Hoofstuk 3
Die Bybel se valse vriend
In hierdie hoofstuk bespreek ons die hoofrede waarom baie mense in nie-Christelike lande weier om die Bybel as die Woord van God te aanvaar. Die Christendom het deur die geskiedenis heen beweer dat dit in die Bybel glo en die bewaarder daarvan is. Maar die godsdiensorganisasies van die Christendom was betrokke by party van die skrikwekkendste gruwels van die geskiedenis, van die Kruistogte en pogroms van die Middeleeue tot die Slagting gedurende die Nazi-era. Is die gedrag van die Christendom ’n geldige rede om die Bybel te verwerp? Die Christendom het in werklikheid bewys dat dit ’n valse vriend van die Bybel is. Trouens, toe die Christendom in die vierde eeu G.J. verskyn het, was die Bybel se stryd om voortbestaan glad nie verby nie.
1, 2. (Sluit die inleiding in.) (a) Waarom weier baie om die Bybel as die Woord van God te aanvaar? (b) Watter goeie werk is gedurende die eerste en tweede eeu gedoen, maar watter gevaarlike verwikkeling het begin vorm aanneem?
TEEN die einde van die eerste eeu was die opskrifstelling van al die boeke van die Bybel voltooi. Van toe af het Christene die voortou geneem met die oorskrywing en verspreiding van die volledige Bybel. Hulle was terselfdertyd besig om dit in die algemeenste tale van die tyd te vertaal. Maar terwyl die Christengemeente met hierdie bewonderenswaardige werk besig was, het iets begin vorm aanneem wat baie gevaarlik sou wees vir die voortbestaan van die Bybel.
2 Hierdie verwikkeling is in die Bybel self voorspel. Jesus het eenkeer ’n gelykenis vertel van ’n man wat goeie koringsaad in sy land gesaai het. Maar “terwyl die mense slaap”, het ’n vyand saad gesaai wat onkruid sou voortbring. Albei soorte saad het opgekom, en die onkruid het die koring ’n tyd lank verberg. Deur middel van hierdie gelykenis het Jesus getoon dat sy werk ware Christene sou oplewer, maar dat valse Christene ná sy dood in die gemeente sou insypel. Dit sou uiteindelik moeilik wees om tussen ware en valse Christene te onderskei.—Mattheüs 13:24-30, 36-43.
3. Watter uitwerking sou onkruidagtige “Christene” volgens die apostel Petrus op geloof in die Bybel hê?
3 Die apostel Petrus het onomwonde gewaarsku teen die uitwerking wat hierdie onkruidagtige “Christene” op mense se beskouing van die Christelike godsdiens en die Bybel sou hê. Hy het gewaarsku: “Daar [sal] onder julle valse leraars . . . wees wat verderflike ketterye heimlik sal invoer, en ook die Here wat hulle gekoop het, verloën en ’n vinnige verderf oor hulleself bring; en baie sal hulle verderflikhede navolg, en om hulle ontwil sal die weg van die waarheid gelaster word.”—2 Petrus 2:1, 2.
4. Hoe is die profesieë van Jesus en Petrus selfs gedurende die eerste eeu vervul?
4 Selfs gedurende die eerste eeu is die profesieë van Jesus en Petrus vervul. Ambisieuse manne het in die Christengemeente ingesypel en tweedrag gesaai (2 Timotheüs 2:16-18; 2 Petrus 2:21, 22; 3 Johannes 9, 10). Gedurende die daaropvolgende twee eeue is die suiwerheid van Bybelwaarheid deur Griekse filosofie besmet, en baie het verkeerdelik begin om heidense leerstellings as Bybelwaarheid te aanvaar.
5. Watter beleidsverandering het Konstantyn vroeg in die vierde eeu ingevoer?
5 In die vierde eeu het die Romeinse keiser Konstantyn “die Christelike godsdiens” as die amptelike godsdiens van die Romeinse Ryk aangeneem. Maar “die Christelike godsdiens” wat hy geken het, was baie anders as die godsdiens wat Jesus verkondig het. Teen dié tyd het die “onkruid” floreer, net soos Jesus voorspel het. Ons kan nogtans seker wees dat daar in al daardie tyd ’n paar was wat wel die ware Christelike godsdiens verteenwoordig het en hulle ingespan het om die Bybel as die geïnspireerde Woord van God te volg.—Mattheüs 28:19, 20.
Teenstand teen Bybelvertaling
6. Wanneer het die Christendom begin vorm aanneem, en wat was een opsig waarin die Christendom se godsdiens van die Bybelse Christelike godsdiens verskil het?
6 Dit was in Konstantyn se tyd dat die Christendom soos ons dit vandag ken, begin vorm aanneem het. Van toe af was die verworde vorm van die Christelike godsdiens wat wortelgeskiet het nie meer bloot ’n godsdiensorganisasie nie. Dit was ’n deel van die staat, en die leiers daarvan het ’n belangrike rol in die politiek gespeel. Uiteindelik het die afvallige kerk sy politieke mag gebruik op ’n manier wat reëlreg in stryd met die Bybelse Christelike godsdiens was en sodoende nog ’n gevaarlike bedreiging vir die Bybel geskep. Hoe?
7, 8. Wanneer het die pous hom teen die vertaling van die Bybel uitgespreek, en waarom het hy dit gedoen?
7 Toe Latyn as ’n omgangstaal uitgesterf het, het daar ’n behoefte aan nuwe vertalings van die Bybel ontstaan. Maar die Katolieke Kerk was nie meer ten gunste van vertalings nie. In 1079 het Vratislaus, wat later die koning van Boheme geword het, pous Gregorius VII toestemming gevra om die Bybel in die taal van sy onderdane te vertaal. Die pous se antwoord was nee. Hy het gesê: “Dit is vir diegene wat dikwels daaroor peins duidelik dat dit die almagtige God nie sonder rede behaag het dat die heilige Skrif op sekere plekke ’n geheim moet wees nie, sodat dit nie, as dit vir alle mense duidelik verstaanbaar was, miskien geringgeag en geminag sou word nie; of dalk deur halfgeskoolde mense verkeerd verstaan sou word en tot dwaling sou lei nie.”1
8 Die pous wou hê dat die Bybel in die dooie taal Latyn gehou moes word. Die inhoud daarvan moes “geheim” gehou word en nie in die tale van die gewone mense vertaal word nie.a Hieronymus se Latynse Vulgata, wat in die 5de eeu verskyn het om die Bybel vir almal beskikbaar te stel, het nou ’n middel geword om dit verborge te hou.
9, 10. (a) Hoe het Rooms-Katolieke teenstand teen Bybelvertaling ontwikkel? (b) Wat was die doel van die Kerk se teenstand teen die Bybel?
9 Gedurende die loop van die Middeleeue het die Kerk se teenstand teen Bybels in die volkstaal toegeneem. In 1199 het pous Innocentius III so ’n sterk brief aan die aartsbiskop van Metz, Duitsland, geskryf dat die aartsbiskop al die Duitse Bybels wat hy in die hande kon kry, verbrand het.3 In 1229 het die sinode van Toulouse, Frankryk, verorden dat “leke” geen Bybelboeke in die omgangstaal mag besit nie.4 In 1233 het ’n provinsiale sinode van Tarragona, Spanje, beveel dat alle boeke van “die Ou of Nuwe Testament” oorhandig word vir verbranding.5 In 1407 het die sinode van geestelikes wat deur aartsbiskop Thomas Arundel in Oxford, Engeland, byeengeroep is uitdruklik die vertaling van die Bybel in Engels of enige ander moderne taal verbied.6 In 1431, ook in Engeland, het biskop Stafford van Wells ’n verbod uitgevaardig dat die Bybel nie in Engels vertaal mag word en dat niemand sulke vertalings mag besit nie.7
10 Hierdie godsdiensowerhede het nie probeer om die Bybel te vernietig nie. Hulle het probeer om dit te laat fossiliseer deur dit in ’n taal te hou wat net ’n paar kon lees. Op dié manier wou hulle sogenaamde kettery voorkom, maar in werklikheid wou hulle bloot verhoed dat hulle gesag uitgedaag word. As hulle geslaag het, kon die Bybel bloot ’n voorwerp van intellektuele nuuskierigheid met min of geen invloed op die lewe van gewone mense geword het.
Voorstanders van die Bybel
11. Wat het gebeur toe Julián Hernández Spaanse Bybels in Spanje ingesmokkel het?
11 Gelukkig het talle opregte mense egter geweier om hierdie bevele te gehoorsaam. Maar sulke weiering was gevaarlik. Persone het verskriklik gely weens die “misdaad” dat hulle ’n Bybel besit het. Beskou byvoorbeeld die geval van ’n Spanjaard genaamd Julián Hernández. Volgens Foxe se History of Christian Martyrdom het Julián (of, Juliano) “die taak onderneem om ’n groot aantal Bybels, wat in vate versteek en soos Rynwyn verpak was, van Duitsland na sy eie land te neem”. Hy is verraai en deur die Rooms-Katolieke Inkwisisie gevang. Diegene vir wie die Bybels bedoel was, “is voor die voet gemartel, en daarna is die meeste van hulle verskeie strawwe opgelê. Juliano is verbrand, twintig is aan spitte gebraai, ’n paar is lewenslange tronkstraf opgelê, party is in die openbaar geslaan, en baie is na die galeie gestuur.”8
12. Hoe weet ons dat die godsdiensowerheid van die Middeleeue nie die Bybelse Christelike godsdiens verteenwoordig het nie?
12 Watter afgryslike magsmisbruik! Dit spreek vanself dat hierdie godsdiensowerheid glad nie die Bybelse Christelike godsdiens verteenwoordig het nie! Die Bybel self het getoon aan wie hulle behoort het deur te sê: “Hierin is die kinders van God en die kinders van die duiwel openbaar: elkeen wat die geregtigheid nie doen nie, is nie uit God nie, en hy ook wat sy broeder nie liefhet nie. Want dit is die boodskap wat julle van die begin af gehoor het, dat ons mekaar moet liefhê; nie soos Kain wat uit die Bose was en sy broer doodgeslaan het nie.”—1 Johannes 3:10-12.
13, 14. (a) Watter merkwaardige feit aangaande die Bybel gedurende die Middeleeue toon dat dit ’n goddelike oorsprong het? (b) Hoe het die situasie met betrekking tot die Bybel in Europa verander?
13 Maar hoe merkwaardig is dit tog dat manne en vroue bereid was om hulle aan sulke skokkende behandeling bloot te stel net om ’n Bybel te besit! En daar was tot in ons tyd baie sulke voorbeelde. Die groot toegewydheid wat die Bybel in mense gewek het, die gewilligheid om geduldig te ly en hulle gelate aanvaarding van ’n verskriklike dood sonder om hulle vervolgers in gelyke munt te betaal, is ’n oortuigende bewys dat die Bybel wel die Woord van God is.—1 Petrus 2:21.
14 Uiteindelik, ná die Protestantse opstand teen Rooms-Katolieke mag in die 16de eeu, was die Rooms-Katolieke Kerk self verplig om die Bybel in die Europese omgangstale te vertaal. Maar selfs toe is die Bybel meer met Protestantisme as met Katolisisme geassosieer. Soos Rooms-Katolieke priester Edward J. Ciuba geskryf het: “’n Mens moet eerlik erken dat een van die tragieser gevolge van die Protestantse Hervorming was dat die Katolieke gelowiges die Bybel al hoe meer veronagsaam het. Hoewel die Bybel nooit heeltemal vergeet is nie, was dit vir die meeste Katolieke ’n geslote boek.”9
Hoër kritiek
15, 16. Waarom is Protestantisme nie onskuldig wat teenstand teen die Bybel betref nie?
15 Maar die Protestantse kerke is nie onskuldig wat teenstand teen die Bybel betref nie. Na verloop van jare het sekere Protestantse geleerdes ’n ander soort aanval op die boek gemaak: ’n intellektuele aanval. Gedurende die 18de en 19de eeu het hulle ’n Bybelstudiemetode ontwikkel wat as hoër kritiek bekendstaan. Hoër kritici het aangevoer dat groot dele van die Bybel uit legendes en mites bestaan. Party het selfs gesê dat Jesus nooit bestaan het nie. Pleks van die Bybel die Woord van God te noem, het hierdie Protestantse geleerdes gesê dat dit die mens se woord en boonop ’n baie onordelike woord is.
16 Hoewel die meer ekstremistiese vorme van hierdie idees nie meer geglo word nie, word hoër kritiek steeds in kweekskole onderrig, en dit is nie ongewoon om te hoor hoe ’n Protestantse geestelike groot dele van die Bybel in die openbaar verwerp nie. In hierdie verband het ’n Australiese koerant een Anglikaanse geestelike se woorde aangehaal dat ’n groot deel van die Bybel se inhoud “eenvoudig verkeerd is. Van die geskiedenis is verkeerd. Party besonderhede is klaarblyklik verdraai.” Hierdie denke is ’n produk van hoër kritiek.
“Gelaster”
17, 18. Hoe het die gedrag van die Christendom die Bybel oneer aangedoen?
17 Maar dalk is dit die gedrag van die Christendom wat dit vir mense die moeilikste gemaak het om die Bybel as God se Woord te aanvaar. Die Christendom beweer dat dit die Bybel volg. Tog het die gedrag daarvan die Bybel en selfs die benaming Christen groot oneer aangedoen. Soos die apostel Petrus voorspel het, is die weg van die waarheid “gelaster”.—2 Petrus 2:2.
18 Terwyl die kerk Bybelvertaling verbied het, het die pous byvoorbeeld uitgebreide militêre optrede teen die Moslems in die Midde-Ooste gesteun. Dit is die “heilige” Kruistogte genoem, maar daar was niks heiligs daaromtrent nie. Die eerste—wat die “Volkskruistog” genoem is—het die toon aangegee vir wat sou kom. Voordat hulle Europa verlaat het, het ’n onordelike leër, wat deur geestelikes opgesweep is, die Jode in Duitsland aangeval en hulle in een stad na die ander vermoor. Waarom? Geskiedskrywer Hans Eberhard Mayer sê: “Die argument dat die Jode, as die vyande van Christus, verdien het om gestraf te word, was bloot ’n swak poging om die werklike beweegrede—hebsug—te verbloem.”10
19-21. Hoe het die Dertigjarige Oorlog, sowel as Europa se sendingpogings en koloniale uitbreiding, die Bybel oneer aangedoen?
19 Die Protestantse opstand in die 16de eeu het die bewind van Rooms-Katolisisme in baie Europese lande beëindig. Een gevolg was die Dertigjarige Oorlog (1618-1648)—“een van die verskriklikste oorloë in die Europese geskiedenis”, volgens The Universal History of the World. Die grondoorsaak van die oorlog? “Die haat van Katoliek vir Protestant, van Protestant vir Katoliek.”11
20 Teen hierdie tyd het die Christendom begin om ook buite Europa uit te brei en die “Christelike” beskawing na ander wêrelddele te versprei. Hierdie militêre uitbreiding is deur wreedheid en hebsug gekenmerk. In die Amerikas het die Spaanse veroweraars gou die Amerikaanse inboorlingbeskawings vernietig. Een geskiedenisboek het gesê: “Oor die algemeen het die Spaanse bewindvoerders die inboorlingbeskawing vernietig sonder om die Europese beskawing in te bring. Die dors na goud was die vernaamste beweegrede wat hulle na die Nuwe Wêreld getrek het.”12
21 Protestantse sendelinge het ook van Europa na ander kontinente gegaan. Een van die resultate van hulle werk was die bevordering van koloniale uitbreiding. Vandag word die Protestantse sendingpoging dikwels só beskou: “In baie gevalle is die sendingwerk gebruik as ’n regverdiging en ’n dekmantel vir die oorheersing van mense. Die onderlinge verband tussen sendingwerk, die tegnologie en imperialisme is welbekend.”13
22. Hoe het die Christendom die naam van die Christelike godsdiens gedurende die 20ste eeu oneer aangedoen?
22 Die hegte band tussen die Christendom se godsdienste en die staat het tot in ons tyd voortgeduur. Die laaste twee wêreldoorloë is hoofsaaklik tussen “Christelike” lande gevoer. Geestelikes aan albei kante het hulle jong manne aangespoor om te veg en die vyand—wat dikwels aan dieselfde godsdiens behoort het—dood te maak. Soos die boek If the Churches Want World Peace gesê het: “Dit strek [die kerke] beslis nie tot eer dat die hedendaagse oorlogstelsel ontwikkel het en sy grootste verwoesting aangerig het in state wat aan die saak van die Christelike godsdiens gewy is nie.”14
Die Woord van God bly behoue
23. Hoe toon die geskiedenis van die Christendom dat die Bybel God se Woord is?
23 Ons vertel hierdie lang, droewige geskiedenis van die Christendom om twee punte te beklemtoon. Eerstens is sulke gebeure ’n vervulling van Bybelprofesie. Daar is voorspel dat talle sogenaamde Christene die Bybel en die naam van die Christelike godsdiens oneer sou aandoen, en die feit dat dit wel gebeur het, bewys dat die Bybel waar is. En tog moet ons nie die feit uit die oog verloor dat die gedrag van die Christendom nie die Bybelse Christelike godsdiens verteenwoordig nie.
24. Op grond waarvan word ware Christene geïdentifiseer en die Christendom beslis as onchristelik veroordeel?
24 Jesus self het verduidelik hoe ware Christene uitgeken kan word: “Hieraan sal almal weet dat julle my dissipels is, as julle liefde onder mekaar het” (Johannes 13:35). Bowendien het Jesus gesê: “Hulle is nie van die wêreld nie, net soos Ek nie van die wêreld is nie” (Johannes 17:16). In albei opsigte toon die Christendom dat dit beslis nie die Bybelse Christelike godsdiens verteenwoordig nie. Dit beweer dat dit die Bybel se vriend is, maar dit was nog altyd ’n valse vriend.
25. Waarom het die Bybel ondanks al die teëslae tot in ons tyd behoue gebly?
25 Die tweede punt is: Met die oog op die feit dat die Christendom as geheel die belange van die Bybel so grootliks benadeel het, is dit inderdaad merkwaardig dat die boek tot vandag toe behoue gebly het en steeds baie mense se lewe ten goede beïnvloed. Die Bybel het behoue gebly ondanks bittere teenstand teen die vertaling daarvan, die aanvalle van modernistiese geleerdes en die onchristelike gedrag van sy valse vriend, die Christendom. Waarom? Omdat die Bybel anders as enige ander geskrewe werk is. Die Bybel kan nie vergaan nie. Dit is die Woord van God, en die Bybel self deel ons mee: “Die gras verdor, die blom verwelk; maar die woord van onse God hou stand in ewigheid.”—Jesaja 40:8.
[Voetnoot]
a ’n Paar vertalings in volkstale is wel gemaak. Maar hulle is dikwels moeisaam in ryklik versierde manuskripte gemaak en was beslis nie vir algemene gebruik nie.2
[Lokteks op bladsy 34]
Die vernaamste Protestantse kerke het ’n groot intellektuele aanval op die Bybel gemaak
[Prent op bladsy 26]
Die geskiedenis van die Christen-dom het in werklik-heid begin toe Konstantyn “die Christelike gods-diens” van sy tyd wettig verklaar het
[Prente op bladsy 29]
Pous Gregorius VII en Innocentius III het ’n prominente rol gespeel in die Katolieke Kerk se stryd om te voorkom dat die Bybel in die omgangstaal van die mense vertaal word
[Prent op bladsy 33]
Die skokkende gedrag van die Christendom het veroorsaak dat baie twyfel of die Bybel werklik die Woord van God is
[Prent op bladsy 35]
Hierdie Russiese soldate buig gedurende die Eerste Wêreldoorlog voor ’n godsdiensikoon voordat hulle mede-“Christene” gaan doodmaak