevind wat waardig is om die boekrol en sy seëls oop te maak? (b) Watter beloning en voorreg geniet die Johannes-klas en hulle metgeselle nou?
4 Ja, daar is iemand wat die boekrol kan oopmaak! Johannes vertel: “Maar een van die ouderlinge sê vir my: ‘Hou op huil. Kyk! Die Leeu wat uit die stam Juda is, die wortel van Dawid, het oorwin, sodat hy die boekrol en sy sewe seëls kan oopmaak’” (Openbaring 5:5). Johannes, vee dus daardie trane af! Die Johannes-klas en hulle lojale metgeselle van vandag het ook dekades lank hewige beproewinge verduur terwyl hulle geduldig op lig gewag het. Wat ’n vertroostende beloning is dit nou vir ons om die visioen te verstaan, en wat ’n voorreg om ’n aandeel aan die vervulling daarvan te hê deur die boodskap daarvan aan ander te verkondig!
5. (a) Watter profesie is oor Juda uitgespreek, en waar het Juda se nakomelinge regeer? (b) Wie is Silo?
5 A, “die Leeu wat uit die stam Juda is”! Johannes is bekend met die profesie wat Jakob, die voorvader van die Joodse volk, oor sy vierde seun, Juda, uitgespreek het: “Juda is ’n leeuwelpie. Van die prooi af, my seun, sal jy beslis opklim. Hy het hom neergebuig, hy het hom uitgestrek soos ’n leeu en, soos ’n leeu, wie waag dit om hom op te jaag? Die septer sal van Juda nie wyk nie, ook nie die aanvoerderstaf tussen sy voete uit nie, totdat Silo kom; en aan hom sal die gehoorsaamheid van die volke behoort” (Genesis 49:9, 10). Die koninklike lyn van God se volk het van Juda afgestam. Van Dawid af tot die vernietiging van Jerusalem deur die Babiloniërs was al die konings wat in daardie stad regeer het, nakomelinge van Juda. Maar nie een van hulle was die Silo wat deur Jakob voorspel is nie. Silo beteken: “Hy wie s’n [wie se reg] dit is.” Hierdie naam het profeties na Jesus gewys, die een aan wie die Dawidiese Koninkryk nou vir goed behoort.—Esegiël 21:25-27; Lukas 1:32, 33; Openbaring 19:16.
6. In watter sin was Jesus “’n takkie” van Isai en ook “die wortel van Dawid”?
6 Johannes herken gou die verwysing na “die wortel van Dawid”. Die beloofde Messias word profeties “’n takkie uit die stomp van Isai [die vader van koning Dawid] . . . ’n spruit” genoem, sowel as “die wortel van Isai . . . , wat sal opstaan as ’n baken vir die volke” (Jesaja 11:1, 10). Jesus was ’n takkie van Isai, aangesien hy in die koninklike lyn van Dawid, die seun van Isai, gebore is. Verder was hy, as ’n wortel van Isai, die Een wat die Dawidiese vorstehuis weer laat uitspruit het deur dit vir ewig lewe te gee en in stand te hou.—2 Samuel 7:16.
7. Wat maak Jesus waardig om die boekrol te neem uit die hand van die Een wat op die troon sit?
7 Jesus is by uitstek die een wat, as ’n volmaakte mens, Jehovah in onkreukbaarheid en deur verskriklike beproewinge heen gedien het. Hy het die volledige antwoord op Satan se uitdaging voorsien (Spreuke 27:11). Daarom kon hy sê wat hy op die nag voor sy offerdood gesê het: “Ek het die wêreld oorwin” (Johannes 16:33). Om hierdie rede het Jehovah “alle gesag in die hemel en op die aarde” aan die verrese Jesus toevertrou. Hy alleen onder al die knegte van God kwalifiseer om die boekrol te ontvang, sodat die belangrike boodskap daarin bekend gemaak kan word.—Matteus 28:18.
8. (a) Watter feite aangaande die Koninkryk toon dat Jesus waardig is? (b) Waarom is dit gepas dat een van die 24 ouderlinge aan Johannes openbaar wie waardig is om die boekrol oop te maak?
8 Dit is inderdaad gepas dat Jesus die boekrol oopmaak. Hy is sedert 1914 Koning van God se Messiaanse Koninkryk, en daardie boekrol openbaar baie aangaande die Koninkryk en wat dit tot stand sal bring. Jesus het getrou van Koninkrykswaarheid getuig terwyl hy hier op die aarde was (Johannes 18:36, 37). Hy het sy volgelinge geleer om vir die koms van die Koninkryk te bid (Matteus 6:9, 10). Hy het die verkondiging van die goeie nuus van die Koninkryk aan die begin van die Christelike era aan die gang gesit en het voorspel dat hierdie predikingswerk gedurende die tyd van die einde ’n hoogtepunt sou bereik (Matteus 4:23; Markus 13:10). Dit is ook gepas dat een van die 24 ouderlinge aan Johannes openbaar dat Jesus die een is wat die seëls sal oopmaak. Waarom? Omdat hierdie ouderlinge op trone sit en krone dra, aangesien hulle mede-erfgename met Christus in sy Koninkryk is.—Romeine 8:17; Openbaring 4:4.
‘Die lam wat geslag is’
9. In plaas van ’n leeu, wat sien Johannes “in die middel van die troon” staan, en hoe het hy dit beskryf?
9 Johannes kyk om hierdie “Leeu wat uit die stam Juda is”, te sien. Maar hoe verstommend tog! ’n Heeltemal ander simboliese gedaante verskyn: “En ek het in die middel van die troon en van die vier lewende wesens en in die midde van die ouderlinge ’n lam sien staan asof hy geslag is, met sewe horings en sewe oë, en dié oë beteken die sewe geeste van God wat in die hele aarde uitgestuur is.”—Openbaring 5:6.
10. Wie is die “lam” wat Johannes gesien het, en waarom is die term gepas?
10 Reg in die middel, langs die troon, binne die sirkels wat deur die vier lewende wesens en die 24 ouderlinge gevorm word, is daar ’n lam! Johannes vereenselwig hierdie lam ongetwyfeld gou met “die Leeu wat uit die stam Juda is” en “die wortel van Dawid”. Hy weet dat Johannes die Doper Jesus meer as 60 jaar tevore aan Joodse omstanders voorgestel het as “die Lam van God wat die sonde van die wêreld wegneem!” (Johannes 1:29). Jesus het hom gedurende sy hele lewe op die aarde nie deur die wêreld laat besmet nie—net soos ’n smetlose lam—sodat hy sy vlekkelose lewe as ’n offerande vir die mensdom kon gee.—1 Korintiërs 5:7; Hebreërs 7:26.
11. Waarom is dit nie vernederend om die verheerlikte Jesus voor te stel as “’n lam . . . asof hy geslag is” nie?
11 Is dit enigsins kleinerend of vernederend om die verheerlikte Jesus voor te stel as “’n lam . . . asof hy geslag is”? Glad nie! Die feit dat Jesus tot die dood getrou gebly het, was ’n groot nederlaag vir Satan en ’n groot oorwinning vir Jehovah God. Om Jesus só voor te stel, laat sy oorwinning oor Satan se wêreld sterk na vore kom en is ’n herinnering aan die innige liefde wat Jehovah en Jesus vir die mensdom het. (Johannes 3:16; 15:13; vergelyk Kolossense 2:15.) Dit vestig die aandag op Jesus as die beloofde Saad wat by uitstek kwalifiseer om die boekrol oop te maak.—Genesis 3:15.
12. Wat beeld die sewe horings van die Lam af?
12 Wat anders help ons om te besef wie hierdie “lam” is? Hy het sewe horings. Horings is dikwels in die Bybel ’n simbool van mag of gesag, en sewe dui volkomenheid aan. (Vergelyk 1 Samuel 2:1, 10; Psalm 112:9; 148:14.) Die Lam se sewe horings beeld dus die volheid van mag af wat Jehovah aan Jesus toevertrou het. Hy is “ver bo elke regering en gesag en mag en heerskappy en elke naam wat genoem word, nie net in hierdie stelsel van dinge nie, maar ook in die toekomstige” (Efesiërs 1:20-23; 1 Petrus 3:22). Veral sedert 1914, toe Jehovah hom as hemelse Koning op die troon geplaas het, oefen Jesus mag, regeringsmag, uit.—Psalm 2:6.
13. (a) Wat beeld die sewe oë van die Lam af? (b) Wat doen die Lam volgende?
13 Jesus is bowendien ten volle met heilige gees vervul, soos afgebeeld word deur die Lam se sewe oë, wat “die sewe geeste van God” beteken. Jesus is ’n kanaal waardeur die volheid van Jehovah se werkende krag na Sy aardse knegte vloei (Titus 3:6). Dit is klaarblyklik deur middel van hierdie selfde gees dat hy vanuit die hemel sien wat hier op die aarde gebeur. Soos sy Vader, het Jesus volmaakte onderskeidingsvermoë. Niks ontgaan sy aandag nie. (Vergelyk Psalm 11:4; Sagaria 4:10.) Dit is duidelik dat hierdie Seun—die handhawer van onkreukbaarheid wat die wêreld oorwin het; die Leeu uit die stam Juda; die wortel van Dawid; die een wat sy lewe vir die mensdom gegee het; die een met volkome gesag, volheid van heilige gees en volmaakte onderskeidingsvermoë afkomstig van Jehovah God—ja, dat hierdie een by uitstek waardig is om die boekrol uit Jehovah se hand te neem. Huiwer hy om hierdie diensopdrag in Jehovah se verhewe organisasie te aanvaar? Nee! Inteendeel, “hy het gegaan en dit [die boekrol] dadelik uit die regterhand geneem van die Een wat op die troon sit” (Openbaring 5:7). Wat ’n goeie voorbeeld van gewillige gehoorsaamheid!
Lofliedere
14. (a) Hoe reageer die vier lewende wesens en die 24 ouderlinge wanneer Jesus die boekrol neem? (b) Hoe bevestig die inligting wat Johannes oor die 24 ouderlinge ontvang, hulle identiteit en posisie?
14 Hoe reageer die ander voor Jehovah se troon? “En toe hy die boekrol neem, het die vier lewende wesens en die vier-en-twintig ouderlinge, elkeen met ’n harp en goue bakke vol reukwerk, voor die Lam neergeval, en die reukwerk beteken die gebede van die heiliges” (Openbaring 5:8). Soos die vier lewende wesens, of gerubs, voor God se troon, buig die 24 ouderlinge voor Jesus ter erkenning van sy gesag. Maar hierdie ouderlinge is die enigstes wat harpe en bakke vol reukwerk het.a En hulle alleen sing nou ’n nuwe lied (Openbaring 5:9). Hulle kom dus ooreen met die 144 000 lede van die heilige “Israel van God”, wat ook harpe dra en ’n nuwe lied sing (Galasiërs 6:16; Kolossense 1:12; Openbaring 7:3-8; 14:1-4). Verder word daar getoon dat die 24 ouderlinge ’n hemelse, priesterlike funksie vervul, wat afgebeeld is deur dié van die priesters in eertydse Israel wat in die tabernakel reukwerk voor Jehovah gebrand het—’n funksie wat op die aarde geëindig het toe God die Mosaïese Wet uit die weg geruim het deur dit aan Jesus se folterpaal te nael (Kolossense 2:14). Wat lei ons hieruit af? Dat die gesalfde oorwinnaars hier gesien word in hulle uiteindelike toewysing as ‘priesters van God en van die Christus, wat die duisend jaar lank saam met hom as konings sal heers’.—Openbaring 20:6.
15. (a) Wie alleen in Israel was bevoorreg om in die Allerheiligste van die tabernakel in te gaan? (b) Waarom was dit vir die hoëpriester ’n saak van lewe of dood om reukwerk te brand voordat hy in die Allerheiligste ingegaan het?
15 In eertydse Israel kon alleenlik die hoëpriester in die Allerheiligste voor die simboliese teenwoordigheid van Jehovah ingaan. Dit was vir hom ’n saak van lewe of dood om reukwerk te dra. Jehovah se wet het gesê: “[Aäron] moet die vuurbak vol brandende vuurkole van die altaar voor Jehovah neem, en die holtes van sy twee hande vol fyn welriekende reukwerk, en hy moet dit binne die voorhangsel bring. Ook moet hy die reukwerk op die vuur plaas voor Jehovah, en die wolk van die reukwerk moet die deksel van die Ark, wat op die Getuienis is, oordek, sodat hy nie sterf nie” (Levitikus 16:12, 13). Dit was vir die hoëpriester onmoontlik om met welslae in die Allerheiligste in te gaan tensy hy reukwerk gebrand het.
16. (a) Wie gaan in die Christelike stelsel van dinge in die antitipiese Allerheiligste in? (b) Waarom moet gesalfde Christene ‘reukwerk brand’?
16 In die Christelike stelsel van dinge gaan nie net die antitipiese Hoëpriester, Jesus Christus, nie, maar ook elkeen van die 144 000 onderpriesters uiteindelik in die antitipiese Allerheiligste in, die plek van Jehovah se teenwoordigheid in die hemel (Hebreërs 10:19-23). Dit is vir hierdie priesters, wat hier deur die 24 ouderlinge afgebeeld word, onmoontlik om in hierdie Allerheiligste in te gaan tensy hulle ‘reukwerk brand’, dit wil sê voortdurend gebede en smekinge tot Jehovah rig.—Hebreërs 5:7; Judas 20, 21; vergelyk Psalm 141:2.
’n Nuwe lied
17. (a) Watter nuwe lied sing die 24 ouderlinge? (b) Hoe word die uitdrukking “nuwe lied” gewoonlik in die Bybel gebruik?
17 ’n Melodieuse lied weerklink nou. Die Lam se priesterlike metgeselle, die 24 ouderlinge, sing dit vir hom: “En hulle sing ’n nuwe lied en sê: ‘U is waardig om die boekrol te neem en sy seëls oop te maak, want u is geslag, en met u bloed het u mense uit elke stam en taal en volk en nasie vir God gekoop’” (Openbaring 5:9). Die uitdrukking “nuwe lied” kom etlike kere in die Bybel voor en verwys gewoonlik na lof aan Jehovah vir die een of ander magtige verlossingsdaad (Psalm 96:1; 98:1; 144:9). Die lied is dus nuut omdat die sanger nou bykomende wonderlike werke van Jehovah kan verkondig en hernieude waardering vir Sy glorieryke naam kan uitspreek.
18. Waarvoor loof die 24 ouderlinge Jesus met hulle nuwe lied?
18 Maar hier sing die 24 ouderlinge ’n nuwe lied voor Jesus en nie voor Jehovah nie. Die beginsel is egter dieselfde. Hulle loof Jesus vir die nuwe dinge wat hy, as God se Seun, ten behoewe van hulle gedoen het. Deur sy bloed het hy die middelaar geword van die nuwe verbond en dit dus moontlik gemaak dat ’n nuwe nasie as Jehovah se spesiale eiendom voortgebring kon word (Romeine 2:28, 29; 1 Korintiërs 11:25; Hebreërs 7:18-25). Lede van hierdie nuwe geestelike nasie het uit baie vleeslike nasies gekom, maar Jesus het hulle in een gemeente as een nasie verenig.—Jesaja 26:2; 1 Petrus 2:9, 10.
19. (a) Watter seën het vleeslike Israel weens hulle ontrouheid nie ondervind nie? (b) Watter seën gaan Jehovah se nuwe nasie geniet?
19 Toe Jehovah die Israeliete in Moses se dag tot ’n nasie gevorm het, het hy ’n verbond met hulle gesluit en beloof dat hulle ’n koninkryk van priesters voor hom sou word as hulle aan daardie verbond getrou sou bly (Eksodus 19:5, 6). Die Israeliete was nie getrou nie en het nooit die vervulling van daardie belofte ondervind nie. Daarenteen het die nuwe nasie, wat gevorm is op grond van die nuwe verbond waarvan Jesus die middelaar is, getrou gebly. Daarom gaan die lede daarvan as konings oor die aarde heers en ook as priesters dien deur regskapenes onder die mensdom te help om met Jehovah versoen te word (Kolossense 1:20). Dit is net soos die nuwe lied dit uitdruk: “En u het hulle ’n koninkryk en priesters vir ons God gemaak, en hulle gaan as konings oor die aarde heers” (Openbaring 5:10). Hoeveel vreugde moet dit daardie 24 ouderlinge tog verskaf om hierdie nuwe loflied aan die verheerlikte Jesus te sing!
’n Hemelse koor
20. Watter loflied aan die Lam weerklink nou?
20 Hoe reageer ander lede van die ontsaglike hemelse leërskare wat Jehovah se organisasie uitmaak, op hierdie nuwe lied? Dit is vir Johannes opwindend om hulle hartgrondige instemming te aanskou: “En ek het gesien, en ek het ’n stem van baie engele rondom die troon en die lewende wesens en die ouderlinge gehoor, en hulle getal was tienduisende van tienduisende en duisende van duisende, en hulle het met ’n harde stem gesê: ‘Die Lam wat geslag is, is waardig om die krag en rykdom en wysheid en sterkte en eer en heerlikheid en lof te ontvang’” (Openbaring 5:11, 12). Wat ’n indrukwekkende loflied!
21. Doen die feit dat die Lam geloof word, afbreuk aan Jehovah se soewereiniteit of posisie? Verduidelik.
21 Beteken dit dat Jesus Jehovah God nou op die een of ander manier vervang het en dat die hele skepping nou begin het om hom in plaas van sy Vader te loof? Geensins! Hierdie loflied strook eerder met wat die apostel Paulus geskryf het: “God [het Jesus] tot ’n hoër posisie verhef en hom goedgunstig die naam gegee wat bo elke ander naam is, sodat in die naam van Jesus elke knie sou buig van dié in die hemel en dié op die aarde en dié onder die grond, en elke tong openlik sou erken dat Jesus Christus Here is tot die heerlikheid van God die Vader” (Filippense 2:9-11). Jesus word hier verheerlik vir die rol wat hy speel in die beslegting van die vernaamste geskil voor die hele skepping—die regverdiging van Jehovah se regmatige soewereiniteit. Dit het inderdaad vir sy Vader groot heerlikheid meegebring!
’n Toenemende loflied
22. By watter loflied voeg stemme uit die aardse ryk hulle?
22 In die toneel wat Johannes beskryf, sing die leërskare van die hemel Jesus melodieus toe ter erkenning van sy getrouheid en sy hemelse gesag. Stemme uit die aardse ryk wat ook die Vader sowel as die Seun loof, voeg hulle by hierdie koor. Net soos die prestasies van ’n menslike seun ouers tot groot eer kan strek, dra Jesus se lojale handelswyse in die hele skepping “tot die heerlikheid van God die Vader” by. Johannes sê dus verder: “En ek het elke skepsel wat in die hemel en op die aarde en onder die aarde en op die see is, en alles wat in hulle is, hoor sê: ‘Aan die Een wat op die troon sit en aan die Lam die lof en die eer en die heerlikheid en die mag vir ewig en altyd.’”—Openbaring 5:13.
23, 24. (a) Wat dui aan wanneer die loflied in die hemel sou begin, en wanneer op aarde? (b) Hoe word die loflied met die verloop van die jare al hoe harder?
23 Wanneer weerklink hierdie pragtige loflied? Dit het vroeg in die dag van die Here begin. Nadat Satan en sy demone uit die hemele gewerp is, kon “elke skepsel wat in die hemel . . . is”, hierdie loflied saamsing. En soos die geskiedenis toon, het ’n toenemende menigte op die aarde hulle stemme sedert 1919 tot lof van Jehovah verenig, terwyl hulle toegeneem het van ’n paar duisend tot ver oor die sesmiljoen teen 2005.b Nadat Satan se aardse stelsel vernietig is, sal “elke skepsel . . . op die aarde” Jehovah en sy Seun se lof besing. Op Jehovah se bestemde tyd sal die opstanding van die miljoene der miljoene dooies begin, en dan sal “elke skepsel . . . onder die aarde” wat in God se geheue is, die geleentheid hê om ook die loflied saam te sing.
24 “Van die einde van die aarde . . . die see en . . . [die] eilande” is daar reeds miljoene mense wat saam met Jehovah se wêreldwye organisasie ’n nuwe lied sing (Jesaja 42:10; Psalm 150:1-6). Hierdie vreugdevolle lof sal aan die einde van die Millennium, wanneer die mensdom tot volmaaktheid verhef is, ’n crescendo bereik. Daardie ou slang, die aartsbedrieër, Satan self, sal daarna vernietig word, waardeur Genesis 3:15 ten volle vervul sal word, en die ganse lewende skepping, geeste sowel as mense, sal in ’n triomfantlike klimaks saamsing: “Aan die Een wat op die troon sit en aan die Lam die lof en die eer en die heerlikheid en die mag vir ewig en altyd.” Daar sal geen afwykende stem in die ganse heelal wees nie.
25. (a) Wat word ons beweeg om te doen wanneer ons Johannes se verslag oor die universele loflied lees? (b) Watter puik voorbeeld stel die vier lewende wesens en die 24 ouderlinge vir ons wanneer die visioen eindig?
25 Watter vreugdevolle tyd sal dit tog wees! Wat Johannes hier beskryf, laat ons harte beslis swel van geluk en spoor ons aan om saam met die hemelse leërskare opregte lofliedere aan Jehovah God en Jesus Christus te sing. Is ons nie meer vasbeslote as ooit om in regte werke te volhard nie? As ons dit doen, kan ons verwag dat elkeen van ons, met Jehovah se hulp, by die gelukkige klimaks teenwoordig sal wees en ons stemme by hierdie universele lofgesang sal voeg. Die vier lewende wesens, of gerubs, asook die verrese gesalfde Christene is beslis volkome eensgesind, want die visioen eindig met die woorde: “En die vier lewende wesens het gesê: ‘Amen!’ en die ouderlinge het neergeval en aanbid.”—Openbaring 5:14.
26. Waarin moet ons geloof beoefen, en wat maak die Lam hom nou gereed om te doen?
26 Mag jy, liewe leser, geloof beoefen in die offerande van die Lam—die een wat “waardig” is—en geseën word in jou nederige pogings om Jehovah—“die Een wat op die troon sit”—te aanbid en te dien. Laat die Johannes-klas jou vandag help terwyl hulle die nodige ‘deel van die [geestelike] voedsel op die regte tyd’ voorsien (Lukas 12:42). Maar kyk! Die Lam maak hom gereed om die sewe seëls oop te maak. Watter opwindende onthullings lê nou vir ons voor?
[Voetnote]
a Grammaties gesproke kan die uitdrukking “elkeen met ’n harp en goue bakke vol reukwerk” na die ouderlinge sowel as die vier lewende wesens verwys. Maar die konteks toon duidelik dat die uitdrukking net na die 24 ouderlinge verwys.
b Sien die tabel op bladsy 64.
[Volbladillustrasie op bladsy 86]