Hoofstuk 16
Vier perderuiters aan die galop!
Visioen 3—Openbaring 6:1-17
Onderwerp: Die rit van die vier ruiters, die getuies onder die altaar wat ’n marteldood gesterf het en die groot dag van gramskap
Tyd van vervulling: Vanaf 1914 tot die vernietiging van hierdie stelsel van dinge
1. Hoe openbaar Jehovah aan Johannes die inhoud van die interessante boekrol wat Jesus oopmaak?
STEL ons nie in hierdie tyd van krisis intens belang in “die dinge . . . wat binnekort moet plaasvind” nie? Beslis, want ons is self daarby betrokke! Laat ons Johannes nou vergesel terwyl Jesus daardie interessante boekrol oopmaak. Dit is opmerkenswaardig dat Johannes dit nie hoef te lees nie. Waarom nie? Omdat die inhoud daarvan deur ’n reeks dinamiese, aksiebelaaide tonele “in tekens” aan hom oorgedra word.—Openbaring 1:1, 10.
2. (a) Wat sien en hoor Johannes, en wat gee die voorkoms van die gerub te kenne? (b) Aan wie word die eerste gerub se bevel gerig, en waarom antwoord jy so?
2 Luister na Johannes wanneer Jesus die eerste seël van die boekrol oopmaak: “En ek het gesien toe die Lam een van die sewe seëls oopmaak, en ek het een van die vier lewende wesens met ’n stem soos van ’n donderslag hoor sê: ‘Kom!’” (Openbaring 6:1). Dit is die stem van die eerste gerub. Die feit dat hy soos ’n leeu lyk, sou aan Johannes te kenne gee dat Jehovah se organisasie moedig sal optree om Sy regverdige oordele te voltrek. En aan wie word daardie bevel gerig? Dit kan nie aan Johannes wees nie, want Johannes is reeds genooi om aan hierdie profetiese tonele deel te neem (Openbaring 4:1). Daardie “stem soos van ’n donderslag” roep ander deelnemers aan die eerste van ’n reeks van vier besielende episodes op.
Die wit perd en sy roemryke Ruiter
3. (a) Wat beskryf Johannes nou? (b) Wat moet die wit perd, in ooreenstemming met Bybelse simboliek, afbeeld?
3 Johannes, en saam met hom die ywerige Johannes-klas en hulle metgeselle van vandag, is bevoorreg om ’n drama met ’n vinnige tempo te sien! Johannes sê: “En ek het gesien, en kyk! ’n wit perd; en die een wat daarop sit, het ’n boog gehad; en ’n kroon is vir hom gegee, en hy het uitgegaan om te oorwin en om sy oorwinning te voltooi” (Openbaring 6:2). Ja, in antwoord op hierdie dawerende “Kom!”, storm ’n wit perd na vore. In die Bybel simboliseer die perd dikwels oorlogvoering (Psalm 20:7; Spreuke 21:31; Jesaja 31:1). Hierdie perd, waarskynlik ’n pragtige hings, blink met ’n witheid wat vlekkelose heiligheid aandui. (Vergelyk Openbaring 1:14; 4:4; 7:9; 20:11.) Hoe gepas is dit tog, want dit beeld oorlogvoering af wat rein en regverdig is in Jehovah se heilige oë!—Sien ook Openbaring 19:11, 14.
4. Wie is die Ruiter van die wit perd? Verduidelik.
4 Wie is die Ruiter van hierdie perd? Hy het ’n boog, ’n aanvallende oorlogswapen, maar hy word ook ’n kroon gegee. Die enigste regverdiges wat gedurende die dag van die Here met krone gesien word, is Jesus en die klas wat deur die 24 ouderlinge afgebeeld word (Daniël 7:13, 14, 27; Lukas 1:31-33; Openbaring 4:4, 10; 14:14).a Dit is onwaarskynlik dat ’n lid van die groep van 24 ouderlinge uitgebeeld sou word as iemand wat op grond van sy eie verdienste ’n kroon ontvang. Hierdie enkele perderuiter moet dus Jesus Christus wees en niemand anders nie. Johannes sien hom in die hemel op die geskiedkundige oomblik in 1914 wanneer Jehovah verklaar: “Ek, ja ek, het my koning ingehuldig”, en vir hom sê dat dit is sodat “ek nasies as jou erfdeel kan gee” (Psalm 2:6-8).b Deur die eerste seël oop te maak, openbaar Jesus dus hoe hy self, as die pas gekroonde Koning, op God se vasgestelde tyd uittrek om oorlog te voer.
5. Hoe beskryf die psalmis die Ruiter op ’n soortgelyke wyse as Openbaring 6:2?
5 Hierdie toneel stem pragtig ooreen met Psalm 45:4-7, wat gerig word tot die Koning wat deur Jehovah gekroon is: “En gaan in u prag voort tot sukses; ry ter wille van waarheid en nederigheid en regverdigheid, en u regterhand sal u in vreesinboesemende dinge onderrig. U pyle is skerp—volke bly onder u val—in die hart van die vyande van die koning. God is u troon tot onbepaalde tyd, ja, vir ewig; die septer van u koningskap is ’n septer van reg. U het regverdigheid liefgehad en u haat goddeloosheid. Daarom het God, u God, u met vreugdeolie gesalf, meer as u metgeselle.” Aangesien Johannes bekend was met hierdie profetiese beskrywing, sou hy besef het dat dit op Jesus se bedrywigheid as Koning van toepassing is.—Vergelyk Hebreërs 1:1, 2, 8, 9.
Hy gaan uit om te oorwin
6. (a) Waarom moet die Ruiter uitgaan om te oorwin? (b) Gedurende watter jare gaan die oorwinningstog voort?
6 Maar waarom moet die pas gekroonde Koning uitry om oorlog te voer? Dit is omdat sy koningskap gevestig word ondanks bittere teenstand deur Jehovah se hoofteenstander, Satan die Duiwel, en diegene op die aarde wat—wetend of onwetend—Satan se oogmerke bevorder. Die geboorte van die Koninkryk self vereis ’n groot oorlog in die hemel. Jesus, wat veg onder die naam Migael (wat beteken “Wie is soos God?”), oorwin Satan en sy demone en werp hulle na die aarde neer (Openbaring 12:7-12). Jesus se oorwinningstog gaan voort gedurende die eerste dekades van die dag van die Here terwyl skaapgeaarde mense versamel word. Hoewel die hele wêreld nog steeds “in die mag van die bose” lê, hou Jesus liefdevol aan om sy gesalfde broers en hulle metgeselle as ’n herder te lei en help hy elkeen om die oorwinning van die geloof te behaal.—1 Johannes 5:19.
7. Watter oorwinnings het Jesus in die eerste dekades van die dag van die Here op die aarde behaal, en wat moet ons vasbeslote wees om te doen?
7 Watter ander oorwinnings het Jesus gedurende die afgelope meer as 90 jaar van die dag van die Here behaal? Jehovah se volk het wêreldwyd, individueel en as ’n gemeente, baie ontberinge, druk en vervolging verduur, soortgelyk aan dié wat die apostel Paulus ter stawing van sy bediening beskryf het (2 Korintiërs 11:23-28). Jehovah se Getuies het “krag wat bo die normale is”, nodig gehad om te volhard, veral te midde van oorlog en geweld (2 Korintiërs 4:7). Maar selfs in die moeilikste situasies kon getroue Getuies Paulus se woorde beaam: “Die Here het naby my gestaan en my krag gegee, sodat deur my die prediking ten volle uitgevoer kon word” (2 Timoteus 4:17). Ja, Jesus het ten behoewe van hulle oorwin. En hy sal aanhou om ten behoewe van ons te oorwin, solank ons vasbeslote is om ons oorwinning van die geloof te voltooi.—1 Johannes 5:4.
8, 9. (a) Watter oorwinnings het die wêreldwye gemeente van Jehovah se Getuies behaal? (b) Waar was die groei van Jehovah se Getuies werklik uitsonderlik?
8 Die wêreldwye gemeente van Jehovah se Getuies het onder leiding van sy oorwinnende Koning baie oorwinnings behaal. In die besonder het hy hierdie Bybelstudente in 1918 teen uitwissing beskerm, toe hulle tydelik deur Satan se politieke organisasie “oorwin” is. Maar in 1919 het hy gevangenistralies gebreek om hulle te red, en hy het toe nuwe lewe in hulle geblaas om die goeie nuus “tot in die mees afgeleë deel van die aarde” te verkondig.—Openbaring 13:7; Handelinge 1:8.
9 Voor en gedurende die Tweede Wêreldoorlog het die diktatoriale Spilmoondhede probeer om Jehovah se Getuies uit te wis in baie lande waar godsdiensleiers, veral dié van die Rooms-Katolieke hiërargie, openlike of stilswyende steun aan onderdrukkende diktators gegee het. Maar die 71 509 Getuies wat gepreek het toe die oorlog in 1939 begin het, het teen die einde van die oorlog in 1945 tot 141 606 toegeneem, hoewel meer as 10 000 baie jare in gevangenisse en konsentrasiekampe deurgebring het en omtrent 2 000 doodgemaak is. Vandag is daar wêreldwyd meer as sesmiljoen bedrywige Getuies. Daar was uitsonderlike groei in Katolieke lande en in lande waar vervolging die hewigste was—soos in Duitsland, Italië en Japan, waar die Getuies nou altesaam meer as 600 000 bedrywige veldbedienaars het.—Jesaja 54:17; Jeremia 1:17-19.
10. Met watter oorwinnings het die oorwinnende Koning sy volk geseën “in die verdediging en wetlike bevestiging van die goeie nuus”?
10 Ons oorwinnende Koning het sy ywerige volk ook geseën deur hulle baie oorwinnings “in die verdediging en wetlike bevestiging van die goeie nuus” in geregshowe en voor heersers te gee (Filippense 1:7; Matteus 10:18; 24:9). Dit het op ’n internasionale skaal plaasgevind—in Australië, Argentinië, Griekeland, Indië, Kanada, Swaziland, Switserland, Turkye en ander lande. Die 50 regsoorwinnings wat Jehovah se Getuies in die Hooggeregshof van die Verenigde State behaal het, het dié ingesluit wat die reg waarborg om die goeie nuus “in die openbaar en van huis tot huis” te verkondig en om te weier om aan afgodiese patriotiese seremonies deel te neem (Handelinge 5:42; 20:20; 1 Korintiërs 10:14). Dit het die weg gebaan vir ’n toenemende wêreldwye getuienis.
11. (a) Hoe ‘voltooi die Ruiter sy oorwinning’? (b) Watter uitwerking moet dit op ons hê wanneer die tweede, derde en vierde seëls oopgemaak word?
11 Hoe ‘voltooi Jesus sy oorwinning’?c Hy doen dit, soos ons sal sien, deur valse godsdiens uit die weg te ruim en dan elke oorblywende gedeelte van Satan se sigbare organisasie in ’n simboliese “vuurpoel” van vernietiging te werp, ter regverdiging van Jehovah se soewereiniteit. Ons kan nou vol vertroue uitsien na daardie dag by Armageddon wanneer ons “Koning van die konings” die finale oorwinning oor Satan se onderdrukkende politieke organisasie sal behaal! (Openbaring 16:16; 17:14; 19:2, 14-21; Esegiël 25:17). Intussen ry die onoorwinlike Oorwinnaar op die wit perd voort terwyl Jehovah aanhou om opregtes van hart by Sy regverdige nasie op die aarde te voeg (Jesaja 26:2; 60:22). Neem jy saam met die gesalfde Johannes-klas deel aan hierdie vreugdevolle Koninkryksuitbreiding? Dan sal die dinge wat die apostel Johannes sien wanneer die volgende drie seëls oopgemaak word, jou ongetwyfeld beweeg om ’n selfs groter aandeel aan Jehovah se werk vir hierdie dag te hê.
Kyk, die vuurkleurige perd!
12. Waardeur het Jesus gesê sou sy onsigbare teenwoordigheid as Koning gekenmerk word?
12 Kort voor die einde van Jesus se bediening op die aarde het sy dissipels hom privaat gevra: “Wat sal die teken van u teenwoordigheid en van die voleinding van die stelsel van dinge wees?” In antwoord hierop het hy rampe voorspel wat “’n begin van weë van benoudheid” sou wees. Jesus het gesê: “Nasie sal teen nasie opstaan en koninkryk teen koninkryk; en daar sal groot aardbewings wees, en op die een plek na die ander pessiektes en voedseltekorte; en daar sal vreesaanjaende gesigte wees, en groot tekens van die hemel af” (Matteus 24:3, 7, 8; Lukas 21:10, 11). Die dinge wat Johannes sien wanneer die oorblywende seëls van die boekrol oopgemaak word, vorm ’n merkwaardige parallel met hierdie profesie. Kyk nou wat gebeur wanneer die verheerlikte Jesus die tweede seël oopmaak!
13. Watter teenstelling gaan vir Johannes duidelik word?
13 “En toe hy die tweede seël oopmaak, het ek die tweede lewende wese hoor sê: ‘Kom!’” (Openbaring 6:3). Dit is die tweede gerub, wat soos ’n bul lyk, wat die bevel gee. Krag is die eienskap wat hier gesimboliseer word, maar krag wat regverdig gebruik word. In teenstelling hiermee gaan Johannes egter nou ’n afskuwelike, dodelike vertoning van krag sien.
14. Watter perd en ruiter sien Johannes vervolgens, en wat beeld hierdie visioen af?
14 Hoe word hierdie tweede oproep om te “Kom!” dan beantwoord? Op hierdie manier: “En ’n ander een het te voorskyn gekom, ’n vuurkleurige perd; en aan die een wat daarop sit, is dit gegee om vrede van die aarde weg te neem sodat hulle mekaar sou doodmaak; en ’n groot swaard is vir hom gegee” (Openbaring 6:4). Inderdaad ’n skrikwekkende visioen! En dit ly geen twyfel wat dit afbeeld nie: oorlog! Nie die regverdige, seëvierende oorlogvoering van Jehovah se oorwinnende Koning nie, maar wrede, mensgemaakte, internasionale oorlogvoering met onnodige bloedvergieting en pyn. Hoe gepas is dit tog dat hierdie ruiter op ’n vuurkleurige perd sit!
15. Waarom moet ons niks met die rit van die tweede ruiter te doen wil hê nie?
15 Johannes sou beslis niks met hierdie ruiter en sy dolle rit te doen wou hê nie, want daar is omtrent God se volk voorspel: “Hulle [sal] nie meer leer om oorlog te voer nie” (Jesaja 2:4). Hoewel hulle nog steeds “in die wêreld” is, is Johannes en, by uitbreiding, die Johannes-klas en die groot menigte vandag “geen deel” van hierdie bloedbevlekte stelsel nie. Ons wapens is geestelik en “kragtig deur God” om die waarheid ywerig te verkondig, nie om aan vleeslike oorlogvoering deel te neem nie.—Johannes 17:11, 14; 2 Korintiërs 10:3, 4.
16. Wanneer en hoe is daar vir die ruiter van die rooi perd “’n groot swaard” gegee?
16 Daar was baie oorloë voor 1914, die jaar toe die Ruiter van die wit perd sy kroon ontvang het. Maar nou word daar vir die ruiter van die rooi perd “’n groot swaard” gegee. Wat impliseer dit? Toe die Eerste Wêreldoorlog uitgebreek het, het menslike oorlogvoering bloediger, vernietigender as ooit tevore geword. Gedurende die bloedbad van 1914-18 is tenks, gifgas, vliegtuie, duikbote, reusekanonne en outomatiese wapens óf vir die eerste keer óf op ’n ongekende skaal gebruik. In sowat 28 nasies is hele bevolkings, nie net beroepsoldate nie, by die oorlogspoging betrek. Die verliese was verskriklik. Meer as negemiljoen soldate is afgemaai, en die getal burgerlike slagoffers was astronomies. Selfs toe die oorlog geëindig het, het ware vrede nie na die aarde teruggekeer nie. Meer as 50 jaar ná daardie oorlog het die Duitse staatsman Konrad Adenauer gesê: “Veiligheid en kalmte het sedert 1914 uit mense se lewens verdwyn.” Dit is inderdaad aan die ruiter van die vuurkleurige perd gegee om vrede van die aarde weg te neem!
17. Hoe het die gebruik van die “groot swaard” ná die Eerste Wêreldoorlog voortgeduur?
17 Toe, met sy bloeddorstigheid geprikkel, het die ruiter van die rooi perd in die Tweede Wêreldoorlog ingestorm. Oorlogswapens het al hoe onmensliker geword, en lewensverlies het die hoogte ingeskiet, tot vier keer meer as dié van die Eerste Wêreldoorlog. In 1945 het twee atoombomme oor Japan ontplof, waarvan elkeen—in ’n oogwink—tienduisende slagoffers uitgewis het. Die ruiter van die rooi perd het gedurende die Tweede Wêreldoorlog ’n ontsaglike oes van sowat 55 miljoen lewens ingesamel, en selfs toe was hy nie tevrede nie. Betroubare bronne berig dat ver oor die 20 miljoen siele sedert die Tweede Wêreldoorlog deur die “groot swaard” gesneuwel het.
18, 19. (a) Van watter feit is die slagting sedert die Tweede Wêreldoorlog ’n bewys, eerder as dat dit ’n oorwinning vir militêre tegnologie is? (b) Voor watter gevaar staan die mensdom, maar wat sal die Ruiter van die wit perd doen om dit af te wend?
18 Kan ons dit ’n oorwinning vir militêre tegnologie noem? Dit is eerder ’n bewys dat die genadelose rooi perd aan die galop is. En waar sal hierdie galop eindig? Sommige wetenskaplikes meld die moontlikheid dat ’n kernoorlog as gevolg van ’n ongeluk sal uitbreek—om nie eens te praat van ’n beplande kernoorlog nie! Maar gelukkig het die oorwinnende Ruiter van die wit perd ander gedagtes hieromtrent.
19 Solank die gemeenskap op nasionalistiese trots en haat gegrond is, sal die mensdom op ’n kruitvat van kerngevaar bly sit. Al sou die nasies in ’n desperate poging alle kernwapens vernietig, sal hulle nog altyd die kundigheid besit. Hulle sal baie vinnig weer hulle moorddadige kerntoestelle kan vervaardig; enige oorlog met konvensionele wapens sal dus vinnig in ’n groot slagting kan ontaard. Die trots en haat waarvan die nasies vandag deurdring is, sal beslis tot die selfmoord van die mensdom lei, tensy—ja, tensy die Ruiter van die wit perd die dolle galop van die vuurkleurige perd afsny. Laat ons vol vertroue wees dat Christus, die Koning, sal ry, nie net om sy oorwinning te voltooi oor die wêreld wat deur Satan beheer word nie, maar ook om ’n nuwe aardse gemeenskap te stig wat gegrond is op liefde—liefde vir God en naaste—’n krag wat vrede in die hand werk en oneindig doeltreffender is as die onbetroubare kernafskrikmiddels van ons veelbewoë tye.—Psalm 37:9-11; Markus 12:29-31; Openbaring 21:1-5.
’n Swart perd begin sy tog
20. Watter versekering het ons dat die Ruiter van die wit perd enige rampspoedige situasie die hoof sal bied?
20 Jesus maak nou die derde seël oop! Johannes, wat sien jy? “En toe hy die derde seël oopmaak, het ek die derde lewende wese hoor sê: ‘Kom!’” (Openbaring 6:5a). Gelukkig het hierdie derde gerub “’n gesig soos dié van ’n mens”, wat die eienskap liefde uitbeeld. Beginselvaste liefde sal in God se nuwe wêreld oorvloedig wees, net soos Jehovah se organisasie vandag deurtrek is van hierdie voortreflike eienskap (Openbaring 4:7; 1 Johannes 4:16). Ons kan seker wees dat die Ruiter van die wit perd, wat “as koning [moet] heers totdat God alle vyande onder sy voete gestel het”, die rampspoedige situasie wat volgende vir ondersoek aan Johannes voorgelê word, liefdevol sal verwyder.—1 Korintiërs 15:25.
21. (a) Wat word deur die swart perd en sy ruiter afgebeeld? (b) Wat bewys dat die swart perd nog steeds sy woeste rit voortsit?
21 Wat sien Johannes dan wanneer die derde oproep om te “Kom!” beantwoord word? “En ek het gesien, en kyk! ’n swart perd; en die een wat daarop sit, het ’n weegskaal in sy hand gehad” (Openbaring 6:5b). Volslae hongersnood! Dit is die verskriklike boodskap van hierdie profetiese toneel. Dit wys na situasies vroeg in die dag van die Here wanneer voedsel met weegskale gerantsoeneer moet word. Hongersnood is sedert 1914 ’n voortdurende wêreldwye probleem. Hongersnood volg op moderne oorlogvoering, want hulpbronne wat gewoonlik gebruik word om honger mense te voed, word dikwels aangewend om oorlogswapens te voorsien. Plaaswerkers word opgekommandeer, en verwoeste landerye en afbrandbeleide belemmer voedselproduksie. Hoe waar was dit tog gedurende die Eerste Wêreldoorlog, toe miljoene honger gely en gesterf het! Wat meer is, die ruiter van die swart perd van honger het nie aan die einde van die oorlog opgehou ry nie. Gedurende die 1930’s het vyfmiljoen mense in net een hongersnood in die Oekraïne omgekom. Die Tweede Wêreldoorlog is gevolg deur nog voedseltekorte en hongersnode. Terwyl die swart perd voortgegalop het, het die Wêreldvoedselraad in die middel van 1987 berig dat 512 miljoen mense honger ly en dat 40 000 kinders elke dag weens hongerverwante oorsake sterf.
22. (a) Wat sê ’n stem, en wat sê dit is nodig? (b) Wat impliseer die koste van ’n liter koring en drie liter gars?
22 Johannes het nog om ons te vertel: “En ek het ’n stem asof van tussen die vier lewende wesens hoor sê: ‘’n Liter koring vir ’n denarius, en drie liter gars vir ’n denarius; en moenie die olyfolie en die wyn beskadig nie’” (Openbaring 6:6). Al vier gerubs sê eenparig dat dit nodig is om voedselvoorrade noukeurig dop te hou—net soos die mense voor Jerusalem se vernietiging in 607 v.G.J. “brood volgens gewig en in angstige besorgdheid” moes eet (Esegiël 4:16). In Johannes se dag is ’n liter koring as die daaglikse rantsoen vir ’n soldaat beskou. Hoeveel sou so ’n rantsoen kos? Een denarius—’n hele dagloon! (Matteus 20:2).d Sê nou ’n man het ’n gesin gehad? Hy kon dan drie liter ongedopte gars koop. Selfs dít sou net ’n klein gesin voed. En gars is nie soos koring as kwaliteitskos beskou nie.
23. Wat word geïmpliseer deur die woorde: “Moenie die olyfolie en die wyn beskadig nie”?
23 Wat word geïmpliseer deur die woorde: “Moenie die olyfolie en die wyn beskadig nie”? Party het gedink dit beteken dat die luukseartikels van die rykes nie benadeel sou word nie, al sou baie mense voedsel kortkom en selfs honger ly. Maar in die Midde-Ooste is olie en wyn nie werklik luukseartikels nie. In Bybeltye is brood, olie en wyn as stapelvoedsel beskou. (Vergelyk Genesis 14:18; Psalm 104:14, 15.) Water was nie altyd drinkbaar nie, en daarom is wyn algemeen gedrink en soms vir geneeskundige doeleindes gebruik (1 Timoteus 5:23). Wat olie betref, in Elia se dag het die weduwee van Sarfat, hoewel sy arm was, darem ’n bietjie olie oorgehad om haar oorblywende meel mee gaar te maak (1 Konings 17:12). Dit wil dus voorkom of die bevel “moenie die olyfolie en die wyn beskadig nie”, advies is om hierdie basiese verbruiksartikels nie te vinnig op te gebruik nie, maar om dit spaarsaam te gebruik. Anders sou dit “beskadig” word, dit wil sê, dit sou voor die einde van die hongersnood opraak.
24. Waarom sal die swart perd sy galop nie veel langer voortsit nie?
24 Hoe bly kan ons tog wees dat die Ruiter van die wit perd binnekort die leisels van hierdie galoppende swart perd gaan intrek! Want daar is oor Sy liefdevolle voorsiening vir die nuwe wêreld geskryf: “In sy dae sal die regverdige bloei, en die oorvloed van vrede totdat die maan nie meer is nie. . . . Daar sal volop graan op die aarde wees; op die top van die berge sal daar ’n oorvloed wees.”—Psalm 72:7, 16; sien ook Jesaja 25:6-8.
Die vaal perd en sy ruiter
25. Wie se stem hoor Johannes wanneer Jesus die vierde seël oopmaak, en waarop dui dit?
25 Die verhaal is nog nie ten volle vertel nie. Jesus maak die vierde seël oop, en Johannes sê vir ons wat die gevolg is: “En toe hy die vierde seël oopmaak, het ek die stem van die vierde lewende wese hoor sê: ‘Kom!’” (Openbaring 6:7). Dit is die stem van die gerub wat soos ’n vlieënde arend lyk. Dit dui op versiende wysheid, en Johannes, die Johannes-klas en alle ander aardse knegte van God moes inderdaad waarneem en met insig optree met die oog op wat hier uitgebeeld word. Sodoende kan ons ’n mate van beskerming geniet teen die plae waardeur die wêreldwyse mense van vandag se trotse, onsedelike geslag geteister word.—1 Korintiërs 1:20, 21.
26. (a) Wie is die vierde ruiter, en waarom is die kleur van sy perd gepas? (b) Wie volg die vierde ruiter, en wat gebeur met sy slagoffers?
26 Watter nuwe aaklighede word dan ontketen wanneer die vierde ruiter op die oproep reageer? Johannes sê vir ons: “En ek het gesien, en kyk! ’n vaal perd; en die een wat daarop sit, het die naam Dood gehad. En Hades het kort agter hom gevolg” (Openbaring 6:8a). Die ruiter van die laaste perd het ’n naam: Dood. Hy is die enigste van die vier ruiters van die Apokalips wat sy identiteit so regstreeks openbaar. Dit is gepas dat die Dood op ’n vaal perd ry, aangesien die woord vaal (Grieks, khlo·rosʹ) in die Griekse letterkunde gebruik word om gesigte te beskryf wat bleek is, asof weens siekte. Dit is ook gepas dat die Dood op die een of ander onverklaarde manier onmiddellik deur Hades (die doderyk) gevolg word, aangesien Hades die meeste van dié ontvang wat slagoffers van die vierde ruiter se verwoesting word. Gelukkig sal daar vir hulle ’n opstanding wees, wanneer ‘die dood en Hades die dooies in hulle gee’ (Openbaring 20:13). Maar hoe eis die Dood hierdie slagoffers?
27. (a) Hoe eis die ruiter genaamd Dood sy slagoffers? (b) Wat word bedoel met “die vierde deel van die aarde” waaroor die Dood gesag het?
27 Die visioen noem party van die maniere op: “En hulle is gesag oor die vierde deel van die aarde gegee, om dood te maak met ’n lang swaard en met voedseltekorte en met dodelike plae en deur die wilde diere van die aarde” (Openbaring 6:8b). Nie noodwendig ’n letterlike kwart van die aarde se bevolking sou deur hierdie rit geraak word nie, maar wel ’n groot deel van die aarde, hetsy dit dig of yl bevolk is. Hierdie ruiter samel die slagoffers van die groot swaard van die tweede ruiter en die hongersnode en voedseltekorte van die derde ruiter in. Hy samel ook sy eie oes in weens dodelike plae sowel as ’n oes weens aardbewings, soos in Lukas 21:10, 11 beskryf word.
28. (a) Hoe is profesieë oor “dodelike plae” vervul? (b) Hoe word Jehovah se volk vandag teen baie siektes beskerm?
28 “Dodelike plae” is hier van aktuele belang. Onmiddellik ná die verwoesting van die Eerste Wêreldoorlog het die Spaanse griep in net ’n paar maande van 1918-19 meer as 20 miljoen menselewens geëis. Die enigste gebied op aarde wat aan hierdie plaag ontkom het, was die eilandjie St. Helena. Op plekke waar groot dele van die bevolking gesterf het, is die dooies op brandstapels verbrand. En vandag is daar die skrikwekkende voorkomssyfer van hartkwaal en kanker, wat in groot mate deur tabakbesoedeling veroorsaak word. Gedurende die 1980’s, wat as “die aaklige dekade” beskryf is, het ’n lewenswyse wat volgens Bybelstandaarde wetteloos is, die plaag vigs by die “dodelike plae” gevoeg. In die jaar 2000 is daar berig dat die Amerikaanse geneesheer-generaal gesê het dat vigs “seker die grootste gesondheidsepidemie is wat die wêreld nog ooit getref het”. Hy het gesê dat 52 miljoen mense regoor die wêreld MIV/ vigs opgedoen het, en 20 miljoen van hulle het al gesterf. Hoe dankbaar is Jehovah se volk tog dat die wyse raad in sy Woord hulle laat wegbly van hoerery en die misbruik van bloed, waardeur so baie siektes vandag oorgedra word!—Handelinge 15:28, 29; vergelyk 1 Korintiërs 6:9-11.
29, 30. (a) Watter toepassing sou die “vier skadelike strafgerigte” van Esegiël 14:21 vandag hê? (b) Wat kan ons onder “die wilde diere” van Openbaring 6:8 verstaan? (c) Wat is blykbaar die hoofpunt van die profetiese toneel?
29 Johannes se visioen meld wilde diere as die vierde oorsaak van ontydige dood. Die vier dinge wat na vore kom wanneer die vierde seël oopgemaak word—oorlogvoering, hongersnood, siekte en wilde diere—is inderdaad in die ou tyd as oorheersende oorsake van ontydige dood beskou. Hulle sou dus alle hedendaagse oorsake van ontydige dood afbeeld. Dit is net soos Jehovah Israel gewaarsku het: “So sal dit ook wees wanneer ek my vier skadelike strafgerigte—swaard en hongersnood en gevaarlike wilde diere en pes—oor Jerusalem stuur om mens en mak dier daaruit uit te roei.”—Esegiël 14:21.
30 Sterftes weens wilde diere het in hedendaagse tye selde in die nuus gekom, hoewel wilde diere in tropiese lande gereeld slagoffers eis. Hulle sal moontlik in die toekoms selfs meer eis indien lande weens oorlogvoering verlate word of mense weens hongersnood te uitgeteer is om honger diere af te weer. Daarbenewens is daar vandag baie mense wat, soos redelose diere, dierlike gesindhede openbaar wat heeltemal in stryd is met dié wat in Jesaja 11:6-9 beskryf word. Hierdie mense is in groot mate verantwoordelik vir die wêreldwye toename in seksverwante misdade, moord, terrorisme en bomaanvalle in die moderne wêreld. (Vergelyk Esegiël 21:31; Romeine 1:28-31; 2 Petrus 2:12.) Die vierde ruiter samel ook hulle slagoffers in. Trouens, die hoofpunt van hierdie profetiese toneel is blykbaar dat die ruiter van die vaal perd op baie maniere die slagoffers van ontydige dood onder die mensdom insamel.
31. Waarom kan ons aangemoedig voel ondanks die verwoesting wat deur die ruiters van die rooi, swart en vaal perde aangerig word?
31 Die inligting wat geopenbaar word wanneer die eerste vier seëls oopgemaak word, stel ons gerus omdat dit ons leer om nie wanhopig te raak as gevolg van die oorlogvoering, honger, siekte en ander oorsake van ontydige dood wat vandag so algemeen is nie; ons moet ook nie alle hoop laat vaar omdat menseleiers nie huidige probleme kan oplos nie. As wêreldtoestande dit duidelik maak dat die ruiters van die rooi, swart en vaal perde teenwoordig is, moet ons nie vergeet dat die Ruiter van die wit perd sy rit eerste begin het nie. Jesus het Koning geword, en hy het reeds in dié mate oorwin dat hy Satan uit die hemele gewerp het. Sy verdere oorwinnings sluit in sy versameling van die oorblywende kinders van geestelike Israel en die internasionale groot menigte, wat in die miljoene tel, vir oorlewing deur die groot verdrukking heen (Openbaring 7:4, 9, 14). Sy rit moet voortduur totdat hy sy oorwinning voltooi.
32. Waardeur word die oopmaak van elk van die eerste vier seëls gekenmerk?
32 Die oopmaak van elk van die eerste vier seëls is gevolg deur die oproep: “Kom!” Elke keer het ’n perd en sy ruiter uitgestorm. Van die vyfde seël af hoor ons nie meer so ’n oproep nie. Maar hierdie ruiters ry nog steeds, en hulle sal dwarsdeur die voleinding van die stelsel van dinge voortgalop. (Vergelyk Matteus 28:20.) Watter ander belangrike gebeure openbaar Jesus wanneer hy die oorblywende drie seëls oopmaak? Party van die gebeure is onsigbaar vir mense-oë. Ander sal, hoewel hulle sigbaar is, eers in die toekoms plaasvind. En tog is hulle vervulling seker. Laat ons sien wat hulle is.
[Voetnote]
a Let egter daarop dat die “vrou” van Openbaring 12:1 ’n figuurlike “kroon van twaalf sterre” het.
b Vir uitvoerige bewyse dat Jesus in 1914 sy Koninkryk ontvang het, sien bladsye 215-18 van die boek Wat leer die Bybel werklik? uitgegee deur Jehovah se Getuies.
c Hoewel baie vertalings hierdie uitdrukking weergee met “om te oorwin” (Ou Afrikaanse Bybelvertaling, Revised Standard, The New English Bible, King James Version) of “vasbeslote om te oorwin” (Phillips, New International Version), dra die gebruik van die aoristiese subjunktief hier in die oorspronklike Grieks ’n gevoel van voltooiing of finaliteit oor. Robertson se Word Pictures in the New Testament sê derhalwe: “Die aoristus hier dui op finale oorwinning.”
d Sien voetnoot in NW.
[Venster op bladsy 92]
Die Koning ry seëvierend
Gedurende die 1930’s en 1940’s het vasbeslote vyande die indruk probeer skep dat die bediening van Jehovah se Getuies onwettig, krimineel of selfs ondermynend is (Psalm 94:20). In 1936 alleen is 1 149 arrestasies in die Verenigde State opgeteken. Die Getuies het baie hofsake tot in die Hooggeregshof van die Verenigde State gevoer, en hier volg ’n paar van hulle besondere oorwinnings.
Op 3 Mei 1943 het die Hooggeregshof in die saak Murdock v. Pennsylvania beslis dat die Getuies nie ’n lisensie nodig het om geld vir lektuur te ontvang nie. Op daardie selfde dag was die beslissing in die saak Martin v. City of Struthers dat dit nie onwettig is om deurklokkies te lui terwyl strooibiljette en ander reklamemateriaal van huis tot huis versprei word nie.
Op 14 Junie 1943 het die Hooggeregshof in die saak Taylor v. Mississippi beslis dat die Getuies nie deur hulle predikingswerk ontrouheid aan die regering aanmoedig nie. Op daardie selfde dag het die Hof, in die saak West Virginia State Board of Education v. Barnette, beslis dat ’n skoolraad nie die reg het om kinders van Jehovah se Getuies wat weier om die vlag te salueer, uit die skool te sit nie. Die volgende dag het die volle Hooggeregshof van Australië daardie land se verbod op Jehovah se Getuies opgehef omdat dit as “eiemagtig, willekeurig en onderdrukkend” bestempel is.
[Venster op bladsy 94]
“Gegee om vrede van die aarde weg te neem”
Waarheen lei die tegnologie? The Globe and Mail van Toronto, Kanada, het op 22 Januarie 1987 die volgende uittreksel uit ’n toespraak deur Ivan L. Head, president van die Internasionale Ontwikkelingsnavorsingsentrum, gepubliseer:
“Volgens betroubare skattings werk een uit elke vier wetenskaplikes en tegnoloë in die wêreld wat met navorsing en ontwikkeling besig is, aan wapens. . . . Volgens 1986-pryse beloop die besteding meer as $1,5 miljoen per minuut. . . . Is ons almal veiliger as gevolg van hierdie klem op die tegnologie? Die kernarsenale van die supermoondhede bevat 6 000 keer soveel plofkrag as al die wapens wat deur al die soldate in die hele Tweede Wêreldoorlog gebruik is. Sesduisend Tweede Wêreldoorloë. Sedert 1945 was daar minder as sewe weke waarin die wêreld vry van militêre bedrywighede was. Daar was meer as 150 internasionale of burgeroorloë, wat volgens skatting 19,3 miljoen lewens geëis het, die meeste van hulle as gevolg van die doeltreffende nuwe tegnologieë wat in hierdie era van die Verenigde Nasies verskyn het.”
Teen die jaar 2005 het militêre bedrywighede ver oor die 20 miljoen lewens geëis.
[Venster op bladsy 98, 99]
Die raamwerk van die boek Openbaring
Noudat ons tot hier in ons bespreking van die boek Openbaring gevorder het, begin ons die boek se raamwerk duideliker sien. Ná sy besielende inleiding (Openbaring 1:1-9) kan Openbaring soos volg in 16 visioene onderverdeel word:
1STE VISIOEN (1:10–3:22): Johannes sien deur inspirasie die verheerlikte Jesus, wat hartlike boodskappe van raad aan die sewe gemeentes stuur.
2DE VISIOEN (4:1–5:14): ’n Luisterryke visioen van die hemelse troon van Jehovah God. Hy gee ’n boekrol aan die Lam.
3DE VISIOEN (6:1-17): Die Lam breek die eerste ses seëls van die boekrol oop en openbaar progressief ’n saamgestelde visioen van gebeure wat in die dag van die Here moet plaasvind. Die vier ruiters van die Apokalips begin hulle rit, God se slawe wat ’n marteldood gesterf het, ontvang wit klere en die groot dag van gramskap word beskryf.
4DE VISIOEN (7:1-17): Engele hou die winde van vernietiging terug totdat die 144 000 lede van geestelike Israel verseël is. ’n Groot menigte uit alle nasies skryf redding aan God en Christus toe en word versamel vir oorlewing deur die groot verdrukking heen.
5DE VISIOEN (8:1–9:21): Wanneer die sewende seël oopgemaak word, is daar sewe trompetstote, waarvan die eerste ses die vyfde visioen uitmaak. Hierdie ses trompetstote kondig uitings van Jehovah se oordeel oor die mensdom aan. Die vyfde en sesde trompet lei ook die eerste en tweede wee in.
6DE VISIOEN (10:1–11:19): ’n Sterk engel gee vir Johannes ’n boekrolletjie, die tempel word gemeet en ons hoor van die ondervindinge van die twee getuies. Dit bereik ’n hoogtepunt wanneer daar op die sewende trompet geblaas word, wat die derde wee vir God se vyande aankondig—die inkomende Koninkryk van Jehovah en van sy Christus.
7DE VISIOEN (12:1-17): Dit beskryf die geboorte van die Koninkryk, wat tot gevolg het dat Migael die slang, Satan, na die aarde neerwerp.
8STE VISIOEN (13:1-18): Die magtige wilde dier kom uit die see op, en die dier met twee horings soos ’n lam spoor die mensdom aan om dit te aanbid.
9DE VISIOEN (14:1-20): ’n Luisterryke voorskou van die 144 000 op die berg Sion. Engeleboodskappe word aardwyd gehoor, die wingerdstok van die aarde word geoes en die wynpers van God se toorn word getrap.
10DE VISIOEN (15:1–16:21): Nog ’n kykie in die hemelse hof, gevolg deur die sewe bakke van Jehovah se toorn wat op die aarde uitgegooi word. Hierdie deel eindig ook met ’n profetiese beskrywing van die einde van Satan se stelsel.
11DE VISIOEN (17:1-18): Die groot hoer, Babilon die Grote, ry op ’n skarlakenkleurige wilde dier, wat vir ’n kort tydjie in die afgrond ingaan, maar weer verskyn en haar verwoes.
12DE VISIOEN (18:1–19:10): Die val en uiteindelike vernietiging van Babilon die Grote word aangekondig. Ná haar teregstelling rou party, ander loof Jehovah; die huwelik van die Lam word aangekondig.
13DE VISIOEN (19:11-21): Jesus lei die leërs van die hemel om God se grimmige oordeel aan Satan se stelsel sowel as aan die leërs en ondersteuners daarvan te voltrek; roofvoëls eet hulle lyke.
14DE VISIOEN (20:1-10): Satan die Duiwel word in die afgrond gewerp, die Duisendjarige Heerskappy van Christus en sy medekonings, die finale toets van die mensdom en die vernietiging van Satan en sy demone.
15DE VISIOEN (20:11–21:8): Die algemene opstanding en die groot Oordeelsdag; ’n nuwe hemel en ’n nuwe aarde verskyn, met ewige seëninge vir die regverdige mensdom.
16DE VISIOEN (21:9–22:5): Openbaring bereik ’n klimaks met ’n glorieryke visioen van Nuwe Jerusalem, die Lam se vrou. God se voorsiening van genesing en lewe vir die mensdom vloei uit daardie stad uit.
Openbaring eindig met hartlike groete en raad van Jehovah, Jesus, die engel en Johannes self. Die uitnodiging aan almal is “Kom!”—Openbaring 22:6-21.