Hoofstuk 37
Droefheid en vreugde oor Babilon se einde
1. Hoe sal “die konings van die aarde” op die skielike vernietiging van Babilon die Grote reageer?
BABILON se einde is goeie nuus vir Jehovah se volk, maar hoe beskou die nasies dit? Johannes deel ons mee: “En die konings van die aarde wat hoerery met haar gepleeg het en in skaamtelose weelde geleef het, sal huil en hulleself in droefheid oor haar slaan wanneer hulle na die rook van haar verbranding kyk, terwyl hulle uit vrees vir haar pyniging op ’n afstand staan en sê: ‘Hoe jammer, hoe jammer, o groot stad, Babilon, die sterk stad, want in een uur het jou oordeel gekom!’”—Openbaring 18:9, 10.
2. (a) Waarom treur “die konings van die aarde” oor Babilon die Grote se einde, aangesien die simboliese tien horings van die skarlakenkleurige wilde dier haar vernietig? (b) Waarom staan die bedroefde konings op ’n afstand van die gedoemde stad?
2 Die nasies se reaksie lyk dalk verbasend in die lig van die feit dat Babilon deur die simboliese tien horings van die skarlakenkleurige wilde dier vernietig is (Openbaring 17:16). Maar wanneer Babilon weg is, sal “die konings van die aarde” blykbaar besef hoe nuttig sy vir hulle was deurdat sy die mense kalm en onderworpe gehou het. Die geestelikes het oorloë heilig verklaar, as werwingsbeamptes opgetree en jong manne as ’t ware tot op die slagveld gepreek. Godsdiens het ’n skerm van heiligheid voorsien waaragter verdorwe heersers gewerk het om die gewone mense te onderdruk. (Vergelyk Jeremia 5:30, 31; Matteus 23:27, 28.) Maar let daarop dat hierdie bedroefde konings nou op ’n afstand van die gedoemde stad staan. Hulle kom nie naby genoeg om haar te help nie. Hulle is hartseer om haar te sien ondergaan, maar nie hartseer genoeg om kanse ter wille van haar te waag nie.
Koopmanne huil en treur
3. Wie anders betreur die ondergang van Babilon die Grote, en watter redes verstrek Johannes hiervoor?
3 Die konings van die aarde is nie die enigstes wat Babilon die Grote se ondergang betreur nie. “Ook huil en treur die reisende koopmanne van die aarde oor haar, omdat daar niemand meer is om hulle volle voorraad te koop nie, ’n volle voorraad goud en silwer en edelstene en pêrels en fyn linne en purper en sy en skarlaken; en alles van geurige hout en allerhande ivoorvoorwerpe en allerhande voorwerpe van baie kosbare hout en van koper en van yster en van marmer; ook kaneel en Indiese speserye en reukwerk en welriekende olie en wierook en wyn en olyfolie en fynmeel en koring en beeste en skape en perde en koetse en slawe en mensesiele. Ja, die goeie vrug wat jou siel begeer het, het van jou [Babilon die Grote] gewyk, en al die keurige dinge en die skitterende dinge het vir jou verlore gegaan, en nooit weer sal mense dit vind nie.”—Openbaring 18:11-14.
4. Waarom huil en treur “die reisende koopmanne” oor die einde van Babilon die Grote?
4 Ja, Babilon die Grote was ’n intieme vriendin en ’n goeie klant van ryk koopmanne. Die kloosters en kerke in die Christendom het byvoorbeeld deur die eeue heen ontsaglike hoeveelhede goud, silwer, edelgesteentes, waardevolle hout en ander vorme van materiële rykdom verkry. Verder het godsdiens ’n seën uitgespreek oor die kwistige kopery en fuifpartye wat met die viering van die Christus-onterende Kersfees en ander sogenaamd heilige dae gepaardgaan. Die Christendom se sendelinge het verafgeleë lande binnegedring en nuwe markte vir “die reisende koopmanne” van hierdie wêreld geopen. In 17de-eeuse Japan het Katolisisme, wat saam met die handelaars gekom het, selfs by feodale oorlogvoering betrokke geraak. The Encyclopædia Britannica sê die volgende oor ’n beslissende veldslag net buite die mure van die Osaka-kasteel: “Die Tokoegawa-troepe het gevind dat hulle teen ’n vyand veg wie se vaandels versier was met die kruis en met afbeeldings van die Verlosser en St. Jakobus, die beskermheilige van Spanje.” Die seëvierende party het Katolisisme in daardie land beveg en feitlik uitgewis. Net so sal die kerk se betrokkenheid by wêreldaangeleenthede vandag vir haar geen seën meebring nie.
5. (a) Hoe beskryf die stem uit die hemel verder die getreur van “die reisende koopmanne”? (b) Waarom staan die koopmanne ook “op ’n afstand”?
5 Die stem uit die hemel sê verder: “Die reisende koopmanne van hierdie dinge, wat van haar ryk geword het, sal uit vrees vir haar pyniging op ’n afstand staan en sal huil en treur en sê: ‘Hoe jammer, hoe jammer—die groot stad, geklee in fyn linne en purper en skarlaken, en ryklik versier met goue sierade en edelstene en pêrels, want in een uur is sulke groot rykdom verwoes!’” (Openbaring 18:15-17a). Wanneer Babilon die Grote vernietig word, treur die “koopmanne” oor die verlies van hierdie handelsvennoot. Ja, “hoe jammer, hoe jammer” vir hulle. Maar let daarop dat die redes waarom hulle treur, heeltemal selfsugtig is en dat hulle—soos die konings—“op ’n afstand staan”. Hulle kom nie naby genoeg om Babilon die Grote enigsins te help nie.
6. Hoe beskryf die stem uit die hemel die getreur van skeepskapteine en matrose, en waarom huil hulle?
6 Die verslag gaan voort: “En elke skeepskaptein en elkeen wat êrens heen vaar, en matrose en almal wat ’n bestaan uit die see maak, het op ’n afstand gestaan en uitgeroep terwyl hulle na die rook van haar verbranding gekyk en gesê het: ‘Watter stad is soos die groot stad?’ En hulle het stof op hulle koppe gegooi en het met ’n gehuil en ’n getreur uitgeroep en gesê: ‘Hoe jammer, hoe jammer—die groot stad, waarin almal wat bote op see het, ryk geword het weens haar weelde, want in een uur is sy verwoes!’” (Openbaring 18:17b-19). Eertydse Babilon was ’n handelstad en het ’n groot vloot gehad. Babilon die Grote doen ook baie sake deur middel van die “baie waters” van haar mense. Dit verskaf werk vir baie van haar godsdiensonderdane. Wat ’n ekonomiese slag sal die vernietiging van Babilon die Grote tog vir hulle wees! Daar sal nooit weer ’n bron van lewensonderhoud soos sy wees nie.
Vreugde oor haar vernietiging
7, 8. Hoe bereik die stem uit die hemel die klimaks van sy boodskap aangaande Babilon die Grote, en wie sal op hierdie woorde reageer?
7 Toe eertydse Babilon deur die Meders en die Perse verower is, het Jeremia profeties gesê: “En oor Babilon sal die hemel en die aarde en alles wat in hulle is, beslis met vreugde uitroep” (Jeremia 51:48). Wanneer Babilon die Grote vernietig word, bereik die stem uit die hemel die klimaks van sy boodskap en sê dit van Babilon die Grote: “Wees bly oor haar, o hemel, ook julle, heiliges en apostels en profete, omdat God vir julle geregtelike straf aan haar voltrek het!” (Openbaring 18:20). Jehovah en die engele sal verheug wees om die vernietiging van God se eeue oue vyand te sien, en so ook die apostels en vroeë Christelike profete, wat nou al opgewek is en hulle posisie in die reëling van die 24 ouderlinge ingeneem het.—Vergelyk Psalm 97:8-12.
8 Ja, al die “heiliges”—hetsy hulle na die hemel opgewek is of nog op die aarde lewe—sal met vreugde uitroep, en so ook hulle metgeselle, die groot menigte ander skape. Mettertyd sal al die getroue manne van die ou tyd in die nuwe stelsel van dinge opgewek word, en hulle sal ook in die vreugde deel. God se volk het nie probeer wraak neem op hulle vervolgers in valse godsdiens nie. Hulle het Jehovah se woorde onthou: “Die wraak is myne; ek sal vergeld, sê Jehovah” (Romeine 12:19; Deuteronomium 32:35, 41-43). Wel, Jehovah het nou vergelding gebring. Al die bloed wat deur Babilon die Grote vergiet is, sal gewreek wees.
’n Groot meulsteen word geslinger
9, 10. (a) Wat doen en sê ’n sterk engel nou? (b) Watter handeling soortgelyk aan dié van die sterk engel van Openbaring 18:21 het in Jeremia se tyd plaasgevind, en wat het dit gewaarborg? (c) Wat waarborg die optrede van die sterk engel wat deur Johannes gesien word?
9 Wat Johannes volgende sien, bevestig dat Jehovah se oordeel oor Babilon die Grote finaal is: “En ’n sterk engel het ’n klip soos ’n groot meulsteen opgetel en dit in die see geslinger en gesê: ‘So sal Babilon, die groot stad, met ’n vaart neergeslinger word, en sy sal nooit weer gevind word nie’” (Openbaring 18:21). In Jeremia se tyd is ’n soortgelyke handeling met ’n kragtige profetiese betekenis uitgevoer. Jeremia is geïnspireer om “al die rampspoed . . . wat oor Babilon sou kom”, in ’n boek te skryf. Hy het die boek vir Seraja gegee en vir hom gesê om na Babilon te reis. Daar het Seraja volgens Jeremia se opdrag ’n verklaring teen die stad gelees: “O Jehovah, u het teen hierdie plek gespreek, om dit te verwoes sodat geen inwoner daarin sal wees nie, hetsy mens of mak dier, maar dat dit tot onbepaalde tyd net verlate woestenye sal word.” Toe het Seraja ’n klip aan die boek vasgebind en dit in die Eufraatrivier gegooi en gesê: “So sal Babilon sink en nooit weer opkom nie weens die rampspoed wat ek oor hom bring.”—Jeremia 51:59-64.
10 Die feit dat die boek met die aangehegte klip in die rivier gegooi is, was ’n waarborg dat Babilon in die vergetelheid sou verdwyn en nooit sou herstel nie. Net so is die feit dat die apostel Johannes ’n sterk engel ’n soortgelyke daad sien verrig, ’n kragtige waarborg dat Jehovah se voorneme met betrekking tot Babilon die Grote vervul sal word. Die heeltemal verwoeste toestand van eertydse Babilon getuig vandag op kragtige wyse van wat in die nabye toekoms met valse godsdiens sal gebeur.
11, 12. (a) Wat sê die sterk engel nou vir Babilon die Grote? (b) Wat het Jeremia oor afvallige Jerusalem voorspel, en wat het dit vir ons dag aangedui?
11 Die sterk engel praat nou met Babilon die Grote en sê: “En die geluid van sangers wat hulleself op die harp begelei en van musikante en van fluitspelers en van trompetblasers sal nooit weer in jou gehoor word nie, en geen vakman van enige ambag sal ooit weer in jou gevind word nie, en geen geluid van ’n meulsteen sal ooit weer in jou gehoor word nie, en geen lig van ’n lamp sal ooit weer in jou skyn nie, en geen stem van ’n bruidegom en van ’n bruid sal ooit weer in jou gehoor word nie; want jou reisende koopmanne was die hooggeplaastes van die aarde, want deur jou spiritistiese gebruike is al die nasies mislei.”—Openbaring 18:22, 23.
12 Jeremia het met soortgelyke woorde oor afvallige Jerusalem voorspel: “Ek sal uit hulle die geluid van verheuging en die geluid van blydskap, die stem van die bruidegom en die stem van die bruid, die geluid van die handmeul en die lig van die lamp laat verdwyn. En hierdie hele land sal ’n verwoeste plek word, ’n voorwerp van verbasing” (Jeremia 25:10, 11). As die vernaamste deel van Babilon die Grote sal die Christendom ’n lewelose puinhoop word, soos Jerusalem se verwoeste toestand ná 607 v.G.J. so treffend uitgebeeld het. Die Christendom wat haar vroeër lighartig verheug het en wat gegons het van alledaagse bedrywighede, sal vind dat sy verower en verlate is.
13. Watter skielike verandering ondergaan Babilon die Grote, en wat is die uitwerking daarvan op haar “reisende koopmanne”?
13 Trouens, soos die engel hier vir Johannes sê, sal die hele Babilon die Grote van ’n magtige, internasionale ryk in ’n droë, onherbergsame woesteny verander. Haar “reisende koopmanne”, waaronder hooggeplaaste miljoenêrs, het haar godsdiens vir persoonlike gewin of as ’n dekmantel gebruik, en die geestelikes het dit winsgewend gevind om die kalklig met hulle te deel. Maar hierdie handelaars sal Babilon die Grote nie meer as hulle handlanger hê nie. Sy sal die nasies van die aarde nie meer met haar mistieke godsdiensgebruike mislei nie.
Verskriklike bloedskuld
14. Watter rede verstrek die sterk engel vir die strengheid van Jehovah se oordeel, en watter soortgelyke woorde het Jesus gespreek toe hy op die aarde was?
14 Ten slotte sê die sterk engel waarom Jehovah Babilon die Grote so streng oordeel. “Ja”, sê die engel, “in haar is die bloed van profete en van heiliges gevind, en van almal wat op die aarde doodgemaak is” (Openbaring 18:24). Toe Jesus op die aarde was, het hy vir die godsdiensleiers in Jerusalem gesê dat hulle aanspreeklik is vir “al die regverdige bloed wat op die aarde vergiet is, . . . van die bloed van die regverdige Abel af”. Gevolglik is daardie verdorwe geslag in 70 G.J. vernietig (Matteus 23:35-38). Vandag is ’n ander geslag godsdiensbeoefenaars bloedskuldig weens hulle vervolging van God se knegte.
15. Hoe was die Katolieke Kerk in Nazi-Duitsland in twee opsigte bloedskuldig?
15 In sy boek The Catholic Church and Nazi Germany skryf Guenter Lewy: “Toe Jehovah se Getuies op 13 April [1933] in Beiere verbied is, het die Kerk selfs die opdrag aanvaar wat die Departement van Onderwys en Godsdiens hom gegee het, naamlik om enige lid van die sekte wat nog die verbode godsdiens beoefen het, te verkla.” Die Katolieke Kerk dra dus ook verantwoordelikheid vir die feit dat duisende Getuies na konsentrasiekampe gestuur is; sy hande is bevlek met die lewensbloed van honderde Getuies wat tereggestel is. Toe jong Getuies, soos Wilhelm Kusserow, getoon het dat hulle moedig voor ’n vuurpeloton kon sterf, het Hitler besluit dat die vuurpeloton te goed is vir gewetensbeswaardes; Wilhelm se broer Wolfgang het dus, op 20-jarige ouderdom, onder die guillotine gesterf. Terselfdertyd het die Katolieke Kerk jong Duitse Katolieke aangespoor om in die leër van die vaderland te sterf. Die bloedskuld van die kerk is onmiskenbaar!
16, 17. (a) Vir watter bloedskuld moet Babilon die Grote verantwoordelik gehou word, en hoe het die Vatikaan bloedskuldig geword met betrekking tot die Jode wat in Nazi-pogroms omgekom het? (b) Wat is een rede waarom valse godsdiens die skuld dra vir die dood van miljoene mense in honderde oorloë in hedendaagse tye?
16 Maar die profesie sê dat Babilon die Grote verantwoordelik gehou moet word vir die bloed van “almal wat op die aarde doodgemaak is”. Dit was beslis in hedendaagse tye die geval. Byvoorbeeld, aangesien Katolieke intrige daartoe bygedra het dat Hitler in Duitsland aan die bewind gekom het, is die Vatikaan deels verantwoordelik vir ’n verskriklike bloedskuld met betrekking tot die sesmiljoen Jode wat in Nazi-pogroms omgekom het. Verder is baie meer as honderdmiljoen mense in ons tyd in honderde oorloë doodgemaak. Dra valse godsdiens skuld in hierdie verband? Ja, om twee redes.
17 Die eerste is dat baie oorloë met godsdiensverskille verband hou. Byvoorbeeld, die geweld in Indië tussen Moslems en Hindoes in 1946-48 is deur godsdiens veroorsaak. Honderdduisende mense het omgekom. Die konflik tussen Irak en Iran in die 1980’s het met sektariese verskille verband gehou, en honderdduisende is doodgemaak. Geweld tussen Katolieke en Protestante in Noord-Ierland het duisende lewens geëis. Die rubriekskrywer C. L. Sulzberger het hierdie saak in oënskou geneem en in 1976 gesê: “Dit is ’n droewige waarheid dat waarskynlik die helfte of meer van die oorloë wat nou oor die hele wêreld gevoer word, óf openlike godsdienskonflikte is óf met godsdiensgeskille te doen het.” Dit was inderdaad dwarsdeur die veelbewoë geskiedenis van Babilon die Grote die geval.
18. Wat is die tweede rede waarom die wêreld se godsdienste bloedskuldig is?
18 Wat is die tweede rede? Uit Jehovah se oogpunt is die wêreld se godsdienste bloedskuldig omdat hulle hulle volgelinge nie op oortuigende wyse die waarheid aangaande Jehovah se vereistes vir sy knegte geleer het nie. Hulle het mense nie op oortuigende wyse geleer dat God se ware aanbidders Jesus Christus moet navolg en liefde aan ander moet betoon ongeag hulle nasionaliteit nie (Miga 4:3, 5; Johannes 13:34, 35; Handelinge 10:34, 35; 1 Johannes 3:10-12). Omdat die godsdienste wat Babilon die Grote uitmaak, nie hierdie dinge verkondig het nie, is hulle aanhangers in die draaikolk van internasionale oorlogvoering ingetrek. Hoe duidelik was dit tog in die twee wêreldoorloë van die eerste helfte van die 20ste eeu, oorloë wat albei in die Christendom begin het en tot gevolg gehad het dat lidmate van dieselfde godsdiens mekaar uitmoor! As almal wat beweer het dat hulle Christene is, by Bybelbeginsels gebly het, sou daardie oorloë nooit kon plaasgevind het nie.
19. Watter verskriklike bloedskuld dra Babilon die Grote?
19 Jehovah gee Babilon die Grote die skuld vir al hierdie bloedvergieting. As die godsdiensleiers, en veral dié in die Christendom, hulle mense Bybelwaarheid geleer het, sou sulke grootskaalse bloedvergieting nooit plaasgevind het nie. Babilon die Grote—die groot hoer en wêreldryk van valse godsdiens—moet dan waarlik, direk of indirek, aan Jehovah verantwoording doen, nie net vir “die bloed van profete en van heiliges” wat sy vervolg en doodgemaak het nie, maar vir die bloed “van almal wat op die aarde doodgemaak is”. Babilon die Grote dra inderdaad ’n verskriklike bloedskuld. Hoe dankbaar sal ons tog wees wanneer haar finale vernietiging plaasvind!
[Venster op bladsy 270]
Die prys van ’n kompromis
Guenter Lewy skryf in sy boek The Catholic Church and Nazi Germany: “As Duitse Katolisisme van die begin af ’n beleid van besliste teenstand teen die Nazi-ryk gevolg het, sou die wêreldgeskiedenis heel moontlik anders verloop het. Al het hierdie stryd uiteindelik nie tot Hitler se ondergang gelei en al sy misdade voorkom nie, sou dit myns insiens die morele aansien van die Kerk oneindig verhoog het. Die koste van sulke weerstand in terme van menselewens sou ongetwyfeld groot gewees het, maar hierdie opofferings sou vir die allergrootste saak gemaak gewees het. As die tuisfront onbetroubaar was, sou Hitler dit dalk nie gewaag het om oorlog te verklaar nie en sou letterlik miljoene lewens gespaar gewees het. . . . Toe duisende Duitse anti-Nazi’s in Hitler se konsentrasiekampe doodgemartel is, toe die Poolse intellektuele uitgemoor is, toe honderdduisende Russe gesterf het omdat hulle as Slawiese Untermenschen [ondermense] behandel is en toe 6 000 000 mense vermoor is omdat hulle ‘nie-Aries’ was, het amptenare van die Katolieke Kerk in Duitsland die ryk wat hierdie misdade gepleeg het, gesteun. Die Pous in Rome, die geestelike hoof en hoogste sede-onderrigter van die Rooms-Katolieke Kerk, het geswyg.”—Bladsye 320, 341.
[Prente op bladsy 268]
“Hoe jammer, hoe jammer”, sê die heersers
[Prent op bladsy 268]
“Hoe jammer, hoe jammer”, sê die koopmanne