Hoofstuk 38
Loof Jah vir sy oordele!
1. Watter woorde hoor Johannes “soos ’n harde stem van ’n groot menigte in die hemel”?
BABILON DIE GROTE bestaan nie meer nie! Dit is werklik verblydende nuus. Geen wonder dat Johannes vreugdevolle uitroepe van lof in die hemel hoor nie! “Ná hierdie dinge het ek iets gehoor wat soos ’n harde stem van ’n groot menigte in die hemel was. Hulle het gesê: ‘Halleluja!a Die redding en die heerlikheid en die mag behoort aan ons God, want sy oordele is waaragtig en regverdig. Want hy het oordeel voltrek aan die groot hoer wat die aarde met haar hoerery verderf het, en hy het die bloed van sy slawe op haar hand gewreek.’ En dadelik het hulle vir die tweede keer gesê: ‘Halleluja!b En die rook wat van haar kom, bly vir ewig en altyd opstyg.’”—Openbaring 19:1-3.
2. (a) Wat beteken die woord “Halleluja”, en wat toon die feit dat Johannes dit op hierdie stadium twee keer hoor? (b) Wie ontvang die heerlikheid vir die vernietiging van Babilon die Grote? Verduidelik.
2 Ja, Halleluja! Die woord beteken “Loof Jah”, en “Jah” is die verkorte vorm van die goddelike naam, Jehovah. Ons word hier herinner aan die psalmis se aansporing: “Laat alles wat asemhaal, Jah loof. Loof Jah!” (Psalm 150:6). Die feit dat Johannes die jubelende hemelse koor op hierdie stadium in Openbaring twee keer “Halleluja!” hoor sing, toon die samehang van die goddelike openbaring van waarheid. Die God van die Christelike Griekse Geskrifte is dieselfde as die God van die vroeëre Hebreeuse Geskrifte, en Jehovah is sy naam. Die God wat die val van eertydse Babilon veroorsaak het, het Babilon die Grote nou geoordeel en vernietig. Skryf aan hom al die heerlikheid toe vir hierdie prestasie! Die krag wat haar ondergang bewerkstellig het, behoort aan hom en nie aan die nasies wat hy as werktuie gebruik het om haar te verwoes nie. Aan Jehovah alleen moet ons redding toeskryf.—Jesaja 12:2; Openbaring 4:11; 7:10, 12.
3. Waarom het die groot hoer haar oordeel dubbel en dwars verdien?
3 Waarom het die groot hoer hierdie oordeel dubbel en dwars verdien? Volgens die wet wat Jehovah aan Noag—en deur hom aan die hele mensdom—gegee het, vereis die moedswillige vergieting van bloed die doodsvonnis. Dit is in God se Wet aan Israel herhaal (Genesis 9:6; Numeri 35:20, 21). Bowendien het fisiese sowel as geestelike egbreuk volgens daardie Mosaïese Wet die dood verdien (Levitikus 20:10; Deuteronomium 13:1-5). Babilon die Grote is al duisende jare lank bloedskuldig, en sy is ’n skandelike hoer. Die Rooms-Katolieke Kerk se beleid om sy priesters te verbied om te trou, het byvoorbeeld daartoe gelei dat baie van hulle hulle aan growwe onsedelikheid skuldig maak, en heelwat van hulle doen vandag vigs op (1 Korintiërs 6:9, 10; 1 Timoteus 4:1-3). Maar haar grootste sondes, ‘wat tot aan die hemel ophoop’, is haar skokkende dade van geestelike hoerery—deur valshede te verkondig en haarself met verdorwe politici te verbind (Openbaring 18:5). Aangesien haar straf haar uiteindelik ingehaal het, laat die hemelse menigte nou ’n tweede Halleluja hoor.
4. Wat word gesimboliseer deur die feit dat die rook van Babilon die Grote ‘vir ewig en altyd bly opstyg’?
4 Babilon die Grote is aan die brand gesteek soos ’n verowerde stad, en haar rook “bly vir ewig en altyd opstyg”. Wanneer ’n letterlike stad deur verowerende leërs verbrand word, bly die rook opstyg solank die as warm is. Enigiemand wat dit probeer herbou terwyl dit nog rook, sal eenvoudig deur die smeulende puin gebrand word. Aangesien die rook van Babilon die Grote “vir ewig en altyd” sal opstyg as ’n teken van die finaliteit van haar oordeel, sal niemand hierdie verderflike stad ooit weer kan herstel nie. Valse godsdiens is vir ewig weg. Ja, Halleluja!—Vergelyk Jesaja 34:5, 9, 10.
5. (a) Wat doen en sê die 24 ouderlinge en die vier lewende wesens? (b) Waarom is die Halleluja-refrein baie meer melodieus as Halleluja-kore wat in die Christendom se kerke gesing is?
5 In ’n vroeëre visioen het Johannes vier lewende wesens rondom die troon gesien, saam met die 24 ouderlinge wat die Koninkrykserfgename in hulle glorieryke hemelse posisie afbeeld (Openbaring 4:8-11). Nou sien hy hulle weer wanneer hulle ’n derde Halleluja oor die vernietiging van Babilon die Grote laat weerklink: “En die vier-en-twintig ouderlinge en die vier lewende wesens het neergeval en God aanbid wat op die troon sit en gesê: ‘Amen! Halleluja!’”c (Openbaring 19:4). Hierdie pragtige Halleluja-koor is dus iets anders as die “nuwe lied” van lof aan die Lam (Openbaring 5:8, 9). Hulle sing nou die pragtige oorwinningsrefrein en skryf al die heerlikheid aan die Soewereine Heer Jehovah toe weens sy beslissende oorwinning oor die groot hoer, Babilon die Grote. Hierdie Hallelujas weerklink baie meer melodieus as enige Halleluja-kore wat in die Christendom se kerke gesing is, waar Jehovah, of Jah, onteer en verag is. Sulke skynheilige sang wat Jehovah se naam oneer aandoen, is nou vir ewig stilgemaak!
6. Wie se “stem” word gehoor, watter aansporing gee dit, en wie reageer almal daarop?
6 Dit was in 1918 dat Jehovah ‘dié wat sy naam vrees, klein en groot,’ begin beloon het—waarvan die eerstes die gesalfde Christene was wat getrou gesterf het en wat hy opgewek en in die hemelse geledere van die 24 ouderlinge geplaas het (Openbaring 11:18). Ander sing die Hallelujas saam met hulle, want Johannes sê: “En ’n stem het uit die troon uitgegaan en gesê: ‘Loof ons God, al sy slawe wat hom vrees, klein en groot’” (Openbaring 19:5). Dit is die “stem” van Jehovah se Mondstuk, sy eie Seun, Jesus Christus, wat “in die middel van die troon” staan (Openbaring 5:6). Nie net in die hemel nie, maar ook hier op die aarde sing “al sy slawe” saam, terwyl die gesalfde Johannes-klas op die aarde die voortou neem. Hoe vreugdevol gehoorsaam hulle tog die bevel: “Loof ons God”!
7. Wie sal Jehovah loof nadat Babilon die Grote vernietig is?
7 Ja, die lede van die groot menigte tel ook onder hierdie slawe. Sedert 1935 het hulle uit Babilon die Grote gekom en die vervulling van God se belofte ondervind: “Hy sal dié seën wat Jehovah vrees, klein sowel as groot” (Psalm 115:13). Wanneer die hoeragtige Babilon vernietig word, sal miljoene van hulle ‘ons God loof’—saam met die Johannes-klas en die hele hemelse leërskare. Later sal dié wat op die aarde opgewek word, hetsy hulle voorheen prominent was of nie, ongetwyfeld verdere Hallelujas sing wanneer hulle hoor dat Babilon die Grote vir ewig vernietig is (Openbaring 20:12, 15). Alle lof aan Jehovah vir sy klinkende oorwinning oor die eeue oue hoer!
8. Wat moet die hemelse lofliedere wat Johannes gehoor het, ons nou aanvuur om te doen voordat Babilon die Grote vernietig word?
8 Hoe vuur dit alles ons tog aan om soveel moontlik in God se werk vir ons dag te doen! Mag alle knegte van Jah hulle met hart en siel daarop toespits om nou, voordat Babilon die Grote afgegooi en vernietig word, God se oordele, tesame met die wonderlike Koninkrykshoop, te verkondig.—Jesaja 61:1-3; 1 Korintiërs 15:58.
‘Halleluja—Jehovah is koning!’
9. Waarom is die laaste Halleluja so ’n vol, ryk geluid?
9 Daar is nog redes tot vreugde, soos Johannes ons verder meedeel: “En ek het iets gehoor wat soos ’n stem van ’n groot menigte was en soos ’n geluid van baie waters en soos ’n geluid van swaar donderslae. Hulle het gesê: ‘Halleluja,d want Jehovah ons God, die Almagtige, het as koning begin heers’” (Openbaring 19:6). Hierdie laaste Halleluja is die een wat die aankondiging vierkantig, of simmetries, maak. Dit is ’n magtige hemelse geluid, indrukwekkender as enige mensekoor, majestueuser as enige aardse waterval en vreesinboesemender as enige aardse donderstorm. Die tienduisende hemelse stemme vier die feit dat ‘Jehovah ons God, die Almagtige, as koning begin heers het’.
10. In watter sin kan daar gesê word dat Jehovah ná Babilon die Grote se verwoesting as koning begin heers?
10 Maar in watter sin begin Jehovah heers? Millenniums het verloop sedert die psalmis gesê het: “God [is] van lankal af my Koning” (Psalm 74:12). Jehovah se koningskap was selfs toe al baie oud. Hoe kan die universele koor dan sing dat ‘Jehovah as koning begin heers het’? In die sin dat Jehovah, wanneer Babilon die Grote vernietig word, nie meer hierdie vermetele teenstander sal hê wat gehoorsaamheid aan hom as die Universele Soewerein ondermyn nie. Valse godsdiens sal nie meer die aarde se heersers aanhits om hom teë te staan nie. Toe eertydse Babilon uit ’n posisie van wêreldoorheersing geval het, het Sion die seëvierende aankondiging gehoor: “Jou God het koning geword!” (Jesaja 52:7). Ná die geboorte van die Koninkryk in 1914 het die 24 ouderlinge uitgeroep: “Ons dank u, Jehovah God, . . . want u het u groot krag opgeneem en as koning begin heers” (Openbaring 11:17). Nou, ná die verwoesting van Babilon die Grote, word daar weer uitgeroep: “Jehovah . . . het as koning begin heers.” Daar is geen mensgemaakte god oor om die soewereiniteit van die ware God, Jehovah, te betwis nie!
Die Lam se huwelik is op hande!
11, 12. (a) Hoe het eertydse Jerusalem eertydse Babilon aangespreek, en watter patroon is sodoende met betrekking tot Nuwe Jerusalem en Babilon die Grote vasgestel? (b) Wat sing en kondig die hemelse menigtes ná die oorwinning oor Babilon die Grote aan?
11 “My vyandin”! Dit is hoe Jerusalem, waar Jehovah se tempel van aanbidding geleë was, afgodsaanbiddende Babilon aangespreek het (Miga 7:8). Net so het “die heilige stad, Nuwe Jerusalem,” wat uit die bruid van 144 000 lede bestaan, alle rede gehad om Babilon die Grote as haar vyandin aan te spreek (Openbaring 21:2). Maar uiteindelik het teëspoed, rampspoed en verwoesting die groot hoer oorval. Haar spiritistiese gebruike en astroloë kon haar nie red nie. (Vergelyk Jesaja 47:1, 11-13.) Dit is inderdaad ’n groot oorwinning vir ware aanbidding!
12 Noudat die afskuwelike hoer, Babilon die Grote, vir ewig uit die weg geruim is, kan daar aandag gegee word aan die maagdelike rein bruid van die Lam! Daarom sing die hemelse menigtes jubelend tot lof van Jehovah: “Laat ons bly wees en oorloop van vreugde, en laat ons hom die heerlikheid gee, want die huwelik van die Lam het gekom en sy vrou het haar gereedgemaak. Ja, aan haar is dit gegee om geklee te wees in blink, skoon, fyn linne, want die fyn linne beeld die regverdige dade van die heiliges af.”—Openbaring 19:7, 8.
13. Watter voorbereidings vir die huwelik van die Lam is deur die eeue heen getref?
13 Deur die eeue heen het Jesus liefdevolle voorbereidings getref vir hierdie hemelse huwelik (Matteus 28:20; 2 Korintiërs 11:2). Hy het die 144 000 lede van geestelike Israel gereinig sodat “hy die gemeente in die prag daarvan voor hom kon stel, sonder ’n vlek of ’n rimpel of iets dergeliks, maar dat dit heilig en sonder smet sou wees” (Efesiërs 5:25-27). Om “die prys van God se roeping na bo” te verkry, moes elke gesalfde Christen die ou persoonlikheid met sy gebruike aflê, hom met die nuwe Christelike persoonlikheid beklee en regverdige dade “met [sy] hele siel soos vir Jehovah” verrig.—Filippense 3:8, 13, 14; Kolossense 3:9, 10, 23.
14. Hoe het Satan die toekomstige lede van die Lam se vrou probeer besoedel?
14 Sedert Pinkster 33 G.J. het Satan Babilon die Grote as sy werktuig gebruik om die toekomstige lede van die Lam se vrou te probeer besoedel. Teen die einde van die eerste eeu het hy saadjies van Babiloniese godsdiens in die gemeente gesaai (1 Korintiërs 15:12; 2 Timoteus 2:18; Openbaring 2:6, 14, 20). Die apostel Paulus beskryf dié wat ander se geloof ondermyn het, met hierdie woorde: “Want sulke mense is valse apostels, bedrieglike werkers, wat hulleself in apostels van Christus verander. En geen wonder nie, want Satan self hou aan om hom in ’n engel van lig te verander” (2 Korintiërs 11:13, 14). In die daaropvolgende eeue het die afvallige Christendom, soos die res van Babilon die Grote, haar in die klere van rykdom en bevoorregting geklee, “purper en skarlaken en . . . goud en edelstene en pêrels” (Openbaring 17:4). Haar geestelikes en pouse het met bloeddorstige keisers, soos Konstantyn en Karel die Grote, omgegaan. Sy was nooit in “die regverdige dade van die heiliges” geklee nie. As ’n valse bruid was sy waarlik ’n meesterstuk van sataniese bedrog. Uiteindelik is sy vir ewig weg!
Die Lam se vrou het haar gereedgemaak
15. Hoe vind die verseëling plaas, en wat word van ’n gesalfde Christen vereis?
15 Nou, ná byna 2 000 jaar, het al 144 000 lede van die bruidsklas hulle dus voorberei. Maar op watter tydstip kan daar gesê word dat ‘die Lam se vrou haar gereedgemaak het’? Sedert Pinkster 33 G.J. is gelowige gesalfdes progressief “met die beloofde heilige gees verseël”, dít met die oog op ’n komende “dag van bevryding deur ’n losprys”. Soos die apostel Paulus dit gestel het, het God “ook sy seël op ons gedruk en ons die pand van wat gaan kom, dit wil sê die gees, in ons harte gegee” (Efesiërs 1:13; 4:30; 2 Korintiërs 1:22). Elke gesalfde Christen is ‘geroepe en uitverkore’, en hy het bewys dat hy ‘getrou’ is.—Openbaring 17:14.
16. (a) Wanneer was die apostel Paulus se verseëling voltooi, en hoe weet ons dit? (b) Wanneer sal die Lam se vrou haar ten volle “gereedgemaak” het?
16 Ná dekades van toetsing kon Paulus self sê: “Ek het die goeie stryd gestry, ek het die wedloop enduit gehardloop, ek het die geloof bewaar. Van nou af is die kroon van regverdigheid vir my weggelê, wat die Here, die regverdige regter, my in daardie dag as beloning sal gee, en tog, nie net aan my nie, maar ook aan almal wat sy openbaarwording liefgehad het” (2 Timoteus 4:7, 8). Dit lyk of die apostel se verseëling voltooi was, hoewel hy nog in die vlees was en later ’n marteldood sou ondergaan. Die tyd moet ook aanbreek wanneer alle oorblywende lede van die 144 000 op die aarde individueel verseël sal wees as persone wat aan Jehovah behoort (2 Timoteus 2:19). Op hierdie stadium sal die Lam se vrou haar ten volle gereedgemaak het—wanneer die meeste van die 144 000 reeds hulle hemelse beloning ontvang het en dié wat nog op die aarde is, finaal as getroue knegte goedgekeur en verseël is.
17. Wanneer kan die huwelik van die Lam plaasvind?
17 Dit is op hierdie tydstip in Jehovah se rooster, wanneer die verseëling van die 144 000 voltooi is, dat die engele die vier winde van die groot verdrukking loslaat (Openbaring 7:1-3). Eers word oordeel aan die hoeragtige Babilon die Grote voltrek. Die seëvierende Christus ruk dan vinnig op na Armageddon om die res van Satan se organisasie op die aarde te vernietig en, uiteindelik, om Satan en sy demone in die afgrond te werp (Openbaring 19:11–20:3). As enige gesalfdes nog op die aarde oorbly, sal hulle ongetwyfeld hulle hemelse beloning ontvang kort nadat Christus sy oorwinning voltooi het en sal hulle by hulle medelede van die bruidsklas aansluit. Dan, op God se bestemde tyd, kan die huwelik van die Lam plaasvind!
18. Hoe bevestig Psalm 45 die volgorde van gebeure met betrekking tot die huwelik van die Lam?
18 Die profetiese verslag in Psalm 45 beskryf die volgorde van gebeure. Eers ry die gekroonde Koning uit om sy vyande te oorwin (Verse 1-7). Dan vind die huwelik plaas, terwyl die hemelse bruid op die aarde bedien word deur haar maagdelike metgeselle, die groot menigte (Verse 8-15). Vervolgens word die huwelik vrugbaar deurdat die verrese mensdom onder toesig van “vorste op die hele aarde” tot volmaaktheid verhef word (Verse 16, 17). Watter glorieryke seëninge gaan tog met die huwelik van die Lam gepaard!
Gelukkig is dié wat genooi is
19. Hoe lui die vierde van die sewe geluksprekinge in Openbaring, en wie deel in hierdie besondere geluk?
19 Johannes teken nou die vierde van die sewe geluksprekinge in Openbaring op: “En hy [die engel wat hierdie dinge aan Johannes geopenbaar het] sê vir my: ‘Skryf: Gelukkig is dié wat na die aandmaal van die Lam se huwelik genooi is.’ Ook sê hy vir my: ‘Dit is die waaragtige woorde van God’” (Openbaring 19:9).e Dié wat na “die aandmaal van die Lam se huwelik” genooi word, is die lede van die bruidsklas. (Vergelyk Matteus 22:1-14.) Die hele gesalfde bruidsgeselskap is gelukkig omdat hulle hierdie uitnodiging ontvang het. Die meeste van die genooides het reeds hemel toe gegaan, waar die huweliksaandmaal gehou word. Dié wat nog op die aarde is, is ook gelukkig omdat hulle die uitnodiging het. Hulle plek by die huweliksaandmaal is seker (Johannes 14:1-3; 1 Petrus 1:3-9). Wanneer hulle na die hemel opgewek word, sal die hele, verenigde bruid saam met die Lam in hierdie uiters gelukkige huwelik deel.
20. (a) Wat beteken die woorde: “Dit is die waaragtige woorde van God”? (b) Watter uitwerking het die woorde van die engel op Johannes gehad, en hoe het die engel gereageer?
20 Die engel voeg by: “Dit is die waaragtige woorde van God.” Hierdie woord ‘waaragtig’ gee die Griekse a·le·thi·nosʹ weer en beteken “eg” of “betroubaar”. Aangesien hierdie woorde in werklikheid van Jehovah af kom, is hulle getrou en betroubaar. (Vergelyk 1 Johannes 4:1-3; Openbaring 21:5; 22:6.) As ’n genooide na hierdie huweliksfees moes Johannes baie verheug gewees het om dit te hoor en om na te dink oor die seëninge wat vir die bruidsklas voorlê. Trouens, hy was so ontroer dat die engel hom raad moes gee, soos Johannes vertel: “Daarop het ek voor sy voete neergeval om hom te aanbid. Maar hy sê vir my: ‘Pas op! Moet dit nie doen nie! Ek is maar net ’n medeslaaf van jou en van jou broers wat die werk het om van Jesus te getuig. Aanbid God.’”—Openbaring 19:10a.
21. (a) Wat onthul Openbaring met betrekking tot die engele? (b) Watter gesindheid behoort Christene teenoor die engele te hê?
21 Die hele Openbaring getuig op merkwaardige wyse van die getrouheid en ywer van die engele. Hulle is betrokke by die kanaal van geopenbaarde waarheid (Openbaring 1:1). Hulle werk saam met mense om die goeie nuus te verkondig en die simboliese plae uit te gooi (Openbaring 14:6, 7; 16:1). Hulle het aan Jesus se sy geveg om Satan en sy engele uit die hemel te werp, en hulle sal weer by Armageddon aan sy sy veg (Openbaring 12:7; 19:11-14). Ja, hulle het toegang tot Jehovah self (Matteus 18:10; Openbaring 15:6). Nietemin is hulle bloot nederige slawe van God. Daar is geen plek in ware aanbidding vir die aanbidding van die engele of selfs vir relatiewe aanbidding nie, dit wil sê om God deur die een of ander “heilige” of engel te aanbid (Kolossense 2:18). Christene aanbid Jehovah alleen en rig hulle versoeke in Jesus se naam tot hom.—Johannes 14:12, 13.
Jesus se rol in profesieë
22. Wat sê die engel vir Johannes, en wat beteken die woorde?
22 Die engel sê dan: “Want dit is die aflegging van getuienis omtrent Jesus wat profesie inspireer” (Openbaring 19:10b). Hoe so? Dit beteken dat Jesus en die rol wat hy in Jehovah se voornemens speel, aanleiding gee tot alle geïnspireerde profesieë. Die eerste profesie in die Bybel het die koms van ’n saad beloof (Genesis 3:15). Jesus het daardie Saad geword. Verdere openbarings het ’n massa profetiese waarheid op hierdie basiese belofte gebou. Die apostel Petrus het vir die gelowige nie-Jood Kornelius gesê: “Van hom [Jesus] getuig al die profete” (Handelinge 10:43). Sowat 20 jaar later het die apostel Paulus gesê: “Ongeag hoeveel beloftes van God daar is, hulle het deur middel van hom [Jesus] Ja geword” (2 Korintiërs 1:20). Ná nog 43 jaar herinner Johannes self ons weer daaraan: “Die waarheid het deur middel van Jesus Christus gekom.”—Johannes 1:17.
23. Waarom doen die hoë posisie en gesag van Jesus nie afbreuk aan die aanbidding wat ons aan Jehovah gee nie?
23 Doen dit enigsins afbreuk aan die aanbidding wat ons aan Jehovah gee? Nee. Onthou die engel se waarskuwende raad: “Aanbid God.” Jesus probeer nooit om met Jehovah te wedywer nie (Filippense 2:6). Al die engele word weliswaar beveel om ‘aan Jesus hulde te bewys’, en die hele skepping moet sy hoë posisie erken sodat “in die naam van Jesus elke knie sou buig”. Maar let op dat dit “tot die heerlikheid van God die Vader” en op sy bevel is (Hebreërs 1:6; Filippense 2:9-11). Jehovah het aan Jesus sy hoë gesag gegee, en deur hierdie gesag te erken, verheerlik ons God. As ons weier om ons aan Jesus se heerskappy te onderwerp, kom dit neer op ’n verwerping van Jehovah God self.—Psalm 2:11, 12.
24. Watter twee verstommende gebeure verwag ons, en watter woorde moet ons derhalwe uiter?
24 Laat ons dan eensgesind die openingswoorde van Psalms 146 tot 150 uiter: “Loof Jah!” Mag die Halleluja-koor dawerend weerklink in afwagting van Jehovah se oorwinning oor die Babiloniese wêreldryk van valse godsdiens! En mag daar oorvloedige vreugde wees namate die huwelik van die Lam nader kom!
[Voetnote]
a Voetnoot in NW.
b Voetnoot in NW.
c Voetnoot in NW.
d Voetnoot in NW.
e Sien ook Openbaring 1:3; 14:13; 16:15.
[Venster op bladsy 273]
“Brief aan Sodom en Gomorra”
Onder hierdie hoofopskrif het Londen se Daily Telegraph van 12 November 1987 verslag gedoen oor ’n mosie wat aan die Algemene Sinode van die Anglikaanse Kerk voorgelê is. Dit het bepleit dat homoseksuele “Christene” uit die kerk gesit word. Die rubriekskrywer Godfrey Barker het gesê: “Die Aartsbiskop van Kantelberg het gister droefgeestig sy mening uitgespreek: ‘As St. Paulus ’n brief aan die Anglikaanse Kerk sou skryf, kan ons ons tereg afvra watter soort brief dit sou wees.’” Mnr. Barker self het gesê: “’n Brief aan Sodom en Gomorra is die antwoord”, en hy het bygevoeg: “Dr. Runcie [die aartsbiskop] was van mening dat dit soos Romeine, Hfst. 1, sou lui.”
Die skrywer het Paulus se woorde in Romeine 1:26-32 aangehaal: “God het hulle in ooreenstemming met die welluste van hulle hart aan onreinhede oorgegee. . . . Mans het skaamtelose dade met mans gepleeg . . . hoewel hulle die verordening van God ken, naamlik dat dié wat sulke dinge doen, die dood verdien, doen hulle dit nie net self nie, maar gee hulle ook hulle goedkeuring aan dié wat dit doen.” Hy het ten slotte gesê: “St. Paulus was net bekommerd oor die ouens in die kerkbanke. Dr. Runcie se probleem is die ouens op die preekstoele.”
Waarom het die aartsbiskop so ’n probleem? Groot opskrifte in die Londense Daily Mail van 22 Oktober 1987 het gesê: “‘Een uit drie predikante homoseksueel’ . . . Veldtog om homoseksuele uit te dryf, ‘sal Anglikaanse Kerk sluit’.” Volgens die berigte het die “eerwaarde” hoofsekretaris van die Lesbiese en Homoseksuele Christelike Beweging gesê: “As hierdie mosie aanvaar word, sal dit die Kerk verwoes, en die Aartsbiskop van Kantelberg weet dit. Ons is van mening dat, om ’n benaderde syfer te gee, tussen 30 en 40 persent van Anglikaanse geestelikes homoseksueel is. En hulle is die bedrywigste mense wat tot die bediening van die Kerk bydra.” Die dalende aantal kerkgangers is ongetwyfeld deels ’n weerspieëling van walging vir daardie groeiende homoseksuele bediening.
Wat het die kerksinode besluit? ’n Oorweldigende meerderheid van 388 lede (95 persent van die geestelikes) het ten gunste van ’n afgewaterde mosie gestem. The Economist van 14 November 1987 het in hierdie verband berig: “Die Anglikaanse Kerk is gekant teen homoseksuele gebruike, maar nie sterk gekant daarteen nie. Die algemene sinode, die Kerk se parlement, het hierdie week, met homoseksuele geestelikes in gedagte, besluit dat homoseksuele dade, anders as hoerery en owerspel, nie ’n sonde is nie: daar is bloot gesê dat dit ‘te kort skiet aan die ideaal’ dat ‘geslagsomgang ’n daad van algehele verbintenis is wat na regte in ’n blywende huweliksverhouding hoort’.” The Economist het die standpunt van die Aartsbiskop van Kantelberg gekontrasteer met die apostel Paulus se reguit woorde in Romeine 1:26, 27 en ’n aanhaling van Paulus se woorde gepubliseer bokant die byskrif: “St. Paulus het geweet wat hy dink.”
Jesus Christus het ook geweet wat hy dink en het dit baie duidelik gestel. Hy het gesê dat dit “vir die land van Sodom draagliker [sal] wees op die Oordeelsdag” as vir die godsdiensbeoefenaars wat sy boodskap verwerp het (Matteus 11:23, 24). Jesus het hier ’n hiperbool gebruik om te toon dat die godsdiensleiers wat die Seun van God en sy leer verwerp het, selfs laakbaarder was as die Sodomiete. Judas 7 sê dat daardie Sodomiete “die regterlike straf van die ewige vuur”, dit wil sê ewige vernietiging, ondergaan het (Matteus 25:41, 46). Hoe streng sal die oordeel dan wees van sogenaamd Christelike leiers wat hulle verblinde kuddes blindelings van die hoë sedelike standaarde van God se Koninkryk weglei na die permissiewe, verdorwe weë van hierdie wêreld! (Matteus 15:14). Aangaande valse godsdiens, Babilon die Grote, roep die stem uit die hemel dringend uit: “Gaan uit haar uit, my volk, as julle nie met haar in haar sondes wil deel nie, en as julle geen deel van haar plae wil ontvang nie.”—Openbaring 18:2, 4.
[Prente op bladsy 275]
Die hemel weerklink van vier Hallelujas, wat Jah loof vir sy finale oorwinning oor Babilon die Grote